“That doesn’t count. I want you to take a break between Christmas and New Year. You need to have a real holiday …”
’n “Real holiday”? Al waarvoor hy geld het, is om by die huis te gaan sit, en dit gaan hom binne ’n dag van sy sinne af dryf.
“… and spend time with your loved ones.”
Dit was Kaleni se troefkaart.
Sy loved ones.
Voor Mbali hom vanmiddag gebel het, het hy twintig minute lank daar in die Ocean Basket by sy loved ones gesit. Sy dogter Carla en sy vriendin en houvrou Alexa het onophoudelik gesels oor kunste-goed wat hy niks van weet nie. Sy seun Fritz het met sy selfoon gesit, vingers wat dans, en kort-kort ’n geheimsinnige laggie gegee as ’n nuwe SMS of WhatsApp of Facebook of Twitter of BBM, of wat dit ook al is wat nou ín is, die foon se klokkies laat lui. Asof sy pa nie bestaan nie. Asof dié nie ’n spesiale ete is wat Alexa met groot moeite gekoördineer het nie. Fritz, vir wie hy ’n fortuin moet betaal sodat hy aanstaande jaar filmskool toe kan gaan. Nie ’n figuurlike fortuin nie, ’n letterlike een, want AFDA vra R5 950 net vir registrasie. En R10 000 se inskrywingsgeld. En R55 995 se kursusgelde. Vir één jaar. Hy ken die bedrae, hy kan hulle in die middel van die fokken nag opsê, want hy moes dit vir sy bankbestuurder gaan voorlê. En toe dink die bank amper ’n maand lank voor hulle die lening toestaan.
En Fritz het geen waardering daarvoor nie, hy lê op sy selfoon tydens die spesiale ete, en Griessel weet nie wat om te doen nie.
Al twee sy kinders het ’n baie beter verhouding met Anna. Hy hoor hulle soms met sy eks oor die telefoon praat. Gesprekke vol lag en gedeelde ervarings en binne-inligting.
En hy? Wat moet hý doen? Sy lewe is sy werk, en hy kan nie daaroor praat nie. Oor sy altruïsme en sy depressie, volgens die shrink.
En die Van Eck-kêreltjie. Carla se nuwe vriend, wat saam met haar drama studeer op Stellenbosch (teen R29 145 per jaar, wat hy met groot moeite en spaarsamigheid sonder ’n lening kon hanteer, tot nou toe). Griessel kan Van Eck nie verdra nie. Hy het al begin wonder of sy dogter se vorige liefde, die Etzebeth-rugbyspeler, nie ’n beter proposisie was nie. Want Etzebeth het minstens geweet wanneer om sy bek te hou.
Van Eck is vol praatjies en menings en vrae wat Griessel nie wil beantwoord nie. “Wat was jou interessantste case? Wat dink jy van die Oscar verdict? Hoekom is ons crime rate so hoog?”
Nie “oom” nie, dis “jy” en “jou”, want sy haartjies is lank en sy ogies is skelm en Alexa sê hy’s ’n mooi seun en hy’s “sweet”, en Griessel wil nie snaaks wees nie, dis Carla se vriend, maar hy het ’n sterk vermoede Van Eck is ’n bedorwe klein doos.
Vincent van Eck. Hy kan al Vaughn Cupido se reaksie hoor: Watse fokken naam is dit? Wie noem sy kind Vincent? Met só ’n van?
* * *
Adjudant Jamie Keyter sit om 16:28 oorkant die swaarbelade lessenaar van die bevelvoerder van die SAPD se Table View-stasie en vertel vir hom die ou wat hulle vanmiddag so sorgsaam uit die sand anderkant Blouberg opgegrawe het, is bes moontlik ’n man met die naam Ernst Richter.
“Dié Ernst Richter?” vra die kolonel met kommer in sy stem.
Keyter wonder hoekom almal behalwe hy al van dié man gehoor het – miskien moet hy ook die koerante lees selfs wanneer daar nie nuus oor een van sy eie sake in is nie.
Hy beaam dit, en hy sê Richter is net meer as drie weke gelede as vermis aangemeld op Stellenbosch. Die haarkleur en gelaatstrekke van die slagoffer toon ’n baie sterk ooreenkoms met die twee kop-en-skouers-foto’s wat Stellenbosch-stasie tien minute gelede per e-pos aangestuur het. En boonop dra die lyk dieselfde klere as wat Richter net voor sy verdwyning aangehad het.
“Goeie werk,” sê die stasiebevelvoerder ingedagte.
“Dankie, kolonel. Maar nou praat Stellenbosch van jurisdiksie. Ek meen, dis ons saak, finish en klaar. Is dit nie?”
“Het ons al ’n positiewe identifikasie?”
“Ek gaan nou sy ma bel om te hoor of sy hom kan gaan uitken, kolonel. Maar hy’s hier in ons gebied gekry. So al wat Stellenbosch nodig het, is ’n ninety-two om hulle dossier af te sluit …” Keyter se hoopvolle verwysing is na die SAPD-vorm 92, wat ingevul word nadat ’n vermiste persoon gevind is.
Die bevelvoerder krap die agterkant van sy nek terwyl hy nadink. Hy ken Jamie Keyter se sterk- en swakpunte. Hy weet die adjudant is dalk nie die mees verblindende lampie in Table View se speurkandelaar nie, maar hy is toegewyd, metodies en betroubaar, met ’n paar suksesvolle ondersoeke van ongekompliseerde moorde op sy kerfstok.
Die groot vraag is: As dit dié Ernst Richter is, sal hy die saak aan Keyter kan toevertrou?
Die een probleem is Keyter se ambisie. Ná die positiewe publisiteit van ’n oopgevlekte motordiefstalsindikaat ’n jaar of drie gelede, oorskat Jamie dikwels sy eie vermoë en potensiaal. En in die Table View-stasie word daar dikwels geskinder oor sy voorliefde vir die mediakollig (en sy gewoonte om voor die spieël te talm).
Die ander probleem is werklading. Table View is een van die snelgroeiendste metropolitaanse gebiede in die Skiereiland. En dié groei is in die laer middelklas, onder andere duisende immigrante van Nigerië, Somalië, Malawi en Zimbabwe in die Parklands-gebied, waar amper sestig persent van die misdaad wat sy stasie moet hanteer, nou gepleeg word. As dit definitief dié Ernst Richter is, sal hy heelwat mannekrag moet afstaan, want die druk van die provinsiale kommissaris gaan baie groot wees wanneer die media kom uitkamp.
Dis mannekrag wat hy nie het nie. En media-aandag wat net Keyter wil hê.
“Jamie, kom ek bel Stellenbosch en hoor wat ek kan doen,” lieg hy.
* * *
Aan die einde van die derde glas begin Griessel se fisieke pyn wegsyfer. Die pyn in sy arm en sy buik – die dowwe pyn van die koeëlwonde, ses maande oud. Toe hulle vir kolonel Zola Nyathi doodgeskiet het, en nie vir Bennie nie.
Vanoggend, aangestook deur die swaar weer, het die pyn weer opgevlam tot ’n kloppende herinnering van alles.
En nou sit hy hier en hy begin die vierde dubbel drink.
Hy’t geweet die suip is naby. Dok Barkhuizen, sy jare lange borg by Alkoholiste Anoniem, het dit ook sien kom. “Ek ken daai glasige oë, Bennie. Konfronteer die lus. Wanneer laas was jy by ’n AA-vergadering? Gaan praat weer met die shrink. Kry jou kop reg.”
En hy wou glad nie terug na die shrink toe nie, want in die eerste plek het hulle hom gedwing om die berading te vat ná die skietery. In die tweede plek, hy het die proses voltooi, teen wil en dank. In die derde plek weet sielkundiges niks, want hulle sit net in hulle kantoortjies wat so irriterend uitgedos is om verskrikte, onstabiele mense tuis en lekker te laat voel. Met die boks tissues byderhand, soos ’n belediging, en die teddiebeer teen die venster.
’n Teddiebeer. By ’n shrink wat polisiemense moet beraad.
En dan is hulle vol groot woorde en boekkennis, maar het hulle al keer op keer langs ’n verminkte lyk gestaan? Of gelê en kyk hoe die bloed uit jou spuit en drup en vloei, en jy weet jy gaan vrek, saam met jou kollega? En daar’s niks wat jy kan doen om hom te red nie.
Sy is ’n aantreklike vrou, die shrink wat hom berading gegee het. Middel veertigs, nes hy self. Hy’t eers gedink dit gaan okay wees, ondanks die tissues en die teddie, maar toe begin sy met daardie fokken strelende stem, asof hy ’n besetene is wat kalm gehou moet word. Sy vra haar vrae, oor sy hele lewe, sy geskiedenis as speurder. En sy luister aandagtig, haar fokus is so volkome, en sy beaam alles so mensliewend en sê sy verstaan. En ná vier weke sê sy vir hom hy het posttraumatiese stres. En oorlewingskuld. En dis sy altruïsme en depressie wat hom laat suip.
Hy was nie heeltemal seker wat “altruïsme” beteken nie.
“Dit is omgee vir ander,”