. . Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор:
Издательство:
Серия:
Жанр произведения:
Год издания:
isbn:
Скачать книгу
heel grootste van al God se gawes aan sy volgelinge is. Dit is ’n onmisbare deel van elke gelowige se geestelike mondering. Jesus vertel in Matteus 25 dat Hy alle mense op die laaste dag juis gaan oordeel op grond van hulle liefde, of gebrek aan liefde, vir ander.

      God se liefde maak jou blind vir menslike vooroordele. Dit laat jou nie eers vra: “Maar sal hierdie persoon darem dankbaar wees as ek aan hom of haar goed doen?” nie. Nee, sy liefde beweeg jou om onvoorwaardelik uit te reik na elkeen wat elke dag met jou paaie kruis, vriend of vyand. God se liefde is ook nie maar net die een of ander emosionele gevoel nie. Jy moet dus nie eers wag totdat jy ’n spesiale liefde vir ander voel voordat jy iets vir hulle begin doen nie. Nee, naasteliefde is iets wat jy as Christen elke dag doen sonder om daaroor na te dink. As deel van jou alledaagse Christelike roetine moet jy gewoon maar net brood na die hongeriges toe aandra waar jy hulle ook al raakloop, tyd maak om die siekes te ondersteun, die eensames besoek, hoop aan die mismoediges uitdra en vir die verlorenes bid.

      Dit help nie om die kerkbanke van die oggend tot die aand warm te sit, al wat geestelike byeenkoms is by te woon en net heeltyd lekker kerk te hou nie. Natuurlik is hierdie sake noodsaaklik, maar dit is slegs jou geestelike wegspringblokke. Eers wanneer jy deur die loop van die week in die lewenswedloop begin hardloop, word dit duidelik of jy een van die ‘groot’ gelowiges is wat bereid is om God en ander mense met woord en daad te dien.

      God stel nie in ’n flambojante Christendom belang wat in wêreldse terme ’n ‘treffer’ is nie. Nee, Hy is op soek na gewone mense wat Hom op sy woord wil neem. Hy is op soek na Christene wat nie meer gepla is oor hulle eie aardse koninkrykies nie, maar hulle voete onherroeplik op die hoofpad van sy koninkryk plaas.

      Is jy bereid om God te toets deur as ‘gewone’ gelowige die belangrikste dinge vir Hom te begin doen? Sal jy van nou af sensitiewer wees vir die nood van ander mense rondom jou, selfs al is hulle jou aartsvyande? Sal jy dit ’n slag waag om die veilige ruimte van jou geestelike kokon te verlaat om iets vir die bloeiende, sterwende wêreld rondom jou te begin beteken? God se hoofpad van geloof loop elke dag kruis en dwars oor ander mense se lewenspad. By elke kruising sal jy ten minste ’n toegee- of ’n stopteken aantref. Jou geloof moet jou laat stilhou en help, waar nodig. Dan sal jy daartoe bydra dat God se hoofpad behoorlik paaie kruis met ’n paar stukkende, honger en gevalle mense langs die lewenspad.

      Weet jy, op die pad van dienslewering sal jy ook die stem van Christus die heel duidelikste hoor, want dit is hier waar Hy Hom veral bevind.

      Een van God se voetsoldate

      Naäman, die hoof van die leër van die koning van Aram, was ’n gesiene man wat die agting van die koning geniet het. Deur hom het die Here ’n oorwinning aan Aram besorg. Die man was ’n dapper soldaat, maar hy het melaats geword. Op een van hulle strooptogte het die Arameërs ’n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het. Sy het vir die vrou gesê: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.”

      2 KONINGS 5:1-3

      ’n Vriend vertel my dat hy op ’n keer ’n kerkkongres bygewoon het waar ’n vriendelike vrou tee vir die aanwesiges geskink het. Aan die einde van die kongres het hy na haar toe oorgestap om haar te bedank vir haar vriendelikheid en hulpvaardigheid. Sy het skamerig hierop gereageer deur te sê dat sy nie eintlik besonderse gawes en talente het nie. Sy kan nie wonderlike toesprake hou of kragdadige getuienisse vir die Here lewer nie, maar wat sy wel kan doen, is om goed tee te maak en koek te bak. Sy het besluit dat sy dit elke dag voluit vir die Here sal doen. Die verversings wat sy sonder ’n omhaal van woorde aan ander gelowiges voorsit en die skottelgoed wat sy later stilweg in die kombuis opwas, is haar stukkie dienslewering vir haar Meester.

      My vriend sê hierdie paar woorde van die vrou het vir hom meer beteken as die kongres self. Sy het iets van die hart van die evangelie gesnap en dit uitgeleef. Terwyl die kongresgangers elke dag die een skouspelagtige gemeentebouplan ná die ander aanmekaargeslaan het om kerklidmate aan die beweeg te kry, het sy die gawes wat sy van die Here ontvang het onder hulle oë beoefen sonder dat hulle dit besef het.

      Bring ons nie ook maar lang ure by die tekenbord deur en probeer allerlei planne uitwerk om die kerk uit die verknorsing te red waarin dit na ons mening verval het, terwyl ons nie by die heel basiese dinge uitkom nie? Daar is te veel stuurmanne en te min voetsoldate in die kerk.

      Te midde van al die oplossings wat ons vir die kerk gereed het, snap ons nie aldag die eenvoud van die evangelie nie. Ons beraam reusagtige projekte om die ganse wêreld te red, terwyl ons bure oorkant die straat nog nie in Christus glo nie. Ons ontwerp nuwe strukture en aksies, maar kom nie by die eenvoudige dinge uit, soos om skottelgoed tot eer van die Here te was en die weduwees en wese te besoek nie.

      Dit is hier waar die verhaal van Naäman in 2 Konings 5 inpas. Hierdie hoof van die Arameërs se weermag het op ’n dag melaats geword en is toe uiteindelik deur Elisa in die Naam van God genees. Ons lees dikwels verby een belangrike persoon, die een onontbeerlike skakel in die ketting wat tot Naäman se genesing bygedra het.

      In 2 Konings 5:2-3 word vertel van ’n meisietjie uit Israel wat as slavin in die generaal se huis diens gedoen het nadat sy as gevangene uit Israel weggevoer is. En dit is juis aan hierdie meisietjie te danke dat Naäman by Elisa uitgekom het. Want toe sy op ’n dag van haar eienaar se siekte hoor, het sy dadelik vir sy vrou gaan sê dat hy na Samaria toe moes gaan waar die man van God hom gesond sou maak.

      Hierdie meisietjie, nog ’n blote kind, het geen maklike dagtaak gehad nie. Om op so ’n jong ouderdom ver van jou mense af te wees en dan boonop nog vir ’n heidense generaal en sy vrou te werk, was nie kinderspeletjies nie. Tog het sy waarskynlik haar werk met groot toewyding gedoen. Anders sou die generaal en sy vrou mos nie na haar geluister het toe sy van Elisa vertel het nie. Kinders is immers gesien maar nie gehoor nie! Juis omdat hierdie meisietjie elke dag haar moeilike dagtaak getrou uitgevoer het, het hulle waarde geheg aan daardie paar woorde toe sy die slag wel gepraat het.

      Sy het nie ’n roerende getuienis of ’n lang preek vir Naäman se vrou gereed gehad nie. Nee, sy het net die rigting na Elisa en God toe aangewys. Dit was genoeg. Uiteindelik was hierdie paar sinnetjies van iemand wat op haar pos was toe die Here die dag op haar knoppie gedruk het, genoeg om die lot van ’n klomp mense te verander. Want kort voor lank is Naäman genees nadat hy by Elisa uitgekom, en hy en sy leër voor die God van hemel en aarde gebuig het.

      God gebruik gewone mense in sy diens, ook al staan hulle agter die kospotte en al was hulle skottelgoed. Niemand is te gering of te onbenullig vir Hom nie. Hy soek juis na voetsoldate om in die veld vir Hom te gaan werk. Daar is deesdae oorgenoeg skemas en planne om die kerk te vernuwe, asook genoeg predikers en mense wat groot dinge vir die Here kan doen. Maar daar is veels te min mense wat stilweg, sonder dat ander daarvan bewus is, die belangrikste dinge vir Hom doen met die talente wat Hy aan hulle gegee het.

      God kan regtig elke gawe van ons gebruik, selfs ook die manier waarop ons skottelgoed was en in ons huis werk. Hy vra maar net dat ons tot sy beskikking sal wees op daardie stukkie terrein waar ons ons bevind. Hy sal ons op sy eie tyd op verrassende maniere gebruik. Gaan toets Hom maar net deur elke dag getrou op jou pos te wees.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги,