“Goed,” sê Mattie ingedagte en gee hom die bottel. “Toe dink ek aan sterrereën, maar regte sterrereën is mos oor die hele nagruim, nie net op een plek nie! Dis hoekom ek wou hê jy moet kom kyk, Henk.”
“O … ek sien …”
“Ons sal natuurlik moet wag tot dit donker is. Kom ons gaan eet eers.”
Henk knik en stap saam kombuis toe.
“Dis ongelukkig net roereiers en roosterboord,” sê Mattie.
“Lekker,” sê Henk opgewek. “Dis net waarvoor ek lus was.”
Terwyl hulle eet, sê Mattie: “Daar’s nog iets wat ek jou moet vertel.”
“Wat?” vra Henk nuuskierig.
Mattie kyk vir haar bord terwyl sy hom van die eggo’s vertel. Sy praat saggies en vinnig. Toe sy klaar vertel het, voeg sy by: “Maar dalk is dit net die wind.” Sy kyk op en is bly om te sien Henk lag nie – hy kyk aandagtig na haar en knik sy kop.
Hulle dek die tafel af, was gou die skottelgoed en stap buitentoe. Die maan hang bokant die Skimberge. Die eerste sterre skyn al.
Terwyl hulle in die akkerboom opklim, voel Mattie gespanne. Sê nou dit reën nie meer sterretjies in die ravyn nie? Sy wil liewer nie daaraan dink nie. Sy wil dit so graag vir Henk wys.
Hulle klim en klim. Die lig van die amper-volmaan skyn plek-plek tussen die blare deur en help hulle om die pad boontoe te kry.
Hulle klim tot hulle nie hoër kan nie en gaan sit elkeen versigtig in ’n mik. Toe Mattie veilig sit, kyk sy op.
“Whoe-hoe!” juig sy saggies. “Daar’s dit!”
“Waar?” vra Henk. “Waar moet ek kyk?”
“Die blink strepie aan die voet van die berge …”
“Ek sien die rivier.”
“Kyk waar hy verdwyn.”
“Ja, ek sien. Daar’s steil berghange. Dit lyk soos ’n ravyn.”
“Dis reg! Kyk nou dieper tussen die berge in, aan die noordekant van die ravyn.”
Henk skuif ’n entjie op en druk ’n tak voor hom weg.
“Joe!” sê hy.
Vir ’n rukkie lank is hulle albei stil terwyl hulle na die vallende sterretjies staar. Onder, tussen die riete langs die rivier, kwaak die paddas asof niks ongewoons ooit gebeur nie.
“Henk? Wat dink jy is dit?”
Henk is nog ’n rukkie stil voordat hy antwoord: “Ek weet nie … Ons sal moet gaan kyk.”
Mattie snak na haar asem. Miskien is dit te goed om waar te wees. Terwyl sy styf vashou aan die tak waarop sy sit, draai sy na Henk.
“Bedoel jy dit, Henk? Dink jy regtig ons kan gaan kyk?”
“Ja, ons moet uitvind wat dit is.”
“Whoe-hoe!” sê Mattie weer.
“Ons kan probeer om rivierlangs met die vlot tot daar te kom,” sê Henk.
“Reg,” sê Mattie. “Wanneer gaan ons?”
“So gou as moontlik.”
“Hoe lank dink jy sal dit ons neem om daar te kom?”
“Ek’s nie seker nie,” sê Henk. “Miskien so ’n halwe dag.”
“En terug?”
“Stroomop sal langer neem. ’n Dag of twee.”
“Dit beteken ons sal minstens twee of drie dae weg wees,” sê Mattie. “Ons kan die tent en die slaapsakke neem. Maar … ons het ’n klein probleempie.”
“Ek weet,” sê Henk gedemp. “My oom en tante.”
“Wat gaan jy vir hulle sê?”
“Ek weet nie. Ek dink nog.”
Verniet, dink Mattie. Hy dink verniet. Daar’s nie ’n kans dat oom Gys en tannie Berta hom ’n paar dae sal afgee nie. Sy het die hele middag daaroor gedink. Sy kan saamgaan plaas toe en gaan mooipraat, en selfs belowe om op die plaas te gaan help wanneer hulle terug is, maar nogtans sal oom Gys en tannie Berta nee sê. Sy weet dit net. Dis hoe hulle is. Sy gee Henk nog ’n rukkie tyd om te dink, en sê dan: “Henk, ek het ’n plan.”
“Wat?”
“Ons vra nie toestemming nie. Ons los net briefies en gaan.”
“Dis nie ’n goeie plan nie,” sê Henk bekommerd.
“Ek weet. Maar wat anders kan ons doen?”
’n Rukkie later is hulle terug in die huis en sit hulle by die eettafel, elk met ’n pen en skryfblok. Mattie skryf:
Beste juffrou Potberg,
Ek gaan vir ’n paar dae saam met ’n maat iewers heen.
Moenie oor my bekommerd wees nie.
Dit tref haar dat juffrou Potberg beslis nie oor haar bekommerd sal wees nie. Sy frommel die bladsy op en begin oor.
Geagte juffrou Potberg,
Ek gaan vir ’n paar dae weg wees.
Ek is oor ’n paar dae weer terug.
Die uwe,
Mattie Moolman
Henk skryf:
Oom Gys en tannie Berta,
Ek is jammer dat ek vir ‘n paar dae nie op die plaas kan help nie.
Daar is iets wat ek moet gaan doen. Ek kom terug so gou ek kan.
Henk
“Waar gaan jy die briefie sit?” vra Mattie toe hulle klaar geskryf het.
“In die kombuis, langs die ketel. Tannie Berta sal dit daar kry.”
Tannie Berta gaan ontplof, dink Mattie. Oom Gys gaan woedend wees. Juffrou Potberg sal seker nie kwaad wees nie – eerder verlig.
“Ek sal ’n ruk voor sonop hier wees,” sê Henk terwyl hy opstaan en die briefie in sy broeksak steek. “Dankie vir die ete. Jy moet gaan slaap. Môre gaan ons hard roei.”
“Wag,” sê Mattie toe Henk begin uitstap, “neem die fiets!”
“O, reg … Dankie.”
Toe Henk weg is, begin Mattie kos inpak. Eers maak sy ’n stapel toebroodjies. Daarna kry sy ander eetgoed in die spens bymekaar: ’n blik ham, twee blikkies kondensmelk, ’n pak beskuit en ’n klompie appels. Sy pak die toebroodjies in ’n koekblik en die res in ’n mandjie. Môre vroeg, voor sonop, sal sy dit stoorkamer toe neem en in die trommels gaan pak.
Toe sy in haar slaapkamer kom, onthou sy van iets: iets wat sy diep in haar klerekas gebêre het. Dit was tannie Katrien se afskeidsgeskenk aan haar. Sy maak haar klerekas oop, stoot ’n klompie goed opsy en haal dit uit.
Dit is ’n fles lekkers. Die fles is deursigtig, soos glas. Die lekkers lyk soos kristalle. Hulle is glansend, halfdeurskynend en het ’n stroperige vulsel. Flonkers is die lekkertjies se naam. Sy sit die fles op die bedkassie neer. Dit moet saam op die vlot.
Sy stel haar wekker vir vieruur en klim in die bed.
Die huis is stil en leeg. Gelukkig kreun en sug die mure nie. Sy kan die Skimberge se musiek in haar gedagtes hoor.
4
Die avontuur begin
Die sterre skyn nog helder toe Henk wakker skrik. Hy lê ’n rukkie en wonder hoekom sy hart so wild klop. Skielik onthou hy alles en hy vlieg op. Die huis is