Hy knik. “Ek weet, suster. Ek was ook al op Grootfontein.”
“Dit verbaas my dat daardie man nog werkers het.”
“Hy sal altyd hê, suster. Werk is skaars en mense wat werk soek, kan nie bekostig om uitsoekerig te wees nie. Hy het vanoggend gesê dit sal nie help om vir hulle beter huise te bou nie, want hulle wil so lewe. Volgens hom is hulle almal onbetroubare suiplappe en daggarokers. Hy glo net nie dat hy beter gehalte werk sal kry as hy sy werkers se lewensomstandighede verbeter nie.”
Miempie skud haar kop. “Hoe kan hy hulle so beskuldig van alles wat sleg is? En hoekom nie hulle omstandighede verbeter nie? Dit is tog sy plig as mens – het hy dan geen gewete nie? Sy werkers kry makliker allerhande siektes net omdat hulle leefplek so haglik is. Ek is doodseker van hulle het tuberkulose. Maar om hulle te dokter en dan terug te stuur na dieselfde omstandighede …”
“Ek weet, suster. Maar dit is wel jou plig om hulle te dokter. Die res val nie in jou posbeskrywing nie.”
“In wie s’n val dit, meneer?”
“In baie streke stig die mense plaaswerkerverenigings of ander hulpdiensorganisasies wat wonderlike werk onder die plaaswerkers doen, juis op die gebied van opheffing en om lewensomstandighede te verbeter. Laat dit aan hulle oor.”
Sy laat sak haar kop moedeloos. “Daar is só baie opheffingswerk wat gedoen moet word.”
“Dit is waar, suster Rust, maar jy kan nie álles wil doen nie. Jy is een mens en …”
Sy kyk op toe hy aarsel en vul self aan: “En net die suster van die kliniek-op-wiele, soos ek hier bekend staan, wou u sê?”
“Ja. Dis wat ek wou sê. Ek het meneer Visser verseker ek sal die saak met jou bespreek en dat daar nie ’n herhaling sal wees nie. Kan ek op jou staatmaak dat dit so sal wees?”
Sy staan op, weet daar is geen ander antwoord nie. “Ek sal probeer, meneer Hough.”
“Dankie, suster. Dit sal dan al wees.”
Miempie is innig dankbaar toe sy Vrydagnamiddag haar woonstel oopsluit en haar skoene kan uitskop. Met ’n koppie tee in die hand sak sy op die rusbank neer. Dankie tog hierdie week is verby. Dit was in meer as een opsig ontstellend. Sy leun agteroor, sluit haar oë en neem haar dinge voor wat sy vooraf weet sy nie gaan regkry nie: Hierdie naweek gaan sy aan niemand anders as haarself dink nie. Sy gaan vannag soos ’n klip slaap. Môreoggend gaan sy inkopies doen, en Saterdagmiddag gaan sy die woonstel van hoek tot kant skoonmaak en Saterdagaand met ’n interessante boek in die bed klim. En basta met Maria Benjamin, met Emile de Jongh, met die Vissers van Grootfontein en hul dogter Yolande. Meneer Hough het reg. Sy is een mens, een stem roepende in die woestyn, een swaeltjie in die middel van die winter, een … Baie teësinnig tel sy die gehoorbuis op toe die telefoon lui.
Dis Manie Bredenkamp … en haar ergernis verdwyn. Hy was toe vandag by oupa Jafta en ouma Ragel aan en hy sal graag verder met haar oor hulle wou gesels. Hoekom gaan hulle twee nie môreaand in die restaurant op die dorp eet nie, dan kan hy haar alles vertel.
Hy lyk verras met wat hy sien toe haar woonsteldeur die Saterdagaand op sy klop oopswaai. “Jy lyk pragtig, Miempie. Ek herken jou amper nie!”
Sy lag effens selfbewus. Sy is nie juis gewoond aan komplimente nie. Het dit ook van enigiemand anders gekom, sou sy dit ongeërg afgemaak het. Maar Manie is ’n opregte mens, het sy hom klaar opgesom. “En die boer van Baardskeerderspoort lyk ook vanaand heel anders as wat ek hom laas gesien het!”
Dit is nog ’n tydjie voordat hulle restaurant toe moet gaan en hy vertel haar van Jafta en Ragel. “Dit gaan nie so sleg met hulle soos wat ek aanvanklik verwag het nie. Gelukkig kry albei pensioen en hou hulle ’n redelike som oor nadat die huur en water en ligte betaal is. Hulle kan lewe, hoewel dit meet en pas kos. Daar kan een keer per week vleis gekoop word, asook vars groente en melk. Hulle het beslis ’n baie beter lewe op die plaas gehad. Ons plaaswerkers is meestal beter daaraan toe as die werkers op die dorp. Ek het besluit dat ek elke week wanneer ek dorp toe kom, vir hulle ’n stukkie vleis en groente en melk sal bring. Dit behoort baie te help. Maar ek het skrikwekkende ellende in daardie woonbuurt gesien. Kinders …” Hy skud sy kop. “’n Mens voel so magteloos, dit is soos ’n onstuitbare stroom waarteen jy probeer swem …”
Sy neem sy hand en gee dit ’n spontane drukkie. O, sy begryp so goed hoe hy voel! “Nietemin, Manie. Elke druppel help. Dankie dat jy na die twee ou mense omsien.”
Hy hou haar hand in syne. “Dis ek wat vir jou moet dankie sê, Miempie. Ons het meer Miempies op hierdie aarde nodig, want ons is so dikwels siende blind.”
In die restaurant sit Emile de Jongh met ’n onbekende skoonheid aan sy sy skuins oorkant hulle, en afgesien van ’n stywe knikgroet, ignoreer sy hulle, maar Manie gaan groet Emile en tot haar ontsteltenis nooi hy Emile en sy gesellin om ook by hulle tafel te kom sit. Sy sou veel eerder alleen saam met Manie wou geëet het. Dis egter toe die Vissers by hulle tafel verbykom en Manie hulle ook ewe gul by sy uitnodiging insluit, dat Miempie regtig ontsteld begin voel. Maar die Vissers is duidelik net so min lus vir haar geselskap as sy vir hulle s’n.
Met haar blik op Miempie sê Ruda uit die hoogte: “Dankie, Manie, maar ons sal liewer by ons eie tafel sit.”
Toe hulle aanstap, wonder Emile hardop: “Nou wat sou hulle byt?”
Voordat Miempie haar vinnige tong kan keer, laat sy hoor: “O, dis ék wat hulle gebyt het.”
Manie kyk verbaas na haar. “Wat op aarde, Miempie …”
Spyt dat sy dit opgehaal het, moet sy verder verduidelik.
“Jy is ongelooflik! Het jy dit régtig vir Ruda Visser gesê?” vra Emile.
Sy kyk hom koel aan. “Ek vertel nie leuens nie.”
Hy frons. “Die werkers op daardie plaas se woonplek is regtig haglik. Ek is glad nie verbaas dat daar soveel gesondheidsprobleme is nie.”
Manie stem saam. “Maar hoe jy vrou-alleen daardie mense uit hulle weeldeslaap gaan laat wakker skrik om iets aan die saligheid van hulle werkers te doen, wil ek nog sien. Selfs nie eens Florence Nightingale sou dit kon regkry nie – of Moeder Teresa.”
Sy kyk hulle beurtelings krities aan. “Wat is ’n mens werd as jy nie meer ideale en ’n gewete het nie?”
Emile meet haar met die oë terwyl sy gesellin verveeld om haar rondkyk. “Wat probeer jy sê?”
“Ek sal myself ook nie juis wil verbeter as ek in sulke krotte moet bly nie. En dit lyk vir my of julle nie meer iets soos ’n hart en ’n gewete het nie.”
“Jy is nou onregverdig. Hulle is gewoond daaraan om so te lewe – en hulle het ten minste werk en ’n dak oor hulle kop. Elke boer besluit self hoe hy sy werkers wil behandel en wat die gehalte van hulle blyplekke moet wees.”
Haar oë blits in syne. “Ja, Emile de Jongh, glo jouself maar. ’n Kreef is ook gewoond daaraan om lewend in kookwater gegooi te word.” Sy is sommer driftig.
Emile kyk Miempie vies aan. “Wat het krewe nou met plaaswerkers te doen?”
Sy gesellin stel geensins in die onderwerp belang nie. Sy sug oordrewe verveeld en kyk of Emile die boodskap kry.
Maar toe Emile geen reaksie van Miempie kry nie, frons hy vererg en sê: “Jy ruk die saak nou heeltemal uit verband.”
“Nee, glad nie. Wat wel waar is, is dat jy net so onmenslik soos die Vissers is.”