Meer as een keer dwing sy haarself om aan ander dinge te dink, om die volgende dag te beplan, om reg te maak vir die paar dae op Hermanus oor die Kerstyd, maar Jacobus kom spook oor en oor by haar tot sy eindelik, enkele minute ná tien, in ’n kas gaan grawe en die twee albums uithaal. Sy blaai vinnig daardeur – sy wil nie talm by die foto’s van haar ouers, of hulle as gesin nie. Sy soek net die een van Jacobus met sy boshoedjie op.
Sy haal dit uit, sit dit eenkant, kyk daarna.
Herinneringe. Dit neem aansienlike wilskrag om dit te onderdruk. Lyk hy na die man wat netnou op TV was?
Skielik is sy heeltemal seker. Sy loop met die foto na haar studeerkamer en skakel Navrae om die nommer van die polisie-kantoor op Hoedspruit te kry. Sy kyk weer na die foto. Nou twyfel sy weer. Sy bel die Laeveldse nommer om te vra of hulle seker is dit is Jacobus de Villiers en nie Jacobus le Roux nie. Dit is al. Net sodat sy die ding uit haar kop uit kan kry en gaan Kersfees hou sonder frustrerende verlange na haar oorlede familie, almal van hulle, Pa en Ma en Jacobus.
Sy praat eindelik met ’n inspekteur. Sy vra om verskoning. Sy het nie inligting nie, sy wil nie tyd mors nie. Die man op die TV het gelyk soos iemand wat sy ken, wat ook Jacobus genoem was. Jacobus le Roux. Sy bly dan stil, sodat hy kan reageer.
“No,” sê die inspekteur met die oordadige geduld van iemand wat sy soveelste eienaardige oproep moes hanteer. “He is De Villiers.”
“I know he is De Villiers now, but he might have been Le Roux, that is what I’m saying.”
Die geduld raak minder. “How can that be? He has been here all his life. Everybody knows him.”
Sy sê weer jammer en dankie en beëindig die oproep. Nou weet sy minstens.
Sy gaan slaap met ’n verlange in haar, asof haar verliese ná al die jare weer op ’n manier nuutgemaak is.
* * *
“En toe, gistermiddag, het ek by die ou gestaan wat my deur kom vervang het. Die sersant, die polisie-ou, hy’t iemand uit Hanoverpark gekry, ’n houtwerker … skrynwerker, toe hoor ek my telefoon in die studeerkamer lui. Toe ek optel, is daar ’n geraas op die lyn, ek kon nie veel hoor nie, ek dink hy’t gesê ‘Miss Emma?’. Dit het geklink soos ’n swart man. Toe sê ek ‘ja’. Toe sê hy iets wat klink soos ‘Jacobus’ en ek sê ek kan nie hoor nie. Toe sê hy ‘Jacobus sê jy moet …’ en toe sê ek weer ek kan nie hoor nie, maar hy bly stil. Toe vra ek ‘Wie praat?’ maar toe is die lyn net weg …”
Vir ’n oomblik is sy op ’n ander plek in haar kop, haar oë ver, en dan kom sy terug na my, draai haar kop, kyk na my en sê: “Ek is nie eens seker dit is wat hy gesê het nie. Dit was … die oproep was kort.” Sy praat skielik vinniger, asof sy die hele ding wil klaarkry. “Ek het gisteraand deurgery hiernatoe. En toe Carel die storie hoor …”
Sy laat dit daar. Sy wil nou ’n reaksie hê, ’n aanduiding dat ek glo en verstaan, ’n versekering dat ek haar teen dit alles sal beskerm. Dit is die oomblik van kopersberou, soos iemand wat ’n nuwe ryding aanskaf en weer die advertensie gaan lees. Ek ken dit, dié moment waarin jy jou verbind aan die ongeskrewe deel van die kontrak wat sê “ek aanvaar sonder voorbehoud”.
Ek knik my kop ernstig en sê: “Ek verstaan. Ek is jammer …” en ek beduie met my hande, ’n halwe sirkel om te wys ek wil alles daarby insluit, haar verlies, haar pyn, haar dilemma.
Daar is ’n klein stilte tussen ons, die ooreenkoms gesluit. Sy sal nou aksie verwag, ’n sekere leiding.
“Die eerste ding wat ek moet doen, is om die huis te bestudeer, buite en binne.”
“Natuurlik,” sê sy en ons staan op.
“Maar mnr. Lemmer, ons gaan net een nag hier wees.”
“O.”
“Ek wil weet wat aangaan, mnr. Lemmer. Dit … ek vind dit alles ontstellend. En ek kan nie net hier sit en wonder nie. Ek wil weet of ons mag reis. Of jy mag saamreis. Want ek gaan Laeveld toe, môre.”
4
Dit is donker buite, maar die straatligte is helder. Ek loop om die huis. Dit is nie ’n vesting nie. Diefwering net op grondvlak, subtiel, sodat dit nie inmeng met die estetika nie. Die kwesbaarste punt is die glasskuifdeure wat oopmaak op die groot stoep met die see-uitsig. Toskaanse pilare, hoeke en uitsteeksels wat vier, vyf moontlikhede bied om vinnig en stil by vensters op die eerste en tweede verdiepings te kom.
Binne, weet ek, is die gewone alarmstelsel met sy bewegingsensors en koppeling met ’n plaaslike private sekuriteitsfirma wie se blou-en-wit naambord langs die motorhuis pryk. Dit is vakansiehuissekuriteit, ontwerp as hoopvolle afskrikmiddel, versekeringspremieverlager.
Die huis is dalk drie jaar oud. Ek wonder wat eers hier gestaan het. Ek wonder wat die eiendom en die bouwerk gekos het. Ek verstom my aan die oordaad.
Lemmer se Wet oor Ryk Afrikaners: As ’n Ryk Afrikaner kan vertoon, dan sál hy.
Die eerste ding wat ’n Ryk Afrikaner koop, is groter borste vir sy vrou. Die tweede ding wat ’n Ryk Afrikaner koop, is ’n duur donkerbril (met die handelsmerk prominent sigbaar) wat net afgehaal word as dit heeltemal donker is. Sodat hy daarmee die eerste skans tussen hom en die armes bou. “Ek kan jóú sien, maar jy kan mý nie meer sien nie.” Die derde ding wat die Ryk Afrikaner koop, is ’n dubbelverdiepinghuis in die Toskaanse styl. (En die vierde is ’n nommerplaat met sy naam of sy rugbytrui se nommer daarop.) Hoe lank nog voor ons ons inherente minderwaardigheid gaan oorkom? Waarom kan ons nie, wanneer die geldgode lag, subtiel wees nie?
Soos ons ryk Engelssprekende landgenote, wie se teen-die-neus-afkyk my net so afstoot, maar hul welvaart minstens stylvol dra. Ek staan in die donker en wonder oor Carel-die-eienaar. Hy is skynbaar reeds ’n kliënt van Jeanette. Die Ryk Afrikaner is nie ’n lyfwaggebruiker nie. Sy bedreiging is te onsubtiel. Waar het Carel se behoefte aan beskerming ontstaan?
Ek kry die antwoord in die eetkamer, later.
Wanneer ek by die vertrek inloop, sit die meeste van hulle by die groot tafel. Emma stel my voor. Sy is die enigste een wat klaarblyklik nie familie is nie.
“Carel van Zyl,” sê die patriarg aan die kop van die tafel. Sy handdruk is oordrewe ferm, asof hy iets wil bewys. Hy is ’n groot man in sy vyftigs, met vlesige lippe en breë skouers, maar die goeie lewe het reeds sy rondings op Carel se wange en middel begin vestig. Daar is drie jonger egpare – Carel se kinders en hul gades. Een van hulle is Henk, wat die deur vir my oopgemaak het. Hy sit langs sy vrou, ’n mooi blondine met ’n baba op haar skoot. Vier ander kleinkinders, die oudste ’n seun van agt of nege. My plek is langs hom.
Carel se vrou is lank en aantreklik en onmoontlik goed gepreserveer. “Trek gerus jou baadjie uit, meneer Lemmer,” sê sy met oordrewe hartlikheid terwyl sy ’n stomende bak kalkoen op die tafel neersit.
“Mamma …” sê Carel teregwysend.
“Wat?” vra sy.
Hy maak ’n vuurwapen met sy hand en druk die vingerloop in sy hemp.
“O. Ekskuus,” sê sy, asof sy ’n sosiale blaps gemaak het.
“Kom, ons vra die Here se seën,” sê Carel gewigtig. Die aansittendes vat hande en buig hul hoofde. Die seuntjie se hand is klein en sweterig in myne, sy pa s’n koel en sag aan my ander kant. Carel bid, puntsgewys, gemaklik en welsprekend, asof sy god ’n medelid van die direksie is.
“Amen,” eggo dit om die tafel. Kosbakke word aangebied, kinders aangemoedig om groente in te skep. Daar is kort stiltes: ’n koverte bewussyn van die vreemdeling en ’n subtiele onsekerheid oor die gepaste vorm van interaksie. Ek is ’n