“Ek het nogal nie so gedink nie,” reageer hy koel en hap die repie wat hy vir haar aangebied het voor hy uitstap. Sy voetval op die klipvloer klink swaar in die stilte wat hy agterlaat.
Fouche sit die mes en biltong in die portaal op ’n tafel neer en gaan haal die tasse, dra hulle na haar kamer en huiwer nadat hy dit voor haar bed neergesit het. Lig toe die grootste tas tot op die ottoman by die voet van die bed. Die ander plaas hy op die stoel by die klein skryftafel in die boog van die komvenster. Wat hy toe maar weer optel en langs die ou hangkas loop staanmaak.
Hy kyk rond in die kamer wat byna drie en twintig jaar moes wag om weer ’n dogter van hierdie huis te verwelkom. Die hemelbed met sy wit kant, lappiesdeken en handgeweefde kussings, die geelhoutmeubels uit grootjie Cilliers se huis wat glim in die elektriese lig. Die nuwe matjies voor die bed. Pienk en wit roosknoppe wat ten duurste op Hermanus gekoop is in ’n kristalvaas op die antieke spieëltafel. Slaapsokkies, sagwit en warm teen die koue wintersnagte, wat hy weet gisteraand eers klaar gebrei is. Wanneer dit aanmekaargewerk is, kan hy net raai. Ounag toe sy ma nie kon slaap nie van opgewondenheid, en van die vrees wat hy dae al in haar skrams blik raaksien?
Sy het haar hart vir haar enigste kleinkind hier kom neersit. Gaan daardie kleinkind dit raaksien, of gaan sy soos háár ma daarop trap?
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.