In stede van die liefde. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624068723
Скачать книгу
vertel Bernard verder, het al verder die platteland begin inbeweeg, na die stranddorpe wat aan die Wes- en Suidkus uitstrek en groter dorpe die binneland in. Afsetgebiede vir verdowingsmiddels en straatprostitusie.

      “Toe beweeg die Nigeriërs en ander Wes-Afrikane in dele van Kaapstad en sy voorstede in. Hulle sper hul eie gebiede af en loop hulle in die proses tromp-op teen die ou Kaapse bendes. Selfs ons wat navorsing oor hierdie dinge doen, weet deesdae nie aldag wat aan die gang is nie.”

      Christian val Bernard in die rede: “Bernard, hou die ding net tussen ons. Asseblief. Tussen ons. Reg so? Reg so?”

      Daar is ’n oomblik stilte. Christian snuif. Dan vra Bernard, steeds op sy besadigde toon: “Is alles in die haak met jou, Christian? Is alles reg?”

      Christian adem diep in. Moet probeer om nie so angstig asem te haal in die sel nie. “Ek is reg, Bernard. Ek is sterk. Ek wil net nie hê mense moet praat nie, jy weet?”

      Daar is ’n effense huiwering. “Ek verstaan. Ek hou dit privaat. Moenie bekommerd wees nie . . .”

      Christian kug. “Jy’t gesê . . .?”

      “O ja. Ewenwel, ja, die Kaapse nagwêreld gis soos suurdeeg. Heeltemal onvoorspelbaar. As jou seun korrek is, moet jy jou maar skaars hou.” Haastig voeg Bernard by: “Nie dat jy jouself moet toelaat om op loop te gaan nie, Christian. Maar ek moet jou sê dat dit heel ongewoon is dat jy toegelaat is om lewend weg te ry en dat die ritueel nie volvoer is nie.

      “Waarskynlik het ammunisie opgeraak of was daar fout met die skietding.

      “Hulle sou jou motor se registrasienommer geneem het. Bende­protokol vereis dat daardie man jou weer moet opspoor. Dis lewensbelangrik vir hom. Dis vir ons van buite moeilik om hierdie rituele te begryp, maar sy turf kan letterlik sit in plaas van joune as hy jou nie kry nie.”

      Bernard kug. “Normaalweg sal hy jou dus soek tot hy jou kry. Kyk, dit gaan nie spesifiek oor jou, Christian Lemmer, nie. Maar dit gáán oor jou. Jy’s die een wat jouself met die flikker van jou ligte aangebied het.”

      Christian loop op en neer in die woonstel. Woorde wel in hom op, kort, blitsige sinne. Glashelder sien hy nou die patroon. Maar hy hou hom in, en luister. Hand op die voorkop, selfoon teen die oor, op en neer. Asem weg van die foon.

      “Is jy nog daar?” Bernard se bekommerde stem. Nie iemand om reguit uit te vra nie; die situasie word in koele, akademiese fraserings gegiet. Bernard, sy ou kamermaat van koshuisdae, nou so ver van Christian se wêreld verwyderd.

      “Ja-ja, ek is nog hier. Ek is sterk. Ek is sterk.”

      “Wat ek gesê het, Christian, is onderhewig aan die volgende.”

      Christian wil hom aanjaag. Hy wil Bernard uit sy kampusdomme­ling opwek. Vinniger, man! Kom by die punt! “Ja-ja?”

      Die soetgoed wat deur sy are jaag. Hy voel soos ’n Benz op volspoed op die oop pad. Whoosh! Silwer, vaartbelyn. Jags.

      “Onderhewig aan die volgende,” herhaal Bernard, asof hy voor ’n woelige klas staan. “En dalk is dit goeie nuus vir jou, Christian. As die ritueel enigsins verwant is aan die inlywingsrituele van die ou tronkbendes, sou hierdie jongman met die bandana waarskynlik self reeds moes boet vir wat as ’n mislukte aanval beskou sou word. Dan is hy waarskynlik self reeds vermoor. Iemand wat sy eie inlywingsritueel nie kon volvoer nie.”

      Christian kug en snuif. Moet die koffietafel haaks skuif. Hy probeer terwyl hy luister. Die kussings uitpof. So vinnig lyk ’n woonstel onversorg.

      “Is jy nog daar . . .?”

      “Yep-yep!”

      “Enigiets is deesdae moontlik, Christian. As ek jy is, sou ek vei­ligheidshalwe laaglê. Vat ’n ander roete Stellenbosch toe. Vermy daardie pad.”

      Christian vuur ’n vraag uit. “Nee, nee,” antwoord Bernard. “Christine en Siebert sal nie in gevaar wees nie. Dis na jou wat hulle soek. Jy is die plaasvervanger. Dis simbolies. As plaasvervanger is jy eintlik onvervangbaar, as jy die ironie sal begryp.”

      “Yep-yep. Yep.”

      “Jy moet nie dalk ’n oorsese besoekie of twee bring nie?” vra Bernard versigtig.

      “Ja, ja. Ek het konferensies wat opkom. En moet vir die besigheid . . .”

      “Dis handig, ja. Dat dinge bietjie afkoel, Christian.”

      “Berlyn, ja. Wene. En . . .”

      “Presies. Die bendes het ’n beperkte aandagspan. As hy jou nie gou kry nie, neem die chaos waarbinne hy lewe in ieder geval oor. Hy beweeg aan, na ’n volgende krisis. Lees bietjie wat oor die bendes geskryf is in Ted Leggett en Jonny Steinberg se boeke. Dis sal jou help begryp. Dis waar ek my inligting kry.

      “Maar soos ek gesê het, hy’s dalk self reeds dood.”

      Bernard praat troostend, asof hy met ’n seun gesels. Maar sy woorde hang ’n groot truspieël in Christian se gemoed uit. En hy sukkel om te onderskei: hoe realisties is sy kommer, of is dit die paranoïese agtertoekyk van die coke junkie?

      Aan Christine skryf hy: Daar het jy dit, Christine. Ek is nou Die Plaasvervanger. Ja, ek moet boet vir als wat die bruin mense van die Kaapse Vlak aangedoen is. Die platstoot van Distrik Ses en die opbreek van gesinne. Die neerplak van families op die sanderige, windverwaaide Kaapse Vlakte. Hierdie nuwe regering wat nie sy oë oophou vir die mense van die Kaap nie. Die woede teen als wat gebeur het – dit het ek in die bandanaman se oë gesien.

      Veralgemenings, ek weet.

      Maar dis waar Bernard die bendes sosiologies plaas. Woedemense. Bendebedrywighede as die woedebui van die onderklas.

      Ek sal oor my skouer moet kyk.

      *

      Seepunt –

      Christine

      Ek dink sedert die rotmotor baie na oor woede.

      Ons het elkeen seker die reg om primordiaal woedend te wees. Om uitgepluk te word uit die klotsakwarium van die baarmoeder, en skielik die aanraking van hande te ervaar. Oorverdowende ge­luide buite die beskutting van die beenbekken en baar en maagwand en spiere en vel van die moeder. Om opeens aan swaartekrag onderwerp te word. Om op te hou swem; om die skuur van materiaal en hoekige dinge teen jou vel te voel.

      Ons kom woedeloos die wêreld in, maar ons is onmiddellik smoorkwaad.

      En jy’t dan nog verdere woede: oor die verraad van jou moeder. Dis te veel kwaad vir een mens om te dra, Christine. Ons hele verhouding is eintlik ’n geveg teen daardie woede van jou.

      Miskien is my aandrang op verrukking ook woede. Dalk is ons almal in hierdie land sinds jare verslaaf aan woede. Oor die aard van verslawing en die persoonlikheid van die verslaafde is al baie geskryf. ’n Hele land kan sigself verslaaf, soos die Duitsers daar in Berlyn hulle destyds agter Hitler aan verslaaf het. Die liefde is ’n verslawing. Die kuns. Werk. Die motors met steamers wat hier onder die woonsteldeur om en om in Hoofweg ry, is voertuie van ver­slawing. Daardie seksverslaafdes is verknog aan die opwinding van die jag, die oerwoud van die binnestad. Die robotligte as seine van waarskuwing, neonflikkers tussen geboue. Die nag se straatlampe en die verbyskuif van restaurantingange, petrolstasies, kafees en don­ker winkelpanele, en kort-kort die hoere. Oneindig die keuse. En die hand, of die mond, of die heup – so gewillig as wat nodig is.

      Kokaïen – veral die versnitsoort wat die man met die jeukvoete na my bring – verruk opwindend. Dit verhoog die hartklop, die bloeddruk styg en die farmakologiese werking verruk die sinne.

      Dis ’n stimulant, Christine, ’n alkaloïede, en dit verskerp die fisieke en emosionele wêreld. Dit verskuif die grense en versnel nie net jou hart nie, maar ook jou gees. Jy word so bésig. Alles is skielik so helder. Jou logika vlym. Uit my stroom hierdie briewe. Ek sien dinge opnuut. Ek hou my in en probeer als netjies op papier kry, sodat jy sal verstaan.

      Ek is ’n ribbok op volspoed.

      Ek