Veldpad van verlange. Helena Hugo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helena Hugo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624058618
Скачать книгу
leun teen sy gespierde arm, voel sy krag deur haar vloei. Hy is aantreklik en goed gebou, trek goed aan, besoek die regte haarsalon, laat sy naels professioneel versorg, gebruik selfs vogroom vir sy gesig. Ry boonop ’n Porsche en het sy eie luukse meenthuis. Studeer hard, nie soos Andreas wat sy pa weer gaan teleurstel nie.

      Paulie kom orent; haar nek en skouers is seer en sy het rus nodig. Die musiek is nog aan. Gelukkig sing Natika nie meer nie. Maak ook nie saak nie, Paulie is moeg genoeg om deur enige lawaai te slaap en Andreas agter die wiel ten volle te vertrou.

      Sy kyk teen sy agterkop vas. Hy het twee oulike kroontjies in sy hare, een skuins bokant die ander een, en ’n sterk, gespierde nek. Hy sit gemaklik en bestuur goed. Natika verdien hom nie. Iemand soos Jettie Fourie, wat ook dierkunde doen en pas aangestel is in die navorsingsafdeling van die Pretoriase Dieretuin, sý is die regte persoon. Nie Natika nie, sy kan kus en keur tussen mans, sy het nie nodig om Andreas te kies nie.

      Lüther raak aan haar arm. “Jy seker jy wil nie water hê nie?”

      Sy skud haar kop.

      “Sê wanneer. Hierdie is koud.” Hy klap teen die koelsakkie.

      “Wat sal ek sonder jou doen?” vra sy sodra hy opkyk.

      “Wat sal jy?” Hy hark sy vingers deur sy perfekte kapsel, skuif sy donkerbril op oor sy voorkop en kyk diep in haar oë.

      “Vergaan,” sê sy.

      En sy wonder waar dié woord so skielik vandaan kom, want sy moet erken, dis nie regtig waar nie. Sy sal dit darem oorleef as hulle planne nie uitwerk nie of as hulle verhouding tot ’n end kom. Sy het hom gekies ten spyte van Ans se stories, en sy bly by hom al twyfel sy soms, maar sy kan op haar eie bene staan.

      “Wat nog?”

      “Doodgaan,” sê sy met ’n glimlag wat vir haar nou baie aangeplak voel.

      “My meisie,” sê hy en tuit sy lippe suggestief.

      Reg van voor is hy aantreklik, dis van die kant af, dis sy profiel … Sy swak ken pla haar.

      Dit behoort nie so te wees nie, voorkoms is nie alles nie, en Lüther is altyd netjies en vars. Skoongewas, dis Lüther. Noudat hulle ’n rukkie langs mekaar sit, kry sy die geur van sy stortseep, sy gemmer-en-sandelhout wat tot nou toe deur Natika se seringbloeisels verdring is.

      Ja, hy het ná sy laaste pasiënt by die huis aangery om te verfris en sy ma te soengroet voor hy sy pa gaan oplaai het, dié dat hulle laat was. Maar Paulie gaan hom nie konfronteer nie; hy is hier ter wille van haar en sy is dankbaar.

      “Jy is moeg,” sê hy. “Probeer slaap.”

      “Dis presies wat ek wil doen.”

      Hy raak aan haar wang, lê sy palm ’n rukkie agter haar nek, liefdevol. “Jou kussing onthou?”

      Sy het, en sy haal dit uit die sak wat sy op die vloer langs haar voete ingeprop het. “Ek is lekker moeg.”

      “Pla die musiek jou nie?” Sy mond is naby haar oor.

      “Te moeg om om te gee. Pla dit jou?”

      “Nee, dis oukei.” Hy soen haar op haar wang, vinnig en gevoelloos.

      Soos ’n ougetroude, besluit sy. Soos my pa my ma soen voor hy winkels toe gaan, of gholfbaan toe.

      “Sien jou later,” sê sy en druk haar kussing onder haar oor reg.

      Sy keer haar rug na hom en maak haar oë toe. Al blêr die musiek en al hou Andreas die venster aan sy kant wyd oop omdat hy nie aan lugreëling glo nie, raak sy aan die slaap, te uitgeput om verder ’n duit om te gee.

      In haar droom loop en sy Lüther in die dieretuin, hulle loop op een van die bekende paadjies tot by die afdeling waar Jettie betrokke is by die teelprogram. Almal daar ken Paulie en sy stap sommer in by die deur gemerk Privaat, Slegs Personeel. Lüther is opgewonde. Hy dra ’n netjiese pak klere met ’n angelier in sy knoopsgat en skoene met onmoontlike lang punte. Paulie dra ’n rok, ’n kanterige iets in blou met ’n blom in haar hare.

      Jettie is besig om ’n pasgebore apie met ’n bottel te voer. Sy dra ’n trourok en ’n sluier en dis ’n hele ongemaklikheid met die apie. Jettie! roep Paulie uit, kan jy nie die dieretuin vir een dag vergeet nie, dis jou troudag en jy voer apies. Maar toe Paulie nadergaan om die bondeltjie by Jettie te neem, is dit ’n seuntjie met Lüther se afskeepkennetjie!

      Die volgende oomblik stoot sy die kind in ’n waentjie. Lüther en Jettie ry by haar verby in ’n kar met ’n afslaandak. Haar wit sluier waai in die wind en verander skielik in Natika se hare. Daar trek ’n rookwolk agter die kar aan. Dis nie meer ’n kar nie, dis ’n vuurbol en dit rol en rol.

      Die viertrek kom stamperig tot stilstand en Paulie skrik wakker. Dit was ’n simpel droom. Watse nonsens is dit dat Jettie en Lüther moet trou? Of is dit sy wat moet trou, want sy stoot die waentjie met die baba? Sy is vies vir haarself dat sy sulke gedagtes êrens in haar onderbewussyn vertroetel.

      “Sy’s wakker,” hoor sy Lüther sê. “Lekker geslaap, my meisie?”

      Maar Paulie voel te knorrig om positief te reageer. Dis nie lekker om in die middel van ’n droom wakker te word nie, al is dit ’n nagmerrie. En Natika soen al weer vir Andreas.

      “Ons stop gou vir koffie.” Andreas kyk vinnig om, blykbaar om haar toestemming te vra. Sy is op slot van sake die leier.

      “Dankie, Andreas.” Dis ’n Engen-oase met bome en bankies. Koue vrugtesap sal nie sleg smaak nie.

      Lüther hou die motordeur aan haar kant oop. Sy gryp haar skouersak en klim uit. Natika staan haar reeds en uitrek. Andreas sluit die viertrek.

      “Dink jy dis veilig?” vra Lüther.

      “Diewe steel nie maklik ’n voertuig met ’n logo nie,” sê Andreas en val langs Natika in.

      Lüther kan niks antwoord nie en Paulie onderdruk ’n glimlag.

      ’n Swerm mossies vlieg op toe hulle onder die bome deurstap. Sy merk op dat hulle besig was om ’n toebroodjie uitmekaar te pik en nou op die takke sit en wag om hulle fees voort te sit. Sy kyk verder en sien hoe hulle oral nes maak, veral onder hoë lampskerms waar die lig saans baie motte en ander insekte lok.

      Sy wys vir Natika, maar dié stel nie belang nie en kyk skaars. Voëltjies soos hierdie sien sy seker genoeg in die stad, as sy moeite doen om te kyk en te luister. Sy loop haar loopplankstyl – ken gelig en skouers agtertoe, baie selfbewus aan die rondloer of iemand haar raaksien en herken.

      Paulie hys haar skouersak hoër op en stap vinniger. Sy is nie lus om deel te wees van dié spektakel nie. Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Natika by Lüther aan die een kant inhaak en by Andreas aan die ander kant.

      Nou toe nou! Is sy ernstig?

      Maar Paulie is al ver genoeg om te maak of sy dit nie sien nie. Sy stap doelgerig deur die winkeldeel na die damesruskamer. Dis netjies skoon en heerlik koel en sy hoef nie eens vir ’n beurt te wag nie.

      Terwyl sy haar hande was, sien sy eers hoe deurmekaar haar hare is. Liewe goeiste, g’n wonder Lüther het haar nie agternagesit toe sy so vinnig wegstap nie. Sy lyk oes. Sy herstel die skade so goed soos sy kan, spuit van haar komkommerkoel eau-de-toilette aan en begin aanstap deur toe, net toe Natika by die eerste stel spieëls verbykom.

      “Ag nee! Kyk hoe lyk ek!” gil sy en stop in die middel van die vertrek.

      Twee vroue wat by die wasbakke besig is, kyk vinnig op en Paulie hoor hoe die een vir die ander sê: “Fishing for compliments.”

      Natika lyk soos ’n advertensie vir een of ander sjampoe, haar hare lig en los om haar skouers, groot blou oë soos waterlelies wat pas oopgegaan het, die blos van môredou op haar wange en lippe.

      “My hande is smerig,” sê Natika en sukkel tevergeefs om die houer met vloeibare seep aan die gang te kry. “Haat goed wat nie werk nie!”

      Die