Sy sal haar moet regruk, besef sy. Die personeel gaan agterkom Rudolf se opname ontsenu haar. En hy! Wat gaan Rudolf doen as hy haar herken?
’n Diep sug ontsnap haar. Daar is gelukkig verbande oor sy oë, onthou sy dan. Hy sal haar nie herken nie. Maar haar stem . . . sê nou hy herken haar stem? Of sal hy vergeet het hoe haar stem klink?
Dit is goed ’n halfuur later toe sy haarself uit die dienskantoor dwing. Sy besoek al die ander afdelings van die saal, maar sy kan haarself nie so ver kry om die vertrek binne te gaan waar Rudolf lê nie. Sy vermy ook sorgvuldig die wagvertrek waar Rudolf se familie sit en wag om by hom toegelaat te word. Elfuur stuur sy vir Bossie met die boodskap dat hulle liefs huis toe moet gaan om te rus. Rudolf se bewusteloosheid weens harsingskudding kan nog lank duur en die hospitaal sal hulle dadelik telefonies van enige verandering in sy toestand verwittig.
Dit is net daar dat sy ’n fout begaan, want toe sy nog dink die mense skuifel verby die dienskantoor se deur, kom hulle dit binne. Weliswaar is die vrou vir haar onbekend, maar dat sy wel familie is van Rudolf Mulder, vind suster Jo binne die eerste paar oomblikke uit.
“Arme Roelfie,” snik die vrou. “Ek weet nie hoe my arme broerskind dié ramp gaan oorleef nie! Ai, sustertjie, hy hét onverskillig gelewe, en ek hét gebid dat hy tot inkeer moet kom, maar ek het darem nie gedink dit sou só geskied nie.”
Suster Jo voel uit die aard van haar beroep verplig om vriendelik te wees teenoor die tante van die man wat sy so verag. Maar toe sy haar uiteindelik met allerhande paaiende woorde kry om huis toe te gaan, slaak sy ’n sug van verligting. Hoe minder sy van Rudolf Mulder se ander slegte hoedanighede weet, hoe beter.
Twaalfuur die nag kan sy dit nie langer uitstel om sy vertrek binne te gaan nie. Mynhard moet by die verpleegsterstehuis gaan eet en daar is niemand anders om gespesialiseerde sorg aan Rudolf te verleen nie. ’n Uur lank sal sy daar by Rudolf se bed moet waak.
“Hy is soms baie rusteloos, maar het nog nie sy bewussyn herwin nie,” deel verpleegster Mynhard haar fluisterend mee toe sy stil haar verskyning by Rudolf se bed maak.
Suster Jo knik net haar kop en neem skrikkerig op die stoel langs die bed plaas nadat Mynhard die vertrek verlaat het. Sy loer behoedsaam na die man se gesig. Verbeel sy haar dit of lyk hy ouer? Natuurlik moet hy ouer lyk, besef sy dan. Sy het self ouer geraak. Sy was maar agttien toe sy met Rudolf Mulder kennis gemaak het. Nou is sy vier en twintig. Dit is amper ses jaar later. Klein Anton is dan al vyf jaar oud. Dalk is sy verniet bang, probeer sy haarself moed inpraat. Dalk herken hy haar nie eens meer nie!
Sy probeer onthou hoe sy destyds gelyk het. Haar hare was kort, en nou is dit lank. Sy moet dit weliswaar bo-op haar kop vasmaak wanneer sy werk. Dit is ’n hospitaalreël dat jou hare nie in jou gesig moet hang nie. Hopelik lyk sy veel ouer as ses jaar gelede. As sy haar hare blond kleur . . .
Nee, keer suster Jo haar gedagtes. Nou raak sy heel verspot. As Rudolf Mulder haar herken, is dit tot daarnatoe. Sy hoef haarself nie te mismaak nie. Sy is niks aan hom verskuldig nie. Hy moet net uit haar pad bly. En sy sal sorg dat sy so min moontlik in sy pad verskyn!
Innerlik hoop sy Rudolf herwin nie sy bewussyn voordat sy van diens af gaan nie. As hy bewusteloos bly tot die dagpersoneel opdaag, sal sy nie met hom hoef te praat nie. Dan gaan sy darem ’n hele maand hê om te besluit wat om te doen. Die hospitaal gaan beslis te klein wees vir hulle albei. Aan die ander kant, hý is die indringer hier. Hy weet in elk geval nie eens van Anton se bestaan nie. Hy glo seker sy het destyds die aborsie ondergaan waartoe hy en sy ouers haar wou dwing.
Sy merk dat hy skielik begin sweet het. Die geluksgodin is duidelik nie aan haar kant nie, dink sy met ’n tikkie wrang humor toe sy sy pols voel. Rudolf Mulder herwin stadig sy bewussyn. Ondervinding het haar egter geleer om baie versigtig te wees, dus druk sy die noodklokkie en vra verpleegster Boshoff om dokter Simpson te ontbied. Dalk beleef Rudolf Mulder ’n skielike insinking, en sy wil nie later van nalatigheid aangekla word nie.
Dit voel vir Rudolf of sy liggaam in ’n diep, donker bodemlose put rondsweef. Partykeer gewaar hy ’n dowwe ligkol iewers ver bo sy kop. Maar wanneer hy daarheen wil sweef, hou slymerige arms hom terug. Dit is ’n aaklige nagmerrie. Hy wens Katryn wil vir hom koffie kamer toe bring sodat hy kan wakker skrik.
Soms verbeel hy hom weer hy hoor stemme. Dit is nou ook daar. As hy net sy oë kon oopkry! Maar dit voel of sy ooglede aan sy wange vasgegom sit.
“Komaan, Rudolf,” laat ’n manstem naby sy oor hom skielik ruk van skrik. “Dis tyd dat jy nou wakker skrik, ou maat!”
Dit is ’n stem. Dit is iemand hier in sy kamer!
“Kan jy my hoor?” vra die man.
Rudolf wil hom antwoord, maar sy lippe voel ook aan mekaar vasgelym. Of het hulle hom geblinddoek? Is dit rowers wat . . .
“Knik jou kop as jy my kan hoor.”
Hy sal nie, besluit Rudolf blitsvinnig. Hy sal hom liewer dood of bewusteloos hou. Dan kry hy dalk ’n kans om te ontsnap of los te kom. Maar as hy wys hy is wakker, gaan hulle hom dwing om . . . om wat te doen? Dalk soek hulle geld! Wat anders wil hulle met hom doen?
Hy voel hoe iemand hom aan sy linkerarm se pols beetkry. Wat wil hulle nou met hom aanvang? Gaan hulle hom van die bed af dwing en . . .
“Sy pols is sterk,” hoor hy sy voornemende aanrander sê. En weer: “Komaan, Rudolf, word nou wakker.”
Wie is die man? Hy ken sy naam. Dus moet hy, Rudolf, hom ook ken. As hy net kon loer! Maar daar span iets oor sy oë. Hulle het hom dus geblinddoek. Daar bly vir hom net een ding oor. Hy gaan die doek vinnig afpluk en terselfdertyd opspring. Miskien kan hy die booswig onkant betrap. Maar ’n verblindende pyn skiet deur sy kop en bors toe hy sy arm probeer oplig.
“Moenie beweeg nie,” waarsku ’n onsimpatieke vrouestem hom. “Daar is ’n aarvoedingsnaald in jou arm.”
Vuilgoed, flits dit deur Rudolf se gedagtes. G’n wonder sy verstand voel so benewel nie. Hulle jaag hom natuurlik verdowingsmiddels in! Maar dan verstar hy, want die man praat weer.
“Jy is in die hospitaal, Rudolf. Kan jy onthou dat jy in ’n motorongeluk was?”
Motorongeluk? Wat probeer die man sê . . . dat hy, Rudolf, in ’n motorongeluk was? Maar hy lieg mos. Hy was nog nooit in sy lewe in ’n motorongeluk nie! Of . . . was hy?
Hy luister verbyster toe die man hom vertel dat hy dokter Simpson is, en dat hy, Rudolf, in De Waalrylaan beheer oor sy motor verloor het.
“Verstaan jy wat ek vir jou sê?” vra die dokter. En toe hy met moeite knik, gaan dokter Simpson voort; hoor hy dat daar verbande oor sy oë is omdat hulle glassplinters uit sy oë moes verwyder. Hy hoor ook van ’n borsbesering en van harsingskudding wat hy opgedoen het. En sonder dat hy vra, lig die dokter hom ook in dat Julia Saunders, sy passasier, ongedeerd daarvan afgekom het. Na behandeling vir skok is sy reeds vroeër die aand ontslaan.
Rudolf voel ineens doodmoeg, dus stry hy nie daarteen toe die vaak hom oorval nie.
Dokter Simpson is tevrede. “Laat hom maar slaap,” sê hy vir suster Jo. “Sy gestel is baie sterk.”
En ’n rukkie later, nadat Mynhard teruggekeer het en terwyl hy en suster Jo in die dienskantoor sit: “Rudolf Mulder is gelukkig om nog te leef. ’n Ooggetuie van die ongeluk het vir die ambulansbestuurder gesê hy het glo teen ’n roekelose snelheid gejaag.”
Suster Jo het niks oor Rudolf te gesels nie, maar dokter Simpson kom dit skynbaar nie agter nie. “Ek onthou hom van die dinge wat ek al oor hom in die koerante gelees het. Hy is glo die jongste multimiljoenêr in die Kaap,” brei hy uit oor die man van wie sy eerder niks sou wou hoor nie.
“Ja, dit wys jou net niemand is te goed om deur ’n ramp getref te word nie,” voel sy verplig om iets oor Rudolf Mulder kwyt te raak toe dokter Simpson skielik meer intens na haar kyk.
Hy