Ena Murray Omnibus 39. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия: Ena Murray-omnibus
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624065289
Скачать книгу
stywer, man. Die goed moet styf wees sodat die sop kan intrek tot by die wortels.”

      “Waar hoor jy daar’s wortels?” wil Bokkie weer weet terwyl sy die bevel gehoorsaam.

      Weer is haar duplikaat vol meerderwaardige wysheid. “Natuurlik moet daar iewers wortels wees, aap. Elke ding wat groei, moet wortels hê, dan nie?”

      Bokkie het nie meer teen hierdie logika iets te sê nie, maar wil darem onseker weet: “Hoekom moet ons ’n week lank met hierdie gemors rondloop? Hoe gaan ons bad?”

      “Ons bad nie. Dis al.”

      Bokkie se blou oë rek. “Tant An sal mos ...”

      “Ag, man, jy’s darem toe. Natuurlik gaan ons nog elke aand badkamer toe, en ons tap die bad vol water sodat hulle dit hoor, en ons mors die vloer nat en besmeer die handdoeke soos altyd, maar ons klim nie regtig in nie.”

      Bokkie bly egter skepties. “Ek weet darem nie, jong. Dit ruik nou al nie te waffers hier onder my neus nie. Ná ’n week sal ’n mens nie meer deur jou neus kan asemhaal nie.”

      “Hoe slegter dit ruik, hoe beter. Dit wys dan dat die mengsel sterk raak en sy werk doen. Haal deur jou mond asem as jy dit nie deur jou neus kan uithou nie.”

      Bokkie gaan sit moedeloos op haar bed. “Ek weet nie vir wat moet die ou juffrou met ons bodder nie. Sy het niks met ons ontluikende vroulikheid uit te waai nie. Sy’s nie ons ma nie.”

      “Hm. Sy sal dit graag wil word. Ek het haar al so deurgekyk. Sy’s die ene glimlaggies as Pa naby is. En weet jy wat? Sy het gisteraand vir Pa kom kuier.”

      “Wat?”

      “Ja. Ek het later opgestaan badkamer toe – jy het al geslaap – en toe hoor ek iemand by Pa in die studeerkamer, en toe kom sý daar uitgestap.”

      “Wat sou sy wou gehad het, dink jy?” vra Bokkie bekommerd. “Ons het mos ons skoolwerk gedoen.”

      “As dit iets oor ons skoolwerk was, sou Pa al gepraat het. Nee, jong, ek sê vir jou, hier is ’n ander slang in die gras. Hierdie skielike gebodder met ons is nie om dowe neute nie. Sy slyp haar tande vir Pa.”

      “Vir wat lol sy dan met ons?”

      “Sy begin seker al oefen.”

      “Oefen? Vir wat?”

      “Om ons ma te wees.”

      Bokkie se oë is rond van ontsteltenis. “Ek wil haar nie vir ’n ma hê nie. Sy is ’n ou gifangel wanneer sy kwaad word. En sy is ’n oujongnooi daarby.”

      “Ek voel soos jy, maar wat kan ons doen? As Pa dalk sinnigheid in haar kry ...”

      Henk Beukes lyk ietwat ongemaklik toe hy tant An daardie middag opsoek.

      “Tante, daar is iets waaroor ek graag met tante wil gesels.”

      “Praat maar, Henk. Wat is dit?”

      “Dis oor die tweeling, tante.” Hy maak keel skoon. “Het tante miskien opgemerk dat hulle ... wel, begin groot meisies word?”

      Tant An glimlag effens. Henk sal regtig vir hom ’n nooi moet kry. Hy word gans te selfbewus oor sekere dinge van die lewe.

      “Ja, ek het, Henk, en ek wou dit al onder jou aandag bring, maar ek het gedink ek sal maar wag totdat jy dit self ophaal. Wat daarvan?”

      Hy bloos effens en tant An se glimlag verdiep. Dis snaaks om hom so selfbewus te sien. Gewoonlik is hy ’n baie selfversekerde man. Maar dan, hy het sy vrou reeds sewe jaar gelede verloor en het seker al byna van daardie dinge vergeet. Wat hierdie huis nodig het, is ’n vrou en ma.

      “Om die waarheid te sê ... juffrou Huizeman het dit gisteraand eers onder my aandag gebring. Sy is die tweeling se klasonderwyseres.”

      “Ja, ek weet. O, sy het jou daarvan kom vertel?”

      “Ja. Ag, tante weet hoe dit gaan. Hulle is heeldag onder my oë en hulle is nog sulke kinders ... ’n Mens dink nie daaraan dat hulle al amper dertien is nie.”

      Tant An se oë is simpatiek. “Ek begryp, Henk. Dis ook vir my moeilik om te glo dat hulle een van die dae al jong dametjies sal wees.”

      “Ja, en daar lê die knoop. Sal hulle? Hulle word ’n bietjie wild groot, tante. Ek het seker nie my plig heeltemal teenoor hulle nagekom nie.”

      “Moenie verspot wees nie, Henk. Jy was nog altyd ’n goeie pa vir hulle.”

      “Tog, tante, is daar dinge waarin ek agterweë gebly het. En noudat hulle groot meisies word ... Ons sal iets daaraan moet doen.”

      Die ou tante frons liggies. “Ja, ek verstaan wat jy bedoel, maar ek is al te oud daarvoor. Jy sal iemand jonger moet kry om die tweeling te tem.”

      “Natuurlik, tante. Jy weet hoe ek alles waardeer wat jy vir ons deur die jare gedoen het, en ek verwag ook nie dat jy daardie reusetaak moet aanpak nie. Daarom is ek so dankbaar dat juffrou Huizeman vorendag gekom het en haar hulp aangebied het. As tante dus nie omgee nie, sal sy van nou af die tweeling so ’n bietjie onder hande neem, hul klere koop en so meer. Tante gee nie om nie?”

      “Glad nie, Henk. Ek is maar te dankbaar. Ek sal nog dankbaarder wees as jy my kom vertel dat jy weer ’n vrou in hierdie huis gaan inbring.”

      Hy glimlag net, skud sy kop. “Dit sal seker nie gou gebeur nie.”

      “Maar jy moet tog daaraan dink, Henk. Die tweeling het eintlik nou ’n ma nodig. Ek word oud, seun.”

      Hy knik, staan op. “Ek besef dit, tante. Miskien sal ek tog in die toekoms meer aandag daaraan moet gee, al is dit dan net ter wille van die tweeling. Dis waar. Meisies het op hierdie ouderdom ’n ma amper nodiger as ’n pa.”

      Tant An knik net, kyk hom glimlaggend agterna. En jy het ’n vrou nodig, sê sy woordeloos agterna. Sewe jaar is te ’n lang tyd om alleen te loop. Hy is so ’n goeie man. Maar of juffrou Huizeman die regte persoon is, sal ons maar eers moet sien.

      Die tweeling maak dat hulle wegkom waar hulle net langs die agterdeur staan en afluister het. Hulle kyk mekaar met groot, ontstelde oë aan.

      “Is tant An dan van haar trollie af om die ou mens nog verder in Pa se keel af te druk?” wil Bokkie opstandig weet, en Tokkie se oë vernou.

      “Bokkie, ek sê vir jou, hier gaan ’n lollery kom. Ons sal ’n plan moet maak. Voordat Pa vir ons ’n ma soek, moet ons liewer self een soek.”

      “Maar waar? Waar kry ’n mens sommer los ma’s?”

      Tokkie glimlag meteens. “Ek weet! Kom! Ek weet presies waar!”

      2

      Die deur gaan oop op Tokkie se klop en Sannie Bester staan voor hulle.

      Sy is net ’n paar maande ouer as die tweeling, maar ’n mens sal dit net glo as jy die geboortesertifikate langs mekaar sien. Want Sannie is ’n besonder ryp meisie vir haar dertien jaar; te ryp, soos juffrou Huizeman, wat ook haar klasonderwyseres is, haar kort en bondig opgesom het.

      Tokkie bekyk haar klasmaat vandag met groter aandag en sy voel haar keel wil toetrek. Sannie se “ontluikende vroulikheid” het beslis darem seker al klaar ontluik, en as dit nie ... Tokkie sluk. Hierdie gemors wat sy en Bokkie aan hulle gesmeer het, móét net werk. En as dit nie werk nie en die ontluiking duur voort totdat hulle soos Sannie lyk ... Sy sal sowaar tant An se broodmes insteek.

      “Ja?”

      “Sannie, gee vir ons ’n paar van daardie tydskrifte wat jy altyd so lees, asseblief, jong.”

      “Watter tydskrifte?”

      “Ag, man, van daardie wat jy altyd in die klas onder die skoolbank lees.”

      Sannie se oë rek verbaas. “Wat wil julle daarmee maak?”

      “Dis ons saak. Ons wil dit net leen. Ons sal dit weer môre teruggee.