Woestyngevangene
Andrea Abbott
In Afrikaans vertaal deur
Kobus Geldenhuys
Tafelberg
1
Leo trap amper op die skerpioen voor hy hom raaksien. Die gedierte, langer as sy hand en oranjerooi soos die woestynsand oral om hom, skuil in die skraal skadu van ’n verskrompelde bossie. Hy het geskrik toe Leo naby hom van ’n rots af spring, en toe homself weggegee deur vinnig om te draai. Met sy stert krom hoog bo sy lyf, kyk hy die seun onheilspellend aan. Die waarskuwing is duidelik: Kom nader en jy’s dood!
Leo staan versteen. Die skerpioen se stert is dik met ’n haakvormige angel aan die punt. Daarteenoor lyk sy knypers dun en swak.
Dis nie ’n skerpioen waarmee jy mors nie.
Dik stert en dun knypers beteken sterk gif. As daai soort skerpioen jou steek, is dit verby met jou. Dis die raad wat Dawie aan Leo gegee het toe hulle twee weke gelede in Namibië aangekom het vir die Sterrekundeklub se jaarlikse Stertrek.
Leo is twaalf en ’n half, en nie onnosel nie. Hy gee ’n tree terug. “Oukei, laat sak daai stert. Ek sal padgee.” Hy klim op ’n rots en kyk hoe die dodelike gedierte sy stert laat sak en dan oor die sand wegskarrel en by ’n gat in verdwyn.
Bokant hom bak die middagson neer uit ’n wolklose lug. Dit brand die agterkant van sy nek, sy arms en bene, en versmoor die landskap met genadelose vuurkrag. Niks beweeg nie. Die enigste klank wat die stilte onderbreek, is sy asemhaling. Die lug het ook moed opgegee; dis so stil soos klip, en kon net sowel dood gewees het. Alleen in daardie groot stilte aan die onderpunt van daardie rooiwarm koppie in die middel van die Namibwoestyn, voel Leo of hy die laaste lewende ding op aarde is.
Dit laat hom ril.
Hy mik terug na die ander toe. Hulle is aan die ander kant van die koppie, besig met middagete. Toe hy ’n rukkie gelede by hulle weg is, het hulle teenaan die Land Rovers in ’n dun strepie skadu gesit. Hy het geweet dis die verstandige ding om te doen in hierdie versengende hitte, maar dis so vervelig soos om te kyk hoe verf droog word. Daarom het hy besluit om die hoë klipkoppie te verken. Die hitte het hom eers nie gepla nie, maar noudat hy terug boontoe klim, brand die kokende klippe sy hande. Hy voel hoe skroei sy kaal bene, en sy kop klop onder die meedoënlose son.
Naby die kruin vind hy ’n bietjie verligting, want daar is ’n briesie. Dit dans oor die rif en waai hom koel, pluk aan sy pet en blaas in sy gesig. Hy trek die pet verder oor sy kop af en trek sy nek in. Wanneer hy heel bo kom, kyk hy af ondertoe.
Ver onder, regs van hom, sien hy hoe pak die ander hulle eetgerei terug in die twee Land Rovers. ’n Goed geboude man met blonde hare tel ’n koelboks op: dis Dawie. En dáár is Treasure. Sy waai vir ’n vale, seker sodat Leo moet beduie of hy oukei is, soos sy al heelweek lank doen. Dit maak hom mal. Wat dink sy kan met my gebeur? wonder hy.
Net toe hy wil begin afklim, sien hy ’n rooigrys wasigheid suid van die piekniekplek. Dis ver weg en met die eerste oogopslag kom dit soos ’n wolkbank of digte mis voor. Maar dit lyk of dit uit die grond opstyg. Dit beweeg ook, soos stof agter ’n motor op ’n grondpad. Dis net baie groter en strek oor die hele vlakte, en kom in Leo se rigting.
Terwyl hy staan en wonder oor hierdie vreemde gesig, word die bries skielik sterker. Hy voel hoe die sand en klippertjies sy arms en bene begin steek. Dan eers verstaan hy waarna hy kyk.
’n Sandstorm!
“Ek beter vinnig onder kom,” sê hy en begin by die klippe af klouter.
Hy is nog ver van onder af toe die wind se gefluister in ’n gefluit verander. Bo-oor dit hoor hy ’n heeltemal ander klank: ’n hees meganiese geluid. Die geraas van enjins.
Die Land Rovers is besig om weg te ry!
* * *
Treasure, die ondervoorsitter van die Sterrekundeklub, word eerste van die wind bewus. Sy staan op om haar uit te rek en voel hoe dit oor die Land Rover se enjinkap swiep. Dan sien sy die onheilspellende grysrooi wolk op die suidelike horison. “Sandstorm!” skree sy en waai haar arms vervaard. “Dit kom hiernatoe!”
Die ander sukkel haastig orent. “Jissou!” sê Victor, hou ’n hand oor sy oë en tuur die verte in. “Dis ’n grote.”
“Ons moet vinnig hier wegkom!” skree Dawie, die klub se voorsitter. Hy tel nog ’n koelboks op en sit dit haastig agterin die Land Rover wat hy tot hier toe bestuur het. “As daai storm ons vang, mis ons ons vliegtuig.”
Waterbottels, ’n derde koelboks, lemoene, handdoeke en die matte waarop hulle gesit het, ’n paar sloffies wat Cass uitgeskop het, ’n tydskrif, ’n hoed, ’n kussing – alles word inderhaas by die twee voertuie in geslinger. Daarna spring almal net so koorsagtig in, behalwe Humphrey, wat sy pet agternasit. Maar dis tevergeefs. Die wind is nou sterker en waai die pet vinniger weg as wat selfs die atletiese Humphrey kan hardloop.
“Vergeet dit, Humph!” gil Dawie deur sy oop venster. Hy jaag die enjin se toere op. “Weg is ons!” Hy stamp die voertuig in rat en mik met die smal stofpaadjie langs terug teerpad toe.
Langs hom kyk Treasure in die syspieël. Sy sien hoe leun Eva, wat die tweede Land Rover bestuur, by die venster uit en beduie vir Humphrey om terug te kom. Hy gooi sy hande verslane in die lug op, draai om en hardloop terug. Hy duik langs Eva in net toe sy petrol gee en agter die ander aan jaag.
* * *
“Hei!” gil Leo. “Wag vir my!” Hy glip en gly oor los klippe, en skaaf sy knieë en skene velaf teen die rotse soos hy by die koppie af skarrel. Teen die tyd dat hy onder kom, trek die ander al ’n hele ent met die stofpaadjie af.
Hulle laat Leo in ’n stofwolk agter.
“Wag!” skree hy weer en hardloop agter hulle aan. Dit moet ’n grap wees. Hulle gaan nou enige oomblik stilhou, dink hy.
“Dis nie snaaks nie!” skree hy toe hy sien dat hulle nie stop nie.
Hy hardloop vinniger en gee yslike groot treë, maar die gaping tussen hom en die Land Rovers word al hoe groter. Gans te gou is hulle net twee groen spikkels in die glinsterende hitte-newel wat oor die woestyn hang.
So dis toe nié ’n grap nie. Die Sterrekundeklub het van hom vergeet. Treasure was verniet heelweek so bekommerd oor hom! Wat help dit nou? Hy stop en spring op en af terwyl hy sy arms waai. Iemand kyk dalk by die agterste venster uit en sien hom.
Die voertuie verdwyn.
Hy hyg en sweet stroom by sy gesig af, maar hy sit hulle weer agterna. Hulle sal terugkom. Iemand sal sien ek’s nie daar nie. Enige oomblik nou gaan hy die glinstering van metaal sien soos die Land Rovers terugkom. Hy hou aan hardloop, sy oë vasgenael op die verte, soekend na daardie glinstering. Hulle gaan nou agterkom ek’s weg, hou hy aan vir homself sê.
Maar selfs al het hulle dit agtergekom, is dit reeds te laat, want die warboel van sand en klippertjies is skielik op hom. Dit oorval hom, verblind hom, versmoor hom, verswelg hom.
* * *
Wanneer hulle uiteindelik by die teerpad kom, gee Dawie vet. Treasure hou aan die paneelbord vas terwyl hulle gevaarlik vinnig verder jaag. Sy kyk om. Tussendeur die hope bagasie en sterrekundige toerusting sien sy hoe die tweede Land Rover ook die pad bereik. Agter hulle staan die storm bol. Dit verberg die son, verander dag in nag, en tel die woestyn in sy gang op soos dit noordwaarts woed.
“Ons gaan nie onder dit kan uitjaag nie,” sê Treasure, haar stem skril van paniek.
“Ons moet net,” sê Dawie. Hy skakel die kopligte aan, maak sy rug krom oor die stuurwiel en konsentreer op die reguit swart streep voor hulle.
* * *
Hoesend en proesend en hygend na asem strompel Leo aan deur die warrelende sand. Hy kan skaars voor hom sien, want hy moet sy oë toehou om hulle te beskerm. Hy hou sy arms naby sy borskas en buig vooroor om hulle ook te beskerm. Daar is niks wat hy kan doen om die venynige aanslag op sy kaal bene te