Veearts-vriende 2: Tania en die perdry-kompetisie. Helen Brain. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helen Brain
Издательство: Ingram
Серия: Veearts-vriende
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798170611
Скачать книгу
jong,” sê sy. “Laat ek na jou kyk.”

      Die papegaai buig sy kop af.

      “Moet ek jou koppie krap?” vra Arabella en steek haar hand uit.

      Hy hap na haar hand.

      “Eina!” piep sy. “Hy’t my gebyt!”

      Tobie staan op en druk sy ma weg. “Laat ek pro­beer.” Hy buk af en fluister vir die papegaai. Die papegaai kyk na hom en ontspan sy deurmekaar vere. Tobie steek sy hand versigtig in die hok.

      “Op,” sê Tobie. “Oppies.”

      Die papegaai spring op Tobie se hand. Tobie haal hom uit en vryf sy kop.

      “Ons sal nooit oorgee nie,” krys die papegaai in ’n klinkende stem. “Ons sal hulle op die strande beveg …”

      “Wat’s sy naam, Pa?” vra Tiek.

      “Doktor Grimbeeck het hom na sy gunsteling wetenskaplike vernoem, Richard Dawkins.”

      “Dis skreeusnaaks,” giggel Pan. Nou het jy sowaar ’n Hawking en ’n Dawkins. And they’ll both be squawk­ing.”

      Dawkins vryf sy kop teen Tobie se vinger. “Ons sal NOOIT oorgee nie,” sê hy tevrede.

      “As Tobie ’n nuwe troeteldier kan kry, wil ek ook een hê,” sê Tania. “Oor my perd, Ma, Oreo is te koop …”

      “Tania, dit gaan jare vat voor jy genoeg gespaar het vir ’n perd. Kom ons praat liewer nader aan die tyd weer daaroor. So wie wil nog Snotterbel hê?”

      “Dis oukei,” sê Tania vies toe sy en Pan na ete in haar kamer is. “As sy nie daaroor wil praat nie, praat ek ook nie daaroor nie. Ek verkoop net alles wat ek nie wil hê nie en verras haar met die volle tienduisend rand.”

      “Goeie plan,” sê Pan terwyl sy Tania se hangkas oopmaak. “Kom ons kyk wat het jy hier wat ons kan verkoop.”

      4

      ’n Onwelkome gas

04-col.tif

      “Tania!” roep Arabella ’n paar dae later teen die trappe op. “Unathi het ’n bietjie verlof geneem en ek het iemand nodig om my vir ’n paar uur te help.”

      Tania spring gretig op. Sy sit vas met wiskunde-huiswerk en haar druppende niggie, Fifi, of te wel Foefie, hang irriterend om haar rond. Sedert haar tannie ’n nuwe werk gekry het, moet Fifi middae na skool by hulle bly – en Tania kan net nie van haar ontslae raak nie. Maar sy gaan nie vir haar ma wys hoe graag sy die werk wil hê nie.

      “Ek kan dalk help. Gaan ma my betaal?” roep sy terug.

      “Dieselfde wat ek jou betaal om die hondekos weg te pak, vyftig rand ’n uur.”

      “Sestig,” sê Tania. “En dubbel vir oortyd. Perde is duur, weet Ma?”

      “Thieth, Tania,” sê Fifi en skud haar kop toe Tania met die trap afhardloop. “Jy moenie vir jou mammie geld vra nie. Jy moet ’n gawe, behulpthame meithie weeth.”

      Tania ignoreer haar. ’n Paar uur se vrede sonder Foefie en ’n kans om geld te verdien is al wat sy nodig het.

      In die hospitaal trek Tania ’n wit jas aan en is gou baie besig. Arabella het die oggend honde gesteriliseer en Tania se eerste taak is om te kyk dat hulle behoorlik wakker is van die narkose.

      Sy is verbaas om te sien hulle sit almal regop en waai hulle sterte. Tania is seker sy sal nie so opgewek wees na ’n operasie nie. Sy kyk dat hulle nie hulle ste­ke uitgetrek en hulle pleisters afgekou het nie. Dan gee sy vir elkeen ’n bakkie water.

      In die laaste hok is ’n jong Labradortjie. Hy het ’n paar dae tevore iets vrots geëet terwyl hulle gaan stap het, en was baie siek toe sy eienaar hom inbring. Hy is steeds op ’n drup, maar lyk baie beter.

      Tania vryf sy sagte koppie. “Hallo, Spuddie. Hoe voel jy vandag, jong?” Spuddie waai sy stertjie en lek haar hand. “Ma sê jy kan vandag ’n bietjie kos kry omdat jy nie meer opgooi nie.”

      Tania skep ’n paar lepels spesiale dieet-kos in ’n bakkie en gee dit vir die hondjie. Hy verslind dit sonder om te stop om asem te haal. Dis duidelik sy eetlus is terug.

      ’n Paar minute later gaan die spreekkamer se deur oop. “Tania, kan jy gou hier kom help?” roep Arabella.

      Arabella is in die spreekkamer saam met mevrou Van Heerden en Flaffie, ’n vyftig kilogram Rott­weiler met ’n vieslike houding en ’n stink asem. Hy is gemuilband, maar grom en knor steeds. Sy eienaar is ’n klein, fyn vroutjie en daar’s nie ’n manier sy sal die hond kan vashou terwyl Arabella hom ondersoek nie.

      “Hy’t ’n abses in sy mond,” sê Arabella vir Tania. “Ek sal hom ’n antibiotika-inspuiting moet gee. As dit oor ’n paar dae nie opklaar nie, sal ek hom moet verdoof en die tand uittrek.”

      “Sal hy oukei wees, Dok?” vra mevrou Van Heerden. “Is dit hoekom hy in so ’n slegte bui is. Is dit gevaarlik?”

      Arabella kners op haar tande. “Net vir my,” sê sy en kyk na die kwaai hond. Sy trek ’n handskoen aan en trek vloeistof op uit ’n botteltjie in die inspuitingnaald. “Reg, Tania, jy en mevrou Van Heerden moet sy kop styf vashou.”

      Tania vat Flaffie se halsband styf vas en Arabella steek die naald versigtig deur sy vel. Hy gee net een brul en ruk los. Die volgende oomblik swaai hy en stamp Arabella om. Hy staan en grom bo haar, terwyl stinkende speeksel uit sy bek op Arabella se wit jas drup.

      “Sit, Flaffie!” skreeu mevrou Van Heerden. Sy gryp Flaffie se kop en trek hom weg. Arabella kom sukkelend orent en skuif haar bril reg.

      “Jammer, Dok,” maak mevrou Van Heerden ver­skoning. “Hy’t ons onkant gevang. Kan jy hom ’n bietjie stywer vashou, meisie?”

      “Kom ons probeer nog een keer,” sê Arabella en kyk wantrouig na die groot hond.

      Mevrou Van Heerden kry Flaffie in ’n stewige greep beet en Tania vat sy halsband. Hulle hou asem op vir Arabella se tweede probeerslag. Hierdie keer steek sy vinnig en spuit die medisyne in. Flaffie kerm en skud sy kop en spat hulle nat met sy walglike stink speeksel.

      “Gross,” piep Tania.

      “Jammer, Dok!” gil mevrou Van Heerden.

      “Wel, dit sal nou die ding doen,” sê Arabella en vee haar bril met ’n papierhanddoek af. “Alles in ’n dag se werk. Sit hom in die motor terwyl ek opruim en sy pille kry. Tania, hou vir mevrou Van Heerden die deur oop.”

      Die wagkamer sit vol mense en Flaffie kan nie wag om uit die operasiekamer te kom nie. Hy druk verby ’n deftige vrou en haar dogter wat by die deur inkom. Tania se hart sink. Dis die verwaande meisie van die ryskool. Shardonnay.

      “Watse vieslike reuk is dit?” vra Shardonnay en kyk Tania op en af. “Het jy in iets getrap?”

      Tania bloos. “Dis niks. Ek bedoel dit is iets, maar dis nie ek nie … Ek het nie in iets getrap nie …”

      “Ons is nuut hier in die dorp en my opregte Chihauhua eet net Costalot-hondekos,” sê die def­tige vrou vir Ilona, die ontvangsdame. “Ek is nie seker of so ’n klein praktykie dit sal aanhou nie, maar ek benodig ’n pak daarvan, en ’n vlooi- en bosluishalsband.”

      “Costalot?” sê Ilona. “Ons het agter daarvan. Ek gaan kry gou.”

      Net toe kom Arabella uit die operasiekamer met ’n pilhouer. “Tania, vat hierdie asseblief vir mevrou Van Heerden. Sy’s in haar motor.”

      Die deftige vrou staar na haar. “Arabella? Ek sou jou enige plek herken het!”

      Arabella staar terug. “Um …”

      “Dis ek, dommie. Liberty.”

      “Liberty van Rensburg? Ons was