Takelwerk. Daniel Hugo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Daniel Hugo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Языкознание
Год издания: 0
isbn: 9780798169264
Скачать книгу
>

      Takelwerk

      Daniel Hugo

      Human & Rousseau

      Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Takelwerk mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.

      vir Marlene

      To love one woman, or to sit

      Always beneath the same tall tree,

      Argues a certain lack of wit

      Two steps from imbecility.

      Yet if, miraculously enough,

      (And why set miracles apart?)

      Woman and tree prove of a stuff

      Wholly to glamour his wild heart?

      (Robert Graves, “Woman and tree”)

      Oerknal

      I

      vanaf daardie oomblik van die oerknal

      wemel die heelal van die seine

      en die groot vraag bly: is dit Syne?

      dis die kosmiese kolk waarin ons val

      II

      natuur, mens en dier teister

      ons tollende sidderende sfeer:

      vulkane, oliebore en toktokkies

      laat die aardrots resoneer

      Somtotaal

      taal is die somtotaal

      van sy sprekers, dis ’n rivier

      wat stroom van horison tot horison

      dit is die verborge bronne

      waar die papirus ritsel, en af-

      geleë syferplekke in die woestyn

      waar die palmvingers krabbel

      teen ’n gelooide lug, maar ook

      die geletselde leiklip op grafte

      waar onderaardse are murmel

      taal is meer as die som

      van sy digters – wilde-eende

      wat oor die oppervlak skater

      wat die stil water klap en trap

      totdat dit oorverdowend skitter –

      dit is die rustige prater

      wat sy woorde soos spoelklippies

      kies en oor sy tong laat rol

      voordat hy dit terug laat plons

      in die tydloos stromende stroom

      Literatuurgeskiedenis

      in ’n tweedehandse boekwinkel

      – as liefdadigheidsorganisasie bedryf

      deur die kerk – ontdek ek

      Uys Krige se eerste digbundel

      uit 1935, opgedra aan ene

      Gideon Uys en geteken

      deur die blonde digter-troebadoer

      ek vermoed die boek kom uit

      John Kannemeyer se verstrooide

      nalatenskap en koop dit as bewys

      van my liefdadigheid teenoor

      ’n ongeliefde man, my eerste

      mentor, my vriend en vyand –

      hy was los van tong maar nooit

      nalatig met sy biblioteek nie:

      rye gealfabetiseerde swye

      hierdie boek breek my hart: John

      was die grootste van ’n Gideonsbende,

      bewakers van die gedrukte woord,

      nou uitgedun tot snuffelaars

      tussen stowwerige rakke, skamel

      versamelaars van ’n taal se ellende

      Januarie 2014

      Digter

      sy gevurkte tong gee die toon aan:

      alles wat hy lispel en sis is dubbel-

      sinnig en elke kronkeling word

      onderskryf deur die geratel van skubbe

      Vraag

      vir JC Bloem

      gister het ek ’n vyeboom geplant

      en vandag ’n vers daaroor geskryf –

      is dit genoeg om my bestaan

      van ’n etmaal te regverdig?

      klaarblyklik nie – die gedig lê

      reeds verskrompel in die snippermandjie

      vergiftig deur die geskubde digter:

      mag die vy teen gifgoed staande bly!

      Kwatryn

      gelok deur die glinster in my oog

      kom draai ’n muggie voor my gesig:

      ’n dwalende klein gedagte wat

      die oase soek van ’n gedig

      Die digter as roker

      net soos ’n roker sy asem

      sigbaar maak, gee die digter

      vlugtig vorm aan sy gees

      en die geheim is om dit

      ewe maklik te laat lyk

      as asemhaal, maar daar is

      dié met swaar emfiseem

      wat worstel om hul gedagtes

      lug te gee – dit is hulle

      wat mettertyd versmoor

      wat skel op als wat sweef en leef

      en dan self in rook opgaan.

      Die Volkstem

      ons lees nooit die koerant nie

      nee, ons skeur hom aan repe

      kolom vir giftige kolom

      en vul dit met nog meer twak:

      fyn tabak tussen die letters

      gestrooi en styf ingepak

      en, ja, dan rook ons hom

      die ink laat ons longe brand

      en oë traan, laat ons proes

      en stik – die vervloekte koerant

      wat lesers se lewens verwoes

      Vuurhoutjie

      vir Peter Blum

      ek maak my hande bak

      om ’n vuurhoutjie se flak-

      kerende son: die eerste god

      in sy diep gewyde grot,

      ’n heilige vlam wat snak

      en sputter en ongeblus

      bly voortsmeul in sy nis