Satyn Omnibus 3. Helena Hugo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helena Hugo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624065555
Скачать книгу
of ander klerk by administrasie kry dat die vakature gevul is en dat haar aansoek ongelukkig nie suksesvol was nie. Sonder dat hulle haar nooi om eendag weer te probeer.

      By die snelweg draai sy regs op die N4, Pretoria toe. Haar kamer by die gastehuis is reeds ontruim en haar bagasie in die kattebak gelaai, om te verhoed dat hulle haar dalk vir nog ’n nag laat betaal, met ’n kredietkaart wat lank reeds sy limiet oorskry het. Sy wil nie weer by haar pa leen nie, maar sy sal dalk moet. Tot sy kan begin pizzas aflewer of polisse verkoop.

      3

      Alles lyk skielik erger, meer morbied en neerdrukkend, toe Cecilia laatmiddag by die beknopte woonstel aankom en na haar bed op die sitkamerbank kyk. Vera en Melanie is dierbaar, maar sy kampeer al amper drie weke lank in hulle sitkamer en kan nie verder hulle jammerte misbruik nie. Sy het daarop geroem dat haar lewe ’n nuwe wending geneem het, en sy moet ophou om ’n parasiet te wees.

      “Cielie, haai!” groet Vera. Sy bly afwagtend staan. “En . . .?”

      Cecilia sak op die bondel beddegoed neer. “En niks.”

      “Nie die jop gekry nie?”

      “Nee.”

      “Hoekom nie?”

      “Te dom, te oud, te lelik, te neuroties.”

      “Wag, ek gaan maak tee.” Op pad kombuis toe stop Vera en wys na ’n ruiker op die hoektafeltjie. “Van Steve af. Dit het gister gekom, net nadat jy gery het. Hy het gebel ook – drie keer – om te vra waar jy is en hoekom jy nie jou sel antwoord nie. Ek het gesê ek weet nie en die foon neergesit.”

      “Ek het my sel afgeskakel. Ek was nie lus om met hom te praat nie, wou sommer net ’n tyd lank van alles en almal wegkom.”

      “Dis goed. Jy het dit nodig gehad.”

      Cecilia besef Vera hou haar onderlangs dop. Sy probeer kalm en bedaard lyk, maar sy weet daar is kringe onder haar oë. Die stres van die afgelope tyd wys.

      “Ek het ’n snaakse grap nou die dag gelees,” sê Vera vrolik. “Wat doen ’n meisie as haar kêrel ná ’n rusie uitstap? . . . Sy sluit die deur agter hom.”

      ’n Situasie wat nog te rou is om snaaks te wees . . . Cecilia glimlag werktuiglik om Vera te plesier. Sy kyk na die blomme: wit lelies, haar gunsteling. Sy voel of daar genoeg water in die pot is, maar kyk terloops na die kaartjie voor sy dit in ’n asbak gooi.

      Vera het nie veel vertroue in haar bekwaamheid gehad nie, besef Cecilia. Want sy het reeds ’n roomkoek as troos gekoop, saam met die tee en simpatie.

      Ná die tweede skyf kilojoule-gif het Vera die storie uit haar vriendin gewurm.

      “Ja, dit klink nie goed nie,” sug sy saam. “Soos die sterre-ghoeroes sê: Dis jou planete wat bots – jou Libra-aura wat nie in harmonie is met jou biopolêre ritme nie. Of so iets . . . Dié dat die hysbak nou juis vir jou en Melt Meiring moes uitkies om mee te gaan staan. Maar jy het darem agterna die ronde teen die blikboks gewen.”

      “Hy weet dit nie. Wat hom betref, is ek steeds neuroties. Waarvoor ek aan die tjank moes gaan oor lugbesoedeling en aardverwarming, weet nugter. My kop het uitgerafel, en dit net omdat sy profiel ’n bietjie soos Steve s’n gelyk het.”

      “Steve is donker. Ek dag jy sê dié ou is blond?”

      “Medium blond. Wat maak dit saak hoe hy lyk? Hy dink ek is mal.”

      “Om oor siek bome te huil, is nie mal nie. Dit wys jy het ’n hart, nie ’n klip in jou binneste nie. Dis sy eie skuld dat hy moes hoor hy is ’n buffel. Hy ís, met swak maniere daarby. Hoekom het hy hom nie vroeër aan jou voorgestel nie?”

      “Hy het nie geweet wie ek is nie. Jy kan nie verwag ’n man moet hom voorstel aan elke vreemde meisie wat saam met hom in die hysbak klim nie. Hulle sal dink hy is vrypostig.”

      “Met reg, want dit was vrypostig om jou uit die bloute te omhels, veral as hy jou nog nie eens formeel ontmoet het nie.”

      “Dit was nie uit die bloute nie, ek het eerste my arms om sy nek gesit.”

      “Hoekom verdedig jy die ou? Dit was gemeen om jou vir die gek te hou. ’n Verdraaide sin vir humor . . . Ek wed jou hy het ook allerhande duistere fobies. ’n Vrees vir katte, of hy slaan in pers knoppe uit as hy oesters eet. Wie weet, hy dra dalk pienk frilletjies-onderbroeke . . . Flippen ghwar!”

      Cecilia lek haar koekvurkie af. “Hy’s nie ’n ghwar nie. En muskusgeur is baie manlik.”

      Vera drink haar tee ingedagte. “Hoe oud is hierdie muskusman?” wil sy agterdogtig weet.

      Cecilia wil eers jok, maar sy is bang om die gode te tart, veral as Venus en Mars in botsende bane is.

      “Oud, koud en getroud?” vra Vera weer.

      “Nie eintlik nie,” skerm Cecilia, wetend sy het haar kop in ’n byenes gesteek. Sy ken haar vriendin. Vera gaan aanhou torring en om haar ore zoem, tot sy die korf oopgekrap het en by die heuning uitgekom het.

      “Middel dertigs,” raai sy kortaf.

      Sy staan op, rits haar naweeksak oop en soek haar toiletgoed en kamerjas. “Ek gaan bad, dan is ek vanaand uit julle pad as julle die badkamer wil gebruik.”

      “Melanie se vlug land eers Dinsdag en jy is nie in die pad nie. Jy’s welkom en jy weet dit. Hoe lyk hy?”

      Cecilia loop badkamer toe, druk die prop in die bad en draai die kouekraan oop. “Taamlik aantreklik.”

      “Taamlik of baie?” vis Vera uit. “Is dit hoekom jy ’n koue bad nodig het – om jou hormone af te koel?”

      Cecilia is verontwaardig. “Natuurlik nie! Ek probeer warm water spaar. Geysers gebruik baie krag.”

      Vera skuur by haar verby, draai die warmwaterkraan wyd oop en gooi ’n klomp badskuim in die water. “Waar’s jou styl, Ciel? Moenie so bourgeoisie-middelklas wees nie! Ons is nie kerkmuise nie.”

      “Júlle miskien nie, maar ek is. Ek voel soos ’n bloedsuier om hier te bly en nie eens ’n bydrae tot die kosrekening te kan maak nie.”

      “Waarvoor anders is vriende daar as dit nie is om mekaar te help nie? Annerdag koop jy vir ons kreef en kaviaar en dan is ons kiets.”

      “Waarmee?” vra Cecilia en daar is bitterheid in haar stem.

      “Met die geld wat Steve jou skuld,” antwoord Vera reguit. “Klim in die bad, voor die skuim blus. Ek gaan vir ons elkeen ’n glas wyn haal.”

      “Vyfuur in die middag?”

      Vera is min gepla. “Die Boeing is lankal oor, saam met die mossies. Ongelukkig nie landuit met die vervlakste kaptein Steve de Villiers agter die stuurstang nie. Hy skuld jou duisende, Cielie! Jy het vragte gordyne gekoop, lakens en duvets en als. Al jou meubels staan in sy huis, selfs jou klavier! Gaan jy alles net daar los vir hom en sy skelmpie? Net oor jy te trots is om terug te veg en te gaan vat wat joune is?”

      “Ek wil niks van hom hê nie. Hy kan in sy Boeing klim en maan toe vlieg, vir al wat ek omgee. Ek wil hom nooit weer sien nie.”

      “Wie vermaak jy? Net jouself. Hy sal nie eens weet as jy van honger doodgaan nie, en ook nie omgee nie. Steve de Villiers is ’n selfsugtige drip. Al waaraan hy dink, is om ’n meisie in die bed te kry. Ek is bly jou oë het betyds oopgegaan, voor dit te laat was. Voor hy jou kansel toe gesleep het en verder uitgebuit het. Jy was reg om die verlowing te verbreek, maar jy is te sag met hom. Kry vir jou ’n prokureur en eis skadevergoeding. Dagvaar hom vir troubreuk, geestelike marteling, pyn en lyding, die hele toetie. Hy’s die skuldige party, nie jy nie. Was daar ’n boodskap saam met die ruiker?”

      “Ja.”

      “Om te sê hy is onskuldig, dis ’n misverstand, hy het jou lief, jy moet hom vertrou, ensovoorts . . . ensovoorts?”

      “Min of meer.”

      “Smyt