“Nou vir wat?”
Ek kon hom nie regtig antwoord nie, want ek het besef daar is nie ’n antwoord nie.
“Nou ja, daar is baie plek in die hotel,” sorteer hy die probleem uit terwyl Gielie die dubbel-Klippies in my hand druk.
“Baie dankie, dan kuier ons. Cheers!”
“Cheers!” koor hulle terug.
“Ek sê julle wat, gaan haal julle almal nou julle wederhelwe,” stel ek voor.
“Nou vir wat wil jy die aand nou staan en bederf?” kap Gielie, maar almal begin lag.
Terwyl die manne toe een vir een bakkie vat om vir Mamma te loop haal, stap ek uit en vra of daar iewers ’n plek is waar ek my motorfiets van die straat af agter die hotel veilig agter slot en grendel kan parkeer.
“Nou vir wat? Niemand op Pofadder steel nie. In elk geval, niemand op Pofadder weet hoe om daai ding te ry nie,” keer Wilhelm my.
Ek besef my fiets gaan net hier staan, maar begin toe die bagasie afhaal. Ten minste …
“Nou vir wat?” hoor ek weer.
“My tandeborsel en ’n skoon onderbroek.”
“Maar natuurlik. Kom ek gaan wys jou jou kamer,” bied Wilhelm aan.
“Is dit jou hotel?” wil ek weet.
“Nee, maar dis my Pofadder.”
Punte.
Daai aand het die hotel op Pofadder groter as ’n luislang geword. Die hele gemeenskap was daar. Almal het met my gepraat. Ons het gegooi. Gekuier. Ge-langarm. Geniet. Doer iewers anderkant pampoen-uur het die bakkies so een vir een in die vlak in begin verdwyn. Ek het in kamer 12 gaan stort, my tande geborsel en lank uitgestrek op my bed gaan lê. Al hierdie wonderlike, wonderlike mense was weg en môreoggend sny ek vroeg ’n lyn. Dus, alle beloftes van weer kuier ten spyt, ek sal hulle seker nie weer sien nie. Maar dit was so, so goed om hulle te kon ken vir een spesiale aand.
Die volgende oggend was die lug fris in die Noord-Kaap terwyl ek my goedjies vasmaak op my motorfiets wat nog suiwer en ongeskonde voor die hotel staan. Ek besef ek het eindelik selfs die sleutel in die slot gelos. Met alles in plek het ek vir oulaas ’n boere-brekfis met twee kalfsoog-eiers, spek, tamatie, sampioene, roosterbrood en koffie, koffie, koffie gaan wegpak en daarna genoeglik na die ontvangstoonbank gestap. Dié plek was goed vir my.
“Kan ek help, meneer?” vra die vriendelike meisie vir my.
“Ja, ek het laas nag hier geslaap. In kamer 12. En gisteraand geëet. En regdeur die rugby gekuier. Vanoggend ook brekfis.”
“Ek weet, meneer.”
“So, dis dan nou dit, ek wil regmaak. Ek moet betaal …”
“Nou vir wat?”
Die ABC van Delta
As ’n mens hou van reis, is daar sekere name van sekere plekke wat soos towerwoorde op jou kom lê. Soos Zanzibar, Tahiti, Zambezi, Katima Mulilo. Die Okavango-delta. Maun, Moremi, Chief’s Island. En Oddballs.
Oddballs???
Ja, met so ’n aweregse, vreemde naam is dit maklik een van die heel mooiste kampe wat daar is in die Okavango-delta. Wat dit dan een van die heel mooiste plekke op aarde maak.
Maar van hoe mooi of bisar of wat ook al dit is, weet ek op hierdie oomblik nie veel nie terwyl ek op soek is na Delta Air by Maun se internasionale lughawe. Eintlik is dit niks meer as net ’n vliegveld nie, maar omdat baie toeriste hiernatoe vlieg vanuit Zimbabwe, Namibië, Zambië en Suid-Afrika, het hulle status.
Ek het net voor my vertrek Botswana toe by my goeie vriend en oudkollega Les Sharpe gekuier en met sy aanhore van my planne om die Delta te besoek het hy onmiddellik vir my ’n naam neergeskryf. Hennie Rawlinson. Hoofloods, eienaar en grootkokkedoor van Delta Air, die voorkeurredery wat die lugvervoer van die Delta hanteer. Les het belowe om vir Hennie te laat weet van my koms.
Ek stap net so voor vier by hul kantoor in en daar sit ’n stewige boerklong met donker krulhare. Hy kyk op en ek weet dis my man.
“Hallo, Hennie,” groet ek sonder huiwering.
“Jis, hoesit?”
“Ek is Gerrit Rautenbach.”
“En?” Blykbaar het Les toe nie laat weet nie.
“Ek is ’n vriend van Les,” verduidelik ek.
“A, ou swaer Les, ja. Nou onthou ek van jou. Les hét laat weet. Waarheen vlieg ons?”
“Ek wil graag Oddballs toe.”
“Dan vlieg jy nou. Is jy gepak? Is jy reg? Hoe swaar dra jy? Die Cessna is maar kleinerig.”
Ek wys na die rugsakkie wat oor my linkerskouer geslinger is.
“Jy’s in. Dis ek en jy en een van die mamas van Delta-kamp.” Oddballs en Delta-kamp is die enigste twee blyplekke op die 1 000 vierkante kilometer groot Chief’s Island, die grootste stuk aaneenlopende land in die Delta.
Vliegtuie was nog altyd een van my bestes. Ek weet nie, dis so ’n oortreffende vlak van onafhanklikheid; van avontuur; van beweeglikheid. Daarom is ek baie tevrede toe Hennie my voor langs hom laat sit.
Dit lyk alles so reg. So asof ons nou binne-in die een of ander Indiana Jones-fliek inbeweeg het. Voor my is ’n stuurstang. Al is ek nie die loods nie. Daar is ’n oordaad van meters en goeters. Dit lyk lekker en reg. Ek vra vrae. Hennie verduidelik terwyl ons taxi na die aanloopbaan. Hy praat met die beheertoring, hulle praat terug oor ’n krakerige eter. The Right Stuff.
Dan het almal al die regte goed gesê en die beheertoring reken ons kan maar laat waai. Mama Afrika sit agter my en eet raserig aan ’n koue skorsie en ’n gebraaide groenmielie gelyktydig. Sy is blykbaar ’n ou vlieger, want sy is g’n niks gesteur deur die vibrasies en skommelinge van die klein vliegmasjientjie nie soos hy regtrek op die aanloopbaan. Hennie loer oor sy skouer na haar.
“Mooi eet, Mama, en moenie jou hande aan die sitplekke afvee nie.”
“Hnjtj-hnjtje …” rammel sy instemmend dat die pitte spat. Hennie trek sy skouers op en gee vet. Mama vat doodluiters met ’n gebotterde hand aan die sitplekleuning voor haar. ’n Ander soort vetgee. Kort voor lank ratel ons rammelend teen ’n hoë genoeg spoed en Hennie trek die stang terug. Daai oomblik wanneer so ’n klein vlieër kontak met moeder aarde verbreek, bly een van die lekkerste sensasies wat daar is. Maak nie saak hoeveel keer jy dit al gedoen het nie, jou maag sweef.
Ek weet net nie waar om te kyk nie. Ek wil alles sien wat Hennie doen om die Cessna in die lug te hou en ek wil die goddelike mooi van die Okavago-delta onder my in my oë indrink. Oral onder my sprei die waterkanale soos lewensare uit tussen rietbos, jakkalsbessie, wildedadel en mopanies wat ál kleiner word. Eintlik is hierdie waterland onder my ’n stuk Kalahari van 15 000 vierkante kilometer waar die watertafel so versadig raak, dit stort 11 000 000 000 000 liter water die woestyn in. Terwyl ek asemloos uitkyk na hierdie waterwonderwerk, hoor ek onwillekeurig Karen Blixen se woorde in my kop waar sy praat oor Denys Finch Hatton wat haar in sy Gypsy Moth laat vlieg het. “He made me see the world through God’s eyes …”
Tog wil ek nie net kyk nie; ek wil vlieg ook. Ná nog ’n vraag of drie aan Hennie vra hy my of ek die stokke wil vat. Ek wil. Ek vat.
“Sien jy daai lesing op die kompas?” vra hy.
Ek knik.
“Sien jy die hoogtemeter se lesing?”
Ek knik.
“Sien jy die horisonmeter se horisontaal?”
Ek knik.
“Sorg dat dit so bly en praat met my as jy Chief’s