Die tonnel
Jasmyn
1
“Hy moet van sy sinne beroof gewees het!”
Die man agter die swaar, outydse lessenaar se gelaatstrekke versag ’n oomblik terwyl sy oë met meer simpatie op die onstuimige jong man voor hom rus.
Mynhardt Wessels spring op uit sy stoel en kyk die ouer man uitdagend maar tog ook wanhopig aan. Hy sien die simpatie op sy gesig raak, maar weet dat dit hom niks sal help nie. Met ’n swaai van sy atletiese liggaam draai hy na die venster en staar na die malende mensemassa ver onder in die straat. Sy gedagtes is bitter en sy bruin oë hard.
Die man agter die lessenaar sug onhoorbaar en laat sy blik weer eens oor die dokumente voor hom dwaal. Sy prokureursbrein bestudeer elke woord met die uiterste noukeurigheid, maar toe hy eindelik klaar gelees het, weet hy dat daar geen uitkomkans is nie. Eintlik was dit nie nodig om alles weer te lees nie, want hy ken elke reël uit sy kop. Hy het self elke woord neergeskryf, selfs seker gemaak dat geen hof die geldigheid daarvan kan betwis nie. Jakobus Stander onthou nog so goed die dag toe Markus Rademeyer hom laat roep het …
Hulle was saam op universiteit. Hy het regte gekies en Markus het ’n wetenskaplike kursus gevolg. Ten spyte van hulle uiteenlopende kursusse en belangstellings het hulle goeie vriende geword. Hy het baie van die stil, teruggetrokke jong man gehou. Later het hulle kontak verloor, maar kort gelede het hy gelees dat Markus, wat reeds naam gemaak het as wetenskaplike, hom hier kom vestig het. Hy het dadelik sy ou vriend opgesoek en was geskok om te sien hoe hy verouder en agteruitgegaan het. Nie dat hy verwag het om dieselfde man van dertig jaar gelede te sien nie, maar tog … Dit was asof sy vriend nog stiller was as tevore. Maar nou ja, Markus het tog sy vrou kort gelede verloor. Dit moet die rede vir die aftakeling wees, het hy gedink. Eers toe hy die middag gegroet het om te vertrek, het hy begin wonder of daar nie miskien ’n ander rede vir Markus se agteruitgang was nie.
“Ek is bly dat jy my kom opsoek het, Jakobus. Jy moet weer kom. Daar is ’n paar dingetjies wat ek graag met jou wil bespreek,” het Markus gesê toe hulle mekaar ’n handdruk gee.
“As vriend of as prokureur?” het hy niksvermoedend, laggend gevra.
“As vriend én prokureur,” was die ernstige antwoord.
Toe hy ’n maand later weer besoek by sy vriend aflê, was dit selfs vir hom as leek baie duidelik dat hy baie siek was.
Markus het op die man af gepraat. “Jakobus, dit sal nie help om doekies om te draai nie. Ek is ’n baie siek man. Om die waarheid te sê, ek is sterwend. Ek is nie bang vir die dood nie, maar ek is bang om … om weg te gaan, ter wille van hulle wat moet agterbly.”
Jakobus het geen kommentaar gelewer nie, en die moeë stem het voortgegaan: “Ek het ’n dogter uit my eerste huwelik. Toe sy omtrent ’n jaar oud was, was sy en haar ma in ’n motorongeluk. My vrou het gesterf en my dogter se rug is so beseer dat sy die gebruik van haar bene verloor het.”
“Ek is jammer om dit te hoor.” Toe het Jakobus effens ongemaklik opgemerk: “Ek het nie geweet dat jy twee keer getroud is nie.”
“Ja, ek is kort ná my eerste vrou se dood weer getroud. Jy weet, wetenskaplikes is geneig om die wêreld om hulle te vergeet wanneer hulle die laboratoriumdeur agter hulle toetrek. Ek moes gou weer trou om iemand te hê om vir my hulpelose dogtertjie te sorg. Daar was nou wel die betroubare Liza, die swart vrou wat netnou die voordeur vir jou oopgemaak het, maar ek het gevoel dat sy die sorg en liefde van ’n ma nodig het, veral in háár besondere geval. Ek is toe weer getroud met ’n weduwee, Rina Wessels, wat ook ’n kind uit haar eerste huwelik gehad het. Hy was reeds veertien jaar oud toe ons getroud is. My tweede huwelik was ’n totale mislukking. Ek het kort ná die troue agtergekom dat Rina net met my getrou het om aan die wêreld te kan verkondig dat sy die vrou van Markus Rademeyer, die bekende wetenskaplike, is. Sy het geen tyd vir my verlamde dogtertjie gehad nie en dus was dit op die end tog maar Liza wat haar versorg het.”
Markus se stem was steeds kalm en Jakobus Stander het hom verwonder aan die gebrek aan emosie op sy vriend se gelaat. Maar toe hy sy volgende woorde hoor, het hy verstaan.
“Ek het my al hoe meer in my werk verdiep en daarom kan ek haar nie verwyt nie. Miskien, as ek ook ’n daadwerklike poging aangewend het om haar liefde te wen, sou ons lewe anders gewees het. Maar ek het met haar getrou sodat sy vir Ilze kon sorg, nie omdat ek haar liefgehad het nie. Toe sy in daardie opsig faal, het ek alle belangstelling verloor. Daar was gedurig rusies en onenigheid in die huis, veral oor haar seun, Mynhardt, wat sy tot in die afgrond toe bederf het. Mettertyd het ek geleer dat dit veel makliker is om die swye te bewaar en my in my laboratoriumwerk te verdiep. In daardie opsig het ek ook verkeerd opgetree, want dit was mý plig om Mynhardt die regte opvoeding te gee. My eie kind het ek ook onvergeeflik verwaarloos. Sy is net so ’n vreemdeling vir my as haar stiefbroer.”
Daar was bittere selfverwyt in sy stem en Jakobus het sy hand vertroostend gedruk.
“Ons almal maak foute, my vriend.”
“Ja.” Hy het swaar gesug en verlangend vervolg: “Ek wens net myne was minder en kleiner.”
“Wat het van die seun geword?” het Jakobus belangstellend gevra.
“Mynhardt is een van die belowendste jong sakemanne in die stad.”
“Wil jy vir my sê hy is dié Mynhardt Wessels?” het Jakobus verbaas uitgeroep.
“Ja.” Weer ’n sug. “Ja, hy is dié Mynhardt Wessels. Toe hy klaar gestudeer het, het hy sy eie sakeonderneming begin met erfgeld van sy eie pa. Op ’n dag het die swerfkoors hom egter beetgepak. Hy het ’n bestuurder vir sy onderneming gekry en die wye wêreld in verdwyn. Jare lank het ons niks van hom gehoor nie. Gedurende daardie tyd het ek sy ma werklik jammer gekry. Mynhardt was haar begin en einde. Gelukkig het hy betyds teruggekeer om haar te sien voordat sy gesterf het. Ek het hóm toe ook jammer gekry. Hy het nie besef dat sy so na aan haar einde was nie. Met dié skok moes hy ook nog vasstel dat alles nie so voor die wind met sy onderneming gegaan het nie. Om die waarheid te sê, dit het op die randjie van bankrotskap gehuiwer toe hy weer vir die eerste keer in jare by sy kantoor ingestap het.”
Jakobus het geknik en toe opgemerk: “Maar dit lyk nie juis of dit sleg gaan met sy onderneming nie.”
“Nee. Op die oomblik haal hy weer asem, want ek het vir hom drie miljoen rand geleen – álles wat ek besit,” was die droë antwoord.
“Drie miljoen! Liewe hemel, Markus, dis baie geld! En as dit al is wat jy besit, was dit baie onverstandig van jou!” het Jakobus ontsteld uitgeroep en toe haastig, verskonend gemompel: “Ek is jammer. Dit is natuurlik jou saak wat jy met jou geld maak …”
“Uit ’n sakehoek gesien, stem ek volkome met jou saam, maar daar is ’n ander sy.”
“’n Ander sy?”
“Ek het my plig as pa deur die jare skandelik verwaarloos. En toe Mynhardt in die moeilikheid beland, het ek besef dat ek hom kon help. Dit sou darem effens vergoed vir die foute van die verlede. Ek is nie bang dat ek my geld sal verloor nie. Mynhardt het ’n kop op sy lyf en as daar één ding is waaroor hy werklik ernstig is, dan is dit sy sakeonderneming. Maar ek moes ook aan my dogter dink. Sy sal nooit kan werk nie. Ná my dood sal sy afhanklik wees van die geld wat ek haar nalaat. Nou het ek alles vir Mynhardt geleen en sal daar niks vir háár wees nie.”
“Tog het jy dit gedoen,” het Jakobus sag gesê.
“Ja. Ek het die geld aan hom geleen. Vir die eerste keer in al die jare dat ons mekaar ken, het ons nader aan mekaar gekom. Ek het hom beter leer ken, en glo my, hy het baie belowende eienskappe. Daar lê baie karakter in hom verskuil en ek hoop dat daardie eienskappe al hoe meer op die voorgrond sal tree.”
Jakobus het wyslik geswyg. Hy het nie die hart gehad om sy vriend te ontnugter nie. Te oordeel na wat hy al van Mynhardt Wessels gehoor het, was daar maar bra weinig wat ’n mens tot sy eer kon sê. Hy het egter net belangstellend gevra: “En wat nou van jou dogter?”