En toe hoor sy iets kreun en sy kruip onder ’n bos in en loer uit. Toe sien sy dis die bosdier. Dis Kwobu Khuni. En sy sien Kwobu Khuni lyk soos die storiedier. Hy het selfs die regop stertjie van ’n vlakvark.
Maar Kwobu Khuni vreet nie vleis en vrugte soos die storiedier nie. Nee, Kwobu Khuni hardloop al in die rondte. Hy kreun. Toe begin hy skielik die wortels van ’n plant uitgrawe. Hy kou daaraan en kreun nog harder. En harder. Hy kreun so hard dat die geluid op Hlaulu aanstorm soos donderweer, soos die skreeustemme van al die mense van ’n dorpie wat gelyk skreeu, soos die trompetter van baie olifante.
Toe storm Kwobu Khuni na ’n boom. Hy pluk die bas af en stop dit in sy bek, kou en spuug en kou en spuug. Hy sit sy poot teen sy gevreet en skreeu: “Hau! Hau! Hau!” En toe druk hy sy kop in ’n gat en skreeu in die grond in.
Hlaulu wonder nie meer oor Kwobu Khuni nie. Sy wonder nie waarom hy so skreeu nie – in die dag maar veral in die nag. Sy weet. Het sy dan nie self een nag so rondgekruip en gehuil en haar kies vasgehou nie? Sy weet ook wat om te doen.
Sy hardloop die bos uit. Hardloop na die klein sekelbos wat naby haar hut groei. Sy haal die potjie van haar kop af, pluk die blare af en maak die hele potjie vol. Toe sit sy weer die pot op haar kop en gaan terug bos toe.
By die sekelbos en ook op pad bos toe hoor sy vir Kwobu Khuni skreeu. Maar sy is nie meer bang vir sy krete nie, want sy weet mos hoekom hy so tekere gaan.
Kwobu Khuni skreeu so hard en hy soek so rond vir iets om die pyn weg te neem, dat Hlaulu by hom is voordat hy haar sien. En toe skrik hy so groot dat hy reg agteroor tussen die bosse in val en net so bly lê met sy groot oop oë en sy groot oop bek.
Hlaulu prop gou ’n blaar in sy bek en toe nog een en nog een. En toe prop sy hande vol blare in sy groot oop bek.
“Kou,” sê sy.
En die bosdier, ou groot Kwobu Khuni, ou lelike Kwobu Khuni, ou seertand Kwobu Khuni sit regop en kou die blare. Hy kou dat jy net blare en spoeg sien spat. Hy kou en hy kou.
Ná ’n ruk is sy seer tand baie beter. En toe steek hy sy groot poot uit en vat aan die krale om Hlaulu se nek en hy vat aan die krale om Hlaulu se middel en hy vat aan die krale om Hlaulu se enkel en toe maak hy geluidjies, amper soos ’n baba maak as hy vir sy ma iets vra.
Hy wil my krale hê, dink Hlaulu, ek gaan dit nie vir hom gee nie. En toe dink sy: Hy is nogal ’n oulike dierasie, maar ek gaan vir hom net een stringetjie gee. Net een.
En Kwobu Khuni spring rond dat die bos daarvan dreun en die voëltjies verskrik uit die bome opvlieg. En toe wil hy natuurlik nog krale hê.
Maar Hlaulu het klaar die potjie op haar kop gesit en die bos uit gestap.
Dis nou stil in die bos. So stil dat die mense van die dorpie die voëls kan hoor tjirp, so stil dat hulle die sonbesies hoor sing, so stil dat jy Kwobu Khuni kan hoor loop.
Maar soms as die maan boepens maak in die lug, of as dit baie koud is, hoor hulle weer die vreeslike geskreeu uit die bos opklink.
Wanneer dit dan klink asof die hele bos van die pyn bewe, maak nie saak of dit nag of dag is nie, loop Hlaulu bos toe met die kleipot op haar kop. Die kleipot waarin sy die blare van die sekelbos het om die bosdier, Kwobu Khuni, se seer tand te dokter.
Nou neem Hlaulu ook elke keer die kortpad deur die bos na die ou vrou wat aan die ander kant van die bos woon. As Kwobu Khuni haar sien, pluk hy vir haar vrugte in die hoogste takke van die bome. Vrugte wat sy vir die ou tante neem wat aan die ander kant van die bos woon.
Postlees: Beantwoord die onderstaande vrae in jou werkboek (pas leesstrategieë toe). | |
1. | Wat is die bosdier se naam? |
2. | Waarmee maak Hlaulu die bosdier gesond? Skryf net die regte antwoord neer: ’n potjie vol pap / ’n stringetjie rooi krale / ’n potjie vol heuning / nie een van die vorige drie nie. |
3. | Wat is die ooreenkoms tussen die storie wat die ou vrou vir Hlaulu vertel en dit wat Hlaulu doen? Skryf twee sinne. |
4. | Bestaan die blouduiker in die werklike lewe of is dit ’n towerdier? Hoekom sê jy so? |
5. | Kan sekelbos regtig help vir pyn of is dit een van die “onmoontlike” dinge wat in volksverhale voorkom? Gebruik die internet om ’n antwoord te vind. Sleutelwoorde: sekelbos / Dichrostachys cinerea. |
6. | Ons leer ’n lewensles uit hierdie verhaal. Skryf net die regte antwoord neer. Iemand wat bakleierig is, het dalk net pyn / Moet nooit deur ’n bos loop nie. |
7. | Skryf die sin neer waarin die volmaan beskryf word. |
8. | In watter land speel hierdie verhaal af en hoekom sê jy so? Leidrade: ’n soort bok, ’n soort plant. |
9. | Hierdie verhaal bevat twee verhale. Skryf in twee sinne wat gebeur in hierdie twee verhale. |
Die wolfkoningin
I.D. du Plessis
Prelees – groepbespreking
In volksverhale speel diere menslike rolle. Dink jy hierdie verhaal gaan oor die leier van ’n wolftrop? Hoekom sê jy so?
In Afrika kom ook wolwe voor, maar ons noem hulle by ’n ander naam of net ’n deel van die naam sluit “wolf” in. Noem soveel hiervan op as wat jy ken.
Die verhaal
’n Ou sultan wat baie jare oor sy land geregeer het, moes op ’n dag deur ’n woud ry. Dit was ’n mooi somersdag en die voëls het oral in die bome gesing, maar die sultan het dit nie gehoor nie. Sy gedagtes was by sy vrou wat ’n paar maande tevore gesterf het en oor wie hy nog altyd getreur het. Die volk wou ’n nuwe sultane hê, maar nie een van die hofdames het die sultan aangestaan nie.
Dit was warm en die sultan was dors. Toe hy met sy gevolg by ’n houtkapper se hutjie in die bos kom, laat hy by die deur aanklop om water te vra.
’n Pragtige meisie maak die deur oop. So mooi is sy dat die soldaat wat aangeklop het sy oë nie kan glo nie. Hy vergeet skoon waarom hy daar is.
Ongeduldig laat die sultan hom roep. “Wat staan jy daar en ginnegaap? Het die mense dan nie drinkwater nie?”
“Vergewe my, o, Vors!” sê die soldaat. “Ek wou vra, maar die meisie wat die deur oopgemaak het, is so mooi dat ek my woorde heeltemal kwyt was.”
Die sultan gaan toe self kyk, en waarlik, so ’n lieflike mens het hy nog nooit gesien nie. Hy drink die water, bedank haar vriendelik en vertrek.
Maar die meisie se gesig kon hy nie vergeet nie.
Die volgende dag gaan hy weer daar water drink, en die derde dag weer.
Toe word die meisie bang, want sy kan sien die sultan is verlief op haar en is van plan om haar tot sultane uit te roep.
Nou sou ’n mens dink dat enige meisie maar te bly sou wees om sultane te word, maar hierdie eenvoudige houtkappersdogter was reeds verlief en wou geen ander minnaar hê as dié aantreklike jong wazir aan wie haar hart behoort het nie.
Ná die derde besoek het die sultan ’n paar dae weggebly. Die meisie was bly, want sy het gedink hy het besluit om ’n ander vrou te kies. Maar net toe sy gerus raak, kom die sultan een middag alleen aangery op ’n pikswart perd met ’n bloedrooi saalkleed en koperklokkies wat rinkel as die perd sy passies maak.
“Amina,” sê hy, “ek wil hê jy moet sultane word. Sal jy my die jawoord gee?”
Maar sy dink gou aan ’n plan om uitstel te kry. “Ek het g’n mooi klere nie. Bring eers vir my ’n silwer rok.”
“Goed,” sê die sultan.
Toe hy weg is, hardloop sy na die wazir se huis toe om raad te vra, maar hy is nie daar nie.
Die volgende dag kom die sultan aangery op ’n spierwit perd met ’n silwer saalkleed en silwerklokkies