“Juffrou Bergh, ek verstaan dat jy . . . baie ontsteld is . . .”
Sy knik.
“Ek sou graag die ondervraging wil uitstel . . .”
“Ek is . . . ek kan vertel.”
“Tyd is kosbaar. Maar ek sal verstaan.”
“Nee. Ons moet aangaan.”
“As jy seker is. Dit is belangrik dat jy alles moet vertel. Alles. Elke klein dingetjie. Laat niks uit nie.”
Sy knik. “Dit het by ’n veiling begin,” sê sy. En sy weet dit gaan seer wees, want sy herleef die eerste ontmoeting, sy oë, sy goue bruin vel, die goue haartjies, die glimlag. Vals, alles vals.
Die pyn is ’n swaar massa in haar. Sy sug diep, haar stem dof en sonder intonasie. Haar woorde vertel die verhaal. Haar gedagtes sê oor en oor hy was nie lief vir haar nie. Hy was binne-in jou, Ragel Bergh. Maar hy was nie lief vir jou nie.
Die eienaardigheid is dat haar trane nie ophou loop nie. Haar stem, haar gesigspiere is onder beheer, maar die vog vloei oor haar wange.
Beukes se groot hand met die rooi sproete beweeg oor die papier. Die pen se krapgeluid is hoorbaar. Mignon sit na die vloer en kyk en huil saggies saam met Ragel.
Beukes hou nou en dan sy hand in die lug om in te haal of ’n vraag te vra. As sy uiteindelik meer as ’n uur later klaar is, tel hy die telefoon op. “Sersant, ek soek ’n vingerafdrukspan oor ’n halfuur by Tuine-stasie. En bel vir Truter, Calitz en Du Preez. Daar is werk.”
Hy sit die telefoon neer en stap om die lessenaar. Hy hurk voor Ragel en sit sy groot hande op haar skouers.
“Juffrou Bergh, dit is ’n vreeslike ding wat met jou gebeur het. Jy was die slagoffer van een van die slinkste kriminele oortredings wat daar is – deur iemand se emosies en vertroue te misbruik vir geldelike gewin. Maar ons gaan nou begin om die saak te ondersoek en ek belowe jou ons gaan dié skuim kry.”
Ragel knik. Sy wil nie dink nie. Sy wil net die pyn verdoof.
Beukes gaan voort. “Die eerste klompie dae ná die misdaad is deurslaggewend. Hulle het ’n voorsprong van twee dae. Jy sal dus moet help. Ek wil hê jy moet saam met ons kom. Kom wys vir ons waar hy gebly het en waar die prokureur se kantoor was. Sien jy kans daarvoor?”
Ragel knik weer. Sy voel leeg. Moeg. Tot die dood toe.
Die res van die ondersoekspan daag in die volgende minute op en Beukes verdeel die pligte. Hy stuur ook ’n span om bankbestuurder Ian Snyman werk toe te neem en te probeer vasstel na wie die geld oorgeplaas is.
Hulle ry eers na die gebou waar Van Sitterd se kantoor was. Die vingerafdrukspan begin die leë kantoor se mure fynkam terwyl Boef Beukes saam met Ragel en Mignon na Maggie Oosthuizen, die opsigter, se woonstel gaan. Beukes vra die vrae en maak aantekeninge. Sy stem is sag, maar die dringendheid waarmee hy die vrae in salvo’s afvuur, laat geen twyfel dat hy so gou moontlik wil maak nie.
Voor hulle vertrek, gee Beukes opdrag aan ’n paar spanlede om van die ander mense wat op dieselfde verdieping werk voor Maandag te probeer opspoor. “Tyd, kêrels. Die tyd loop uit.” Die vingerafdrukspan moet ook die meubels wat Van Sitterd-hulle gehuur het, probeer opspoor en ondersoek.
Dan is dit ’n hele optog na die woonstelblok waar Dirk Buchner gebly het. Die proses word herhaal. Beukes ondervra weer die opsigter terwyl Ragel byderhand is om te help met van die antwoorde. Hy stuur ook twee speurders om van deur tot deur te loop en die ander inwoners van die gebou te ondervra.
Dit is al donker toe Mignon vir Ragel na haar meenthuis neem. “Jy slaap vanaand hier,” sê Mignon beslis.
Ragel knik instemmend maar sonder geesdrif. Sy gaan sit in die sitkamer op ’n stoel en huil. Saggies. Mignon gaan sit op die stoel se leuning en hou haar hand vas. “Daar is niks wat ek kan sê wat jou gaan laat beter voel nie.”
Mignon staan later op en gaan kombuis toe om ’n pot sop aan die kook te kry. Elke keer dat sy by die sitkamer inloer, sit Ragel steeds in dieselfde posisie en huil. Wanneer die sop aan die prut is, gaan hurk sy voor Ragel.
“Ek gaan my huisdokter bel dat hy jou ’n inspuiting kan kom gee – net om te kan slaap. Ek dink dit sal jou goed doen. Jy het ’n groot skok gehad. Wat jy nodig het, is ’n goeie maaltyd en ’n goeie nagrus.”
Ragel stribbel nie teë nie en Mignon skakel die dokter se nommer. Wanneer hy ’n uur later opdaag, vra sy hom om ’n rukkie by Ragel te bly terwyl sy na haar huis ry om slaapklere en ’n klompie toiletbenodigdhede te gaan haal. Ragel slaap al teen die tyd dat sy terugkom.
“Ek het vir haar sop ingeskep, maar sy wou niks eet nie,” sê die dokter. “Sy sal slaap tot môreoggend. Hou haar maar dop. Dit lyk na groot trauma.”
“Dit is,” sê Mignon. “Dit ís.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.