Ena Murray Keur 1. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624068105
Скачать книгу
nie. Sy lyk nie gesond nie.”

      “Ek was by haar, mevrou, maar soos ek nou net vir doktor Basson gesê het, skort daar niks met haar nie. Dis maar net ’n bietjie senuwees wat pla.”

      Nina glimlag verlig. “O, dis gaaf. Ek was so bekommerd. Met meneer Powell wat vir my glad nie so goed lyk nie . . . Wat is dan fout daar, dokter? Hy het dan na so ’n sterk, gesonde mens gelyk.”

      Johnson waai ongeërg met die hand.

      “Dis gewoonlik die sterk, gesonde mense wat eensklaps siek raak. Nee wat, dis maar net ’n bietjie bloeddrukprobleme. Hy moet maar net nog rus, dis al. Dis nou wel ekstra moeite vir jou . . .”

      “Ag, nee wat. Ek doen dit met graagte. Hy is so ’n gawe man, en is net altyd bang dat hy te veel moeite sal gee. Ek hoop tog regtig om sy onthalwe dat hy gou sal herstel. Jy dink nie hy moet liewer hospitaal toe gaan nie?”

      “Nee, nie op die oomblik nie. Ons sal maar kyk hoe dit gaan.”

      “O, ek het maar net gewonder. Miskien sou dit beter wees dat hy maar liewer hospitaal toe gaan. Bloeddruklyers volg ’n spesiale dieet, dan nie?”

      “Ja, maar op die oomblik is dit nie so ernstig nie. Jy kan maar net baie ryk kosse vermy.”

      “Nou maar goed. Maar as daar enigiets spesiaals is wat ek vir hom moet gee, moet jy net praat, dokter.”

      “Dankie, mevrou. Dis baie vriendelik van jou.”

      Met nog ’n vriendelike, innemende glimlag stap sy aan en die twee mans kyk haar agterna totdat sy om die hoek van die gang verdwyn. Dan snork Johnson liggies.

      “Hmpf! Koma! Van die twee sal ek liewer sê jou sekretaresse is die siek een en mevrou Andrews die gesonde.”

      “Ja, ek moet sê sy lyk vanoggend baie goed. Ek weet nie van die komastorie nie. Dit kan wees dat Lenard hom misgis het, hoewel ek hom as ’n nugter man ken en seker is dat hy nie sommer so ’n vergissing sal begaan nie. Maar dat mevrou Andrews die afgelope dae, veral van gister af, beslis wonderbaarlik verbeter het, kan ek voor instaan. Ek is darem al drie maande lank hier, en sy het net een keer in dié tyd ’n bietjie beter vertoon, maar dit was glad nie lank nie. Sy het meestal na ’n baie sieklike vrou gelyk, maar vanoggend . . .”

      Hy skud sy kop. “Hier is beslis iets eienaardigs aan die gang.”

      In Powell se kamer kyk Dickens die twee besoekers bekommerd aan, hoewel hy sy bes doen om sy kommer weg te steek. Ook Gustaf en Sandra voel hoe die kommer in hul harte verdiep. Van­oggend kan ’n mens met die blote oog sien hoe Powell sedert gister verswak het. Hy lyk ook bleek en moeg.

      “Lyk my die doktertjie weet ook nie eintlik wat aangaan nie,” laat hy nou hoor en selfs sy stem is minder lewendig. “Die feit dat ek glad nie siek voel nie en nêrens pyn het nie, slaan hom blykbaar dronk. Maar ek voel so verduiwels swak. Ek wou netnou opstaan, maar dis of daar geen krag in my is nie. Ek kon onmoontlik so verswak het net van een dag se lê. Ek is tog ’n redelik fikse man vir my jare.”

      Sandra voel hoe iets haar keel toetrek. Noudat sy na Powell staan en kyk, kan sy dokter Johnson se ontsteltenis en kommer oor hierdie man verstaan. Sy blik vinnig na Gustaf. Ook hy lyk gespanne asof dit hom ook nou ten volle tref dat ’n man se lewe op die spel is. Sy sien die spiere krampagtig in sy kake werk en hoe die hande in sy broeksakke tot vuiste bal. As hulle tog net kan vordering maak, hoe gering ook al! As hulle net êrens ’n leidraad kan vind wat ongetwyfeld iets beteken!

      Gustaf wil net iets sê, toe Nina Andrews met ’n glas melk binne­kom.

      “Ek het nog ’n glas melk vir jou gebring, meneer Powell. Kom, ek help jou op teen die kussings,” en voordat een van die twee mans nog kan beweeg, steek sy haar een arm onder sy skouers in en help hom regop. Sy glimlag op die bleek gesig af, haar oë simpatiek. “Daar! Nou die melk. Dis nog lekker warm. Drink dit dadelik.”

      Powell protesteer floutjies.

      “Regtig, mevrou, ek het dan nou net klaar ontbyt geëet! Ek kan regtig niks meer inkry nie, al wou ek.” Hy kyk na Gustaf-hulle. “Mevrou is so gaaf vir my dat ek al skoon aardig begin voel. Sy dra die hele tyd goedjies aan. Ek voel al skaam vir al die moeite.”

      Maar Nina lag dit weg.

      “Dis geen moeite nie, meneer Powell. Ek doen dit met graagte. Ons wil mos hê jy moet gesond word, nie waar nie? Jou vakansie lê dan nog voor! Hoewel ek tog voel dat jy miskien liewer na ’n hospitaal moet gaan. Daar sal jy professionele aandag kry. Ek is so bang ek doen die verkeerde ding, gee ’n verkeerde ding om te eet of so . . . Maar dis geen moeite vir my nie, hoor!”

      Teen wil en dank neem Powell maar die glas melk en drink dit gehoorsaam, en eers toe hy dit leeg aan haar oorhandig, knik sy tevrede.

      “Goed. Ek bak vir jou ’n paar botterbroodjies by die elfuurtee. Met aarbeikonfyt en room daarop!” Met ’n glimlag na almal verlaat sy die vertrek, en Powell trek sy skouers hulpeloos op.

      “Sy gaan te kere asof ek vetgevoer moet word vir die een of ander slagting,” laat hy half selfbewus oor al die aandag hoor. “Dis dierbaar van haar en ek het nooit gedink sy is so ’n gawe mens nie, maar ek voel so ongemaklik.”

      Gustaf stap na die deur en druk dit saggies toe. Dan wink hy Dickens nader na die bed en sê op gedempte toon: “Ek wil julle iets vertel. Kom nader, meneer Dickens. Nog nader. Sandra, gaan staan daar by die venster en waarsku my as iemand naby kom.”

      Die twee mans lyk verbaas, maar Dickens gehoorsaam en trek sy stoel tot by die bed. Gustaf neem op die kant van die bed plaas. ’n Hele ruk is dit net Gustaf se gedempte stem wat opklink, en dan sluit hy af, sy oë op Powell se bleek gesig gerig.

      “Ek weet dat ek baie vra, meneer Powell, maar as jy enigsins kans sien om ’n bietjie te waag, sal ek bly wees as jy nog ’n rukkie wil bly. Ek wil sien wat gebeur.”

      “En as John doodgaan?” wil Dickens ontsteld weet en keer hom net betyds om nie te hard te praat nie. “Jy speel mos nou met John se lewe, meneer Lenard. Ek sal dit nie toelaat nie. Ek gaan ons goed nou dadelik begin inpak.”

      “Stadig, Dick,” keer Powell van die bed af. Dan kyk hy ernstig na Gustaf. “Ek verstaan hoekom jy my hier wil hou, kaptein. As jy seker is dat jy en die dokter betyds sal weet wanneer ek liewer moet weggaan . . .”

      “John! Is jy mal! Jy kan tog nie daaraan dink om te bly ná wat hy vertel het nie!”

      “Ek is nie ’n bang man nie en eintlik voel ek nou baie minder bekommerd vandat ek weet wat aangaan. Onsekerheid maak my bang en ek het regtig onrustig begin word. Maar noudat ek weet . . .”

      “Maar jy weet juis nie,” redeneer sy vriend heftig. “Jy hoor dan die man sê hulle weet nie wat aangaan nie.”

      “Ja, Dick, maar ons weet darem iets is aan die gang, maak nie saak wat nie. Ek begryp heeltemal dat kaptein Lenard my graag hier wil hou. Om die waarheid te sê, ek is self nuuskierig om die gang van sake dop te hou noudat ek van al die geheimsinnigheid vertel is. Net . . .”

      “Ek belowe, meneer Powell. Dokter Johnson sal jou daagliks ondersoek, en as daar die geringste teken is dat jou toestand ’n ernstige wending neem, sal ons jou onmiddellik hier verwyder. Jy het my woord daarvoor. Ek kan jou darem hierdie troos gee. Al die mense wat voorheen hierdie geheimsinnige aandoening opgedoen het, het dadelik herstel nadat hulle hiervandaan verwyder was en daar was geen nagevolge nie. Hulle is vandag almal blakend gesond.”

      “Wel, ja, dit troos darem.”

      Gustaf steek sy hand uit.

      “Dankie, meneer Powell. Ek waardeer jou samewerking. Jy is ’n dapper man.”

      “Hy is ’n dwaas, van sy verstand af!” laat Dickens onomwonde hoor en sy vriend glimlag.

      “Toe nou, Dick. Ons is almal een dood skuldig. Van nou af sal mevrou Andrews geen teenstand van my ondervind nie. Ek gaan van nou af eet totdat ek oopbars, met permissie. Sy sal ’n hele bord vol botterbroodjies met room en aarbeikonfyt moet bring.”