Krokodil aan my skouer. Christiaan Bakkes. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christiaan Bakkes
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798164986
Скачать книгу

      

      Christiaan Bakkes

      Krokodil aan my skouer

      Stoffel toe en nou

      Human & Rousseau

      Opgedra aan oom Ben Beytell, die laaste van die groot veldwagters.

      1

      Op skool was ek maar slapgat. My onderwysers het gesê: “Mathysen, jy is slapgat. Wag dat die army jou kry, die army gaan jou breek.”

      Ek het nêrens uitgeblink nie. Min belofte getoon. Miskien was dit omdat ek as baba ’n waterkoppie was. Harsingvloeistof het nie uit my skedel gedreineer nie, dit het opgebou en druk op my brein geplaas. My ma het onraad vermoed omdat ek baie geslaap het. As ek wakker word, het ek gehuil.

      Omdat my pa by die Militêre Akademie op Saldanhabaai gestasioneer was, is ek na hulle hospitaalafdeling geneem. Die mediese ordonnanse het nie geweet wat fout is nie. Toe my ma my uiteindelik by ’n spesialis kry, het hy met sy vingers teen my kop geklop en gesê: “Sy kop voel soos ’n waatlemoen, mevrou.”

      Daar is ’n snit in my skedel gemaak en die vloeistof is gedreineer. Ek kan tot vandag nog die sny onder my hare vind; dis ’n lang keep wat ek met my vinger kan volg. In die dae toe ek my hare borselkop gedra het, kon mens dit sien. Dit het my ma altyd laat gril.

      Voor ek skool toe is, het ons na Pretoria getrek. My ouers het geglo ek is verstandelik vertraag tot die dag dat ek graad 1 deurgekom het. Dis nie dat ek my eerste skooljaar met vlieënde vaandels geslaag het nie – ek het geen graad of standerd met vlieënde vaandels geslaag nie. Ek het elke keer net deurgeskraap.

      Op Kersaand aan die einde van my graad 1-jaar het ek deur ’n glasdeur gehardloop. ’n Skerf het deur my bolip geklief en ’n blywende litteken gelaat. Ek het van jongs af littekens versamel. Dit het my familie se indruk versterk dat ek dom, lomp en ongekoördineerd was. Hulle was nie verkeerd nie.

      Ek was hopeloos in wiskunde, rekeningkunde en wetenskap. Biologie het nie veel sin gemaak nie. Aardrykskunde was net-net verstaanbaar. Geskiedenis het ek verstaan; dit was soos ’n lang storie. Dit het gehelp dat my pa ’n geskiedkundige was. Hy het ’n passie daarvoor gehad en ons het gereeld oor naweke na Boereoorlog-slagvelde gegaan. Daar het hy die geveg uiteengesit terwyl ek en my twee broers patroondoppies tussen die gras en klippe gesoek het. In kuns het ek talent getoon. Dit was die enigste skoolvak wat ek werklik geniet het.

      Ek het met min van my onderwysers oor die weg gekom. Party van hulle was sadiste en boelies. Lyfstraf was ’n aanvaarde onderwyshulpmiddel. Dissipline is met die rottang en plak gehandhaaf. Ons het ’n houtwerkonderwyser gehad wat veral lief was om ons te moer. As jy onder sestig persent vir ’n houtwerktekening gekry het, is jy geslaan. Ek het nooit meer as vyftig persent gekry nie.

      Daar is geglo dat lyfstraf karakter bou. By my het dit ’n weersin in die misbruik van gesag gekweek. My swak akademiese prestasie en my gebrek aan belangstelling het van my ’n gereelde teiken gemaak. Ek was nie ’n rebel of ’n stoutgat nie, ek was net eenkant. Ek het verkies om my eie ding te doen. Die onderwysers het dit nie verstaan nie.

      Daar was goeie onderwysers ook, en ’n paar van die onderwyseresse was oulik. My kunsonderwyser was self ’n buitestander. Hy het sy kunsklas ’n hawe vir individualiste gemaak. My geskiedenisonderwyser was ’n waardige man met ’n liefde vir sy vak. Hy het geskiedenis laat lewe. Hy was ook heelagter vir die Blou Bulle. Ek het hom gerespekteer.

      In my standerd 6-jaar gebeur iets wat die aandag op my vestig. Een middag is ek en ’n klomp maats doenig in ’n vriend se agterplaas; ons maak bomme met chemikalieë. Ek kan nie so mooi onthou nie, maar ek is amper seker dit was nie eens my idee nie. Ons meng swembadchloor met Jeyes Fluid. Dan staan ons terug en kyk hoe dit in ’n helder vlam ontbrand. Toe besluit ons om dit in ’n Cokebottel te meng om te sien wat gebeur.

      Ek en Adri Storm sal die eksperiment uitvoer; die ander skuil agter tuinmure en bosse. Eers gooi ons die chloor in. Toe ons die Jeyes Fluid ingooi, begin dit dadelik te rook. Ons gooi die bottel eenkant toe en draai weg om ons uit die voete te maak. Agter ons is daar ’n geweldige geluid – ssssssssssdoef! Arms oor die kop slaan almal dekking. Ek lig my kop net hoog genoeg om die Cokebottel soos ’n ongeleide projektiel verby my te sien trek.

      Skuins agter my begin Adri skree. Ek kruip oor na hom toe. Daar is ’n gapende wond aan sy kuit. Ek probeer hom kalmeer. Met sy kop op my skoot sien ek hoe die ander seuns weghardloop. Hulle spring oor die muur en verdwyn in agterplase in. Ander vlug straataf. Alleen sit ek met die skreeuende Adri op my skoot.

      Die oop fraktuur aan Adri se been neem maande om te herstel. Terug by die skool word ek alleen geblameer vir die voorval. Nie een van die ander kom na vore nie. Dit kweek by my ’n wantroue in my medemens, ’n belangrike les. Boonop maak die wetenskaponderwyseres my lewe hel, asof sý verantwoordelik gehou word vir my piromaniese neigings. Dit alles saam veroorsaak dat ek verdere belangstelling in skoolaktiwiteite verloor.

      Ek het in ’n oostelike voorstad van Pretoria grootgeword. My skooldae was onopwindend, en ek was meestal afgetrokke en verveeld. As jongste van ons drie was ek later die enigste seun in die huis, met ’n gaping van sewe jaar plus tussen my en my broers. My ouers het my streng grootgemaak – elke Sondagoggend moes ek kerk en Sondagskool toe gaan. Dit was sieldodend.

      Sondagmiddae ná kerk mag ek nie by die bure se seuns gaan speel nie. Later mag ek glad nie by die bure se seuns gaan speel nie. Dit was nadat hulle stiefpa gesondheidsprobleme opgedoen het. Ek het die bure se seuns beny. Hulle het baie meer vryheid as ek gehad; hulle kon kom en gaan soos hulle wil. Ons het in die geheim saamgespeel.

      Omdat my ouers so streng was, het ek dinge in die geheim begin doen. Snags glip ek en die bure se seuns uit om op die treinspoor te gaan speel. Ons swem in die damme op die universiteit se sportgronde. In die nanag klouter ons op die Colbyn-kafee se dak rond. Ons het dit vir geen besondere rede gedoen nie, ons was maar net verveeld. Ons wou ontsnap aan ’n oninspirerende werklikheid.

      Dit was egter nie alles onaangenaam nie. Op laerskool gaan fliek ek baie Saterdae in Hatfield. Of my broer neem ons na die inry naby Wapadrand buite Pretoria. Hy was in die polisie, en dit was vir hom ’n verskoning om sy meisie uit te vat. Hy trek die bakkie se gatkant silwerdoek toe, en ek en die bure se seuns kyk fliek terwyl hy en sy meisie op die bakkiesitplek lê en vry.

      So het ek ’n voorliefde vir Westerns ontwikkel. Dit was nie soseer die skietery nie – al was dit waarvan my maats gehou het. Vir my was dit meer die leefwyse van die cowboys. Om met ’n perd oor die vlaktes te ry en saans om ’n kampvuur onder die sterre te slaap het vir my na ’n wonderlike lewe gelyk.

      Televisie het ons eers in 1976 bereik, toe ek in standerd 3 was. Ons het ’n swart-en-wit stel gehad. Daar was Westerns soos Shane, Iron Horse en Bonanza. Naweke op ons plasie buite die stad kamp ek soos die cowboys in die veld. Ek het nie ’n perd gehad nie. Eers later sou ek op die plaas van een van my pa se vriende leer om beeste aan te jaag saam met Tswana-cowboys.

      Sondagmiddae saai Springbok Radio musiekversoeke uit vir die soldate op die grens. My oudste broer lees die tydskrif Scope. As hy uit is, gaan ek by sy kamer in om daarna te kyk. Behalwe vir die meisies in bikini’s is daar artikels oor die grensoorlog. Daar is foto’s van jong mans met R1-gewere in verbleikte uniforms in die bos. Ook helikopters wat oor doringbome vlieg. Die inhoud van die artikels is gerusstellend. Ons saak is reg. Ons manne is slaggereed.

      Ek het geen rede gehad om die heersende orde te bevraagteken nie. Almal tuis het dit aanvaar.

      Een van die belangrikste dinge wat sin aan my jeugjare gegee het, was die sport waterpolo. Ek was glad nie goed in sport nie. Ek was stadig en lomp en swak met balsport. My suster daarenteen was baie atleties; sy het erekleure verwerf in atletiek en swem.

      Ek was ’n laatbloeier. Vir die grootste deel van my skoolloopbaan was ek klein gebou. Stadig soos ’n slot, maar klein soos ’n flank. Ek was ’n vastevoorspeler vasgevang in die liggaam van ’n losvoorspeler. Boonop het die vreemde vorm van ’n rugbybal en die onvoorspelbaarheid van sy hop my beperkte balbeheervermoë totaal oorskadu. Ek het daarvan gehou om rugby te kyk, maar ek was nutteloos vir die sport.

      In standerd