Oorkom jou vrees. Benescke Janse van Rensburg. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Benescke Janse van Rensburg
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796317162
Скачать книгу
Kyk maar na die woorde in Hebreërs 11:1: “Wat beteken dit om op God te vertrou? Geloof of vertroue in God beteken om nie een oomblik te twyfel nie dat Hy sy beloftes sal hou en om daarna uit te sien. Ons kan dit wel nie nou al sien nie, maar ons weet vir seker dat dit sal gebeur” (DB). En in Matteus 17:20 sê Jesus: “As julle maar geloof het so groot soos ’n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” In Lukas 1:37 lees ons weer: “Niks is vir God onmoontlik nie.”

      Terwyl die vyand dus kom met vrese oor kinderloosheid, dat jy alleen gaan oud word, dat ’n gebroke verhouding nooit weer sal herstel nie, dat jou huwelik op die rotse gaan eindig of dat ’n geliefde met ’n siekte gaan sterf, kan jy hom met selfvertroue in die oë kyk terwyl jy hom daaraan herinner dat die God wat ons aanbid binne ’n oogwink aan jou ’n lewensmaat of baba kan gee, dat Hy enige gebroke verhouding of huwelik kan herstel en dat Hy jou geliefde kan genees al voorspel die dokters dat hy of sy slegs ’n paar maande oor het om te leef. Dit is dan dat die “geloofkant” op die skaal na onder beweeg terwyl vrees uit jou lewe wyk.

      Kom ons maak dit vandag ’n doelbewuste proses om geloof pleks van vrees in ons lewens toe te laat. God is almagtig en Hy gee nie aan ons ’n gees van vreesagtigheid nie, maar een van krag, liefde en selfbeheersing. Staan sterk in Hom en jy mag dalk verbaas staan oor wat Hy nog in jou lewe kan vermag.

      Gebed

      Vader God, baie dankie dat U in beheer is van my hede en toekoms. Lei my asseblief om volkome op U te vertrou met die wete dat u deurbraak op die regte tyd kom. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

      Kyk na ’n prent van ’n balansskaal by http://www.faqs.org/photo-dict/phrase/5227/balance-scale.html

      Besprekingsvrae

      1 Wat weeg vandag die swaarste op jou skaal? Vrees of geloof?

      2 Lees Hebreërs 11:1. Hoe vertrou ’n mens God vir ’n deurbraak wat jy nog nie kan sien nie?

      3 Lees Matteus 17:20. Wat beteken dit om geloof soos ’n mosterdsaadjie te hê? Het jy al in jou lewe beleef hoe God aan jou ’n onmoontlike deurbraak gegee het – omdat jy geloof gehad het?

      4 Lees Lukas 1:37. Wat beteken hierdie teksvers op hierdie oomblik in jou lewe vir jou?

      5 Hoe kan ’n mens daagliks prakties kies om geloof pleks van vrees in jou lewe toe te laat?

      4

      Die waarheid agter vrees

      Efesiërs 6:11, 17

      Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel […] Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.

      Jesaja 41:13

      Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou.

      Jesaja 43:1–3

      Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.

      Langtong was die monster in een van die kinderstories wat my en my broer se kinderoppasser ons gereeld vertel het. Al het ons later die storie uit ons koppe geken, het dit ons bly fassineer hoe hierdie groen draak met die slymerige tong dit kon regkry om ’n hele dorp se inwoners in vrees te laat leef wanneer hy vanuit die berg brul, terwyl Langtong geen tande gehad het nie.

      Dag na dag het Langtong gebrul en onder in die vallei het die inwoners van vrees geril. Die vrees het mettertyd so erg geraak dat nie eens die dapperste van die swaardvegters in die dorpie dit sou waag om teen die berghang uit te klouter om Langtong met ’n swaard van kant te gaan maak nie. As hulle dit wel gedoen het, sou hulle verbaas gewees het om te sien dat hierdie monster skadeloos was!

      Die vyand gebruik ook ’n “Langtong”-strategie om ons te verlam. Hy brul vanuit die berg met potensiële vrese oor die toekoms en in ons harte begin ons van vrees te ril. Hoe meer ons na sy gebrul luister, hoe minder word ons geloof in God. Maar as ons fokus op God en sy vermoë om ons uit enige moeilike situasie te haal, raak ons geloof in God sterker en word Langtong se gebrul totaal uitgedoof.

      In Efesiërs 6 herinner Paulus ons daaraan om daagliks ons wapenrusting aan te trek en die swaard op te neem sodat ons die vyand en die negatiewe gedagtes waarmee hy ons probeer aanval, kan verslaan. Hoe doen ons dit? Ons bêre God se Woord en sy beloftes in ons hart.

      Om God se beloftes te leer ken, verg ’n doelbewuste proses. Skryf die beloftes neer en plak dit êrens waar jy dit gereeld kan sien – in jou badkamer, in jou motor, teen die yskas. Wanneer jy dit sien, kan jy dit memoriseer. En wanneer die vyand kom om jou aan jou vrese te herinner, kan jy, net soos Jesus in die woestyn, jou swaard uitpluk en sê: “Vyand, ek glo nie jou leuens nie, want daar staan geskryf […]”

      Hier is twee voorbeelde van God se beloftes uit die boek Jesaja: “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou” (Jes 41:13). En: “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, jou Redder” (Jes 43:1–3).

      Voel dit vir jou asof Langtong vandag in jou nek blaas? Tel jou swaard op. Stap saam met God teen die berghang uit. En wanneer jy voor Langtong gaan staan, kyk hom in die oë voordat jy hom eens en vir altyd met God se beloftes verslaan!

      Gebed

      Vader God, baie dankie vir u Woord in my lewe. Herinner my vandag aan u beloftes sodat ek my oë in elke moeilike situasie op U kan hou. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

      Besprekingsvrae

      1 Lees Efesiërs 6:11, 17. Watter rol speel die swaard in die wapenrusting wat ons daagliks moet aantrek? Hoeveel tyd bestee jy om God se Woord te leer ken?

      2 Hoe gebruik jy die swaard (God se Woord) prakties om die vyand se aanvalle in jou lewe teen te werk?

      3 Om God se beloftes te leer, is ’n doelbewuste proses. Watter praktiese riglyne het jy van hoe ’n mens dit van dag tot dag deel van jou lewe kan maak?

      4 Lees Jesaja 43:1–5, 13. Watter berusting bring hierdie teksverse jou?

      5 Het jy al gevoel asof “Langtong” se gebrul uit die berg jou van vrees laat ril? Hoe het jy die situasie hanteer?

      5

      Leef vreesloos met die wete dat God steeds wonders verrig

      Markus 11:24

      Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.

      Johannes 16:23

      Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee.

      Deuteronomium 33:27

      Die ewige God is ’n skuilplek, sy arms is altyd onder jou.

      Hier is stories van ’n paar lesers wat getuig hoe God hulle in hul nood ondersteun en gehelp het.

      Barbara vertel: “My ouers woon op ’n plaas in die Bethal-omgewing. Een Sondagoggend ’n paar jaar gelede het ’n man aan hul voordeur geklop en vir geld gevra. My pa het gesê dat hy nie geld by hom het nie, maar dat hy wel vir die man kos sou gee. Hy het na die kombuis gestap om die kos te kry. Toe hy terug by die voordeur kom, het die man hom met ’n vuurwapen gedreig. Die aanvaller het my pa beveel om op sy maag op die grond te gaan lê. My pa het dit gedoen, maar op sy rug gedraai en die aanvaller reguit in die oë gekyk. My ma het