PROGESTEROON
•Dit word deur die corpus luteum (die plek in die eierstok waar die maandelikse eiersel vrygestel word) en die bynierkliere vrygestel, en gedurende swangerskap deur die plasenta.
•Dit berei die endometrium voor vir die ontvangs van die bevrugte eier ná ovulasie.
•Dit is verantwoordelik vir die ontwikkeling van die plasenta en word ook later deur die plasenta afgeskei.
•Progesteroon beïnvloed die ontwikkeling van die melkkliere.
FOLLIKELSTIMULERENDE HORMOON (FSH)
•Hierdie hormoon word deur die anterior pituïtêre klier vrygestel.
•Dit is verantwoordelik vir die rypwording van die eiersel.
LUTEÏNISERENDE HORMOON (LH)
•Dit word deur die anterior pituïtêre klier vrygestel.
•Dit stimuleer ovulasie.
•Dit is verantwoordelik vir die ontwikkeling van die corpus luteum.
PROLAKTIEN
•Dit word deur die anterior pituïtêre klier vrygestel.
•Dit is medeverantwoordelik vir laktasie.
OKSITOSIEN
•Dit word deur die posterior pituïtêre klier vrygestel.
•Dit word tydens seks en die geboorteproses vrygestel en verseker suksesvolle laktasie.
•Dit laat die selle van gladde spiere in die voortplantingstelsel en die melkklierselle saamtrek.
MENSLIKE CHORIONIESE GONADOTROFIEN (HCG)
•Dié swangerskapshormoon word deur die onryp, ontwikkelende plasenta vrygestel sodra die bevrugte eiersel in die endometrium ingeplant word.
•Die vlakke in die moeder se urine en bloed kan swangerskap baie akkuraat bevestig.
BEVRUGTING
’n Babadogtertjie word gebore met al die eierselle wat sy ooit sal hê, in teenstelling met ’n seuntjie, wat voortdurend nuwe spermselle vervaardig ná puberteit. Van puberteit af word een eiersel elke maand deur een van die eierstokke afgeskei tydens ovulasie, gewoonlik om die beurt. Die gehalte van die ova verswak met die ouderdom. Dit is een van die faktore wat tot verhoogde onvrugbaarheid en geboorteafwykings onder ouer vroue lei.
Bevrugting behels die penetrasie van ’n ovum (vroulike eiersel) deur ’n manlike spermsel. Die ovum word deur die eierstok in die Fallopiusbuis vrygestel en beweeg voort deur die golfbewegings van die spiervesels van die buiswande. As een van die magdom spermselle wat tydens seks in die vagina vrygestel word die ovum ontmoet en die eiersel se “dop” binnedring, vind bevrugting plaas. In ’n gewone menstruasiesiklus sal dit ongeveer veertien dae voor die volgende menstruasie plaasvind. Die bevrugte eiersel beweeg dan verder deur die Fallopiusbuis tot in die baarmoeder, ongeveer sewe tot tien dae ná bevrugting, waar dit in die verdikte endometriumwand van die uterus ingeplant word. Dit staan bekend as inplantasie.
’n Vlugtige blik op vrugbaarheid
VOORBEHOEDMIDDELS EN SWANGERSKAP
Chemiese voorbehoedmiddels soos hormoontablette (die Pil) en inspuitings is oor die algemeen baie effektief. Mondelinge voorbehoedmiddels moet presies volgens voorskrif gebruik word. Jy mag met ander woorde nie ’n dag oorslaan nie. As jy die mini-pil (slegs progesteroon) gebruik, moet jy dit elke dag op dieselfde tyd drink. Indien jy antibiotika gebruik of aan ’n spysverteringsongesteldheid soos braking of diarree ly, kan dit gebeur dat mondelinge voorbehoedmiddels nie effektief opgeneem word nie en dat jy swanger raak. In sulke gevalle is dit belangrik om die res van die maand seks te vermy of ’n alternatiewe voorbehoedmiddel te gebruik, terwyl jy voortgaan om die Pil te drink. Dit geld nie indien jy ’n inspuiting gebruik nie.
Soms raak ’n vrou swanger ten spyte van die korrekte gebruik van ’n voorbehoedmiddel. Meestal hou dit skynbaar geen gevaar vir die swanger vrou of haar ontwikkelende baba in nie, hoewel geboorteafwykings volgens navorsing soms hieraan toegeskryf word. As jy geensins met ’n onbeplande swangerskap kan voortgaan nie, moet jy jou dokter raadpleeg sodat dit so vroeg moontlik in die eerste trimester beëindig kan word.
Voltooi ’n volle pakkie van die mondelinge hormonale voorbehoedpil voordat jy probeer swanger raak, ten einde die hormoonbalans so min moontlik te versteur. Daar word gewoonlik aanbeveel dat jy jou liggaam drie maande gun om aan te pas ná langdurige gebruik van ’n voorbehoedmiddel (hormonale en intra-uteriene apparate), hoewel baie vroue byna onmiddellik, of selfs terwyl hulle nog voorbehoedmiddels gebruik, sonder probleme swanger raak. Homeopatiese middels kan die endokriene stelsel help om gouer te stabiliseer en verhoog die waarskynlikheid van bevrugting indien jou menstruele siklus ongereeld is.
Hoe langer jy hormonale voorbehoedmiddels gebruik het, hoe langer duur dit gewoonlik om swanger te raak, maar dit bly ’n baie individuele saak. Talle faktore speel ’n rol in hoe lank dit neem om swanger te raak, maar as jy nie binne ses tot twaalf maande verwag nie, behoort jou ginekoloog ’n algemene ondersoek te doen. Dit is raadsaam om ’n algemene ondersoek te ondergaan wanneer jy ophou met voorbehoedmiddels, beplan om swanger te raak of sukkel om swanger te raak. As daar skynbaar niks met jou skort nie, moet jou maat ook ondersoek word. Volgens navorsing ondervind die man net so dikwels vrugbaarheidsprobleme as die vrou.
OVULASIE
Ovulasie is die vrystelling van ’n eier deur ’n vrou se eierstok. Die kans op bevrugting is die grootste gedurende dié paar dae. Tradisioneel vind ovulasie naby die middel van die siklus of ongeveer veertien dae voor die volgende menstruasie plaas in ’n gemiddelde siklus van 28 dae. (Dag Een is die eerste dag van menstruasie.) In ’n langer of korter siklus sal die middel van die siklus ’n paar dae later of vroeër val.
Ons begin nou besef dat menstruasie as die eindpunt, eerder as die begin van ’n vrou se siklus beskou behoort te word. Uit hierdie oogpunt beskou, is die waarskynlikheid van ovulasie en swangerskap die grootste sodra ’n vrou ’n vogtige vaginale afskeiding opmerk. Die idee dat ovulasie streng veertien dae voor menstruasie plaasvind, is dus nie noodwendig waar nie. Die afskeiding mag moontlik ’n meer akkurate aanduiding wees.
Vroue wat fyn op hul liggaamsfunksies ingestel is, herken ook ander simptome. Jy sal miskien pyn ervaar in die omgewing van die eierstok wat daardie maand die eier vrystel. Basale temperatuur (vroegoggend-liggaamstemperatuur) kan ook help om jou ovulasietyd te bepaal. Hierdie natuurlike gesinsbeplannings- en voorbehoedtegnieke kan vrugbaarheid help verhoog.
VRUGBAARHEID, OUDERDOM EN GESONDHEID
Aangesien ’n vrou se vrugbaarheid van ongeveer 35 af merkbaar afneem, kan dit ’n bydraende faktor wees tot langdurige probleme om swanger te raak. Dit gebeur egter nie oornag nie, en in ’n era waar paartjies verkies om later met ’n gesin te begin behoort dit nie ’n oorheersende bekommernis te wees nie. Lees meer oor die invloed van ouderdom op vrugbaarheid in Die beste ouderdom om ’n baba te hê.
Siste en fibroïede aan ’n vrou se voortplantingsorgane (eierstokke, Fallopiusbuise of baarmoeder) kan soms vrugbaarheid belemmer, maar dit is dikwels nie ’n faktor nie. Baie vroue ontdek vir die eerste keer dat hulle siste of fibroïede het tydens hul vroeë sonarondersoek. Hulle het dikwels geen las daarvan gehad nie, behalwe moontlik ongemak tydens menstruasie. Lees meer hieroor in Die swanger vrou se gesondheid.
Toestande soos endometriose word ook met bevrugtingsprobleme geassosieer. Endometriose is ’n toestand waar die wand van die baarmoeder baie meer as normaal verdik, terwyl soortgelyke weefsel buite die baarmoeder groei, byvoorbeeld in die maagholte, aan die Fallopiusbuise en selfs in die longe. Blootstelling aan sintetiese