En haar gesig – hy het haar nog nooit só gesien nie: Sorgsaam en behendig gegrimeer, die rooi, vol lippe, die blonde hare geknip en gekleur, groot silwer hartjies as oorbelle, haar oë ’n diep groen agter die lang wimpers.
Vir ’n vlietende oomblik wonder hy of hy haar dalk vanaand, ná alles, die eerste keer gaan soen.
Sy lag en kyk waarderend na hom. “Jy ook, Bennie.” En dan: “Is die blomme vir my?”
“O. Ja …” Hy hou dit ongemaklik na haar toe uit.
Daar is ’n blos op haar wange, opregte waardering vir hom, vir dié gebaar.
“Baie dankie.” Sy tree vorentoe en soen Griessel op die wang.
* * *
Hy weet uit ervaring die skoot is byna onhoorbaar buite, danksy die knaldemper en die stukke tapyt wat aan die Chana se binneruim geplak is. Sy palms sweet teen die geweer en sy hart klop. Hy bewerk die slot en die patroondoppie spat, klink teen een van die gereedskapkiste. Hy stoot ’n nuwe rondte in die kamer in. Hy beweeg die wapen effens, sien deur die teleskoop die konstabel is onbewus van die mislukte skoot, sy kop weggedraai berg se kant toe.
Hy mik ondertoe, kry weer die konstabel se bene in die kruis.
Lei twee, drie sentimeter voor die bewegende bene, kniehoogte, die paniek wat hier van die krop van sy maag af uitblom, haal asem, haal asem, blaas stadig uit … Hy druk die sneller. Sien die konstabel val.
Verligting. Reuk van kordiet in sy neus.
Dan, dringendheid, die wete dat hy nóú moet fokus, die volgende sestig sekondes is maak of breek, doen net alles volgens die plan.
Draai die stutstok se band los. Trek die geweer uit die lus. Lê die geweer in die gereedskapkis. Sit die laai bo-op. Maak die kis toe, staf kan maar daar lê.
Trek die materiaalafskorting op.
Die pet. Sit die pet op.
Hy klim deur tot in die bestuurdersitplek.
Moenie na die teiken kyk nie, moenie, maar die angstigheid wil hom oorweldig, sodat hy vinnig sy kop draai om te sien. Die konstabel is tagtig meter weg, hy lê daar. Hy kyk af, vermoedelik na sy been.
Kyk voor jou.
Draai die sleutel, skakel die Chana aan, trek stadig weg, net tien meter en jy is buite sig, sekondes, te min vir die konstabel om jou te sien, om waar te neem, hy sal in skok wees, verward. Moenie aandag trek nie, doen alles rustig, normaal.
Hy sit die voertuig in rat. En hy ry.
2
By die ingang van die Kunstekaap se Kandelaar-foyer staar Griessel na die reuseplakkaat. Dit proklameer in groot letters Anton Goosen Verjaardagkonsert, Vrydag 4 Maart, Grand Arena, met daaronder ’n foto van al die sterre wat oor ’n week daarin gaan optree. Alexa Barnard is die fokuspunt, reg in die middel, net onder die kleiner aankondiging: Xandra Barnard is terug!
En hier staan hy met dié legende aan sy nuwe baadjie se arm, en hy sluk, en hy hou hom in.
Binne. Baie mense. Hy bespied vinnig die mans se kleredrag. Verligting daal oor hom, want daar’s baie baadjies. Hy ontspan so ’n bietjie, alles gaan O.K. wees.
Koppe draai na Alexa toe, mense roep haar naam uit, en dan is hulle skielik omsingel. Alexa los sy arm en begin groet. Griessel staan terug. Hy het vermoed dit gaan gebeur en is bly dat sy dié ontvangs kry. Sy was verlede week senuagtig en het vir hom gesê: “Ek was so lank uit, Bennie. En die hele ding met Adam se dood … Ek weet nie wat om te verwag nie.”
Adam was haar man. Bennie het sy moord ondersoek, dit is hoe hy haar ontmoet het.
“Jy’s Paul Eilers, die akteur,” sê iemand hier reg langs hom. Dan besef hy die mooi jong vrou praat met hóm.
“Nee,” sê hy. “Ek is Bennie Griessel.”
“Ek kon sweer jy’s Paul Eilers,” sê sy teleurgesteld, en dan is sy weg.
Hy herken van die musieksterre. Laurika Rauch wat Alexa se hande in haar eie toevou, met groot deernis iets sê. Karen Zoid en Gian Groen in gesprek. Emo Adams wat Sonja Herholdt laat skater van die lag.
Waar is Lize Beekman?
’n Kelner beur deur die massa mense, kom verby met ’n skinkbord vol sjampanjeglase, bied hom een aan. Hy staar na die goue vog, die borrels wat so lui na bo sweef, en voel die roering in hom, die begeerte. Hy kom tot verhaal, skud sy kop. Nee dankie.
Tweehonderd-twee-en-sewentig dae sonder drank.
Miskien moet hy vir hom ’n koeldrank kry, iets om in sy hand te dra, want nou staan hy net hier, ’n vaal eiland in ’n see van glansmense. Kyk vir Alexa, sy is tuis, in haar element, sy gloei.
Jissis. Wat maak hy hier?
* * *
Die oomblik is vir hom amper te groot toe hy Schalk Joubert ontmoet.
“Schalk, dis Bennie Griessel, hy speel ook baskitaar,” stel Alexa hom voor, en hy kan voel hoe sy gesig verkleur. Met bewende hand sê hy: “Aangename kennis, dit is ’n moerse voorreg.” Sy stem is hees en hy skrik vir die vloekwoord wat deurglip.
“Baie dankie, kollega, die voorreg is myne,” sê Schalk Joubert gemaklik en gemoedelik, en sy stemtoon besweer Griessel se vrese, laat hom ontspan. Die reusekompliment van “kollega” vul Griessel met dankbaarheid, sodat hy die moed het om, onder Alexa se aanmoedigende glimlag, met Theuns Jordaan en Anton L’Amour ’n gesprek aan te knoop. Hy vra hulle uit oor hoe Kouevuur aanmekaargesit is. En dan, aangemoedig deur hulle ruimhartigheid: “Nou wanneer gaan julle ‘Hexrivier-vallei’ ordentlik opneem, ’n volle snit? Daai song verdien dit.”
Hy begin ontspan en hy praat hier en lag daar en hy wonder waarom hy hom so bekommer het, hy is so half trots op homself, en dan trek Alexa hom aan die arm en hy draai om en hy sien vir Anton Goosen én Lize Beekman, langs mekaar, hier reg by hom, alles sameswerend, ’n oomblik van stilte wat in die geroesemoes oopmaak en dit is te skielik en te veel en te groot en sy kop slaan vas en sy hart klop wild en hy vat aan die lang, mooi, blonde sangeres se uitgestrekte hand, heeltemal oorweldig, en al wat by sy mond uitkom, die woord idioties lank en uitgerek en helder in die stilte, is: “Fok.”
En dan begin sy selfoon hier in sy baadjiesak lui.
Hy staan. Verstar.
Iewers in sy kop kom die impuls: Doen iets.
Hy los skielik Lize Beekman se hand, die skaamte en vernedering wat deur hom brand, hy mompel: “Ekskuus.” Hy grawe vir sy selfoon, draai weg, druk die instrument teen sy oor.
“Hallo.” Sy eie stem klink vir hom vreemd.
“Bennie, ek het jou nodig,” sê brigadier Musad Manie, bevelvoerder van die Valke. “Soos in nóú.”
* * *
Hy ry, te vinnig, kwaad vir homself, kwaad vir Alexa, hoe kon sy dit aan hom doen? Kwaad vir die selfoon wat gelui het, hy kon definitief nog sy massiewe blaps beredder het, hy kon iets bygelas het, sy geoefende sin van “dis ’n sonderlinge voorreg”, dit sou die hele gemors ontlont het. Kwaad vir die brigadier wat hom op ’n Saterdagaand, sy af-naweek, laat inkom, kwaad omdat hy nie die beskuldigende refrein uit sy kop uit kan kry nie: Hy het ’n doos van homself gemaak. Daardie verskriklike oomblik, die woord uit, dit hang soos ’n dooie, swart voël tussen hom en Lize Beekman, alles gevries behalwe die irriterende gelui van sy selfoon en die wete wat soos lood in hom afsak: Hy het ’n massiewe, onvergeeflike gat van homself gemaak, teen al sy voornemens en planne en voorbereidings in.
Dis