Wysheid. Benescke Janse van Rensburg. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Benescke Janse van Rensburg
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796315564
Скачать книгу

      

      Wysheid – oordenkings oor Spreuke

      Benescke Janse van Rensburg

      Lux Verbi

      Vyf wenke vir die gebruik van hierdie studiegids

      1 Tydsduur

      Vir individuele studie kan die studiegids oor ’n tydperk van 31 dae bestudeer word. In groepsverband kan die gids vir ’n tydperk van 31 weke gebruik word as die groep besluit om elke week ’n ander hoofstuk te behandel. Kleingroepe kan vooraf besluit hoe lank elke ontmoeting gaan wees. ’n Goeie riglyn is om sowat ’n uur en ’n half aan die bespreking af te staan.

      2 Groepbespreking

      Die studiegids sal die beste werk as elke deelnemer in die groep ’n eksemplaar van die studiegids het. Individue wat aan die bespreking deelneem, kan vooraf deur die Spreuke-hoofstuk en dagstukkie lees en aantekeninge maak van die teksverse of waarhede wat vir hom of haar uitstaan. Die dagstukkies kan dan weer in die groep gelees word voordat die besprekingsvrae behandel word. Die doel van die groepbespreking is om saam te ontdek hoe die wyshede van die Spreukeskrywer vandag steeds van toepassing is in ons moderne samelewing.

      3 Besprekingsvrae

      Aan die einde van elke dagstukkie is ’n aantal besprekingsvrae wat in die groep of individueel behandel kan word. Gebruik die vrae bloot as vertrekpunt vir die gesprek. Elke deelnemer hoef nie elke vraag te beantwoord nie, maar gee genoeg geleentheid vir gesprekvoering.

      4 Bybelvertalings

      Die 1983-Bybelvertaling, 1933-vertaling, die Lewende Bybel en Die Boodskap is in hierdie studiegieds gebruik. Dit is nuttig om verskillende vertalings te gebruik aangesien dit die studie verryk.

      5 Addisionele materiaal

      Kleingroepleiers kan gerus ’n draai maak by die webwerf www.benescke.co.za om bykomende materiaal te verkry wat die besprekingstyd in die groep kan verryk. By sommige dagstukkies word byvoorbeeld verwys na foto’s wat op die webwerf afgelaai kan word. Oudio van die dagstukkie sal ook in MP3-formaat beskikbaar wees wat vooraf afgelaai kan word.

      Tien wenke vir fasiliteerders

      Hier is verdere riglyne vir fasiliteerders:

      1 Bid vir die lede

      Moet nooit die krag van gebed onderskat nie. Maak ’n lysie van almal in die groep en sorg dat jy vooraf vir elkeen afsonderlik bid vir beskerming en dat niks sal voorval wat sal verhoed dat hulle die byeenkoms kan bywoon nie. Bid ook dat God hulle harte deur sy Heilige Gees sal voorberei om oop te wees vir dit wat Hy deur elke les in hul lewens wil deponeer.

      2 Kies vir jou ’n goeie span om jou te ondersteun

      As jy vir jou ’n goeie mede-aanbieder kry, kan hy of sy in jou plek waarneem as iets voorval en jy nie die groep kan bywoon nie. Dit sal ook die druk van jou afhaal indien iemand ’n vraag vra wat jy nie onmiddellik kan beantwoord nie.

      3 Wees vriendelik en gasvry

      Die groeplede het moeite gedoen om na jou huis toe te kom. Laat hulle welkom voel en sorg vir iets te ete en te drinke. Julle kan ook as groep ’n rooster volg waarvolgens elkeen vir een week se eet- en drinkgoed verantwoordelik is tydens die byeenkoms.

      4 Wees jouself en moenie die groep probeer beïndruk nie

      Mense kom gou agter as jy iemand anders probeer na-aap of voorgee dat jy al die wysheid in pag het. Erken dit as jy nie ’n antwoord het nie en vra om verskoning as jy ’n fout begaan het. Onthou, julle is saam as groep op reis deur die boek Spreuke om iets meer omtrent God se karakter te ontdek.

      5 Berei goed voor

      Sorg dat jy vooraf deur die spesifieke hoofstuk en dagstukkie gewerk het sodat jy die besprekingsvrae maklik kan hanteer. Kyk ook of daar addisionele materiaal op www.benescke.co.za is wat jy kan gebruik om die byeenkoms verder in te kleur.

      6 Laai die oudiogreep af

      Op die webwerf www.benescke.co.za is daar ’n oudiogreep van elke hoofstuk se dagstukkie. Jy kan dit vooraf van die webwerf aflaai en as inleiding gebruik voordat julle na die besprekingsvrae oorgaan. As jy nie toegang tot die internet het nie, kan jy vooraf met een van die lede afspreek om die stukkie te lees. Kies iemand met ’n sterk stem wat die groep se aandag sal behou.

      7 Moenie dadelik self die vrae beantwoord nie

      Soms is daar stilte nadat jy die vraag gestel het. Laat die groeplede toe om daaroor te dink. Sodra iemand geantwoord het, kan jy beleef vra of iemand anders iets wil byvoeg voordat jy jou antwoord op die vraag gee. Maak ’n punt daarvan om almal te betrek en skep ’n geleentheid vir groepslede om die vrae waarmee hulle worstel aan die groep te stel. Baie keer sukkel van die ander lede met soortgelyke vrae en groei die hele groep as een persoon die moed bymekaarskraap om dit te opper.

      8 Wees bedag dat niemand oorneem nie

      Soms is daar groepslede wat te veel of te lank praat en sodoende die harmonie van die groep versteur. Wees bedag daarop. As dit ’n probleem in julle groep raak, kan jy byvoorbeeld ’n reël instel dat elke lid nie langer as vyf minute op ’n slag moet praat nie. Verduidelik dat jy graag aan almal in die groep ’n kans wil gee om aan die gesprek deel te neem.

      9 Verdeel soms in kleiner groepies

      Dit is soms makliker om in kleiner groepe te gesels. Dit verseker dat al die groeplede ’n geleentheid kry om deel te neem en met vrymoedigheid vrae te stel. Julle hoef nie tydens elke les in kleiner groepe op te deel nie. As fasiliteerder kan jy vooraf besluit of die spesifieke les hom daartoe leen.

      10 Sluit die les af met gebed

      As van die groeplede nie gemaklik voel om hardop voor ander te bid nie, kan jy voorstel dat twee of drie mense ’n kleiner groepie vorm en saambid. In die groot groep kan jy eers op die ry af vra hoe dit met elkeen gaan en of daar iets spesifieks is waarvoor julle kan bid. Daarna kan julle in die kleiner groepies saambid.

      1 Die grondslag van wysheid

      Spreuke 1

      1Spreuke van Salomo seun van Dawid, koning van Israel. 2Dié spreuke is bedoel om mense wysheid te leer en hulle te onderrig sodat hulle sal weet wanneer iemand verstandig praat. 3So sal hulle ’n behoorlike opvoeding ontvang en ’n sin vir regverdigheid, reg en billikheid. 4Wie nog nie kennis het nie, sal verstandig word, jongmense sal leer om met kennis en oorleg op te tree. 5Selfs wyse mense kan na die spreuke luister en so tot dieper insig kom. Wie reeds die nodige kennis het, kan die kuns aanleer 6om spreuke en sinspelings, woorde en raaisels van wyse mense te begryp. 7Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag. 8My seun, jy moet luister na die onderrig wat jou vader jou gee; moenie wat jou moeder jou leer, verontagsaam nie: 9dit sal jou lewe versier soos ’n krans jou kop en ’n kettinkie jou hals. 10As sondaars jou wil verlei, my seun, moenie toegee nie. 11Hulle sal vir jou sê: “Kom ons gaan lê iemand voor en vermoor hom, ons oorval sommer iemand, al het hy ons niks gedoen nie; 12kom ons laat mense verdwyn soos die dood dit doen, ons maak gesonde mense dood! 13Ons vat al wat waardevol is en ons maak huise vol met wat ons roof. 14Jy kan deel in die buit, dit sal ons almal s’n wees.” 15Moenie met hulle saamgaan nie, my seun, bly van hulle pad af; 16hulle is daarop uit om kwaad te doen, hulle wil gaan moord pleeg. 17’n Voël wat ’n net sien wat vir hom gespan is, vlieg nie daarin vas nie, 18maar hierdie mense span vir hulleself ’n net, hulle gaan hulle ondergang met oop oë tegemoet. 19So gaan dit met elkeen wat vat wat hom nie toekom nie: rowery kos hom sy lewe. 20Wysheid is ’n vrou wat langs die straat staan en roep, sy laat haar stem hoor op die stadspleine, 21sy roep bo die rumoer uit, by die ingange van die stadspoorte sê sy wat sy te sê het: 22“Julle onkundiges, hoe lank gaan julle nog vashou aan julle onkunde, gaan die grootpraters hulle pratery geniet en die swape ’n afkeer hê van kennis? 23As julle luister na my teregwysing, gee ek julle my wysheid in oorvloed en leer ek julle my woorde begryp. 24“Ek het geroep en julle wou nie luister nie, ek het my hand uitgesteek en julle het dit nie gegryp nie. 25Julle het my raad alles in die wind geslaan, julle wou julle nie laat teregwys nie. 26Daarom sal ek lag