Aan die einde van die eerste dag het ek opnuut – en letterlik en figuurlik – besef hoe goed dit vir die liggaam, siel én banksaldo is om ’n eerlike dag se werk te doen – en om te weet op dag X gaan bedrag X in my bankrekening verskyn sonder dat ek hoef af te pers, op te foeter of my BTW-geld – of verband self – te gebruik om my verband te betaal.
Al beteken dit ek moet ’n uur of langer op pad huis toe in die verkeer sit en SMS’e stuur, my handsak by verkeersligte uitsorteer en diep gedagtes dink in die afwesigheid van ’n CD-speler, wat al ses maande lank ontkoppel is omdat my seuntjie die kattebak oopgelos en die battery afgeloop het.
Dit laat my dink jy is nooit regtig klaar met die dinge van ’n kind nie. Trouens, ek het pas weer ’n amper kinderlike genot gevind in twee ou staatmakers: roetine en grense. Die gemoedsrus en berusting van “dit is soos dit is”: Ek moet in die oggend opstaan, ek moet funky dog funksionele kleertjies aantrek, ek moet vir kooroefening aantree.
En dit is nie net die salaristjek aan die einde van die maand nie. Dit is nie net die wete dat ek my rekeninge kan betaal nie. Dit is die gewaarwording dat ek dit wíl betaal.
Soos vanoggend. Ná maande van beplanning en bedinging, die toemaak van ou rekeninge, oopmaak van nuwes, die opstel van die skuldhersieningsvoorstel, die betaling van regskoste en die stuur van die beëdigde verklaring, het ek agter my getroue skootrekenaar ingeskuif, op my nuwe, nederige internetbankgeriewe ingekliek en met ’n lied in my hart en ’n paradigmaskuif in my gemoed my maandelikse verpligtinge en etlike skuldafbetalings kafgedraf.
Van die twee emosionele ervarings – die lied in my hart en die skuif in my gemoed – is die skuif die interessante een. Waar ek my hele (grootmens)lewe lank verkies het om my teen my bruto inkomste blind te staar, sit ek uiteindelik eerste dinge eerste. Betaal die huis, die kar, die Ontvanger … Betaal die skool, die huishulp, die kos … Betaal die polisse, die petrol, die mediese fonds … Betaal die garagedeur wat oppak, die trip switch wat breek, die honde se inspuitings …
En, bowenal, betaal dit met regtig-egtige geld, nie die R30 000-krediet wat ek op my kredietkaart gehad het in die slegte ou dae van “koop nou en betaal later” nie.
28.06.2009
’n Klompie jare gelede was daar ’n reklamekwinkslag op bushaltes wat gelui het: “Cash is king, but barter is smarter.” Wel, in die afwesigheid van die entrepreneuriale neiging om my besittings in of om te ruil, onderwerp ek my nederig aan Koning Kontant.
Die ding is, as jy regtig wil sien wat van jou geld word, is selfs ’n transaksie op ’n debietkaart nie genoeg nie. Die “oeps” van ’n uitgawe van R986,57 word aansienlik meer “eina” as jy die tien bloues uithaal – en die jammerlike kleingeld kry. ’n Leë koevert word ’n heelwat groter werklikheid as ’n hoop ontwerpersakke en ’n rits strokies wat jy in lêer 13 druk. En as die koevert vir die maand leeg is, is hy léég. Dus, jy draai ’n sent twee keer om en huil voordat jy hom uitgee.
En jy het baie meer begrip en bewondering vir mense wat met hul lysies en sakrekenaars (en vermoedelik die koevertjie kontant in die handsak) in Pick n Pay, Checkers of Shoprite Triomf se ry afloop, soos perde met oogklappe vir enigiets behalwe die absolute noodsaaklikhede.
Dít is waarvan ek hou van Koning Kontant: Die ou monarg is nogal demokraties wanneer dit by die oordra van sy lessies kom.
Byvoorbeeld: Wat het jy om te wys vir daai R100 wat jy vanoggend by die OTM getrek het? Meestal het jy ’n idiotiese uitdrukking op jou gesig terwyl jy probeer uitwerk … oukei, dit was die gehuurde DVD, die glas dooswyn by die coffee shop, die roomys vir my kind, die R10-hemp by die liefdadigheidswinkel wat ek oor ’n week vir ’n ander liefdadigheidswinkel gaan gee, of die R15-baadjie wat R120 gaan kos om te droogskoonmaak, R2 vir die karwag by elk van die vyf plekke waar ek stilgehou het …
As ek eers dié gedagtegang begin volg, is ek kort voor lank by Wat Het Ek Om Vir My Dag/Week/Maand/Lewe Te Wys. Maar dit is ’n ander storie.
Koning Kontant het natuurlik ook trawante: my drie super-robuuste spaarvarkies, Tito, Thabo en Tokyo, wat op die sideboard staan. En hul prettige pienk babasussie, kom ons noem haar Tossie, wat op my toilet pronk. Die seuns, veral Tito, het ’n aansienlike voorsprong. Maar Tossie is die new kid on the block, en ek het planne vir haar. Ek gaan een van my kunssinnige vriende vra om ’n baroktekentjie te maak wat sê “K— en betaal”, wat ek bokant die troon gaan hang. En elke keer as ek gaan sit, gaan ek ’n geldjie ingooi. Ek kan maar net hoop dit is (kuns)mis vir my begroting.
05.07.2009
Die afgelope week pak ek bokse uit en voel soos ’n doos. Wat my tot diepe geestesverwantskap dryf met die kartonhouers om my, is die stapels bankstate, fakture, kredietkaartstrokies en tjekboekteenblaadjies wat ek uit die Vapona-strips en motbolle moes pluk en nou in die een of ander volgorde moes kry – en waarvan onheilspellend min “jonger” is as die vyf jaar waarna ’n mens dié soort burokratiese bollie blykbaar kan weggooi.
En waarvoor was dit alles? Natuurlik was baie daarvan nodig; die huisverband; die water en ligte, die kos en petrol … Maar wanneer is genoeg genoeg? En hoeveel is genoeg?
Byvoorbeeld, hoeveel klere sou nou eintlik genoeg gewees het? (’n Uiters relevante vraag vir ’n vrou wat haarself al op die nippertjie moes keer om nie haar eie klere by ’n liefdadigheidswinkel te koop nie. Die kommerwekkende punt: Ek het dit nie herken nie.)
Hoe ’n groot muur sou ek kon uitplak met al my uiteet- en koffie- en wyndrink-strokies?
Hoe ’n groot vloer sou ek kon teël met al die afsprake by die sielkundige wat eintlik daarop gerig was om my van al bogenoemde te help weghol?
Hoeveel klassieke wit hemde en pare swart hofskoene het een vrou nodig – en hoeveel kakie-chino’s een man?
Hoeveel goedkoop Chinese speelgoed met ’n gemiddelde lewensduur van een uur het een kind nodig? En dan praat ons nog nie eens van die PlayStations, iPods en ander bestanddele van ons millennium se hi-tech-ver-piepie-kompetisie nie.
Om alles te kroon, is dit nie die kernvraag nie. Die moeder van alle vrae is dít: Hoeveel het genoemde man/vrou/kind nodig voordat hulle dink hulle het die volgende een nodig – en/of voordat ’n vriend/vriendin/maatjie ’n groter een het?
12.07.2009
Ek dink deesdae met deernis hoeveel hoofbrekens ek Claudia in my vroeë skuldberadingsdae moes besorg het. Moedverloor se vlakte het dikwels tussen ons gelê soos die besoedelingswolk oor Johannesburg. En die ergste was toe sy eendag sê: “Ons wil jou nie laat sekwestreer nie.” Ek dink in die wêreld van skuldhersiening is die s(ekwestrasie)-woord die just don’t talk about the war-oomblik.
Maar, soos ek al so dikwels agtergekom het, ek is ’n taaier koekie as wat ek dink. Iets in my weier om moed of hoop op te gee, al smag die res van my na manne in wit jasse om my op ’n drup te sit, gevolg deur drie maaltye wat ek nie hoef te bedink of te beding nie, en besoekers met Oros en druiwe sodra ek gestabiliseer het. Ek dink ook gereeld aan iets wat Claudia aan die einde van ons eerste sessie gesê het: Dit val haar op dat mense met wie dit eintlik baie slegter gaan, dikwels op die ou end beter vaar as dié wat nie so sleg daaraan toe is nie – die groot verskil synde ’n positiewe houding.
Om na die taai-koekie-deel terug te kom: Dit is nie net my innerlike superwoman nie. Ek vermoed ten sterkste my beskermengele werk oortyd.
Tussen alles deur begin dit toenemend bevrydend word om te kan sê: “Sorry, kan nie gaan fliek nie”, “Sorry, ek kan nie gaan lunch nie.” En hopelik is ek vir ewig verlos van een van my nagmerrie-scenario’s: die langtafel-lunch waar elkeen vir homself betaal … Behalwe dat die ou wat die prawns bestel het, eerste loop nadat hy R50 op die tafel gesit het, terwyl die arme drommel wat sy Griekse slaai met kraanwater