soeklees en vluglees om vrae oor die verhaal te beantwoord
die verhaal vir hardoplees voorberei.
Hierdie is ’n verhaal oor ’n gebeurtenis in ’n tiener se lewe – en sy is in gesprek met haarself en haar ma. Dit word ook ’n monoloog genoem. Lees in In ’n neutedop wat ’n monoloog is.
Die monoloog
’n Monoloog (mono = een) is ’n ononderbroke gepraat van een persoon of karakter. So ’n gesprek wek ook die indruk dat dit ’n gedagtereeks is.
Drie soorte monoloë word onderskei:
’n Monoloog waar ’n karakter teenoor ander denkbeeldige karakter/s speel. Dit vereis dat die karakter denkbeeldige oogkontak en dialoog met ander karakter/s het.
’n Alleenspraak verwys na dié soort monoloog waar ’n karakter self ’n oplossing vir ’n konfliksituasie probeer vind.
Dan is daar die soort monoloog waar die gehoor die medekarakter/s is. Hier moet gedurig kontak met die gehoor behou word en soms kan gehoorreaksie verwag word.
Die onderstaande monoloog “Dit was net ’n skrapie” is ’n kombinasie van twee soorte monoloë. Die karakter probeer eers self ’n oplossing vind vir die situasie waarin sy verkeer. Teen die einde reageer sy op haar ma wat roep en as denkbeeldige karakter ’n tipe gesprek voer.
Prelees saam met ’n maat.
Lees die titel en bestudeer die illustrasie:
Wat sien julle in die illustrasie? Noem dit op.
Watter verband is daar tussen die titel en die illustrasie?
Wie is die persoon wat van iets beskuldig word? Hoe weet julle dit?
Wie dink julle is die skuldige party hier? Hoekom sê julle so?
Het so iets al by julle huise gebeur?
Lees die volgende verhaal saam met jou onderwyser.
Dit was net ’n skrapie
Dis nou ’n mooi gemors! Pa is soos ’n beer met ’n seer tand! Ma snuif en staar in die verte in . . .
Dis in elk geval ’n ou bakkie . . . en mens sien amper nie eers die skrapie nie. Oukei dan, die duik! Hoe moes ek weet daar’s ’n boom? Daar was nie gister ene nie. En vir wat moet ek leer bestuur? Ek’s nou eers 14. Dis nog vier jaar voor ek ’n lisensie kan kry. Vier jaar is lank. Vier jaar gelede was ek nog ’n bogsnuiter!
En nou soek Pa R500,00 by my. Waar op aarde moet ek R500,00 kry? Dis heeltemal onregverdig. Hy pik altyd op my. Ousus is die witbroodjie, sy . . . sy maak nooit ’n fout nie. Sy ry so staaadig . . . En sy kry die briek altyd betyds in die hande.
Nou ja, Pa soek vanaand ’n plan by my. Op skrif nogal. En nee, nie op die rekenaar getik nie, in jou eie handskrif, Petronella Magrieta! Dis tyd dat julle kinders weer terugkeer na basiese dinge! Na WAARDES, na RESPEK, na MANIERE!
Oe, my kop pyn skoon. Wat kan ek doen? Melkterte bak. Ag tog, dit sal seker 100 melkterte moet wees. Wie op aarde gaan 100 melkterte koop? Waar gaan ek geld kry vir die bestanddele? Nee wat . . . simpel plan, ek hou nie eens van koekbak nie.
Konsert hou? Sommer in die garage! Aha! Dan nooi ek die hele buurt se kleintjies. Ek kan R5,00 toegang vra, net 100 kinders en my kop is deur. Wat sal ek opvoer? Ag, ek vat sommer die trommel vol ou klere, en dan improviseer ek. Wag! Hulle kan die ou klere aantrek, en self die konsert hou! Heng, Pa gaan so beïndruk wees . . . entrepreneur, ondernemingsgees! Perfekte plan! Daarso Papsielief – R500,00 op die kop!
Ek’s hier, Ma! Ek’s net klaar met my plan vir Pa . . . Pa se plan? Maar ek het – ’n Wat? ’n Groentetuin?! Waar? In die agterplaas? Saad? Ma!!! Ek weet niks van ’n groentetuin af nie . . . Nee!! Dit sal nie werk nie . . . Wie gaan spit? Ma!!!! Ek gril vir grond! Daar’s wurms in en alles! Ag, sê vir Pa Ma dink nie dis ’n goeie plan nie!!
Ma moet my help! Seblief!!! Ek smeek Ma!! Ek’s eintlik ’n kunstenaar . . . en kunstenaars krap nie in grond rond nie . . .
Maaa!!!
(Mari Weber, ongepubliseer)
Kenmerke van literêre tekste
Vertellersperspektief
Die eerstepersoonsverteller (ek-verteller, interne verteller) is een van die karakters in die verhaal. Hierdie tipe verteller is nie baie objektief nie, is gebind aan tyd en plek en weet nie altyd wat ander karakters dink en voel nie.
Derdepersoonsverteller: Die skrywer beskryf die verhaal deur die oë van een van die karakters in die verhaal. Hy/sy kyk ook na gebeure uit die perspektief van die karakter.
Die alomteenwoordige verteller is nie ’n karakter in die verhaal nie. Hy/sy staan buite die verhaal en beskou die verhaal vanuit ’n objektiewe posisie. Hy/sy is nie aan tyd en plek gebonde nie, en kan beskryf wat op dieselfde oomblik op meer as een plek in die verhaal plaasvind.
Gedagtespraak
Dit wat die karakter dink kan ook as innerlike dialoog beskou word. Dialoog is deel van die handeling omdat dit gebeure kan laat plaasvind. Dialoog openbaar ook karaktereienskappe en wat ’n karakter dink.
Handeling
Handeling of aksie is die gebeure wat in ’n verhaal plaasvind. Die een handeling kan ’n reaksie by sekere karakters veroorsaak en daardeur hulle handeling verder beïnvloed of selfs die verloop van gebeure in ’n ander rigting stuur. Ons kry die volgende soorte handeling:
Uiterlike handeling is dit wat jy kan sien: gesigsuitdrukking, bewegings en gebare van karakters.
Innerlike handeling vind in die karakters se gedagtes plaas – dit is karakters se emosies en denke.
Karakteriseringstegnieke
Karakters word gewoonlik uiterlik en innerlik beskryf. Ons leer karakters op die volgende maniere ken:
Hoe hy/sy self optree, houding en gebare.
Wat die verteller van die karakters sê.
Wat die ander karakters van hom/haar sê.
Wat die karakter self van hom/haar sê.
Lees die monoloog nou weer aandagtig op jou eie deur en beantwoord die vrae in jou werkboek.
1. In hierdie monoloog kom slegs een karakter voor.
a. Is hierdie karakter ’n seun of ’n meisie? Motiveer jou antwoord.
b. Hoe oud is hierdie karakter?
c. Het die karakter enige ander broers of susters? Wie is die jongste?
2. Watter plan het die pa toe in die mou gevoer?
3. Watter drie dinge wou die pa sy dogter leer?
4. Lees die titel. In watter paragraaf word die titel verduidelik?
5. Die spreker se ouers ervaar verskillende emosies.
a. Skryf die uitdrukking neer wat die pa se emosie beskryf.
b. Wat beteken die uitdrukking?
c. Watter emosie beleef die ma? Haal ’n woord uit die teks aan om jou antwoord te bewys.
6. Skryf ’n beter Afrikaanse