Speurhond Willem en die seerowers
Elizabeth Wasserman
Illustrasies deur Chris Venter
Tafelberg
Vir Marthinus, wat weet net hoe om ’n kokosneut oop te maak.
E.W.
Ek dra hierdie boek op aan my suster, René Venter. Dankie vir al die liefde en bystand, Sus.
C.V.
1
My ma kry goeie nuus
“Jippie!”
My ma se bly gil skeur deur die vroeë oggendlug.
Sy kom met die tuinpaadjie opgetrippel. In haar hand het sy ’n oopgeskeurde brief wat sy soos ’n vlag rondwaai. Die ander pos lê vergete op die gras langs die posbus waar sy dit net so neergesmyt het.
Wat makeer sy tog?
Pa dra sy koffie op die stoep uit om te gaan hoor wat aangaan. Ek luister na hulle opgewonde stemme.
“Willem, kom ons gaan kyk!”
My hond kyk skaars op van waar hy voor my rekenaar sit. Ek loer oor sy skouer. Hy is besig om iets te google.
Ek het mos nie ’n gewone hond nie. Hy kan praat, en karate doen, en hy het vir die Internasionale Speurdiens gewerk voor hy by ons kom bly het. Net ’n paar maande gelede het hy my Europa toe gesleep op ’n opwindende reis, en die twee van ons het ’n berugte internasionale bende aan die kaak gestel.
Wat maak Willem nou?
Hy is besig om ’n boek te bestel. Dit is ’n boek wat handel oor die geskiedenis van seerowers in die Indiese Oseaan. Hy gebruik my pa se kredietkaartnommer om daarvoor te betaal.
“Willem, jy moet ophou hiermee! Een van die dae kom Pa agter dat daar allerhande snaakse goed op sy kredietkaartstaat is, en dan is jy in die moeilikheid!”
“Nee, dan is jý in die moeilikheid,” antwoord hy droogweg. “Geen man met ’n gesonde verstand sal die hond blameer vir aankope op sy kredietkaart nie.”
Ek vervies my vir sy houding. ’n Mens kan tog sekerlik meer lojaliteit van jou sogenaamde “beste vriend” verwag.
Skielik bars my ma in my kamer in. Soos blits spring Willem van die lessenaar se stoel af en begin aan my tekkie te kou.
Doodonskuldig.
“Adriaan!” My ma is skoon uitasem. “Kan jy dit glo? Ek het gewen!”
Haar gesig straal. Sy druk ’n brief onder my neus in, maar pluk dit weer weg voor ek dit ordentlik kan lees.
“Ek het sowaar gewen! ’n Reis vir twee op die Sonata, daardie luukse skip wat verlede maand in die koerant was! Na Mauritius toe!”
My ma is gek oor die kompetisies in tydskrifte en koerante. Sy skryf gedurig in. Maar sy het nog nooit tevore iets gewen nie.
“Mauritius?” vra ek, ook nou geïnteresseerd. “Dit klink fantasties, Ma! Kan ek saamgaan?”
Haar gesig val effens, maar net ’n bietjie.
“O, jammer, Adriaan. Dit is ongelukkig nie moontlik nie. Die prys is vir twee, jy sien, en ek en jou pa . . .”
“Toemaar, Ma,” stel ek haar dadelik gerus, alhoewel ek nie heeltemal gelukkig voel nie. “Gaan geniet julle twee dit maar. Eendag as ek groot is, sal ek wel gaan.”
“Ja, ek is seker jy sal!” My ma glimlag weer. “Dalk kan
ons eendag almal saam so iets doen. Maar vir eers sal ons wel ’n ander plan kan maak. Dit is net ’n week, en ek sal sommer vir tannie Katrien vra om hier by jou te kom bly.”
My hart sak in my skoene. Ek kan hoor hoe Willem sommer my tekkie ook ’n geniepsige pluk gee.
Tannie Katrien is my pa se suster, en sy is vreeslik prekerig. Doen dit, doen dat!
Adriaan, het jy al die vullisdrom leeggemaak? Adriaan, eet jou ertjies. Honde hoort buite, Adriaan! Buite, Willem!
Ag nee. Net nie tannie Katrien nie!
Maar ek wil nie my ma se geluk bederf met ’n geklaery nie.
Ek en Willem sal wel ’n plan maak met tannie Katrien.
Skielik val my ma se oog op Willem.
“Hierts, Willem!” raas sy. “Gee daai tekkie hier! Adriaan, dit kom nou daarvan om jou goed so te laat rondlê. Dit is splinternuwe tekkies hierdie, en as die hond dit opkou, gaan ek nie weer ander koop nie!”
Ag, nou ja. Miskien is tannie Katrien nie so erg nie!
2
Teëspoed
My ma begin bykans onmiddellik inkopies doen.
“ ’n Aandrok of twee – want die etes op die boot is deftig,” sê sy. “ ’n Baaipak, en ’n nuwe sonhoed.”
My pa skud net sy kop.
Maar ’n week voor hulle moet vertrek, kom hy een aand met ’n baie lang gesig by die huis.
“Vroulief,” sê hy op ’n versigtige stemtoon. “Kan ek vir jou ’n glasie wyn inskink, dan kom sit jy so ’n bietjie hier by my?”
My ma vermoed dadelik onraad.
“Wat is dit, Wynand? Sê my sommer reguit en los die mooipraatjies!”
“Wel, jy sien . . .” Hy is duidelik diep in die moeilikheid. Hy stamel nie gewoonlik so nie. “Daar is probleme by my werk. Jansen, wat die oorname van die Wilkens-maatskappy moes behartig, het skielik siek geword. Hulle het my toe gevra om dit te doen.”
“O, maar dit is fantasties, liefie!” My ma glimlag nou
breed. “Dit beteken ’n moontlike bevordering vir jou! Ek weet hoe lank jy al op so ’n kans wag!”
Nou glimlag my pa darem so effentjies.
“Ja, dit is waar. As ek hierdie saak goed hanteer, kan dit my loopbaan ’n goeie hupstoot gee. Maar daar is een probleem . . .”
My ma se gesig val sommer dadelik. Sy weet wat kom.
“Ja, ek is jammer, liefie. Ek moet onmiddellik begin werk hieraan, en dit is hoogs onwaarskynlik dat ek klaar sal wees voor volgende Vrydag.” Hy kyk na die punte van sy skoene, soos iemand wat iets stouts gedoen het.
“Ek het gedink Adriaan kan in my plek gaan?” stel hy versigtig voor.
Ek kan die tweestryd op my ma se gesig sien. Sy is duidelik erg teleurgesteld. Ek kan sien sy oorweeg dit sterk om by die huis te bly, saam met my pa.
Ek sien ek moet vinnig spring.
“Toemaar, Ma,” sê ek asof dit ’n groot opoffering is. “Ek sal maar saamgaan. Ter wille van Ma se kans om Mauritius te sien. Dit sal vir my ook baie leersaam wees!”
“Ja,” beaam my pa. “Julle vertrek Saterdagoggend vroeg, Maandag is ’n vakansiedag, en die Sondag daarop is julle weer terug. Dit beteken Adriaan sal net vier skooldae mis. En hy sal baie meer ondervind op so ’n reis as wat hy in daardie paar dae in die skool sal leer!”
My ma kyk my berekenend aan.
“Dit is