Ek en Prins Donkerkuif. Dihanna Taute. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Dihanna Taute
Издательство: Ingram
Серия: Lehandi-reeks
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798171625
Скачать книгу
daar is net een plek oop. Maagpyn! Reg langs ’n nerd met twee vlegsels en ’n bril op die punt van haar neus. Benoud kyk ek weer na meneer Aan-die-slaap. Is hy dalk dood? wonder ek en sluk my glimlag saam met ’n lemoenvliesie wat nog ná vanoggend se ontbyt in my tande vasgesit het.

      Die onderwyser roer nie. Ek skep moed en gee drie tree tot by die oop bank. Terwyl ek langs die nerd inskuif, besef ek hoekom niemand anders langs haar wil sit nie. Sy babbel soos ’n speelding wat se batterye g’n einde het nie.

      “Ek is Rochelle Olivier.” Of Die-nerd-met-skoolboeke-soos-in-permanently-onder-haar-arm, label ek haar. “Van waar af is jy? Wanneer het julle hierheen getrek? Hoekom het julle getrek? Hou jy ook so baie van George Clooney soos ek?” Eeeww! Neee! My ma miskien? “Ooo, hy is my droomman.” As ou ooms naby aan omval haar tipe droomman is, kan ek net dink hoe lyk haar kleresmaak. Seker soos Ma s’n?

      Red my! wil ek uitroep met naels wat aan die tafel vasklou, maar daar skrik die onderwyser uit-freaken-eindelik wakker. Hy staan op en neem sy plek voor die swartbord in. Sy bruin langbroek saam met sy gebleikte wit knopieshemp het hy seker by Adam (van Adam en Eva) geërf. Sy hare is in ’n netjiese kantpaadjie gekam en sy stem is so droog soos biltong.

      “Klas, kom ons verwelkom vir Lehandi Botha in ons midde,” stel hy my voor.

      Het hy dalk ’n girlfriend, want hy sal die perfekte skelmpie vir Ma wees, beraam ek planne. Ek proes hardop en voel hoe my wange gloei.

      “Dankie, Meneer,” sê ek vinnig, maar Rochelle verras my met ’n skouerstamp. Dit laat my amper by my bank uit val. Die hele klas stik van die lag. Ek sweer my wange verkleur na nog ses skakerings van rooi. In die hoek sien ek ’n rooikop met ’n sproetgesig vir my glimlag. Hy laat my aan kerrie dink en ek glimlag skaam terug.

      “Toe, toe. Bedaar tog,” paai meneer Spook.

      Met ’n aangeplakte glimlag kyk ek na Rochelle. Sy is soos ’n wit engel met ’n goue kring bo haar kop. Kramp! Sy lyk gans te gretig om opgevoed te word. Sit nogal voor in die klas. Maar dis presies waar ek ook nou is. Dubbele kramp!

      “Van waar af is jy, Lehandi?” wil meneer Vaak weet.

      “Theunissen, Meneer,” antwoord ek en kyk na my hande.

      “A, die platteland,” sê hy en stap terug na sy lessenaar. “Maar welkom,” voeg hy by voor hy ’n handboek op sy tafel optel en deurblaai. “Klas, haal uit julle boeke en skryf van die bord af.”

      “Kom, dis pouse. Ons sit sommer hier, om die draai op die stoep.”

      Eerste pouse sit ek en Rochelle soos lappoppe alleen op ’n stoepie. Ons word aangekyk asof ons ’n Siamese tweeling is. As sy haar sin kry, sal ons seker aan die skouer verbind wees. Kan sy nie agterkom ek het juis opgeskuif omdat haar vispatee-asem my so bietjie in my mond laat opgooi nie? Ek meen, rêrig? Ek hét kos ingepak en hoef nie te herkou aan die bord Kellogg’s wat ek vanoggend by die ontbythoek onder ons trap geëet het nie.

      “Hou jy van lees?” Nadat sy haar toebroodjies verslind het, begin sy sowaar weer met haar gebabbel. “Ek het ’n stapel boeke wat ek vir jou kan leen. Ek is mal oor lees. Ek is ook mal oor pers en mal oor wit angeliere. En het ek al genoem dat ek mal is oor George Clooney?”

      Ek reken sy is net plein mal en punt.

      “Ja-ja, jy het dit genoem,” kry ek ook net gou genoeg in voor sy weer lostrek.

      “Verder is ek mal oor pizza en pasta en ek versamel mooi koevertjies. En ek is mal oor . . .” Ek is al half benoud en begin dink my ore gaan nooit regkom ná al die mal-besigheid nie, toe die skoolklok haar tot stilte dwing.

      Ons staan gelyktydig op en stof ons klere af. “Ek is mal oor wiskunde. Kom, maak gou, anders is ons laat!” Sy haak by my arm in en trek my in die rigting van ons klas. Op pad soontoe vang my oog ’n paar breë skouers en ’n donker kop wat om die hoek verdwyn. Kan dit wees . . .?

      “Waarheen gaan jy?” roep Rochelle agter my aan.

      Ek het nie tyd om haar te antwoord nie. Hoe verduidelik ek in elk geval dat ek desperaat is om my droomou se gesig te sien?

      Ek kry stampe en stote van alle kante af. “Hei, check waar jy loop, man!” skree ’n skaduwee agter my.

      “Sorry!” skree ek oor my skouer terug en hardloop verder.

      Om die hoek stop ek en gryp na my brandende bors. Ek is onfiks. Ek sien sy donker kop tussen die ander kinders uitstaan. So te sê tien tree van my af weg.

      “Haai, wat gaan aan?” Vir ’n sekonde kyk ek vies na Rochelle se hand wat op my arm druk en dan kyk ek weer terug. Dêmmit! Weg. Waarheen?

      “Niks, sommer blerrie niks,” mompel ek en loop afgehaal langs Rochelle na ons klas toe.

      Tweede pouse glip ek saam met ’n blonde meisie genaamd Desiré by die klas uit. Die sloot agter die sporthuisie lyk meer opwindend as Lappop se stoep. Desiré, Vera en Louise is soos plastiekbarbies. Hulle hou nie op klets oor hulle hip parties, hulle rebelse boyfriends en die nuutste van Juicy Couture nie.

      “Juicy wie?” vra ek later benoud, nie seker of dit ’n stripper of ’n nuwe idol is nie.

      “Juicy C-O-U-T-U-R-E,” spel Vera dit vir my asof ek in graad twee is, terwyl die sigaret tussen haar twee vingers dit in die lug skryf.

      “Is dit ’n nuwe drankie?” waag ek weer.

      “’n Drankie? Kom jy uit die boendoes uit, girla? Daar waar tiervelle nog met die hand om jou lyf vasgewerk word?” skerts Louise.

      “Dit is ’n famous label. Hulle maak soos in stunning handsakke, poppie. Baie. Duur,” sis Desiré voor sy aan haar sigaret suig asof haar lewe daarvan afhang.

      Hier is baie om te leer, besef ek en glimlag verleë. Net om Pa te irriteer, sal ek my nuwe vriendekring vir eers aan die “donkerkant” van die skool in die sloot agter die sporthuisie gaan soek, besluit ek en peusel aan die peanut butter-en-stroop-broodjie wat ek vanoggend vir myself moes maak.

      “En? Hoe was my kind se eerste dag?” Ma het my gevolg van die kar af, verby die kombuis tot by my kamer. Dit lyk of die kosyn haar nou vashou. Dankie tog sy kom nie nader nie. “Het jy darem ’n nuwe maatjie gemaak?”

      Whatever. Dit sal nie eens help om te redeneer dat ek op sestien te groot is vir ’n “maatjie” nie. Ek is mos my ma-hulle se baba. Was nog altyd en soos dit vir my lyk, gaan dinge nooit, ooit, óóit verander nie.

      “Almal druggies, Ma. Die hele spul van hulle.” Ek probeer haar blik vermy. “Behalwe vir Lappop natuurlik,” prewel ek binnensmonds. Dié lewe natuurlik in die tyd toe drugs nog nie ontdek is nie. Ek slinger my swart boeksak langs my lessenaar in. Dit maak ’n klapgeluid teen my muur.

      “Almal?” vra Ma benoud.

      “Ja, Ma. Die hele lot. Hulle sit net heel pouse agter die gebou in die sloot en praat oor hulle gerookte naweek.” Ek gaan staan skuins by my kamervenster sodat ek Ma en die straat gelyktydig kan dophou. Net vir ingeval daai donkerkop met die kuite weer onder verbyloop.

      Ma lyk of sy die horriepiep gaan kry. Onder haar rok se moue, wat tot by haar elmboë strek, sien ek haar hande bewe. Die rok se soom wat tot op haar bruin skoene hang, laat my dink aan ’n vrou uit ’n ander era. ’n Voortrekker. Of ’n kampvegter. Soos Ma wat veg vir alles wat oud en oor die muur is. Dis dalk hoekom sy nog aan Pa vasklou?

      As dit moontlik is, is Ma nog maerder as vier dae gelede toe die treklorrie met haar boks hier weg is. Haar bruin hare is droog en hang vandag onversorg oor haar bleek gesig. Raak alles vir haar dalk te veel? Sal sy regtig van Pa skei?

      Miskien moet ek liewer aan iets anders dink. My gedagtes dwaal terug na daardie breë skouers . . . Is die donkerkop wat ek op die skool se stoepe gesien het dieselfde donkerkop van ons straat? Ek het so ampertjies sy gesig gesien. Hy was net vyf tree van my af weg. So ampertjies.