Haar ma se kind. Helena Hugo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helena Hugo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318619
Скачать книгу
n>

      

      Haar ma se kind

      Helena Hugo

      Lux Verbi

      Aan my ma, Leonie Myburgh, wie se ma by haar geboorte oorlede is. Sy het as enigste kind by haar ma se suster grootgeword en is ’n wonderlike ma vir ons vyf kinders.

      Dankie, Ma, dat Ma ons ’n liefde vir lees aangeleer het!

      Wie sy oë sluit vir die waarheid,

      veroorsaak smart;

      en wie aanhou onsin praat,

      kom self tot ’n val.

      – Spreuke 10:10

      Een

      Dora Stals se skouers pyn en haar kop voel te swaar vir haar nek. Toe sy afbuk, is sy duiselig. Sy hou asem op, vat die dun waslap met albei hande vas en wurg dit tot ’n toutjie. Die waswater maak skuimborrels om ouma Loesie se voete. Dora moet keer of mislikheid oorweldig haar. Wat is dit tog? Gewoonlik steur sy haar nie eens aan die walglikste slopemmer nie. Sy ken dit – die mensreuk van armoede en verval – en sy kon haar nog altyd daarvan afsluit, maar skielik raak dit moeilik. Miskien is sy net moeg. Dit is haar laaste besoekpunt vir vandag en dis bedompig.

      Vat jouself vas, Dorkas, doen jou werk!

      Sy skud die toutjieslap uit, druk dit nog ’n keer in die water en soek die skerfie seep op die koerantpapier onder die wasskottel. Dit wil nie werk nie. Seep skuim moeilik as dit min raak.

      “Nie te veel nie, dis laaste,” keer ouma Loesie.

      “Ek sal Dania stuur met ’n nuwe koekie.”

      “Ek bedel nie,” sê ouma Loesie.

      “Dis van die kerk se voorraad.”

      “Bring dan maar.” Ouma Loesie sug asof sy die kerk ’n guns doen en vra dan die vraag wat op almal se lippe is: “Wat hoor jy van Mara se Rodger?”

      “Dit gaan beter.”

      Dora vou die skewe voete toe in die uitgerafelde handdoeklap, droog versigtig tussen die tone, raak nie aan die naels nie. Volgende keer, nie vandag nie. Haar oë kyk oormekaar van uitputting, en om naels te knip is werk vir daglig, nie skemertyd nie. Buitendien – ouma Loesie se ondergoed week nog in die waswater.

      “Ouma moet vir Suzie sê Ouma soek elke dag skoon onderklere, kouse ook.”

      “Ek het nie genoeg verskonings nie.”

      “Sy moet meer gereeld was.”

      “Sy wil nie.”

      “Waar is sy?”

      “Dis TV-tyd. Sy’t geloop sonder om die slop leeg te maak.”

      Daarvan is Dora deeglik bewus, ook dat dit nou háár verantwoordelikheid is. Sy stel ouma Loesie gerus en help haar onder die komberse in. Die beddegoed kort ’n goeie uitskud. Doen Suzie dan deesdae so min vir haar ma? Ouma Loesie het Suzie se kinders grootgemaak. Hulle leef van haar ouderdomspensioen. En watter soort dankbaarheid betoon hulle? Dora buk weer laag oor die wasskottel. Haar rug pyn.

      Sy byt op haar tande, spoel die onderklere uit en hang dit oor die katelstyl.

      “Het Ouma geëet?”

      “Pap en bliktamaties. Gee my suurmaag.”

      “Sê vir Suzie dis oormôre sopkombuis. Sy kan ’n skottel bring, dan skep ek spesiaal vir Ouma.”

      Ouma Loesie knip haar oë. “Dorkas Stals, die Here seën jou.”

      Dora knik. Ja, sy is geseënd. Sy werk en verdien genoeg om vrylik te kan deel – sy en Jonnie. Hulle kla nie, hulle het vir Dania én Jo-Anne. Jo-Anne sal haar en Jonnie ondanks alles nie in die steek laat nie, Dania ook nie. Al doen kinders dit deesdae. Sy sien dit elke dag, hoe kinders ouers se opofferings as vanselfsprekend aanvaar en hulle dan afskeep wanneer hulle hulpeloos raak. Wat nodig is, is respek. Jo-Anne vergeet dit nie. Sy doen haar bes. Maar Suzie …

      “Die skottel raak swaar,” sê Dora en draai weg voordat sy vir ouma Loesie begin preek oor Suzie.

      Die skewe suurlemoenboom langs die voordeur kry die seepwater. Die wasskottel kort skoonmaak, maar sy los dit. Sy is moeg en moet nog die slop uitvat. Hy staan so prominent op sy ereplek, sy kan nie maak of sy vergeet nie. Sy stap soontoe en skuif die deksel reg, vat die hingsel vas.

      Ouma Loesie roer in die bed. “Wat hoor ek als van Rodger Davids?”

      “Nee, Ouma, hoe sal ek weet wat Ouma gehoor het?”

      Dora lig die emmer en loop uit voor die ou vrou kan begin karring.

      Die buurvrou – haar naam is Prudence – staan teen die muur en rook. Die baba by haar voete eet hande vol grond. Prudence bied nie aan om die slop oor te vat nie. Sy blaas darem die rook anderkant toe. Dora stap verby na die kleinhuisie. Sy haal diep asem voor sy die deur oopstoot en die emmer leegmaak. Agter haar skel Prudence op die baba. “Sies, jou klein vark! Spoeg uit!”

      Verder weg roep ’n dun meisiestem: “Ma sê jille seenskinners moet kom eet! Oppie daad!”

      Prudence se baba huil soos ’n klein katjie wat iewers vasgeknyp sit.

      Toe Dora om die huis se hoek kom, loop sy haar in Suzie vas. Sy gee die leë slop aan. “Het jy nog Jik om te ontsmet?”

      Suzie skud haar kop. Sy hou ’n plastiekbottel in die lug, ’n lagie pienk vloeibare seep op die bodem. “Ek’t gaan leen – vir die skottelgoed.”

      “Jou ma dag jy kyk TV.”

      “My ma verbeel haar.”

      “Jy moet vir julle skoon hou.” Dora tel haar sak by die voordeur op. Suzie lyk so moedeloos, sy raak liggies aan haar arm. “Moenie vergeet van oormôre se sopkombuis nie.”

      “Nooit nie!”

      “Bring ’n skottel saam vir jou ma.”

      “Het iemand nie ’n paar flenters vir haar nie? Sy kort ondergoed.”

      “Ek sal kyk wat ek kan doen.”

      “Dankie.”

      Skaars hoorbaar, maar dis daar.

      “Moed hou, Suzie.” Dora probeer glimlag. Dis moeilik, want sy ken vir Suzie. Suzie weet om haar onskuldig te hou. Dora troos, maar diep in haar roer die wrewel. Sy het al ’n slag vir Suzie gevra om haar op haar rondtes by te staan en ’n string verskonings as antwoord gekry. Die ou paar randjies wat die kerk haar sou betaal het, was vir Suzie die laaste strooi. Haar woorde het Dora bygebly. Ek is arm, maar ek is niemand se voetvel nie.

      Hoe is dit dan dat daar so min mense is wat bereid is om die ekstra myl te loop? dink sy terwyl sy die lendelam hekkie agter haar toetrek. Sy wat Dora is, doen dit, al knyp haar skoene. Sy is nie heilig nie, sy het haar foute, maar sy gee van haarself ten spyte van haar uitputting. Vroue soos Emma en Mara en Ansie doen dit ook. Hulle het hulp nodig, bitter nodig!

      Werkers, Here, want die oes is ryp en die werkers min.

      Ja, die lande staan geelryp en verskroei in die ongenadige son van armoede – geestelik en liggaamlik. Maar dis oorlewing wat saak maak, nie geloof nie; die volgende maaltyd, nie die lewe ná die dood nie; TV’s en selfone, nie die Woord nie. Sy bid vir hulle, sy lees vir hulle en hulle verstaan nie.

      Daar is ’n rou kol in haar hart. Die tyd stap aan en hier is net te veel ellende. Dis laat in die dag.

      Sy kyk nie waar sy loop nie, struikel oor ’n boomwortel en gryp net betyds na die verweerde stam. Die lug om haar is grou van houtvure en die reuk van kool en pap wat aanbrand.

      ’n Maer vroutjie doem uit die skemerte op. “Askies, antie Dora, voel Antie sleg?”

      “Naand, Valery. Nee, my voet het geglip en amper val ek. Hoe gaan dit?”

      “Darem beter as met ouma Mara-hulle.”

      Die enigste stories wat saak maak, is skinderstories.

      “Antie