Maar sy is nie lus om Wilhelm met Emile te bespreek nie. Hulle het mekaar eendag by die ateljee om een of ander duistere rede gegryp en mekaar deeglik opgedons. Wilhelm het gekla dat sy neus gebreek is; Emile het ’n sny in sy oogbank gehad. Die teks moes herskryf en die opnames herskeduleer word. Kosbare tyd het verlore gegaan en die vervaardigers van Mediamanie het die rekening vir Wilhelm gestuur en hom van betreding en aanranding aangekla. Wilhelm het ’n teeneis ingestel. ’n Hofsaak het soos ’n onweerswolk in die lug gedreig.
Die joernaliste het besluit dis ’n liefdesdriehoek en die koerante was vol bespiegelings, foto’s en al. Colette was so skaam, sy wou onder ’n klip inkruip en daar bly tot alles oorgewaai het. Mediamanie se vervaardigers het darem erken dat die reklame deur en deur die moeite werd was.
Ses maande later was die koerante uitgepraat, die saak buite die hof geskik en Wilhelm op pad Londen toe. Hy wou nie sy verloofring terughê nie. Sy het sy Londense adres by sy ma gekry en dit per koerier aangestuur. Toe was die breuk ’n voldonge feit.
Kan ons praat? SMS Colette vir Vera.
Vera antwoord nie dadelik nie. Goed dat ek eers ge-SMS het, besluit Colette en maak die yskas oop.
Sy haal die plastiekhouer met die hoenderslaai wat van die vorige dag oorgebly het uit, skep dit op ’n bord, sny ’n tamatie in skywe, skink ’n glas witwyn en gaan sit in die leunstoel voor die TV. Sy skakel dit aan. Mediamanie is aan die gang en sy kyk na ’n konfrontasie tussen Arnold Penrose en sy aartsvyand Felix Cade. Die twee het moeite om mekaar nie met die vuiste te takel nie. Die episode eindig met ’n skoot van Emile se gesig. Hy sukkel om sy humeur te bedwing.
Toe die eindtitels rol, skakel Colette die TV af. Sy het nie krag vir die nuus nie.
Sy het kalmte nodig en sy glip ’n CD met Chopin-nokturnes in die speler.
Mansmense kan maklik onredelik raak en vuis inlê, mymer sy. Die rede waarom Emile en Wilhelm daardie keer handgemeen geraak het, is vandag nog geheim. Wilhelm het iets gemompel van haar eer wat hy moes verdedig. Emile het gesê sy moenie glo wat sy hoor nie en geweier om verder oor die saak uit te wei.
Sy was lank vies vir Emile, met wie sy ’n romantiese verhouding moes veins terwyl sy nog hartseer was oor Wilhelm. Haar lewe was omgekeer en uitgeskud. Dit het gevoel of sy die helfte van alles wat sy is, verloor het. Gelukkig het Mia Barlow daarvoor begin opmaak en vandag het sy ’n rol wat haar sterstatus besorg het, en veel meer.
Sy en Emile het mekaar geleidelik beter leer ken. Mekaar soms gehaat en soms net verdra. Daar was tye toe sy bekommerd was oor die intense gevoelens wat hy in haar opwek. Dan het sy in die spieël gekyk en vir haarself gesê dis hormone, geen normale vrou kan bestand wees teen soveel testosteroon nie. Hoe soen jy professioneel so ’n sexy mond soos Emile s’n sonder om self geprikkel te word?
Sy het by Vera gaan kla. “Jy speel, maar jy is tog nog jouself,” het sy gesê.
Vera is ’n deurwinterde aktrise, in die jaar toet geskei van haar eerste akteurman en weer getroud met ’n akteur, wat bekend was daarvoor dat hy sy leading ladies ná werk bed toe geneem het. Albei mans is oorlede en Vera al jare lank weduwee.
“Ons speel met emosies. Wie kan dit hou?” het Vera gemymer.
“Maar professionele mense moenie hul privaat lewe met die werk laat inmeng nie,” het Colette selfversekerd uitgeblaker en toe byna haar tong afgebyt. Sy het dit so maklik laat klink, sonder om Vera se gevoelens in ag te neem.
Vera het nie ’n oog geknip nie. “Dis nie ’n waarborg nie,” het sy met die wysheid van jare gesê. “Jy weet mos nou.”
“Ek wil nie so wees nie,” het Colette verder kleigetrap.
“Dis ’n stryd wat jy moet stry, maar jy is nie alleen nie,” het Vera haar verseker. “Waarom dink jy is daar so baie romanse agter die skerms en soveel egskeidings in Hollywood?” het sy gevra sonder om na haar eie seer te verwys. “Wees bly dis ’n goeie Afrikaanse sepie, anders was julle nakend tussen die lakens.”
Colette kon nie aan iets ergers dink nie. “Wat moet ek doen?” het sy gekreun. “Ek’s nie so grootgemaak nie, maar partykeer wens ek ek’s saam met hom … jy weet, tussen die lakens.”
“Bly koelkop,” was Vera se finale raad. “Onthou, begeerte begin in die gedagtes.”
Daarna het Colette nie weer met Vera daaroor gepraat nie. Vera is oor die sewentig en haar gedagtes het lankal by haar hormone oorgeneem. Maar Colette kon dit nie help nie, haar hart het steeds sonder rede vinniger geklop as Emile haar nadertrek en vashou. Dis bloot fisiek, ’n normale reaksie wat volbloedmans en -vroue nie kan keer nie, het sy haarself bly troos.
Toe bring Lizzie ’n tydskrifartikel werk toe wat impliseer dat dit wetenskaplik verklaar kan word hoe en hoekom spesifieke mans en vroue mekaar aantrek. Dit het te doene met chemiese reaksies, reuke en so aan. Colette het haar boeglam geskrik. Sy wou flou word elke keer as sy Emile se naskeermiddel ruik, sy seep, selfs sy sweet en sy asem het haar van stryk gebring.
Sy het gemaak asof dit snert is, maar skelm die tydskrif gaan koop en die artikel deeglik bestudeer.
“Partykeer dink ek ek raak verlief op Emile Linder,” het sy daardie Sondag oor ete en ’n bottel wyn aan haar ou universiteitsvriendin erken.
Donna is ’n danseres. Sy het al paaldanse in ’n mansklub gedoen en sy is nie bang nie, nie vir mans nie en ook nie vir seks nie. Sy was nie verbaas oor Colette se versigtige ontboeseming nie.
“Jy dínk nie so nie, jy ís!” het sy gesê.
“Nee!”
“Dis so duidelik soos daglig, vriendin, daar smeul iets tussen julle.”
“Jy kan dit sien?”
“Daai liefdestonele tussen Mia en Arnold is reg eg.”
“Ons speel toneel!”
“Hoe speel jy toneel as julle moet soen? Verbeel jy jou dis mond-tot-mond-asemhaling?”
“Daar is tegnieke, ons het dit op dramaskool geleer.”
“Mond-tot-mond-asemhaling?”
“Omhelsings, hoe om te draai en hoe om vas te hou.”
“O ja? Hoe tegnies kan jy raak as jy jou uitgehongerde lyf teen ’n ander honger lyf moet vasdruk? Vra my, ek weet. Of het jy vergeet ek dans? Buitendien, wat van hom? Mans is weerloser as vroue, jy weet. Moenie vir my sê jy’t hom nog nie uitgevang nie?”
Colette het verbouereerd vir haar nog wyn geskink, in die proses die glas oorvol gemaak en sleg gestort.
Donna het die skade met ’n snesie herstel. “Help nie om jou verleentheid te verdrink nie,” het sy gepaai. “Jy en Emile is in denial. Julle sal eendag moet oorgee. Maar een van julle sal die eerste stap moet neem. Gaan dit jy wees?”
“Absoluut nie!” het sy gekeer en haar glas met een teug geledig.
“Fluister dit.” Donna het die voorstel met suggestie gelaai. “Sag in sy oor.”
Colette kon haar nie ’n groter verleentheid voorstel as om in Emile se oor te fluister dat sy nie toneelspeel nie en dat dit ook nie haar hormone is nie. Sy het ernstige gevoelens vir hom, sy het hom innig lief, sy wil die vrou wees wat sy huis teen die heuwel in ’n tuiste verander, familiefoto’s teen die gangmuur ophang, sy lewe deel – Emile s’n, held en hartebreker van driekwart van Suid-Afrika se vroue.
“Doen dit, ek daag jou uit,” het Donna bly aandring.
“Nee, ek moet koelkop bly. Ek moet vergeet dat ek Colette is en Emile, Emile. Ek is Mia Barlow en hy Arnold Penrose en ons liefde is vals en ingestel op die vermaak van ander.”
Donna het gegiggel. “As jy so redeneer, sal julle julle kans moet waarneem, agter die skerms – as julle dit nie alreeds doen nie. Ware liefde is so ’n skaars artikel; as jy dit het,