Witwatersrand. Wilbur Smith. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Wilbur Smith
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780795707032
Скачать книгу

      “Jy’s vreeslik,” sê klein Jane en stap blosend weg. Glad ook nie meer so klein nie, sien Sean. Daar is so baie van hulle, ’n mens weet amper nie waar om te begin nie.

      “Hier’s Pa nou,” kondig Garry aan terwyl Waite Courtney die plein binnery.

      “Komaan,” sê Sean en hy maak sy perd los. Oral op die plein lei die mans hul perde uit.

      “Tot later,” sê Garry en hink weg na een van die waens.

      Waite ry voor die kommando uit: vier troepe van vyftien man twee-twee in gelid, vier waens agterna en dan die handperde wat deur swart agterryers aangejaag word.

      Hulle beweeg oor die plein, deur die rommel van die vorige nag se feesviering, in die hoofstraat af. Die vrouens staan, met die kinders om hul bene, hulle bewegingloos agterna en kyk. Die vroue het die mans al voorheen sien uitry teen die inboorlinge. Hulle juig nie, want hulle ken die weë van die dood. Hulle het geleer dat daar geen plek vir glorie in die graf is nie.

      Anna waai vir Sean. Hy sien haar nie, want sy perd is uitgelate en hy is by haar verby voor hy die dier onder beheer het. Sy laat haar hand langs haar sy sak en staan en kyk hoe hy wegry. Hy het die skaapvelbaadjie aan.

      Sean sien wel die koperkleurige glas en die skelm handsoentjie in die bovenster van Pye se winkel. Hy sien dit omdat hy daarvoor soek. Hy vergeet sy gekrenkte eer genoeg om te glimlag en met sy hoed te waai.

      Hulle ry die dorp uit en eindelik sak die klein seuntjies en die honde uit wat nog die hele ent saam met die kommando gedraf het. Die perde trippel weg op die pad na Zoeloeland.

      Die son kom op en droog die dou af. Die stoffies begin uitslaan onder die perdepote en stuif skeef van die pad af oor die veld. Die kommando verloor sy vorm spoedig, want ruiters beweeg vorentoe en val terug om by vriende aan te sluit. Hulle ry streep-streep en in groepies, ontspanne en opgewek geselsend, so informeel soos ’n geselskap wat die dag uitry om te gaan jag. Elke man is geklee in die klere wat hy as die geskikste beskou. Stef Erasmus dra sy kerkpak en van die hele klomp is hy die formeelste aangetrek. Hulle het net een stukkie standaarduitrusting: die groen-en-geel kokarde. Maar ook hier is daar ruimte vir individuele smaak; party dra dit op die hoed, party op die mou en ander op die bors. Hulle is boere, nie soldate nie, maar hul geweerskedes is verweerd van gebruik, hulle bandeliers sit gemaklik om hul skouers, hulle geweerkolwe is blink van baie hantering.

      Eers teen laatmiddag bereik hulle die Tugela.

      “Goeie tyd, kyk daar!” fluit Sean. “Ek het nog nooit so baie mense op een plek gesien nie.”

      “Hulle sê daar is vier duisend,” sê Karel.

      “Ek weet daar is vier duisend.” Sean se oë dwaal oor die kamp. “Maar ek het nie geweet dat vier duisend so baie is nie.”

      Die kommando ry teen die laaste helling af na Rorkesdrif. Die rivier loop modderbruin en breed kabbelend oor die vlak plekke. Die walle is oop en grasbegroeid. Op die duskantse wal staan ’n klompie klipgeboue. In ’n straal van ’n kwartmyl om die geboue lê lord Chelmsford se kamp. Die tente staan netjies ry op ry, met die perde tussenin vasgemaak. By die drif staan die waens saamgetrek, goed vyf honderd, en die hele wêreld wemel van soldate.

      In ’n bondel, wat weerskante oor die paadjie vloei, kom die Ladyburg Mounted Rifles tot op die rand van die kamp gery. Hier word hulle voorgekeer deur ’n netjies uitgevatte sersant met ’n gevelde bajonet.

      “En mag ek vra wie julle is?”

      “Kolonel Courtney en ’n afdeling van die Ladyburg Mounted Rifles.”

      “Hoesê? Nie gehoor nie.”

      Waite Courtney staan op in sy stiebeuels en draai hom na sy manskappe. “So ’n bietjie stilte, here. Ons kan nie almal gelyk praat nie.”

      Die lawaaierige geselsery en aanmerkings agter hom bedaar en die keer hoor die sersant.

      “O! Verskoon my, meneer. Ek sal die ordonnansoffisier gaan roep.”

      Die ordonnansoffisier is ’n aristokraat en ’n heer. Hy kom en kyk na hulle. “Kolonel Courtney?” Hy klink ongelowig.

      “Dag,” sê Waite met ’n vriendelike glimlag. “Ek hoop ons is nie te laat vir die pret nie.”

      “Nee, ek glo nie.” Die offisier se oë bly steek vas op Stef Erasmus.

      Stef lig sy keil beleef. “Môre, meneer.” Die bandeliers vol ammunisie lyk ’n bietjie onvanpas op sy swart manel.

      Die offisier kyk met moeite weg van Stef. “Het julle jul eie tente, kolonel?”

      “Ja, ons het alles saamgebring wat ons nodig het.”

      “Ek sal die sersant vra om julle te wys waar julle kan kamp opslaan.”

      “Dankie,” sê Waite.

      Die offisier draai hom na die sersant. Hy is so meegevoer dat hy die man aan die arm neem. “Vat hulle ver weg. Vat hulle tot anderkant die geniekorps,” fluister hy benoud. “As die generaal hierdie spul sien …” Hy ril geaffekteerd.

      19

      Garrick word eerste van die reuk bewus. Dit gee hom ’n soort aanknopingspunt vir sy gedagtes en hy kan begin uitkom uit die wegkruipplek in sy brein. Vir Garrick gaan hierdie terugkoms na die werklikheid altyd gepaard met ’n soort lighoofdigheid en ’n verskerping van sy sintuie. Kleure is skerper, sy vel gevoeliger, smake en geure duideliker, helderder.

      Hy lê op ’n strooimatras. Die son skyn helder, maar om hom is skaduwee. Hy lê op die stoep van die klipmuurhospitaal bokant Rorkesdrif. Hy dink weer aan die reuk wat hom na die werklikheid teruggebring het. Dis ’n mengsel van verrotting, sweet en mis, die reuk van geskeurde binnegoed en gestolde bloed.

      Hy herken dit. Dit is die reuk van die dood. Dan skuif sy oë in fokus en sien hy die dooies. Hulle lê opgestapel langs die muur om die werf waar die kruisvuur van die winkel en die hospitaal hulle betrap het, hulle lê verstrooi tussen die geboue. Die grafgrawers is besig om hulle op waens te laai. Hulle lê teen die skuinste af tot in die drif, hulle lê in die water en teen die oorkantse wal uit. Dooie Zoeloes met hulle wapens en skilde om hulle. Honderde van hulle, dink Garrick met verwondering, nee, duisende van hulle.

      Dan word hy bewus van twee reuke. Albei is die reuk van die dood. Daar is die stank van die swart lyke wat lê en swel in die son en daar is die reuk van sy eie liggaam en die liggame van die mans om hom: dieselfde reuk van pyn en ontbinding, maar swaar met ontsmettingsmiddel.

      Garrick kyk na die mans om hom. Hulle lê in ’n lang ry op die stoep af, elkeen op sy eie matras. Party is aan die sterf, baie leef nog. Elkeen se verbande is met bloed en jodium bevlek. Garrick kyk na sy eie liggaam. Sy linkerarm is oor sy kaal bors vasgebind en hy voel hoe die pyn binne-in hom klop, stadig en swaar soos ’n begrafnistrom. Om sy kop is daar ’n verband. Ek is gewond. Weer is hy verwonderd. Hoe? Hoe’s dit moontlik?

      “Jy het teruggekom na ons toe, Besie,” praat ’n opgewekte Cockneystem hier langs hom. “Ons het gedog jy is bokveld toe.”

      Garrick draai sy kop om te kyk na die spreker. Dis ’n klein mannetjie met ’n apiegesig en ’n flennie-onderbroek. Die res van sy lyf is toegewikkel in ’n verband soos ’n Egiptiese mummie.

      “Die dok het gesê dis net skok. Hy’t gesê jy sal nou-nou weer bykom.”

      Hy roep: “Haai, Dok, die held is weer pure perd.”

      Die dokter kom vinnig aangestap. Daar is swart kringe onder sy oë, hy lyk moeg en oud van te veel werk.

      “Jy sal dit maak,” sê hy nadat hy gevoel en gedruk het. “Jy het net rus nodig. Hulle stuur jou môre terug.” Hy stap verder, want daar is baie gewondes, maar dan steek hy vas en kyk om. Hy glimlag vir Garrick. “Dit sal seker nie help om die pyn te verlig nie, maar jy word aanbeveel vir die Victoriakruis. Die generaal het gister jou sitasie onderteken. Ek dink jy sal dit kry.”

      Garrick staar