Hartstories. Amore Bekker. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Amore Bekker
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624075097
Скачать книгу
is benoud: “Dominee, kan jy dadelik kom, die dokter sê Erika gaan nie vanaand maak nie.” Toe ek langs haar bed staan, lyk sy baie ouer as haar sewentien jaar. Die kanker het haar liggaam verniel. Sy was so ’n oulike mens; so mooi geleef, so moedig. Sy lyk nes haar pa en nou verlaat sy ons ... Hoe hartroe­rend was dit toe Pappa en Mamma snikkend groet. Toe ek daarna my arms om hulle skouers vou, was dit asof ek hierdie twee mense se pyn kon voel en ek het geweet die pad vorentoe gaan baie, baie lank en baie, baie moeilik wees, maar deur die genade gaan hulle daardeur kom. En ek gaan die pad saam met hulle stap – hulle is mý mense.

      Van daar af gaan loer ek by die kraamsaal in en kry Debbie met haar nuwe babatjie in haar arms: die mooiste ou dingetjie, so pragtig, so volmaak. Pa is ook daar en dit lyk asof sy hemp nie knope het nie. “Dis hierdie keer ’n laaitie, Dominee!” Wat ’n voorreg om saam dankie te sê vir so ’n groot wonderwerk.

      Toe ek donkeraand moeg by die huis kom, lui my selfoon. Dis Jan. “Dominee, ek het die job gekry, Dominee.” Vir ’n wyle kan ek niks sê nie. Trane rol oor my wange en ek sien ’n kleutertjie met vuil handjies wat van nou af elke dag kossies gaan hê. Net môre vat ek vir hom ’n groot tjoklit.

      Eddie Botha – Alberton

      Agter op my motorfiets

      Die sportverrigtinge by Laerskool Elandskraal is verby en soos gewoonlik op ’n Saterdag-laatmiddag paradeer die vyf kannetjies voor die rondawel waar ek my ysterperd stoor. Hulle ogies blink gedagtig aan die motorfietsrit wat voorlê en waarna hulle al die hele week uitsien.

      Ek voel jammer vir dié outjies, wie se ouers dit nie breed het nie – hulle is arbeiders op die plaas Swartkoppies, geleë tussen Brits en Rustenburg. Geleenthede vir die kinders is bitter min in ag genome hul ouers se gebrek aan opleiding en finansiële posisie. Ek kan maar net wonder waarheen die toekomspad hulle sal lei. Dit is veral Sipho wat my hart breek, want hy is skrander en met die nodige geleenthede kan daar ’n blink toekoms op hom wag.

      Ongeag my bekommernisse oor die knapies se toekoms ry hulle sorgeloos om die beurt agter op die motorfiets. Ons skiet verby Koos Hoed se opstal, met ’n wip oor die driffie by die Sterkstroomrivier, verby die afdraai Plekkie toe tot waar ons rit eindig by oom David Traut se plaashuis. Terloops, Plekkie is ’n ontspanningsoord wat behoort aan Fanus Botha, destyds lid van die sanggroep Die Ou Menere.

      Na die plaasmoord op ons buurman is dit te verstane dat my vrou, Juanita, nie langer deel van die plaaslewe wou wees nie. Die uiteinde is dat ons Brits toe gaan verhuis en ons grond en huis op Swartkoppies gaan verhuur.

      Die laaste motorfietsrit breek aan. Ek verduidelik aan die seuns dat ek dorp toe trek en nie meer op Saterdae daar sal wees vir hulle ritjies op die motorfiets nie. Dieselfde roete word vir oulaas gevolg, met Sipho wat aan my vashou asof hy my nie wil laat gaan nie.

      Dis groettyd. Elkeen kry ’n drukkie. Die afgelope paar jaar het ons unieke kamerade geword met ’n besonderse band tussen ons. Ek groet vir Sipho laaste, met my oë na die hemelruim, want ek is bang as ek hom in die oë kyk, sien hy die trane in my oë. “Sipho, byt vas en leer hard. Ek weet jy sal eendag bo uitkom,” is my laaste woorde aan hom.

      Die jare het verbygevlieg. Ek kry ’n boodskap dat ’n myngroep belangstel om my grond te koop. Die kontakpersoon wat ek moet sien, is ene mnr. Malatji.

      Twee dae later staan ek voor mnr. Malatji se kantoordeur en klop aan. ’n Vriendelike dame verwittig my dat mnr. Malatji my verwag en nooi my binne.

      Ek staan in die deur en agter ’n groot lessenaar sit mnr. Malatji met ’n spierwit hemp en ’n vrolik gekleurde das. Sy oë is vasgenael op die rekenaar en ek wag geduldig op sy aandag.

      Dan stoot hy sy groot lessenaarstoel agteruit en gooi ’n laaste blik in die rekenaar se rigting. Ons maak uiteindelik oog­kontak. “Sipho, jou bliksem, is dit tog nie jy nie?” is al wat ek kan uitkry. Op ’n drafstappie kom hy in my rigting en slaan sy arms om my. En deur my ge­dagtes flits die laaste motor­fietsrit, waar Sipho op lewe en dood aan my vasgeklou het.

      Bossie Botha – Brits

      Brief uit Houston, Texas

      Ek luister vanaand na drie CD’s van RSG se Alle Volke Loof die Here.

      Ek luister na ’n kooruitvoering. Hulle sing “Plea for Africa”.

      En hulle sing tradisionele Afrikaanse koormusiek.

      Hulle sing Griekwa-psalms.

      Hulle sing lofliedere.

      En ek verlang om weer gewyde gesange en kerkorrelmusiek te hoor.

      Ek is hartseer.

      Ek is weemoedig.

      Ek verlang na my land.

      Ek verlang na my taal.

      Ek verlang na Afrikaans.

      Ek verlang na my kultuur.

      Ek huil in my hart.

      Ons mense. Ek verlang na my mense.

      Ek mis hulle. Ek vermis hulle.

      My mense anderkant Rayton en duskant Kameeldrift.

      Ek verlang na die Kaapse Klopse op Nuwejaar.

      Ek verlang na die bruin mense se manier van praat.

      Ek verlang na Carel en Petru se Kersklanke.

      Na koekies en tuisgemaakte gemmerbier.

      Ek verlang na boerewors en mieliepap.

      Na die Bulle op Loftus en die Bokke wat wen.

      Ek verlang na Radio Suid-Afrika.

      Ek mis sommer aalwyne wat blom in die winter.

      En hadidas wat vroegoggend verskrik wegvlieg.

      Ek verlang na operas in die Staatsteater.

      Na Afrikaanse dramas en boekvoorlesings.

      Na gedigte van Breyten en die Afrikaanse nuus gelees deur Nic Swanepoel.

      Ek mis lietsjies en spanspek.

      Ek mis die Boeremark en al die sout-van-die-aarde-mense.

      Ek mis die mis oor Tafelberg en Stellenbosch.

      Ek mis my land. Ek mis my linkerhand.

      Ek mis julle almal!

      Dawid J. Pieterse – Houston, Texas

      Diep kyk

      Onlangs lees Amore Bekker Dawid Pieterse se saamrybrief. Hy skryf uit ’n verre land en ek hoor die verlange in sy brief.

      Ek dink aan my jare lange vriend en sy familie in Australië.

      Een aand bel hy: verlange en trane breek sy stem. Hy sê hy het vir my die ideale pos; as ek wil, is dit myne. “Hier is geen misdaad nie,” sê hy, “ons slaap met oop vensters en deure.”

      Goed so, dink ek, net jammer jou hart is so stukkend verlang.

      Ek sal lieg as ek sê ek het nie sy aanbod oorweeg nie.

      Die Vrydagaand ry ek en my vrou my gunstelingpad: Waterfront toe. Ek doen wat ek en my verlangende vriend as studente gedoen het: blits Kaapstad met die N2 binne, skiet in Millstraat op na Oranjestraat. Aan die bopunt van die stad woerts ek links in Breestraat af en vind my weg na die Water­front. Heelpad is die onophoudelike panoramiese blik oor die prentjiemooi hawe en sy bote regs van my.

      Aanvanklik ry ek teen die Ses verby, en later is die kuns­skool regs en die pragtige, eksentrieke Labia links. Verder links staan die rysige, beligte Tafelberg sonder kleed en vriendelik.

      Net voor die opdraai na Breestraat swenk Koningin Victoria­straat links af en soms ry ek daarmee. ’n Nou paadjie neem jou verby die planetarium, die ou argiefgebou, die YMCA-gebou en die hooggeregshof.

      Regs van die pad lê die geheimsinnige Tuine diep in onpeilbare gedagtes versonke. Ek draai af in Adderleystraat en ry verby die katedraal, die Kasteel wat ’n entjie