Ena Murray Keur 2. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624068198
Скачать книгу

      “Nee. Ek verwag dit beslis nie. Maar …” Ook hy frons nou liggies.

      “Ja?”

      Hy aarsel en sê dan styf: “Ons laat dit daar. Ek het net uit belangstelling gevra …”

      “Werklik? Jy versmoor my vanaand met jou intense belangstelling.” Sy lag kortaf. “Of is jy maar net bang dat ek dalk jou geëerde naam deur die modder sal sleep solank jy in die een of ander uithoek van die aardbol na jou dooie fossiele rondgrawe? Dan kan ek jou gerusstel. Ek het nog altyd in ’n groep uitgegaan.”

      Haar man se blou oë kyk verbaas af in hare. “Pauli! Ek het nie een oomblik gedink … Wat gaan met jou aan? Waaroor is jy kwaad?”

      “Kwaad?” Weer die kortaf laggie en sy moet op haar tande kners om nie hardop te lag nie. “My liewe Louw, waaroor sal ek kwaad wees? Daar was nog nooit iets tussen jou en my om my selfs net kwaad te maak nie, wat nog te sê …” Sy byt die woorde terug en hou op met dans, haar blik flits koel in sy verwarde oë. “Jy sal my moet verskoon. Ek wil die kos begin voorsit. Sal jy toesien dat jou kollegas iets te ete kry?”

      Toe die laaste gaste groet, sluit Pauli haar oë dankbaar. Sy het gedink die aand gaan nooit verby nie. Sy draai vinnig om en stap die huis binne voordat Louw terugkeer van waar hy saam met gaste na hul motors toe gestap het. Sy hou haar vreeslik doenig met opruiming toe hy binnekom en gee voor dat sy hom nie opmerk nie waar hy haar ’n oomblik vanuit die deur staan en bekyk met die verwarde frons nog steeds tussen sy koperrooi wenkbroue. Toe sy dit waag om in sy rigting te kyk, sien sy hoe hy in sy studeerkamer verdwyn en haar vlytige vingers staak hul bedrywigheid onmiddellik.

      Haar vingerpunte bewe terwyl sy ’n paar glase wat rondstaan tafel toe dra, en sy word van dieselfde bewing ook in haar ingewande bewus. Wat makeer my vanaand? wonder sy ontsteld. Diep in haar hart ken sy egter die antwoord, weet sy dat sy eindelik die punt bereik het waar sy nie langer kans sien om voort te gaan nie. Sy het nog altyd daarvan weggeskram, maar vanaand het dit haar ingehaal – dit het sy besef toe sy hoor hoe ’n ander vrou vertel word van nog ’n voorgenome ekspedisie, terwyl daar nog niks aan haar gesê is nie; dat die reëlings vir die volgende vertrek reeds klaar is, terwyl sy nog nie eens daarvan weet nie. Eindelik moet sy die waarheid onder oë sien. Sy beteken so min vir Louw Hattingh dat hy nie eens ter wille van goeie maniere sy vrou eerste daarvan in kennis stel nie. Hul huwelik beteken niks meer nie. Daar is geen enkele rede oor om langer met hierdie klug voort te gaan nie.

      Sy sak moeg in ’n stoel neer en laat haar gedagtes teruggaan oor die jaar wat sy met Louw Hattingh getroud is.

      Hy was eerder ’n vriend van haar pa as van haar. Louw was sy briljantste student en professor De Wet het die jong man dikwels na sy huis toe genooi. Hulle het ure in haar pa se studeerkamer gesit en gesels en sy – die langbeen-skoolmeisie – het soms vir hulle koffie geneem.

      Die jare het gekom en gegaan en Louw was later senior lektor in argeologie aan dieselfde universiteit as haar pa. Sy het intussen grootgeword. Hulle was op die oog af goeie vriende, maar het in afsonderlike wêrelde beweeg. Louw was die fanatieke student en wetenskaplike. Sy was die enigste, moederlose dogter van ’n professor wat ook net vir sy werk en belangstelling gelewe het, en nooit daaraan gedink het dat sy dogter eensaam kon wees nie. Pauli het daardie gemis probeer aanvul met ’n groot vriendekring, waarin almal heelwat jonger was as Louw Hattingh – sy is immers twaalf jaar jonger as hy.

      Pauli het ’n vrolike, sorgelose lewe gelei totdat haar pa skielik aan ’n hartaanval beswyk het. Sy was verslae, verwese en alleen, en ten spyte van haar twintig jaar, soos ’n kind verdwaal in haar smart. Dit was Louw Hattingh wat alles op hom geneem het, wat die anker was aan wie sy in hierdie tyd van smart en verwarring vasgeklou het.

      Daar is ’n intense weemoed in Pauli terwyl sy daardie tyd in herinnering roep. Dit was Louw wat alles vir haar gedoen het, alle besluite geneem het … en ook Louw wat, toe sy radeloos gewonder het wat van haar gaan word, hoe sy alleen in die huis gaan aanbly en al die ander talle probleme gaan oplos, met sy huweliksaanbod gekom het. Sy het nie ’n oomblik gehuiwer nie, want Louw was soos ’n tweede pa, ’n man wat sy geweet het sy kan vertrou soos sy haar pa sou vertrou. Hy het so volkome in haar oorlede pa se plek ingestap dat dit ook net natuurlik was dat hy ook haar pa se leerstoel sou erf, om so die jongste professor aan die universiteit te word.

      Hulle is getroud en Louw het sy intrek by haar in die huis geneem. Soos haar pa, het hy haar met dieselfde teerheid, gemoedelikheid en geduld behandel. Hulle is ’n maand ná haar pa se dood getroud. In die twee maande wat gevolg het, het hy geen eise aan haar gestel nie, maar, soos hy dit ook taktvol en met innige begrip gestel het, haar kans gegee om oor haar smart te kom en aan die gedagte gewoond te raak dat hulle getroud is. Hierdie optrede van hom het haar verering en respek vir hom hemelhoog laat styg en die vaderfiguur wat sy in hom gesien het, besef sy nou, nog meer versterk.

      Miskien daarom kon sy hom nie as man en eggenoot aanvaar nie en het sy eerste toenadering in daardie rigting op so ’n totale mislukking uitgeloop.

      Sy krimp ineen by die herinnering aan daardie weersinwekkende nag. Dit was twee maande ná hul troue dat Louw die eerste keer haar slaapkamer kom opsoek het – en sy was nie gereed om hom te ontvang nie. Dit was so goed asof dit haar pa was wat by haar slaapkamer ingestap het. Sy kon net nie reageer op sy toenadering nie. Selfs in hierdie oomblik priem sy woorde nog deur haar met dieselfde felheid en varsheid toe hy eindelik by die deur omgedraai en na haar teruggekyk het waar sy met vrees in haar oë vanaf die bed na hom gelê en staar het. Sy stem was gedemp, gespanne, maar met ’n snykant so skerp soos ’n skeermeslem.

      “Ek was geduldig met jou, Pauli – besonder geduldig as jy in ag neem dat ons reeds twee maande getroud is. Ek is jammer as ek jou vanaand onverhoeds oorval het, maar … jy is darem tog seker volwasse genoeg om te besef dat ons nie vir ewig so kan voortgaan soos die afgelope twee maande nie. Ons is getroud!”

      Sy kon sterf van skaamte en haar oë het by hom gepleit.

      “Ek weet. Ek … is jammer, Louw. Dis net … Gee my nog ’n rukkie kans.”

      Sy blik het haar op die bed vasgepen, die stil woede in sy dodelik beheerste stem erger as ’n klap deur haar gesig.

      “Een ding moet jy besef, Pauli. Jou pa is dood. Niemand kan ooit sy plek inneem nie. Ek is jou man en my naam is Louw Hattingh. Jy is besig om ons twee te verwar, is jy nie? Ek het nie met jou getrou om jou pa te wees nie. Maar jy het met my getrou om van my ’n vaderfiguur te maak, jóú pa …”

      “Dis nie waar nie, Louw! Asseblief, jy begryp nie …”

      “Ek begryp beter as wat jy self begryp, Pauli. Daarom dat ek my nie aan jou opgedring het nie, maar jou toegelaat het om my weg te stoot. Ek sal jou kans gee soos jy vra. Ek gaan weg op ’n ekspedisie. Gelukkig het die universiteit my verlof gegee om te gaan. Ek sou nie eens daarvan gedroom het nie, maar nou … Dis miskien beter as ek ’n ruk lank weg is. Dit sal jou kans gee om sake uit te pluis.”

      “Jy gaan … weg?” Sy het ontsteld regop gesit en ’n wrang glimlag het om sy mond getrek. Hy het geen illusie gehad oor die rede vir haar ontsteltenis nie.

      “Ja. Daar sal seker van jou vriendinne wees wat bereid sal wees om by jou te kom inwoon. Jy sal nie alleen wees nie.” Hy het geaarsel en toe vervolg: “Net een ding, Pauli, volgende keer sal die toenadering eerste van jou kant moet kom. Sodra jy gereed is om met ons huwelik te begin, kan jy my laat weet. Jy het my woord dat ek jou nie weer sal lastig val nie.”

      Louw het ’n week later saam met ’n span argeoloë vertrek en sy het agtergebly met die wete dat hy gelyk gehad het in sy beskuldigings.

      In die weke terwyl hy weg was, hét sy toe dinge uitgepluis, soos hy voorgestel het. Sy het eindelik helder besef dat sy wel met Louw getrou het sodat hy haar pa se plek moes inneem. Nie een keer het sy haar afgevra of sy hom liefhet soos ’n vrou ’n man moet liefhê as sy met hom gaan trou nie. Louw was Louw, die een anker waaraan sy kon vasklou, die man wat van nou af die dinge vir haar sou doen en vir haar beteken wat haar pa vir haar gedoen en beteken het.

      Sy onthou nou daardie aand toe Louw haar gevra het om