“Die gebied rondom die Oranjerivier is een van die belangrikste landboustreke in Suid-Afrika,” vertel meneer Schutte, ons aardrykskunde-onderwyser. “Terwyl julle daar is, sal ons julle op ’n toer neem na een van die groot druiweplase. Dit is klaar met die eienaar gereël. Natuurlik sal julle vroeg in die nuwe kwartaal ’n opstel oor die landbou van die Gariep moet skryf. Let dus op en leer wat julle kan!”
Die kinders kreun.
My ma gaan tekere asof ek nog nooit sonder lopende water en haar kookkos moes klaarkom nie. Hoe moet sy ook nou weet hoe ek en Willem moes leef toe ons voortvlugtendes was in Europa? Om nie eens van die paar dae op die Internasionale Ruimtestasie te praat nie!
Maar my ma weet natuurlik van niks.
“Dit word koud in die aand daar, Adriaan,” beduie sy terwyl sy die rooi mus en die serp in my rugsak pak wat ek in New York gedra het.
Ek sug.
Willem lê in sy mandjie in die hoek van die kamer en snork. Willem lê net in sy mandjie wanneer my ma kyk, andersins slaap hy op my bed – reg in die middel daarvan!
Die boomhuis sou ’n goeie idee gewees het, dink ek. Dan kan ek soms ook ’n bietjie rus en vrede hê in my eie kamer.
Stuk vir stuk val al ons reëlings in plek.
Die skoolbus vertrek agtuur môreoggend en my rugsak is reg.
3
Willem het sy eie planne
“Adriaan, het jy die motorsleutels iewers gesien?”
Dit is halfagt en ek staan reg in my sportklere, my rugsak oor my skouer.
“Nee, Ma. Is dit nie in Ma se handsak nie?”
Sy skarrel rond. “Ek het al twee keer gekyk. Ek kon sweer ek het dit hier op die tafeltjie in die ingangsportaal gelos!”
Willem lê op die matjie voor die deur en snork en steur hom nie aan ons penarie nie. Die skoolbus vertrek stiptelik om agtuur, ek kan nie laat wees nie!
Ek begin ook rondsoek. Dit is nie in die motor of op die motorhuis se vloer nie. Ek hoor my ma se hakke senuweeagtig rondtrippel in die gang.
My pa is lankal met sy eie motor weg kantoor toe. Die verkeer is druk so vroeg in die oggend, en as ons nie dadelik skool toe ry nie, gaan ek sowaar moet duimgooi Oranjerivier toe.
Willem staan op, gaap en rek hom uit.
Verbrands! Daar lê die motorsleutels op die mat, onder sy vet lyf!
“Ma!” gil ek. “Ek het die sleutels gevind!”
Ek stamp vies aan Willem met my voet. Ek weet hy het dit aspris gedoen!
My ma storm terug en spring agter die stuurwiel in. Ek gluur nog na Willem, maar vryf vinnig sy kop voor ek langs haar inspring.
“Soet wees, Willem!” Hy ignoreer my en gaap weer voordat hy in die rondte begin draai vir ’n verdere slapie op die voorportaal se matjie.
Dit voel asof al die verkeersligte rooi is. Toe ons uiteindelik by die skool aankom, staan die karre so ver langs die straat af geparkeer dat ons nie eens naby die wagtende bus kan kom nie.
“Laai my net hier af, Ma!” beduie ek na ’n oop parkeerplek ’n hele entjie van die skoolhek af. “Ek spring hier uit en hol sommer die laaste stukkie.”
Sy maak so, en ek plak ’n skewe soen op haar wang voor ek by die motor uitspring en met lang treë begin aanstryk na waar my maats langs die bus saambondel. ’n Paar minder gelukkiges kon nie hulle ouers se laaste omhelsings ontduik nie, en ’n paar onderwysers kekkel en kloek om die laaste bagasie wat in ’n sleepwaentjie agter die bus gelaai word.
Skielik gaan die deur van ’n swart motor met donker ruite wat langs die straat geparkeer staan oop, en ’n stem roep dringend: “Pssstt! Adriaan!”
Willem sit op die agtersitplek van die motor.
Wat de duiwel? Ek steek in my spore vas.
“Willem, wat maak jy hier? Hoe het jy hier gekom? En wie is …” Ek beduie met my kop na die bestuurder van die motor. Dit is ’n man met ’n swart pak en ’n donkerbril, en hy kyk strak voor hom.
“Klim in!” beveel Willem.
“Is jy gek? As hierdie weer een van jou aapstreke is …”
“Maak gou, voor iemand jou sien!”
“Willem, ek gaan Oranjerivier toe. Jy sal net moet deal daarmee. Ek is oor ’n week weer terug. Jy sal oukei wees! Ons bou later daardie boomhuis, ek belowe.”
“Boomhuis se voet en basta met die Oranjerivier. Ons gaan diamantsmokkelaars vang!”
Diamantsmokkelaars? Vir ’n oomblik hou my hond my aandag gevange, en net toe trek die bus weg.
Ag nee!
“En van wanneer af meng jy jou taal so, Adriaan?” raas Willem.
Die bus trek nou al by die stopstraat anderkant die skool. Ek laat val my rugsak op die sypaadjie van pure moedeloosheid.
“Koes!” skree Willem, en instinktief duik ek plat agter die motor. Deur die ruit sien ek my ma verbyry. Deur haar oop venster waai sy nog vir oulaas in die rigting van die vertrekkende bus, vas onder die indruk dat haar seun ook daarin is.
“Hoekom soek hulle my nie? Hoekom het hulle nie vir my gewag nie?” kerm ek.
“Want jy het mos jou been gebreek. Toe jy uit die boom geval het – dit kom nou van boomhuis bou!”
“Willem, het jy vir die skool laat weet …”
“Dat jy ongelukkig nie kan saamgaan nie, ja. Want gister het jy uit die boom geval en toe …”
Ek stamp my voet van woede. “Willem, hoe kon jy! Ek was baie lus vir daardie toer en …” Ek dink aan Carla se mooi blou oë en kampvure onder die sterre op die sanderige rivierwal.
“Klim nou in, Adriaan, en hou op teëpraat. Ons gaan baie meer pret in die Namib hê as daai klomp skoolkinders op roeibootjies.”
“Die Namib?” ek gluur my hond wantrouig aan. “Jy meen die woestyn in Namibië?”
“Werklik, Adriaan, dis net sowel jy gaan eerder saam met my as saam met daai spul vervelige onderwysers van julle. Jy sal veel meer leer!”
Die donkerbril-man draai om en vra vir Willem: “Wanneer kan ons ry? Hoofkommissaris Servin sal ontsteld wees as julle die vliegtuig verpas.”
Hoofkommissaris Servin? ’n Vliegtuig?
Ek kyk na Willem en hy knik.
Ek tel my rugsak op, gooi dit op die agtersitplek langs Willem, klim in en maak die deur agter my toe.
Die donkerbril-man trek weg en druk die neus van die motor in die oggendverkeer.
Nou ja. Soms moet ’n man maar maak soos hy moet maak.
Die roeiery kon dalk net vervelig geraak het.
4
’n Oproep om hulp
“Max is uit sy diepte met hierdie saak,” sê hoofkommissaris Servin oor die videoverbinding in die motor. Ons is op pad lughawe toe, en ’n klein televisieskerm teen die rugkant van die bestuurdersitplek van die swart