Eiland van vervulling. Elize Mitchell. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Elize Mitchell
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624058670
Скачать книгу
erfgenaam. Die dag van jou vyf-en-twintigste verjaardag erf jy alles. Ek glo dis hoekom sy so dringend na jou gesoek het. Sy wou jou seker voor dan ontmoet om alles te bespreek.”

      Karina se oë is wyd gesper. “Ék haar erfgenaam? Dit moet ’n fout wees, ek het haar beswaarlik geken!” Sy byt op haar lip. “Sy was net … my eksentrieke tante. Ek is vir haar ’n vreemdeling, eintlik, dit kan tog nie wees nie?”

      “Wel, so is dit, ek verseker jou. Sy was gewis eksentriek.” Hy maak kruisies op die papier voor hom – soos soentjies onderaan ’n brief, dink Karina. Kon daar iets hier gewees het? Haar tante en die prokureur? “Haar uiterlike en boheemsheid het mense nogal laat dink dat sy anders is.”

      Karina voel of sy duisel. “Ek verstaan net nie hoekom ék haar erfgenaam is nie!”

      “Jy het haar name, Karina, en sy het ’n besondere sagte plekkie vir jou gehad. Sy het altyd gesê sy kan in haar ingewande voel dat jy haar wilde bloed het.”

      Karina se wange gloei rooi. Dis dan seker waar haar moedswillige streep vandaan kom, dink sy skuldig, haar impulsiwiteit om buite die norm te handel, waarmee sy al ’n paar keer haar vingers verbrand het. Haar ma noem dit haar “onblusbare passie vir die lewe”.

      “Karina?” roep Bart haar terug uit haar gedagtes.

      “Ekskuus,” sê sy onthuts. “Uhm … waaruit bestaan die boedel? Ek glo nie sy het veel gehad nie, met al haar geswerwery.”

      “Jou tante het aan jou ’n stewige portefeulje nagelaat, Karina, een wat nie te versmaai is nie. Jy erf onder andere haar gedeelte van ’n eiland by die Seychelle, waarop sy verblyfreg gehad het. Sover ek weet, is daar ook ’n huis.”

      Karina sit vorentoe in haar stoel en lag senuweeagtig. “Ag nee, dis seker ’n grap, nè? Mens erf tog nie sommer ’n eiland nie!” Sy sluk hard. “Is dit ’n regte eiland, soos mens op poskaarte sien?”

      Bart glimlag. “Ek bedoel presies dit. Sy het ook wonings in ’n paar oorsese lande gehad, en heelwat beleggings, aandele. Jy sal verbaas wees hoe groot hierdie boedel is, Karina. Jy is ’n baie vermoënde jong dame, of sal binnekort een wees.”

      “Ek kan dit regtig nie glo nie! Netnou was ek nog so arm soos ’n kerkmuis. Dis te goed om waar te wees.” Karina skud haar kop om van die spinnerakke ontslae te raak. Vanoggend, nou-nou net nog, was sy so opgesukkel met haar gejaagde lewe en veeleisende werk, en nou het alles in ’n oogwink verander! Voor haar sien sy haar tante se mooi oë wat dikwels vol hartseer na haar gekyk het, sodat sy as kind skoon ongemaklik was. Wanneer Karina haar ma daarna gevra het, het sy gesê dis omdat haar suster nie self kinders het nie – en nou gaan staan Katriena en maak haar haar erfgenaam!

      Karina sien hoe die prokureur vraend na haar kyk. “Dis amper onmoontlik om aan tant Katriena as ’n ryk oujongnooi te dink,” sê sy oplaas. “As sy dan so vermoënd was, hoekom wou sy so afgesonder lewe?”

      “Hoe het ’n mens ooit geweet wat haar beweegredes was? Jou tante het vreeslik baie gereis, totdat sy jare gelede op daardie spesifieke eilandjie verlief geraak het.”

      Háár eiland! “Hoe groot is dit?”

      “Nie baie groot nie, hoor, en daar’s nie baie inwoners nie, omdat water op die eiland skaars is.”

      “En … wat behels die testament nog?”

      “Jy sal my weer moet kom sien, Karina. Ek moet dit in detail met jou bespreek. Jou tante stel dit onomwonde dat dit haar wens is dat jy met alles moet voortgaan wat sy op die eiland tot stand gebring het. Daar is ’n klousule wat vereis dat jy eers vir ’n tyd daar moet bly voordat jy finaal besluit of jy kans sien. Nogtans is jy onder geen verpligting nie.”

      “En as ek nie daarvoor kans sien nie?”

      “Dan verbeur jy jou verblyfreg op die eiland en gaan alles daar na die plaaslike stam. Die res van die boedel word egter nie geaffekteer nie.”

      “Wat het sy dan daar gedoen? Sover ek weet, is sy as apteker opgelei.”

      “Blykbaar was daar verskeie projekte, maar ek het nie al die besonderhede nie, dít sal jy daar uitvind.” Bart vroetel deur die lêers voor hom. “O ja, daar is nog iets.”

      “Ja?” vra Karina versigtig.

      “Daar is iemand, ’n Westerling, wat in die laaste tyd by Katriena gebly het. Hy was siek, en sy het hom behandel. Dis juis hy wat my van haar afsterwe laat weet het.”

      Karina word sommer oombliklik wrewelig. Sy het gedínk daar sal iewers ’n vlieg in die salf wees! In haar gedagtes sien sy net die spierwit strande en asuurblou see – daar is definitief nie plek vir kranklikes nie.

      “Maar … ek is baie jammer as hy siek is, maar hy het tog seker familie na wie hy kan gaan?”

      “Dit weet ek nie, maar dit klink asof daar ’n hegte band tussen hom en jou tante was. Hy was aan die herstel, maar nog glad nie gesond nie. Niemand kon natuurlik raai dat haar einde so naby is nie.”

      “Erf ek hom nou saam met die eiland?” vra sy skepties.

      Bart lag. “Natuurlik nie! Dalk is hy selfs al weg as jy daar aankom.”

      “Beteken dit ek moet aan hom verslag doen?”

      “Ek glo nie dis wat sy in gedagte gehad het nie, Karina,” sê Bart paaiend, “maar dink net van hoeveel nut hy kan wees. Niemand beter om jou touwys te maak nie.”

      “Miskien,” gee sy suur toe. “Dit het alles so idillies geklink, maar ek wil nie die verantwoordelikheid van ’n sieklike ou man op my neem nie.” Sy druk ’n krul agter haar oor in; sy weet sy maak altyd so as opstandigheid in haar aan die oplaai is. “Dit bederf sommer die hele avontuur.”

      Die telefoon lui en Bart kyk op sy horlosie terwyl hy luister. “Goed, Annelie, ons is amper klaar.” Hy maak die lêer toe. “My volgende kliënt wag ongelukkig. Hoekom gaan kuier jy nie eers vir ’n week of twee en kry ’n gevoel vir die plek nie? Sien dit as ’n salige vakansie, neem iemand saam. Dalk jou ma?”

      “Dit klink wonderlik, maar ek het nie genoeg geld vir so iets nie. Ek maak dit skaars na die einde van die maand toe,” lag sy verleë.

      “Ek sê mos, jou tante het jou beter geken as wat jy dink. Daar is ’n trust met voldoende fondse om in al jou behoeftes te voorsien, vir ’n onbepaalde tyd.”

      Sy lag liggelowig. “Dit lyk my tant Katriena was nie so eksentriek soos ons gedink het nie. Sy het dan vir alles voorsiening gemaak.”

      “Presies. Kan ek Annelie vra om solank die nodige inligting te kry?”

      “Dit sal baie help, dankie.”

      “Gaan geniet dit. Jy is dalk baie aangenaam verras as jy eers daar is. Daarna kan jy finaal besluit.”

      “Baie dankie, Bart. Hoe vinnig moet jy ’n antwoord hê?”

      “Hoe gouer, hoe beter, dan kan die boedel afgehandel word.” Hy staan op en druk haar hand innig. “Ek wens ons het meer tyd gehad, maar ek moet ongelukkig gaan. Ek is bly ons het ontmoet, Karina, en onthou tog om ’n opvolgafspraak te maak.”

      Karina huppel byna by sy kantoor uit en wil sommer die groot nuus aan die koerantverkoper in die straat uitblaker. Sy voel kompleet soos ’n Rockefeller-erfgenaam!

      2

      Toe Karina eindelik haar woonstelvoordeur agter haar toemaak, sug sy verlig. Net eers koffie in haar lyf kry, dink sy terwyl sy tam die ketel aanskakel. Daarna krul sy haar op in haar geliefkoosde leunstoel en neem klein teugies koffie terwyl sy elke stukkie van die wonderlike nuus oor en oor deurdink. Sy is die erfgenaam van ’n eiland! Miskien kan sy selfs haar werk bedank! Stadig, Karina, maan sy haarself dan, die boedel is sekerlik nie so groot dat sy soos ’n celeb heeldag op die strand of in die winkels kan rondlê nie. Het sy nie dalk die prokureur verkeerd verstaan nie?

      En wat die vreemdste is, hoekom het haar ma haar nie laat