Lees die subtitel – wat kan julle alles daaruit aflei?
Kyk na die illustrasie by die verhaal – noem twee moontlike karakters in die verhaal.
Waaroor dink julle gaan hierdie storie?
Lees die verhaal saam met jou onderwyser deur.
Die boodskap
oorvertel deur George Weideman
’n Nama-variasie op die tema van hoe die dood in die wêreld gekom het.
Dis die storie van Volmaan, Luis en Haas, en die boodskap wat Maan lank, lank gelede aan die mense gestuur het.
Dit was nie sommer só ’n boodskap nie! Nee, dit was ’n baie belangrike boodskap. Want kyk, Maan gaan mos nie regtig dood nie. Sy kom weer; dit sien ons elke keer met volmaan. En vir die mensekinders wou Maan laat weet: “Net soos ék doodgaan, maar weer lewe, so sal julle ook doodgaan, en weer lewe.”
Maan moes ’n boodskapper kry om die belangrike boodskap na die mense te bring, en dié boodskapper moes klein wees, en vinniger as vinnig. Ná wik en weeg besluit sy op Luis. Want sy het geweet Luis, die luiaard, sit net in ’n bossie se skaduwee en wag tot ’n boklam of die bokwagtertjie daar verbykom. Dan spring hy op en ry saam na die takkraal toe, daar waar die vure is, en dan is die boodskap sommer gou-gou by die mense. So, Luis het die boodskap gekry om te dra.
Maar ongelukkig is Luis nie net lui nie – hy sien ook nie te goed nie.
Toe Luis van Maan af weggaan met die boodskap, was dit nog nag. Hy het onder die eerste die beste graspol ingekruip. Daar het hy sy kans afgewag: kom staan ’n bok teenaan die graspol, dan het hy ’n ryding en dan is die boodskap so goed as by die mense.
Toe die eerste skaduwee oor die graspol val, glip Luis uit, klim teen die skeenbeen voor hom op en klou vas. Maar aiiii . . . Luis het hom vreeslik misgis. Terwyl hy nog die boodskap oor en oor opsê sodat hy dit nie straks vergeet nie, raak die grond weg onder hom, en die tkaubome en die melkbosse raak klein onder hom.
En toe sien hy eers: die bok het nie hare nie, maar vere. En toe hoor hy: kelkiewyn-kelkiewyn! Daar gaan sit die kelkiewyn anderkant die verste melkbos, en sy skud haar vere, en Luis trek met ’n boog deur die lug tot onder ’n biesiepol.
Daardie aand stoot Maan haar kop tussen die melkbosse op die horison deur om te kyk of die mense al dans van vreugde oor die goeie boodskap. Maar dis stil, die vure brand laag en aan die gehuil van die kinders kan sy hoor iemand is weer baie siek. Toe weet Maan Luis het nog nie die goeie boodskap afgegee nie.
Die derde dag, toe Luis tot bo in ’n volstruisdruiwebos klim, kom knabbel Haas aan die vet blaartjies. En Luis vertel hom van sy moeilikheid.
Haas, wat baie nuuskierig is, wil dadelik weet wat die boodskap is. En Luis sê dit vinnig op: “Net soos ék, Maan, doodgaan, maar weer lewe, so sal julle ook doodgaan, en weer lewe.”
Aha, dink Haas, dis so ’n vername boodskap . . . as ék dit aan die mense bring, sal ek Maan se guns wen. En hy bied terstond aan om Luis tot by die werf te vat.
Maar hulle is skaars tot by die verste melkbosse of Haas skud sy karos links en regs in die wind – en daar trek Luis. En voor jy kan sê een-jakkals-het-’n-skewe-agterpoot! sê Haas gee pad voor, en hy roei so al wat hy kan werf toe om die boodskap vir die mense te bring.
Maar waar Luis bysiende is, is Haas kortsigtig. Hy dink net aan die roem wat hy gaan verwerf met die vername boodskap. Hy sê nie die boodskap oor en oor op soos Luis sodat hy dit kan onthou nie, hy hol net dat sy ore en sy witkwasstertjie wip-wip oor die klippers en die graspolle.
Maar aiiii, toe hy uitasem op die werf aankom, kan Haas nie die boodskap presies onthou soos Luis dit opgesê het nie. Hy sê dit oor en oor, maar hoe meer hy dit opsê, hoe meer raak die woorde deurmekaar.
Vaal van die stof slaan hy op die werf neer en dit is die boodskap wat hy vir die mense gee: “Net soos ék, Maan, doodgaan, en dood bly, net so sal julle ook doodgaan, en heeltemal vergaan.”
En die hele werf se mense gaan aan die weeklaag en hulle gooi sand en as oor hulle gesigte, en op dié oomblik blaas die baie, baie, baie siek man sy laaste asem uit.
Toe Maan dié aand deur die verste melkbosse kyk, sien sy nie eens ’n enkele stomp hout brand nie. Die hele werf is verlate. Die takkraal is leeg. Daar is nie ’n sterfling te sien nie.
En toe sy nader gaan, sien sy Luis nêrens nie, maar Haas dwaal nog daar by die vuurmaakplek rond en sê die verkeerde boodskap oor en oor op.
Toe word Maan baie kwaad. Sy gryp ’n stuk uitgebrande stomp en slaan vir Haas deur sy gesig.
Haas skrik so groot dat hy sy karos in die as van die vuurmaakplek laat val. Hy raap dit op en slaan Maan daarmee deur die gesig.
Van toe af het Haas ’n gesplete lip, en die vaal asmerke lê vandag nog oor Maan se gesig.
(Verkort uit: Die Madiba-boek. Tafelberg. 2002)
Leer meer van literêre tekste voordat julle die vrae beantwoord. Raadpleeg ook die Letterkundegids agter in die boek.
Wat jy moet weet van ’n literêre teks
Die volksvertelling
Dit is ’n verhaal wat nie altyd regtig gebeur het nie en die verhaal is van ouer na kind, van geslag tot geslag, oorvertel.
Die trant en styl van ’n teks word beïnvloed deur ’n paar dinge:
Waarvoor die teks bedoel is (sy doel). Is dit om mense te vermaak of om hulle te leer? In die geval van volkverhale is dit albei.
Vir wie die teks bedoel is (die teikengroep). Is dit geleerde mense/bejaardes/tieners/kleuters?
Intrige/verhaalplan
Dit is die reeks gebeurtenisse in ’n storie wat help om die spanning op te bou tot die hoogtepunt. Die spanning word dan ontlont in die ontknoping.
Karakters
Die persone wat in ’n storie optree, word die karakters genoem. Daar is gewoonlik een of twee wat die belangrikste is. Ons noem hulle die hoofkarakters.
Ruimte
Dit is die agtergrond (die “ruimte”) waarteen ’n verhaal afspeel. In hierdie geval is dit ’n verhaal wat in die bos afspeel, en die karakters is almal deel van die natuur. Hulle kan praat en redeneer. Baie dinge is dus moontlik.
Tyd
Dit is die tyd waarin ’n verhaal afspeel. Dit is belangrik, want dit verduidelik vir die leser hoe mense gedink het. Hierdie verhaal verduidelik aan die leser hoe mense vroeër natuurverskynsels probeer verklaar het.
Die tema van ’n gedig of ’n verhaal is die stukkie waarheid oor die lewe wat ’n mens in die verhaal of gedig raaksien.
Die vertelperspektief
Dit verwys na die siening van die verteller oor gebeure in die verhaal. Die verteller beïnvloed die leser omdat positiewe of negatiewe gevoelens deur middel van die verteller aan die leser oorgedra word.
In hierdie verhaal kry ons ’n alomteenwoordige verteller. Die verteller staan buite die verhaal en vertel bloot die gebeure. Die verteller is nie emosioneel betrokke by gebeure nie en vertel net bloot wat hy weet/sien.
Die titel en subtitel
Die titel is die naam van die verhaal of gedig.
Die