Na die teregstelling gaan dit droewig met Bouwer se weduwee. Slegs ses weke na haar man se dood sterf hul dogtertjie op 9 Oktober 1901 en vier maande later, op 31 Januarie 1902, die babaseuntjie. Die kompensasieraad betaal haar £80 vir oorlogskade, wat sy vir onmiddellike lewensbehoeftes moes aanwend. Dit is die enigste bate wat in haar man se boedel aangeteken word. Daarna verval sy in armoede. Teen 1905 woon sy by ’n Van den Heever-familie op die plaas Spaarwater in die distrik Heidelberg. Een van die Van den Heevers, Pieter Hendrik, lê ’n verklaring af dat hy met die teregstelling teenwoordig was en bevestig daarmee die dood van Piet Bouwer om dié se waardelose boedel by die meester van die hooggeregshof afgehandel te kry.45
Van Emmenes se ouers het na die oorlog ook ’n ellendige bestaan gevoer. Sy pa probeer twee kompensasie-eise invorder wat die seun voor sy teregstelling by die Britse owerheid ingestel het. Die Britse amptenaar wat met die prosessering daarvan gemoeid was, was simpatiek en het die volgende opmerking in die lêer gemaak: “Claimant was subsequently shot whilst serving for us. His people (are) in poor circumstances.”46 Die kompensasie-eise is gevolglik aan Van Emmenes se pa uitbetaal.
Vandag lê die grafte van Bouwer en Van Emmenes verlate tussen die gras op die plaas Rietfontein, suid van Heidelberg, nie ver van die besige N3-snelweg tussen Johannesburg en Durban nie. Daar is geen grafstene nie, net ’n hoop klippe oortrek met gras en struike. Die klipfondasie van die perdestalle se mure op die plaas Hartbeesfontein waar die twee joiners verhoor is, kan vandag nog gesien word. Die tronk op Villiers waar hulle aangehou is, is nog in ’n goeie toestand en agter die huidige polisiestasie op die dorp naby die Vaalrivier geleë.
Daar is ’n bisarre nadraai by die laaste rusplek van die twee joiners. In 1930 pleeg die 21-jarige Koot Bierman weens finansiële probleme selfmoord op die plaas Hartbeesfontein. Omdat hy sy eie lewe geneem het, is hy nie ’n normale begrafnis gegun nie en is sy oorskot by die “ander twee moordenaars” begrawe.47 ’n Verweerde grafsteen van sandsteen in ’n vorm van ’n doodskis dui sy laaste rusplek langs dié van die twee joiners aan.
Na drie dekades is die ontslape verraaiers steeds geminag.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.