Die plan is om so min moontlik teerpad te ry tot by my bestemming. Ek vat die grondpaaie deur die Swartland Wellington toe. Daarna volg die immer indrukwekkende Bainskloofpas en die fraaie Michellspas na Ceres vir brandstof en ’n vinnige blikkie koeldrank (wat later baie goed te pas sou kom).
’n Mens moet kop hou om Sutherland van Ceres af met grondpaaie te bereik: Jy vat eers die R46 vir (toevallig) 46 km en hou dan links sodat jy op die R355 kom. Skaars 6 km verder op die grondpad – wat heel skouspelagtig deur die Doringrivier se valleitjie kronkel – draai jy regs op ’n nommerlose pad wat ná nog sewe kilo’s vurk. Hier hou jy links, want jy gaan nou Pienaarsrivier se berge toe (ek sweer dis die bergreeks se naam).
As jy moed en rigting hou, is dit net oor die 100 km voordat jy die R354 tussen Matjiesfontein en Sutherland raakry – en dis toe presies op daardie punt dat die by in my linkermou invlieg en besluit my naskeermiddel staan hom nie aan nie. En as ’n by ongelukkig is, steek hy.
Wat maak jy as jy links draai op die teer en ’n kool vuur is skielik doenig hier op jou voorarm, onder ’n motorfietsbaadjie wat minstens vyf minute gaan neem om los te gespe/rits/trek/druk? As jy ’n pampoen is (soos ek), dan vryf jy dringend en hard op die oorsprong van die brandpyn – en druk elke laaste druppeltjie gif uit die by se aansienlike voorraad, deur die angel tot in jou eie bloedstroom.
Fout Nommer 1. Dan brand dit eers.
Fout Nommer 2 lê toe net 38,7 km verder. Ek het gereken ek sal die hoogoond-hitte van bysteek-koors en my skielike groot dors op Sutherland kan les. Op ’n Sondagmiddag omsteeks 12:00. Wanneer daar nie ’n enkele sakeonderneming oop is nie. (Kon darem brandstof kry nadat hulle die tannie van die motorhawe gaan opklop het.)
Toe ry ek en my persoonlike hittegolfie maar aan Merweville toe … 10 km suid op die R354 draai jy links verby Sutherland se lughawe en na 32 km draai jy weer links op wat na ’n plaaspad lyk. Dan sal jy die windpomp en die sementdam sien en weet jy het net twee keuses – duik met klere, stewels, valhelm en al in of koel in jou adamsgewaad af.
Lank nadat ek poedelnakend onder die helder, heerlike water verdwyn het, het ek eers begin wonder of die boer sou omgee. Toe het ek versagtende omstandighede begin uitdink, waarvan die belangrikste was dat dit immers noodhulp was. Teen bysteek.
Die res van dié pragtige pad Merweville toe was loutere plesier. Canyons en berge, ’n pas met jakkalsdraaie en ’n uitsig oor die Groot Karoo wat jy nêrens anders kry nie. Net vir die rekord: Merweville se winkel was ook toe. Ek moes my dors op Beaufort-Wes gaan les. Teen daardie tyd het ek darem al my waardigheid terug gehad.
1
Sutherland
Van Sutherland na Merweville is 107 km. (Merweville is 441 km van Kaapstad af.)
As die bye nie lol nie en jy ry op ’n Sondag in Desember (geen kafees en winkels om tyd by te mors nie), kan jy maar twee uur opsy sit.
Die Bo-Karoo se mooiste twee passe
Jy hoef van Beaufort-Wes af net ’n draai van 157 km te ry om twee van die Bo-Karoo se mooiste geheime te gaan ontrafel – die Molteno- en De Jagerspas.
Skaars 1 km buite Beaufort op die N1 noord kry ’n mens die afdraai Loxton toe. Draai links en kort voor lank begin die mooi. Die teerpad word ’n grondpad wat al teen die kranse uitkronkel.
Kyk bo op die berg uit vir die mooi waterval op linkerhand, net daar waar jy die populierbos aan die regterkant sien. In die reënseisoen is dit iets wat jy hoegenaamd nie in die Karoo verwag nie.
Ná 61,1 km draai jy regs Leeukloof toe (die beroemde plaas waar daar soveel dinosourusfossiele is). Dis weer regs ná 94,7 km, sodat jy met die De Jagerspas afdaal in die Beaufort-Wes-vlakte.
Wees op jou hoede: Dié paaie is meestal in ’n baie goeie toestand, maar versteekte draaie is dikwels baie skerp. Anderkant die De Jagerspas is koedoes en ander wild wat oor die pad spring ook ’n algemene verskynsel.
1
Beaufort-Wes se middedorp
175 km
Drie uur
Cederberge
’n Vreemde ding het een keer in die Cederberge op die pad oor Eselbank Matjiesrivier toe gebeur.
Ná ’n harde week op die sandpaaie van die Weskus en in die bakoondberge in die suide van Namibië was ek en Jan du Toit op pad huis toe op twee identiese R1150 GS-motorfietse. Dit was die ekspedisie se laaste skof op die laaste dag. Dis miskien waarom ’n eienaardige gees ons ’n kilometer anderkant Wuppertal beetgepak het – ’n euforie, ’n waansin, ’n uitbundigheid.
Ons het dit nie afgespreek of beplan nie. Ons het eenvoudig saam die versnellers begin oopdraai teen die styl tweespoorpaadjie, bergop. En toe rý ons. Langs mekaar, teen ’n dolle vaart oor en deur die klippe, gruis, sand en driffies. Om die een skelm, blinde draai ná die ander. Ons was roekeloos, onverantwoordelik, baldadig – die adrenalien het in ’n dik, meesleurende stroom gevloei. Ons fokus was op die tweespoorbaan en op niks anders nie.
Ons dratasse wat teen mekaar gestamp het, die agterwiele se gespartel vir vastrapplek en die motorfietse se vering, wat skaars met die hobbels kon tred hou, is later net vaag onthou; ons snelheid het volkome konsentrasie geverg. Van die landskap het ons nie veel gesien nie.
Dit is een van die redes waarom ek en Anita twee jaar later weer die roete gaan ry het. Jaag het sy meriete, maar ’n mens is meer aan die Cederberge verskuldig. En aan jouself. Die ander rede was omdat ek die nuwe R 1200 GS op dieselfde pad wou gaan toets. Hoe sou ’n moderner, ligter, kragtiger motorfiets met ryer én passasier op dié stuk paradyspad vaar?
Die eerste naweek in November ry ons oor Ceres en die Gydopas tot by Op-die-Berg en draai regs af, Blinkbergpas toe. Sonder haas, want ons wil kyk. Maar eers die Skurweberge hier links: ’n Ongenaakbare landskap van gemene, skerp rotse … rof en onbeskof, soos Tolla sou gesê het. Die Koue Bokkeveld.
Later raak die hoeke sagter, die valleie langer, die pad is ’n verbleikte geel lint wat vervloë ingenieurs hier laat lê het, die nagedagtenis