Landskap met diere. Welma Odendaal. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Welma Odendaal
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780798153645
Скачать книгу
belowe.”

      “Moenie my grief gee nie, ek sal jou ook wys.”

      Stil. Dis net die wind.

      “Jy sê jy’t haar nog nie weer gesien nie?” sê Barrie en skiet sy stompie deur die venster. Vonke spat en ek weet hy’t die poinsettia buite getref. Barrie skiet selde mis. Ook met die geweer.

      “Nee, ek sê mos.”

      Barrie leun terug teen die kussing, strek sy arms agter sy kop, gaap lank en hard. Skop sy bene styf teen die voetenent. Ek ruik hom onder sy arms. Sy bene druk, bobeen maak ’n knop en die bos wit beenhare staan weg. Ek sit regop en vou my hande om my knieë.

      “So, wil jy nie weet wat ek vir Lenie gewys het nie?”

      “Die fort.”

      “Ja, maar ook iets anders by die fort.”

      “Wat?”

      “Moet ek wys?”

      “Sê eers wat.”

      “Ek kan nie sê nie, ek moet wys.”

      “Moet ons dan op fort toe? Dis amper donker.”

      “Nee, ek kan jou sommer hier wys, dis niks te doen met die fort nie.”

      “Aag, Barrie …”

      Hy lê stil en kyk vir my. Ek kyk af en vroetel met my tone. Die wind vee die poinsettia teen die ruit. “Ek gaan gou pie,” sê hy. Hy spring op en raak met sy vingerpunte aan die plafon. Loop na die deur. Sy hare staan op agter van die lê. Daar’s ’n sweetkol teen sy rug.

      Barrie laat staan die deur oop. Hy pie hard en lank.

      Ek loop sag na die kas. Die geweer. Ek vat aan die korrel by die punt van die loop, laat gly my vinger saggies af met die staal. Ek voel lig aan die sneller.

      “Hei, kom weg daar,” sê Barrie. Hy trek nog sy gulp op, gryp die geweer uit my hand en laat rus dit teen die bed.

      Ek loop vinnig na sy gewigte in die hoek. Steek tong uit vir Frik wat vir my lag. “Barrie, hoeveel gewigte kan jy deesdae optel?”

      “So sestig, sewentig kilo’s.” Hy fluit skerp. “Kom hier.” Hy trek sy hemp op en maak sy maagspiere styf. “Slaat my, kom, try my …”

      “Oukei.” Ek tree nader, gee hom ’n hou teen die maag.

      “Nee, wat vir ’n poes-houtjie is dit! Komaan, slaat … ek is Mister Universe!”

      Ek slaat.

      “Harder, komaan …”

      Ek slaan weer en weer, harder en harder. “Vat só, Mister Universe!”

      Hy gryp my hand vas, ons stoei ’n bietjie, maar hy is te sterk en swaar.

      “Los my, Barrie … wys my hoeveel jy kan optel.”

      Hy spring op, raak weer aan die plafon soos sy gewoonte is. Loop oor na die gewigte, skuif hulle reg, draai ’n paar swares vas aan die stang. Barrie is sterk. Ek hou my asem op wanneer sy arms beur en trek, hulle bó hard word en die senings by sy gewrigte soos toue uitstaan.

      “Hup!” Sy maag trek hol, sy kop ruk agteroor, sy mond byt vas en hy maak sy oë toe. Stang tot by sy knieë.

      Ek klem my vuiste. “Dis hy, Mister Universe, stoot!”

      Sy lip bewe, my hande word nat, my mond droog. “U-ug,” hy’t die gewigte tot by sy skouers. Nou gaan dit vinnig.

      “Kom, Barrie, kom.”

      Hy trap rond, wikkel en proes, sy gesig blink en rooi, vinnig met ’n kortaf kreun stoot hy die gewigte bokant sy kop uit. Die are langs sy kop wil deurbreek. Hy hyg. “Kom hier …” snak hy.

      Ek staan vinnig op.

      “Kom help … goed neersit … Jissis.” Sy bolyf bewe.

      Ek’s by. Kan nie bo bykom nie. “Oppas, Barrie!”

      Af tot by sy skouer, hand bysit, saam vat ons die stang, vas is ek teen hom, ’n pluk, sy asem skree, en met ’n dowwe klap val ek en hy en die stang met gewigte op mekaar. Sy lyf is nat, en die stang en gewigte rol stadig oor die vloer.

      Ons lê stil. Barrie en ek, oor mekaar op die vloer.

      Barrie kom op sy hurke. Ek kyk op. Sien die knop soos die sterkste spier voor by sy kortbroek uitbult. Hy ruk my aan my hemp vas teen hom. Ek ruik sy sweet. Vinnig sit hy sy hand tussen my bene.

      “Ek wil jou nou wys,” sê hy en ruk my styf tussen sy bene in. Sy asem in my nek.

      “Nee, Barrie.”

      “Wag …” Dis die geweer, hy hou die geweer vir my. “Kyk, voel hom. Kom, voel.” Die swart loop, die blink kolf. Blink in Barrie se hand. “Voel hom, jy kan met hom skiet.” Die wind maal by die venster, die kers skiet. “Trek sy knip af, kom ek wys jou. Hoor hoe maak hy, klik.”

      Sy hand gaan oop, in die palm lê drie lang brons patrone. “Dis joune, vat.”

      Ek steek my hand uit. Sien die glinstering van die olie op die loop. Vou my hand om die smal stuk metaal, dis koud, trek my vinger lig af, oor die koel visier, af tot by die handbreë knop van die magasyn, liggies, liggies, pinkie om die sneller, handpalm vol om die kolf. Stywer en stywer klem ek die kolf, strek my ander hand uit, palm na bo. Die patrone klink teen mekaar, lê drie in gelid, swaar in my hand. Ek vou my vuis toe, en maak hulle myne.

      Vreemdeling

      Sondagmiddae het die drie van hulle met die heuwel op gestap na waar die tronkgebou gestaan het. Die regop man, sy tenger vrou, en hulle dogter. Die tronk is lankal nie meer daar nie, maar haar pa het dikwels van die prisoniers gekry om by hulle in die tuin te kom werk. Hulle het ’n groot erf gehad en daar was altyd skoffelwerk in die vrugteboord, leiwater om af te keer en snoeiwerk nadat die bome hulle vrugte gedra het.

      Daar het dikwels twee of drie mans in vaalbruin klere koponderstebo in hulle tuin geskoffel. Sy het hulle vanuit haar kamervenster dopgehou, en soms in die bloedige son vir hulle koue water geneem. Hulle het die blikbeker gulsig by haar gevat en die water met lang teue gedrink totdat die beker leeg was. Sy kon haar oë nie van hulle afhou nie. Hulle voete, wit van die stof, was aan die kante gebars en gekraak soos ou leer. Maar as sy té lank buite in hulle teenwoordigheid getalm het, het haar ma haar na binne geroep.

      In die groot droogte van daardie tyd het die leivore opgedroog, en kon hulle nie meer water afkeer om die vrugtebome te lawe nie. Die ou bome het skraps gedra en die vrugte was klein en sonder sap, hoewel sommige baie, baie soet was. Sy kan onthou dat sy in die vroegoggend saam met haar pa deur die boord gestap het en ryp vrugte gepluk, oopgebreek en daaraan gebyt het, totdat sy ’n vruggie gekry het wat soet genoeg was om te eet. Die res het hulle op die hoop blare en verlepte perskes gegooi wat reeds deur die bandietwerkers onder die bome saamgehark is.

      Maar haar pa sou nie meer lank by hulle wees nie. Die droogte het voortgeduur en hy het gesukkel om met sy groente en vrugte ’n bestaan te maak. Lateraan het hy op die paaie gaan werk en weeksdae glad nie huis toe gekom nie. Sy en haar ma het alleen in die klein huisie naby die rivier gebly en gedoen wat hulle kon.

      Die bandiete het ook nie meer gekom om in die tuin te werk nie. Smiddae na skool het sy alleen by haar kamervenster gesit en uitgekyk oor die verdroogde tuin en takkerige bome met hul dofgeel blare.

      Haar pa is laat Vrydagmiddag voor die huis afgelaai. Hy was donker gebrand, vuil en moeg. Sy lyf was afgerem en sy hare het grys geword; sy lippe was vol droë sere wat oopgebars het en hy het sterk geruik, baie soos die mans wat voorheen in hulle tuin kom werk het.

      Die eerste dag van die naweek het hy net geslaap en nie veel met haar en haar ma gepraat nie. Vroeg Sondagoggend het hy alleen in die tuin geloop, sy hemp sonder boordjie ’n wapperende wit vlag wat van een boom na die ander beweeg. Maar laatmiddag het hulle steeds soos voorheen die lang bult uit gestap in die rigting van die tronk, ’n draai om die groot klipgeboue gemaak,