Ouens is nes ekstra bagasie. Janie Oosthuysen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Janie Oosthuysen
Издательство: Ingram
Серия: Eerste liefde
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798156820
Скачать книгу
ection>

      

titel.jpg hoofstuk-01.jpg

      Lusteloos stap ek met die loopgang langs. In die deur steek ek vas. Misnoeg staar ek na die fossiele op Vlug 593 van Johannesburg na Nairobi. Waar het hulle al die oumense gevang? Dink net hoe cool gaan dit wees om die hele ent pad langs een te moet sit.

      Eintlik moet daar ’n wet wees teen oumense, ’n soort afsnypunt, die wêreld is klaar oorbevolk en mense word net al hoe ouer. Iewers het ek gelees in 1870 het mense gemiddeld skaars veertig geword.

      Ek meen, véértig! Wie wil in elk geval veertig wees?

      “Kan julle beweeg daar voor?” roep ’n stem agter my.

      Ek kry ’n stootjie in die rug en die lugwaardin beduie na die gangetjie. Met my oë op die sitpleknommers teen die dak, volg ek die skuifelende passasiers. Wat wil die spul kadawers tog in Nairobi gaan maak?

      Nou weet ek!

      Iewers het Pa iets geskryf oor twee groot konferensies van paleoantropoloë vanoor die hele wêreld. Die eerste was glo in Johannesburg, waarna almal na Nairobi sal verskuif. Pa se e-posse is net só interessant. Teen dié tyd weet ek allerhande useless goed, soos dat ’n paleoantropoloog iemand is wat versteende geraamtes opgrawe, iemand met ’n onnatuurlike belangstelling in ou, dooie goed.

      Iemand soos Judy.

      Doktor Judy Wilson, nogal, die heks wat my pa afgevry het. En ek moet vier weke lank in haar vet gevreet vaskyk en haar vrot kos eet. Ek begin sommer bewe toe ek Pa se laaste e-pos onthou: Judy wil jou baie graag ontmoet en die seuns stuur groete. Hulle kan nie wag om hulle nuwe ousus te ontmoet nie.

      Hulle nuwe ousus?

      Moenie my naar maak nie. Dink Pa regtig ek wil daardie tert en haar brats ontmoet? Dink hy regtig ek wil vier weke lank sit en klippe omdop en eierdopkrale soek? Maar wat ék wil doen, tel mos minder as niks. Nee, ék moet alles net so los, op die eerste, beste vliegtuig spring en stertswaaiend gaan kuier.

      As ek net by die huis kon bly. By Diana, Terri, Pieter, Jacques – en Brett. Net die noem van sy naam laat my asem jaag. En dis nié oor sy Yamaha en cool image nie, oukei, dis oor sy persoonlikheid.

      Ons twee het al hoe beter begin kliek. Tot met Pa se brief. Toe het Brett begin lag en gesê: “Vier weke! Dan kry ek maar ’n ander girl.” Eers het ek gedink hy grap net, maar net die volgende dag het hy en Suné Brits gaan quad bikes ry.

      Net daar het ek besluit om hom te wys. Hy moenie dink hy’s die enigste een wat harte kan breek nie. Ek gaan elke ou chaff wat my pad kruis. Ek gaan links en regs harte breek. En Brett van elke oorwinning laat weet. Net jammer daar’s absoluut geen talent op die simpel vliegtuig nie. Dit sou ’n goeie begin kon wees.

      Eindelik . . . dáár is my sitplek, by die venster, nes ek gevra het. Net gou die vieslike, ou handtas bo in die bagasierak wegsteek. Die rits is stukkend en gaap plek-plek, ek sal moet oppas dat alles nie uitval nie, dit sal heng embarrassing wees. Tipies Ma om my te dwing om die oudste, goorste tasse te vat. Net omdat ek kamma die nuwe goed sal verniel.

      Asof.

      Die tas is so swaar ek moet dit met albei hande oplig. Op my tone leun ek oor die persoon wat teen die paadjie sit en kry tot my verbasing ’n wilde geur van iets soos seesand en motorfietsolie.

      Watter oumens ruik só?

      Ek was so seker ek gaan langs ’n kadawer beland, ek het nog nie eens na my reismaat geloer nie. Maar – ek laat sak my oë – heng, dis alles behalwe ’n fossiel, dis ’n dish, dis wat, en dit weet dit.

      Die dish leun gemaklik agteroor, met toe oë, arms langs mekaar op sy skoot, bene uitdagend voor hom uitgestrek. Wit oorproppe en toutjies verraai dat hy na sy iPod luister. Sy skouers is so breed ek sal nie langs hom kan sit sonder om heeltyd aan hom te raak nie. Dit bring my by nog ’n interessante probleem: hóé gaan ek by my sitplek kom?

      Terwyl die handtas al laer sak, analiseer ek die saak. Wat sal ek doen? Hom soet vra of hy sal omgee om op te staan? Of net oor hom klim? Nee, ek sal móét vra. Ek sal smooth wees, cool, soos een van daardie oorsese modelle wat elke dag tonne handsome ouens rondshunt.

      Die lugwaardin se koel stem verwoes my Georgia May Jagger pose. “Handbagasie kom daar bo, meisie, opskud, hoor.” Sy beduie na die bagasieruim asof ek sewe is.

      Met ’n ergerlike swaaibeweging lig ek die tas en skuif dit in. Dit steek vas en ek gee dit ’n stamp. Leun nader en gee dit nog ’n stamp. Strek en laat waai met ’n finale harde stamp.

      Dit was ’n fout, want die flippen ding tuimel nie net grond toe nie, dit bars oop en spoeg ’n spul buisies en botteltjies uit, gevolg deur ’n pers g-string, ’n paar hoëhakskoene met hengse gespes, my nuwe korset (die rooie met die swart toutjies wat ek sommerso van die wasgoedlyn af in ’n hoek van die tas ingedruk het) en – neeeeee! – ’n heng groot, heng pienk pak Lifestyle-pads wat ek op die laaste sekonde by die apteek op die lughawe gekoop het.

      Ek gryp rond, verloor my balans en slaan neer, half oor die dish se bene. Eina-eina sukkel ek orent, mompel iets wat “jammer” behoort te wees, maar meer soos “jissem” klink, en raap die pads van sy skoot af op.

      Hygend bekyk ek die skade.

      Daar is ’n rooi haal oor die dish se wang waar ’n gespe hom getref het en ’n slymstreep in sy hare, waar my deodorant, wat nie behoorlik toegedraai was nie, van sy kop af weggebons het.

      Die lugwaardin kom aangetrippel en ek is skielik baie besig om my goed op te tel en te maak of ek haar nie sien nie. ’n Klein snotkop voor my draai kort-kort om en gee iets aan: eers Soene op ’n Suzuki en toe die pers g-string met die kantdriehoekie. As ek kon, het ek hom vermoor.

      Ure later – of so voel dit – gaan sit ek met ’n gloeiende gesig en druk die handtas onder my stoel in. Dit lyk of die dish iets wil sê, maar ek draai my kop weg en staar deur die venster sodat my hare soos ’n gordyn tussen ons hang. Ek wil niemand sien nie. Met niemand praat nie. Net stil-stil doodgaan.

      Toe die vrou agter my op my skouer tik, moet ek omtrent op my tande byt om nie te gil nie. Eers ignoreer ek dit, maar sy hou aan tot ek móét omkyk en dankie sê vir die lip-ice en die silwer kettinkie wat sy aangee. Vir my part kan die goed in ’n hoek lê en kleintjies kry.

      Asof dit nie erg genoeg is nie, fluister sy sodat die hele wêreld kan hoor: “Daar is iets in jou hare.”

      Fronsend vat-vat ek aan my kop. Pluk ’n geel kolletjiesbra met ’n gedempte kreet van my hare af en prop dit in die handtas. In my lewe het ek nog nooit so verneder gevoel nie. ’n Bra op my kop? Vir die hele vliegtuig om te sien? G’n wonder van die mense het heeltyd gegiggel nie.

      Is dit dalk hoekom die dish so na my geloer het? Het hy dit gesien? En nie geweet wat om vir my te sê nie? Hoe aaklig. En ons moet nog die hele ent pad saam na Nairobi vlieg.

      Hy wonder seker wat nog alles gaan gebeur. Ek meen, ons is nog nie eens in die lug nie toe gooi ek hom al met ’n pak pads. Daar is darem een troos, en dis dat ek die mislike vent ná vandag nóóit weer sal sien nie, want gelukkige ek gaan op ’n hoop stof sit en vergaan, terwyl hy duidelik op pad is na ’n tropiese eiland wat deur motorfietse bewoon word.

      Toe die aandetetrollie ’n halfuur later in die gang afratel, is ek siek van wolke kyk. As ek net onthou het om my iPod in my handtas te sit, maar aan die ander kant, dan was dit nou dalk stukkend. Vir seker wil ek nie die dish se oog vang of met hom praat nie. Eintlik, as ek eerlik moet wees, is ek verskriklik bewus van hom. Dis of daar ’n soort energie uit hom straal wat my oë kort-kort soontoe laat draai.

      Ek gebruik die ratelende kostrollie as verskoning om weer ’n slaggie in sy rigting te loer. Nice tan. Cool attitude. Flippit, hoekom is ek nie regtig gesofistikeerd en cool nie, die soort meisie wat elke ou wat sy teëkom so charm dat hy haar beeld die res van sy lewe saam met hom

      dra?

      “Hoender