Die ander betekenis is dat ons net een lewe moet hê eerder as om verskeur te wees tussen ons werk en persoonlike lewe. Aangesien werk inbreuk gemaak het op die res van ons lewe, is daar ook ’n behoefte om ’n sogenaamde “balans” te vind. Mense wil hul werk en lewe balanseer asof hulle op ’n soort draaipunt of wipplank sit en hulle gelyk moet kry. Ek veronderstel dit beteken dat jy by die een of ander iets moet wegneem of byvoeg, en dit sal nie sleg wees nie. Maar ek verkies ’n ander benadering. In plaas van balans kan ons praat van die “integrasie van werk en lewe” – maar nie in die sin dat hulle al hoe meer vermeng moet word nie. Die integrasie wat ek verkies, gaan nie oor die ruimte- en tydgrense van werk en die lewe as sodanig nie, maar die integrasie van die persoon wat albei doen – jy. Namate jy jou verskillende dele tot een persoon integreer – een kern van waar jy alles doen wat jy doen, insluitend jou werk, lewe, verhoudings, geestelike lewe, gesondheid en ander dele – sal jy balans as neweproduk kry. Balans sal ’n gevolg wees van die grense wat jou persoonlikheid integreer. Jy sal nie verskeurd voel tussen verskillende lewens en baie verskillende mense nie, maar een persoon, een lewe, met baie verskillende dele waarvan nie een jou van die ander kan losskeur nie. Dit is die wese van een lewe en die wese van balans. Dit sal alles voortvloei uit die ontwikkeling van beter grense.
Die benadering
Hierdie boek gaan hoofsaaklik oor werk. Dit gaan oor jou onderneming, jou prestasie, jou loopbaan, jou passie en jou gevoel van welstand by die werk. Ek hoop dit sal jou help om beter te lei, beter te bestuur en alles wat jy doen, beter te doen. Daarom sal ons hoofsaaklik op die werkkonteks fokus. Die boek gaan egter ook oor jou en jou algemene welstand, en in die lig van die versplintering tussen werk en lewe waarna ons verwys het, sal ons ook baie praat oor jou en die invloed wat jou werk op jou lewe het en andersom.
Ons sal fokus op die oprigting en ontwikkeling van beter grense. Ons sal begin deur eers te praat oor wat grense is en wat hulle vir jou werk en jou lewe doen, en hul invloed op jou vermoë om albei goed te doen. Dit sal jou ’n fondament gee om die konsep te verstaan sodat jy dit beter kan toepas.
Daarna sal ons oorgaan na spesifieke grenspraktyke en -strukture en hoe hulle uitgeleef word in die konteks van leierskap, bestuur en werklewe. Party sal beskrywend wees en ander voorskriftelik. Ek sal jou wenke oor spesifieke strukture en praktyke gee wat twee dinge doen as jy hulle toepas. Eerstens sal hulle baie probleme in jou leierskap, bestuur en werk oplos. Hulle sal jou werkprestasie verbeter. Tweedens sal hul toepassing ook beter grense vir jou as persoon oprig. Namate jy hulle toepas, sal jy groei en verander, en so ook die mense bo, rondom en onder jou in die organisasie.
Deur dit alles sal ons dan werk en lewe integreer. Onthou, dit gaan oor jou as persoon. Dit gaan nie net oor werksprobleme en -situasies of persoonlike probleme en situasies nie. Dit gaan oor jou, die persoon wat in albei daardie wêrelde moet leef. Die bedoeling is nie noodwendig om die twee saam te voeg nie, maar om jou saam te voeg sodat jy geïntegreerd in albei wêrelde kan leef. Namate jy geïntegreerd raak, sal jy al hoe meer vanuit ’n sterk kern kan leef en die lewe kan skep waarvoor jy gemaak is. Die een lewe wat net jy kan leef en goed kan leef.
Hoofstuk 2
2
Jou visie en jou grense
Wat probeer ons doen? Soos Steven Covey gesê het: dis belangrik om die einde in gedagte te hou wanneer jy begin. Ons moet duidelikheid daaroor kry. Wat probeer ons in Die een oplossing vir die lewe doen? Die eenvoudige antwoord is:
Beheer verkry.
Ons probeer nie om beheer oor ander mense of al die omstandighede of selfs al die resultate te kry nie. Daardie dinge sal vanself volg namate jy beheer kry oor die enigste ding wat jy ooit kan beheer – jouself. As jy dit doen, sal jy die dinge ervaar wat ons almal in die integrasie van ons werk en lewe wil hê.
Die ironie is dat die meeste mense so besig is om goed te probeer beheer wat hulle nie kan beheer nie – ander mense, omstandighede of resultate – dat hulle in die proses beheer oor hulself verloor. Hierin lê die ware paradoks. Eers wanneer jy beheer oor jouself kry, kan jy begin om ’n betekenisvolle invloed op ander dinge uit te oefen: mense, omstandighede en resultate. Mense wat in beheer van hulself is, oefen die grootste invloed op alles en almal om hulle uit om goeie gevolge, resultate en winste te verkry. Maar hulle begin by hulself en dit is die wese van grense.
Om nie die storie vooruit te loop nie, moet ons teruggaan na daardie gewenste uitkoms, die visie. Hoe lyk dit? Wat probeer ons bereik deur goeie grense op te rig? Wat hiervan? Sê nou …
Elke dag wanneer jy opstaan, weet jy jy sal jouself daardie dag heelhartig toewy aan die dinge wat vir jou belangrik is. Sê nou jy weet jy sal jou werk goed doen, wonderlike resultate behaal, die proses en die gepaardgaande verhoudings geniet? Gevolglik laat die gedagte aan wat jy daardie dag gaan doen jou versterk en energiek voel. Al kom daar uitdagings, probleme en selfs probleemmense, voel jy dwarsdeur die dag bekwaam en vol vertroue dat jy alles kan doen wat nodig is. Hoewel jy moeg word, soms selfs uitgeput, sal jy nie afgetakel, uitgebrand of innerlik leweloos voel nie.
Wanneer jy daardie aand jou kop op die kussing sit, weet jy jy het daardie dag vordering gemaak op die regte gebied en in opsigte wat vir jou belangrik is. Jy is waar jy veronderstel is om te wees, doen wat jy geskep is om te doen en bereik alles waartoe jy in staat is. Jy voel deurgaans tevrede in die wete dat jou beroepslewe goed inskakel by ander dinge wat vir jou belangrik is: jou gesin, jou vriende, jou roeping, jou waardes, jou hartstogte, jou gesondheid en jou geestelike lewe. Die twee lewens, werk en die persoonlike dinge wat vir jou waardevol is, bots nie en voel nie eens soos twee lewens nie. Jy voel eerder soos een persoon wat verskillende dele van jouself op ’n geïntegreerde manier uitleef sonder dat een deel die geheel word of in die ander se pad kom. Dit is hoe dit lyk om ten volle mens te wees en ten volle te leef.
Dit klink natuurlik wonderlik. Maar dink jy dis regtig moontlik? Dink goed daaroor na voor jy dit as onmoontlik idealisties afmaak. Dit moet liewer moontlik wees. Die alternatief klink glad nie goed nie: Wanneer jy wakker word, sien jy op teen nog ’n dag waarin jy afsydig sal voel terwyl jy jou tyd en krag bestee aan dinge wat vir jou van geen belang is nie. Jy kan dalk resultate kry of nie, maar die proses en die meeste van die verhoudings sal jou ongelukkig laat voel. Jy sal ontmoedig en beswaard voel wanneer jy dink aan wat daardie dag vir jou voorlê. Die uitdagings, probleme en struikelblokke voel oorweldigend en jy weet hulle sal jou onderkry, maak nie saak wat jy doen nie. Jy weet jy sal uitgemergel, uitgebrand, magteloos en leweloos voel wanneer jy klaar is.
Saans kyk jy terug en besef jy het nog ’n dag verloor waarin jy nie gedoen het wat jy wou nie en jy het niks bereik wat regtig vir jou van belang is nie. Deur dit alles het jy vasgekeer en desperaat gevoel oor die keuses wat jy tussen jou werk en jou persoonlike lewe moes maak. Jy besef jou werk weerhou jou daarvan om te kry wat jy moet en wil hê in persoonlike areas wat vir jou baie belangrik is. Dit is asof jou werk, wat veronderstel is om net ’n deel van die lewe te wees, jou hele lewe oorweldig het en jy is nie seker wat gebeur het of wat jy daaraan kan doen nie. Daarom lyk môre nie juis anders as vandag nie.
Oorsaak of gevolg?
Hierdie twee scenario’s is natuurlik uiterstes. Die lewe is nie net wit of net swart met alles wonderlik of alles ellendig nie. Ons kan nie kies of ons die persoon in die eerste scenario met ’n byna volmaakte lewe of die een in die tweede scenario met ’n rampspoedige lewe wil wees nie. In verskillende stadiums van die lewe is daar gewoonlik elemente van albei scenario’s teenwoordig. Ek probeer nie ’n beeld van ’n volmaakte lewe sonder probleme voorhou nie. Ons ervaar almal goeie en slegte tye en die lewe gaan nie daaroor om óf goeie óf slegte tye te ervaar nie. Hulle sal altyd by ons wees. Daar is egter ’n ander óf-óf-keuse wat ons kan maak ten opsigte van hoe ons die tye wat ons wel het, goed of sleg, wil leef.
Die eerste scenario beskryf ’n proaktiewe, doelgerigte