Helene de Kock Omnibus 6. Helene de Kock. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helene de Kock
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780798164832
Скачать книгу
enigiets weer dieselfde kan wees nie, Jessie. Maar ek … ek smeek jou, gee my nog ’n kans.”

      Sy lig haar oë verskrik na sy gesig, sien dat hy bleek tot onder sy blonde kuif is en die kuiltjie in sy wang ’n diep groef maak soos wat hy sy mond aan die binnekant vasbyt. Dis dié ou gewoontetjie wat haar onkant betrap sodat sy lam na hom bly staar.

      “Asseblief,” fluister hy toe sy niks sê nie, “Kom ons sien mekaar net weer gereeld – as ek net weer met jou kan práát!”

      Sy maak haar mond oop en toe tik sy sekretaresse aan die deur. ’n Ouerpaar uit Durban om hom te spreek oor hul spruit se doen en late op regsgebied. Jessica draai om om te loop, maar hy hou haar liggies aan die arm terug. Dis die angs en konsternasie in sy oë wat haar skouerophalend laat sê: “Kom drink vanmiddag by my en mevrou Geyer tee. Sy het ’n yslike koek vir my gebak.”

      Dis eers toe sy terug in haar eie kantoor is dat dit voel of haar bloed opnuut deur elke woord pols. Asseblief … mekaar sien … met jou praat …

      Sy syg agter haar lessenaar neer, druk haar handpalms oor haar oë, want dis of die lig te helder is. En wat gaan spruit uit die sien en die praat? wonder sy oorstelp. Ek wil nooit weer weerloos wees nie. En met die Daniël van ouds was weerloosheid ’n voldonge feit. Soos een van die koshuisseniors destyds snedig aan haar gesê het: ’n Man soos hy breek ’n paar harte voor brekfis, ou diertjie, maar dit lyk my jy soek na smart … En smart het sy gekry, dis nou maar seker.

      Jessica sug en knip haar oë. Ten minste, dink sy wrang, het hy wat Daniël is, ook sy kwota daarvan gehad. Die nuwe Daniël het pyn om sy mond en sy oë lag net nou en dan.

      Dwarsdeur die dag is dit of haar kop en haar hart in ’n stadige, stram wals gewikkel is. Sy moet fronsend konsentreer as sy klas gee, maar wil tegelykertyd aanhoudend glimlag. As sy net ’n masker kon dra waartydens sy die malle mengelmoes van emosie kon verberg, dink sy radeloos toe sy ’n slag terugstap na die Ou Hoofgebou om ’n nagraadse student te woord te staan. Sy gesels byna ’n uur lank met die meisie en toe sy haar by die kantoordeur wegsien, kom ’n bode net daar aan met ’n bolronde ruikertjie van pienk suigstokkies, die steeltjies fraai vasgebind met lang stroke ligroos lint. Jessica neem dit werktuiglik, teken vir die ontvangs daarvan en druk ’n deksel op die gevoel wat onverhoeds in haar opstuif. Die fyn prikkel van opwinding en …

      “Oe, professor,” adem die meisie met ’n student se vrypostigheid, “watter man is só ’n absolute skat?”

      “Loek de Jager, natuurlik,” glimlag Jessica luiters en druk die bossie suigstokkies in hul fleurige pienk papiertjies teen haar neus om die aarbeigeur te kry.

      Die student gaap haar aan, lag dan ongelowig en rol haar oë, “Ag, professor, wens ons dit nie almal nie! Loek de Jager is amper elke vrou se droom!”

      “Nou toe nou, juffrou Heyns,” glimlag Jessica, “dat ’n ou grappie jou nou so opgewonde maak!”

      “Wat praat u tog!” lag die meisie met intense geesdrif. “Ek is in die bestuur van Reg en Aktueel en ons het hom gevra om ons die dertiende Maart te kom toespreek. Ons kan eenvoudig nie wag nie!”

      “Toespreek?” vra Jessica verslae. “Waaroor nogal?”

      Juffrou Heyns se mooi mondjie val oop. “U klink soos ’n vreemdeling in Jerusalem, professor! Hy’s mos ’n staatsleerfundi, was lank ’n diplomaat in die buiteland. Washington of êrens. Sy TV-werk is glo net deeltyds. Hy is blykbaar betrokke by ’n nuwe instituut wat navorsing doen oor die invloed van geweld op staatstrukture of so iets.”

      “O …” kom dit lammerig van Jessica.

      “Ja, en u kan gerus plan maak om ook na hom te kom luister. Onthou, dis om sewe-uur in die Ou Senaatsaal … Dink net, dan kan u sommer sien hoe hy in lewende lywe lyk!”

      “Nè?” kry Jessica dit uit, en toe die student al weg is, staan sy nog steeds in die deur met die ruikertjie teen haar bors. Haar kop is ’n draaikolk en sy voel bewerig toe sy binnegaan en die klein pienk kaartjie van een van die linte afhaal. Binne staan geskryf: Veels geluk, Maggie, ’n Mooi jaar vir jou – vol kampvuur en koffie. Hoop net jy ken al die pad rietskerm toe. Selfs ’n ystervrou kan verdwaal as sy sommer net ’n koers inslaan! Groete uit die glaskas – Bill.

      Bill, beduie sy toe mevrou Geyer nuuskierig uitvra met haar tuiskoms, is ’n ou wat sy op Populier ontmoet het. Sy dink aan Kiewiet se stof-en-kaf-gesig en sê: “Hy’t ’n bakkies wat net ’n ma kan liefhê, maar hy het gelukkig ’n gawe geaardheid.”

      “Dierbaar, sou ek sê,” laat mevrou Geyer val terwyl sy die teetafel op die patio dek, want sy het van die bure oorgenooi. “Nee, regtig, kind, dis baie verbeeldingryk van dié Bill om ’n bossie suigstokkies vir ’n professor present te gee. Hy’t sweerlik ook ’n oog op jou!”

      Jessica voel hoe sy botstil word van binne en verkas na haar woonstel om gou aan te trek voordat die mense opdaag. ’n Rooi romp met ’n spleet tot by haar linkerknie, ’n swart kamisool en silwer oorringe met ’n breë silwer armband. Haar hare laat sy los op haar skouers.

      Mevrou Geyer trek haar asem in toe sy haar sien. “Kom die koning kuier?” vra sy glimlaggend. “Jy lyk asemrowend, Jessica. Ek sê nog altyd jy’s onnodig slim!”

      Maar haar oë rek begrypend toe sy Daniël saam met die ander bure oor die grasperk sien aankom. Hy is oënskynlik sy galante self, vol kwinkslae en sjarmante gebare wat veral mevrou Geyer se hart wen. Sy laat hom langs Jessica aan tafel sit en die geselskap vlot so lekker dat die snaarstywe gespannenheid wat die oggend nog tussen hulle was, stadig verslap.

      Teen die tyd dat die ouer gaste huis toe gaan, sit Jessica langbeen op die gras by Daniël en die ander jonges uit die buurt en lag oor als, omdat lag lag is en die skemeraand soel teen hulle aandruk. Op die ingewing loop haal Jessica die bossie suigstokkies en deel dit plegtig uit. Mevrou Geyer kan dit nie weerstaan om op te merk dat die mooie Jessica glo die lekkergoed by ’n man met ’n skewe bakkies present gekry het nie. Dit ontlok die een kwinkslag na die ander; net Daniël bly ingedagte stil. Later fluister-vra hy: “Was dit Karel?”

      “Nee,” glimlag Jessica in sy oë op. “Dit was Bill. Een van daardie ouens wat ’n algemene verkiesing op grond van sy voorkoms sal wen, jy weet mos.”

      “Nee,” sê hy gemaak omgekrap, “ek dag mevrou Geyer sê die man het ’n lelike tronie!”

      “Hmm. Maar nou het hy so baie charisma,” antwoord sy sag, loer tergend na hom van onder haar swart wimpers.

      Hy trek sy asem hoorbaar in, raak veerlig met sy hand aan haar arm. “Het ek kompetisie, Jess?” wil hy gedemp weet, maar sy sien die driftige kleur onder sy vel klim. Sy tuit haar mond toe sy praat en weet, wéét met die sonderlinge perversie van ’n vrou, dat sy besig is om met hom te flankeer.

      “My liewe Daniël, laat ek jou gerusstel. Ek het ’n hele paar mans leer ken die afgelope tyd. Daar is Bill en Kiewiet en Loek en so aan – maar as jy op die ou einde hul kaliber wil vergelyk, sal daar seker nie ’n groot verskil wees tussen hulle nie. Is alle mans nie maar eenders nie?”

      Maar dis net die woord kaliber wat in sy kop bly steek. Sy sien dit aan die skielike verdonkering van sy blou oë en die diep voue wat sy mond maak. Dan het hy tog nie vergeet nie, dink sy. Hy herroep ook sekere oomblikke met dieselfde helderheid as sy.

      Hy bly haar ’n antwoord skuldig totdat almal vertrek het en hulle alleen by die voorhekkie in die persrooi aandlig staan.

      “Maak jy nog rympies oor keisers, Jess? Of het die muse jou heeltemal gelos?”

      Die oomblik voel skielik ondraaglik gewigtig. Sy klem die koel smeedyster van die hekkie vas toe sy sê: “Wel, die speelse muse is nog met my … Maar ek weet nie of daar nog keisers bestaan nie.”

      Sy hande sluit warm en dwingend oor hare. “Asseblief, Jess. Ek hét verskriklik berou. En onthou, nie eens keisers is volmaak nie!”

      ’n Ligte skok stuif in haar op. Dis tog wat Karel ook wou sê. En wat die boek Die Dawidsman openbaar. Dat die bereidwilligheid