Wysheid. Benescke Janse van Rensburg. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Benescke Janse van Rensburg
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796315564
Скачать книгу
weg van die pad van die lewe af, sy laat jou dwaal, en jy weet dit nie. 7Luister na my, my seun, bly by wat ek jou sê: 8Bly weg van haar af, moenie naby haar huis se deur kom nie 9dat jy nie jou mooiste jare verspil nie, jou beste jare aan ’n hartelose mens gee nie, 10dat vreemdes hulle nie vol eet aan die vrug van jou arbeid nie, dat dit waarvoor jy gewerk het, nie in die huis van ’n ander beland nie. 11Jy sal lê en kreun as jou einde nader, met die vleis aan jou liggaam weggevreet, 12en jy sal sê: “Ek het my opvoeding versmaai, ek het my nie gesteur aan die onderrig nie. 13As ek maar geluister het na my leermeesters en my ore oopgemaak het toe hulle my geleer het! 14Hier sit ek nou in die grootste ellende voor die oë van almal.” 15Jy het tog self ’n vrou, jy het tog self ’n put met water: drink die strome uit jou eie fontein. 16Moet jou fonteine dan ook die wêreld vol loop, jou strome water oral heen vloei? 17Hulle is tog net joune, en jy sal hulle nie met ’n ander wil deel nie. 18Sing die lof van jou eie fontein, verheug jou oor jou eie vrou, 19so vol liefde, so mooi soos ’n takbok, soos ’n ribbok. Geniet voluit van haar liefkosings, laat dit jou deurentyd bedwelm. 20Waarom sou jy jou laat bedwelm deur ’n slegte vrou, my seun, waarom sou jy in die arms van ’n ander vrou gaan lê? 21’n Mens se lewe lê oop voor die Here, elke tree wat jy gee, sien Hy. 22Die oortreding van die goddelose agterhaal hom, hy draai hom vas in sy sonde. 23Hy sterf deur sy gebrek aan selfbeheersing, sy dwaasheid het hom op die verkeerde pad gebring.

      Met sonsopkoms het Johan Obbes wakker in sy bed gelê. Hy het die vorige nag min geslaap. Die dag het aangebreek dat hy die nuus van sy MIV-positiewe status aan sy konserwatiewe Afrikaanse Christen-pa sou moes oordra …

      Kort nadat Johan van ’n vakansie in Afrika teruggekeer het, het sy hare begin uitval. Toe hy drasties begin gewig verloor en sy mond vol seertjies uitslaan, het hy besluit om vir bloedtoetse na die kliniek te gaan. Hy het vermoed dat hy dalk malaria opgedoen het in Afrika.

      In die spreekkamer het die suster met ’n frons op haar voorkop gesit: “Ek is jammer, Johan. Jou bloedtoetse het teruggekom en jy is MIV-positief.” Vir Johan het dit gevoel asof iemand hom met ’n vuis op die krop van sy maag getref het. Die suster het verder gepraat, maar hy het min gehoor. “Ek het vigs. Ek het vigs!” het die woorde soos ’n sirene deur sy gedagtes geloei. Vir die eerste keer het die realiteit van sy losbandige lewenstyl tot hom deurgedring.

      “Wat gaan die mense sê? Wat gaan my familie sê?” het Johan gewonder terwyl hy sy motor voor sy ouerhuis geparkeer het. Hoewel hy besluit het om die nuus eers geheim te hou, het hy van plan verander toe hy in sy ma vasloop.

      Met die aanhoor van die nuus het Johan se ma langs die kombuistafel gaan sit, met trane wat oor haar wange stroom. Johan moes egter vertrek om vir sy skof as ontvangsklerk by die hotel te gaan aanmeld. Dit was ’n manier om weg te kom. Hy moes sy kop skoonkry. Hy moes moed bymekaarskraap om sy pa in die oë te kyk.

      Die gang na die kombuis waar Johan se pa vroegoggend sit en koerant lees het, was lank. ’n Diepe berou oor sy losbandige lewe het vlak in Johan se gemoed gelê. In die kombuisdeur het hy gaan staan. Die oomblik het aangebreek.

      “Hm … Pa …” die emosie was rou in Johan se stem. “Pa, ek weet Ma het al vir Pa vertel, maar uit respek vir Pa wil ek hê jy moet dit van my af hoor. Ek is MIV-positief …” ’n Lang stilte het in die kombuis gehang voordat Johan se forsgeboude pa die koerant voor hom op die tafel neergesit het en reguit na sy seun gekyk het. “My seun …” Johan kon sien hoe sy pa se onderste lip van emosie bewe. “Jou bloed is my bloed. Jy is my kind en ek sal altyd lief vir jou bly.”

      In Spreuke 5:11 en 13 waarsku Salomo dat die gevolge van ’n losbandige lewenstyl ons duur te staan sal kom: “As jy nie versigtig leef nie, kan jy sommer ernstig siek word. Op jou sterfbed sal jy dan van die pyn skree omdat jou liggaam deur siekte vernietig word … Jy sal jouself begin verwyt omdat jy nie na jou ouers en baie ander wyse mense geluister het nie” (Die Boodskap).

      Vandag is dit al agt jaar sedert Johan met MIV gediagnoseer is. En hoewel hy nog van tyd tot tyd siek word, het sy pa se aanvaarding en onvoorwaardelike liefde daardie dag in die kombuis iets van God se karakter aan hom geopenbaar. Hy het verstaan dat, nes sy aardse pa hom jare lank gewaarsku het teen sy sondige lewenstyl, God ons ook waarsku teen sondes omdat dit ’n negatiewe effek op ons lewens het. As ons ongehoorsaam bly, moet ons ongelukkig die gevolge van ons keuses dra. Tog is daar by Hom altyd ’n tweede kans wanneer ons met ware berou na Hom toe gaan.

      Sit jy vandag in ’n situasie waar jy die gevolge van jou dade moet dra? Onthou, net soos Johan se pa langs die tafel vir hom sit en wag het, wag God ook vandag dat jy na Hom toe terugkeer. Jesus het immers klaar vir jou sonde gesterf!

      Gebed

      Vader God, dankie dat daar by U vergifnis en tweede kanse is. Help my asseblief om keuses te maak waarop U kan trots wees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

      Foto’s van Johan Obbes kan gesien word op www.benescke.co.za.

      Besprekingsvrae

      1 God is genadig en by Hom is daar tweede kanse. Waarom is opregte berou so belangrik om vergifnis van God te ontvang?

      2 In Spreuke 5:3–14 waarsku die Spreukeskrywer ons om lig te loop vir mense wat ons wil mislei. Wat is die gevolge as ons by sulke mense betrokke raak?

      3 Lees Spreuke 5:16–20. Wat is die waarde daarvan om getrou aan jou huweliksmaat te bly?

      4 In Spreuke 5:21 lees ons dat ons lewens voor God oop lê en dat Hy elke tree wat ons gee sien. Is daar vandag iets in jou lewe waarop jy nie trots is nie? Wat gaan jy daaromtrent doen?

      5 Lees Spreuke 5:22–23. Wat is die gevolge van die oortreding van ’n goddelose en iemand wat aanhou om ontrou te wees in ’n huwelik of ’n losbandige lewe te lei?

      6 Watter teksverse het vir jou in Hoofstuk 5 uitgestaan? Hoekom?

      6 Sewe dinge wat God haat

      Spreuke 6

      1As jy vir iemand borg gestaan het, my seun, as jy jou verbind het vir ’n ander, 2verstrik geraak het deur wat jy gesê het en vasgevang is deur jou eie woorde, 3doen dan dít, my seun, en red jouself só as jy in ’n ander se mag beland het: gaan soebat hom, gaan pleit by hom; 4moenie gaan slaap nie, bly wakker, 5red jou uit sy mag soos ’n wildsbok uit ’n strik, soos ’n voëltjie uit die net van ’n voëlvanger. 6Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. 7Hy het nie ’n leier nie, nie ’n opsigter of ’n regeerder nie, 8tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd. 9Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard, wanneer gaan jy opstaan? 10Nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie sluimer, nog ’n bietjie handevou en bly lê, 11en daar oorval die armoede jou soos ’n rower, daar oorrompel die gebrek jou soos ’n inbreker. 12Dit is ’n nikswerd mens, ’n mens vol onreg, wat altyd reg is om te lieg, 13om te bedrieg deur met die oog te knik, met die voet te beduie, met die vingers tekens te gee, 14wat altyd met ’n skelmstreek kom en voortdurend op kwaad uit is. Hy maak moeilikheid waar hy gaan. 15So ’n mens se ondergang kom skielik; hy stort ineen, en daar is nie herstel nie. 16Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy ’n afsku het: 17oë wat straal van hoogmoed, ’n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, 18gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van die kwaad, 19’n getuie wat lieg en iemand wat rusie stook tussen broers. 20My seun, hou vas aan wat jou vader jou voorskryf; wat jou moeder jou leer, moet jy nie in die wind slaan nie. 21Dit moet jou altyd bybly, daarmee moet jy saamleef; 22dit sal vir jou leiding gee in wat jy doen, dit sal jou beskerm as jy slaap en jou lei sodra jy wakker word. 23Wat ek jou voorskryf, is ’n lamp, my onderrig is ’n lig; wie hom laat teregwys, is op die pad na die lewe toe. 24My onderrig sal jou beskerm teen die slegte vrou van ’n ander wat jou met haar gladde tong wil verlei. 25Moenie dat haar skoonheid jou begeerte wek nie, moenie dat sy jou vang met haar oë nie. 26Jy kan ’n prostituut kry vir ’n stuk brood, maar owerspel kan jou lewe kos. 27Kan jy kole vuur in die vou van jou klere inhark sonder dat jou klere aan die brand raak? 28Kan jy op brandende kole loop sonder dat jy jou voete verbrand? 29Net so min kan jy by ’n ander man se vrou slaap sonder om gestraf te word, jy sal nie vry kom as jy met haar lol nie. 30’n Dief word verag as hy steel, ook al steel hy om sy honger te