In stede van die liefde. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624068723
Скачать книгу
bruisende skuim.

      Dis Edvard Munch se Die skreeu wat by Christian spook wanneer hulle insak by Kaapstad Internasionaal. Hande wat vroetel aan bloederigheid en saag aan been. Oplig en uittel uit die diep dam van die bors.

      Hy is die naamlose figuur op ’n hangbrug tussen sy blaaie. ’n Gil dawer binne die wande van sy toraks.

      Op die web het Christian gelees dat jy onder narkose tóg die trauma van ’n operasie registreer. Jou brein volg die hap van skêre en die wegbuig van been, die ryg van naalde. Selfs die gesprekke van diegene wat aan jou werk, ontgaan jou nie. Jy gaar dit op in ’n geheue wat jy nie weet jy besit nie.

      Maar met sy tred, wanneer hy afstap onder die buik van die Ribbok uit, is niks verkeerd nie. Dis atleetbene wat Christian dra, gevorm deur atletiek op skool en universiteit. Hy’t ’n mooi rug en netjiese skouers, en hy gooi sy geil hare met ’n swaai van die kop die wind in.

      Hy lig sy hand na die speelse bruin oë van die grondwaardin en dink: sy weet nie dis ’n leë hand nie, ’n hand aan ’n arm waaruit die arterie verwyder is en die pols gesteel is; ’n hand aan ’n lyf met ritssluiters wat gloei in water.

      Hy knipoog vir haar en sy knik. Sy ken hom al. Hy’t altyd iets te sê wanneer hy op ’n Vrydagaand hier te midde van die ander saai sakemanne arriveer. ’n Weggooi-opmerking oor die mooi Kaap, of ’n stelling oor die weer. Hy’s die atletiese sakeman met die effense magie, die hare soms los en uitgekam en ander kere in ’n poniestert. Soms dra hy selfs ná sononder donkerbril, en hy’t altyd dieselfde skootrekenaartas oor sy skouer.

      Hy stryk vinnig by die aankomsaal in. Die eerste asemteue van die vogtige Kaapse somerslug het die geur van ’n vrou se oksel op ’n warm somersaand.

      Hy voel die oë van ’n paar vroue op hom rus wanneer hy uitstap sonder dat hy hoef te wag vir bagasie. Hy vleg deur die mense wat op hul tone agter die versperrings op passasiers wag.

      Hy reis lig, want hy hou alles wat hy benodig in twee wonings aan: die huis op Stellenbosch, die woonstel in Sandton.

      Wanneer Christine ’n hemp sien waarvan sy dink Christian sal hou, koop sy twee.

      Hy huur die nuwe luikrug-BMW by Avis se toonbank. Met die sleutels in die hand vleg hy vinnig deur die mense. Hy dink aan die vorentoe beur en die effe na links oorhel van die vierhonderdmeter; die verrassing van pyn en inspanning wanneer jy die agterste lengte inkap. Terug by jeugmiddae op Coetzenburg se tartanbaan, daardie bene wat alles uithaal oor ure en dae en weke heen, en die persoonlikheid wat oor die jare heen gevorm word.

      Vir Christian was herstel ’n wedren. Maar daar is geen pawiljoene meer nie, en Christine is nie meer ’n opgeskote skoolmeisie wat met rooi wange kyk hoe hy stomend die laaste honderd meter inkantel nie.

      Hy’s nou in ’n dimensie waarvan die ander sakemanne wat die gehuurde motors om hom beman, nie weet nie.

      Hy plaas sy rekenaar in die bagasiebak van die hardegat BMW’tjie. Beter so, want ’n ligte, geoefende kappie teen die ruit terwyl jy by ’n robot luier en jy verloor maande se werk en ’n hele infrastruktuur.

      Die karretjie is wakker en Christian draai die ruite toe wanneer hy die Avis-area verlaat. Hy skakel in op Kfm: ’n kitaarsolo van Carlos Santana. Die N2 is nie te besig nie. Hy swaai by die snelweg in en skiet weg, met sy kopligte op volsterkte. Bedag op voetgangers wat uit die plakkersbuurte oornael of soms ’n verdwaalde bees of perd wat oor die teer dwaal, gee hy vet.

      Wanneer hy bestuur, sak hy weg in wat hy sy dinktyd noem. Sy gedagtes swenk nou na Siebert. Siebert is veertien, en op sy harde­gatste. Wanneer Christian deesdae aan hom dink, gebeur ’n ontstel­lende ding: die frase “jou klein fokker” duik in sy gedagtes op. Dis ’n ongemaklike verskyning, hierdie frase wat so uit die dieptes opduik: die kind as baba, as klein tjokkertjie, die seuntjie wat oulik die driewieletjie trap, die onbeholpe puber. En nou die vrywillige banneling in die kamer op die tweede verdieping, onder die nok van die huis, verlore iewers op die web. Onbereikbaar, nors.

      Wanneer Siebert wel sy kamer verlaat, verkry hy ’n prostese, ’n ekstra ledemaat: ’n rollerboard waarmee hy snags laat, wanneer die hele buurt slaap, sy spring- en draaitoertjies eindeloos oefen in die straat voor die huis. Christian hou hom soms dop vanaf die donker slaapkamer se balkon, daardie pofbroekfiguur wat komieklik spring en val, om net weer hardnekkig op te staan, keer op keer.

      Te veel soos ek, dink Christian dan, met die slapende Christine agter hom, die aandwind wat die gordyne saggies laat bol en die dou wat die grond- en plantgeure uit die Stellenbosse riviergrond laat opwasem.

      Klop-klop, karplaks!

      In die BMW skud Christian sy kop en gun homself een van sy mees bevredigende fantasieë. Hy dink aan sy kliënte. Hulle sit nou, op hierdie oomblik, in internetkafees met ’n papierbeker koffie in die een hand en die ander hand ongeduldig op ’n muis. Hulle sit laataand nog in staatsdienskantore voor die verligte glasskerm, besig om geluidloos, verslaaf, te sweef. Of hulle sit naas goudvissies en dawerende TV’s in gesinskamers. Hulle dwarrel soos stofdeeltjies wanneer ’n sonstraal ’n skemer kamer binneval. Hulle swerf nadenkend; naamloos en nêrens.

      Sy gedagtes vloei oor in wat môreoggend op Stellenbosch wag. Hy ruik reeds die koffie wat Christine bring. Sy’t Diana Krall baie saggies aan die draal deur die huis met een van haar fyn, ironiese nommers. Die balkondeure is oop en die groen kroon van die eikeboom is stralend en geurryk. Eekhorings wip knikstert tussen die takke. Hulle val met dik, wollerige sterte deur die lower.

      Maar by Wildernis se wit branders is Christian op hande en knieë in die vlakwater. Brekende borreltjies dryf op die plaat water wat stadig terugtrek en aan sy hande en bene suig. As ’n stroom hom nou moes beetkry, sou hy nie kon uitstap nie. Wandelaars op die groot, oop strand kyk verras na die groot man wat soos ’n kleuter in die vlakwater rondkruip.

      Hy ruk uit sy gedagtes toe hy links moet draai na Stellenbosch. Hy kan die landerye om hom voel oopmaak. Hy’t die ruit nou afgedraai en die wind stoot in sy gesig. Regs van hom lê wingerde in donker voë en links, verder weg en agter Port Jacksons, plakkerskampe en die treinhuisies van Delft, klim die ligplate van Loevenstein en Welgemoed teen die Tygerberg uit. Hy is bewus, na agter, van die wit skuim by Macassar, Valsbaai met Hangklip wat sy voet in die onrustige nagwater neersit, en duskant die Strand en Somerset-Wes die donker figuur van Helderberg, skaars sigbaar teen die sterre.

      Hy ruik Kaapse fynbos, en in die gleuf wat deurtrek na die Valsbaaise kus dryf die soutgeur van laaggety, die oopgetrekte rotse by Gordonsbaai. Sy gemoed lig, hy verlang na Christine en Siebert, en daar voor strek Stellenbosch se ligte al teen die hang van die berg uit. ’n Berg wat hy as skoolseun uitgehardloop het, vry en rats soos ’n ribbok.

      *

      Die motor wat van voor af aankom, ry sonder kopligte. Christian, wat die soutgeur van Valsbaai diep in sy sinusholtes intrek en gemaklik agter die BMW’tjie se stuurwiel sit, flikker sy ligte vir die donker voertuig wat van Stellenbosch se kant aankom.

      Ergerlikheid stoot in sy bors op. Deesdae kom die kwaad vinniger. Dis ’n goeie teken, sê die kardioloog. Iedere mens gaar sy kwaad in ’n spesifieke orgaan op: die lewer, die dikderm, die maag. Die gif van opgekroptheid, wat die gekose orgaan aftakel. In Christian se geval was dit in die varksnoet, daardie orgaan waaraan hy deesdae probeer dink asof aan ’n appel: mooi volrond, rooiwang, ryp.

      Met ’n geur van nuwe lewe.

      Hy moet, anders kan hy nie aangaan nie.

      En dis skielik daar: die humeur. In vergaderings, op die oop pad, voor die rekenaar; tuis by Christine en die kleineman. Mense is versigtiger vir hom deesdae, merk hy op. Die gemoedelike Christian wat klein stekies kon wegveeg met ’n verwaande argeloosheid, wat met ’n wuif van die hand kon sê: “Let it ride” – hy is nie meer nie. Meer gestroop nou. Die stophorlosie skielik ’n ander, groter tyd aan die meet.

      “Fokkers,” sis hy toe die motor soos ’n rot in ’n donker tonnel op hom afkom. Hy flikker weer sy ligte – effe te nadruklik, sou hy agterna toegee – en druk die toeter. Dan doof hy sy kopligte in ’n heerlike oomblik waarin tyd stilstaan en die twee