Toe ek weer haar kamer binnekom, het Carmen vir Luna op haar skoot en kyk uit oor die byna leë parkeerterrein van die hospitaal.
“Mag jy saamkom, of moet jy nog iets hier doen?” vra ek.
“Ek dink ek is klaar,” sê Carmen. Sy kyk in die kamer rond; haar soekende oë val dan op haar swart tas. Ek loop swygend na die tafel waarop haar jas lê en help haar dit aantrek, iets wat ek nooit doen nie. Dit is ’n poging om myself te laat voel dat ek tog nog iets nuttigs kan doen.
“Nie so ver agtertoe nie,” sê Carmen wanneer ek haar jas agter haar oophou. “Met die sny aan my bors kan ek my arms nie so ver terugstrek nie.”
“O. Jammer. Kom, Luna, kom ons gaan,” sê ek en tel haar van die bed af op. Sy is steeds opvallend rustig.
Carmen steek gou eers haar kop by die verpleegsterskamer in en sê: “Oukei, baai.” Die verpleegster, dieselfde een as vanoggend, skuif vinnig haar bord warm kos eenkant, gryp Carmen se hand met albei hare vas en wens ons sterkte toe.
“Is julle darem vanaand saam?”
“Absoluut,” sê ek dapper en gee haar ’n gerusstellende knik.
Ons drie loop na die hysbak. Nie een sê ’n woord nie.
9
The times are tough, just getting tougher, I’ve seen enough, don’t wanna see anymore, turn out the light and block the door come on and cover me …
Bruce Springsteen, uit “Cover Me” (Born in the USA, 1984)
By die huis aangekom, bel ek Frenk en sê hom dat Carmen borskanker het.
“Fokkit,” vat Frenk die situasie kernagtig saam.
Carmen bel Anne. Sy vertel wat aangaan. Binne ’n uur is sy en Thomas op ons stoep. Sy omhels my lank, en loop dan met haar jas nog aan na die sitkamer en gryp Carmen vas. Sý begin dadelik weer huil.
Thomas gee my ’n ongemaklike druk. “Dit is kak, my maat,” mompel hy. Hy loop binnetoe en kyk skaars na Carmen. Hy staan na die grond en tuur, met hangskouers en hande in die sakke. Hy het nog sy pak en das aan.
Thomas kom ook van Breda-Noord, en ek ken hom al van laerskool. “We liked the same music, we liked the same bands, we liked the same clothes,”[4] sing Bruce, en so was dit ook met my en Thomas. Toe ons twaalf was, is ons saam na NAC, toe ons sestien was, het ons saam na punk bands in Para gaan luister en toe ons agttien was, het ons Saterdagaande in De Suykerkist gaan uithang. Daar was Thomas moerse gewild. Ek nie. Ek het puisies en so ’n duikbril gehad en moes tevrede wees met al Thomas se oorblyfsels.
Ná hoërskool is ons albei na die sakeskool in Amsterdam, waar ons ook vir Frenk leer ken het. Thomas het sy graad gatskraap gekry. Thomas was nie superintelligent nie; is steeds nie. Hy het ’n rep geword van ’n maatskappy wat padsout verkoop en is dit steeds. Sy klante is munisipale amptenare en die Nasionale Waterraad. Thomas is dik pelle met daardie ouens, en ek dink dit is omdat hy net soos hulle hou van grappe oor Belge, negers, blondines en vroue wat dokter toe gaan, en omdat hy ook pastelkleurige toeknoophemde van Kreymborg dra.
Ek en Thomas bel mekaar gereeld. Ons sien mekaar minder as vroeër. Afgesien van Breda se karnaval, is hy nie meer so lief vir kuier nie. Hy bly liewer naweke tuis met ’n kasie en ’n wyntjie en ’n film met baie skietery, tiete en helikopters. Sy tanende kuierbehoefte het daarmee te make dat hy ’n paar jaar gelede begin bles raak en sy pens ontsagwekkend groot begin raak het. “Fokkit, Steyn, ek is die ene melk en jy die ene wyn,” het hy op ’n keer vir my gesê toe hy agterkom dat sy kwynende gewildheid by “die dames” strukturele vorme begin aanneem. Maar pragmaties soos Thomas is, het hy iets daaraan gedoen. Toe hy op ’n slag ’n oulike jong vakleerling by sy werk sien binnehuppel, nou al ses jaar gelede, het hy haar vir ete uitgeneem en daarna nooit gelos nie.
Daardie vakleerling was Anne. Thomas en Anne pas eenhonderd persent by mekaar. Anne is wars van alles wat trendy (lees: Amsterdams) is, ook is sy mal oor kinders, kaas en wyn, en net soos Thomas lyk sy asof sy pal swanger is. Sedert die geboorte van hul kinders, Kimberley (4), Lindsey (3) en Danny (1), is Anne toegegooi. Anne sê haar gesin en huishouding is vir haar belangriker as haar uiterlike. Sy dra leggings en T-hemde van Miss Etam. ’n Doelbewuste verslonsing, noem Carmen dit. Maar agter Anne se rug. Carmen sal Anne nooit wil kwets nie. En tereg ook. Want Anne het Carmen se beste vriendin geword. Hulle bel mekaar elke dag en toe Carmen ’n halfjaar gelede voor die biopsie in doodsangs was, kon jy Anne nie by ons huis wegkry nie. Hoewel dit my gat so gekrap het om haar daar te sien elke keer wanneer ek van die werk gekom het, moes ek toegee dat Anne weet wat vriendskap beteken. Carmen en Anne is nou veel nader aan mekaar as ek en Thomas. Carmen vertel Anne alles. Ek vertel nie alles aan Thomas nie. Altans nie meer nie – nie sedert ek agtergekom het dat hy alles wat ek doen (en hy sou wou doen) aan Anne oorvertel nie. As jy jou oë uitvee, kom dit weer by Carmen uit en dit is natuurlik nie ’n goeie ding nie. Eerlikheid is ’n oorskatte deug. Anne voel anders daaroor. Maar sy kan maklik praat. Haar uiterlike kan ’n mens nie sien as ’n uitnodiging tot geslagtelike omgang nie.[5] Anne sal nie ’n affair kan hê nie, al wou sy.
Anne is nugter. Sy reken ons moet al die vrae neerskryf wat ons môre aan die dokter wil vra. Ons dink dis ’n goeie plan. Ons vier dink toe saam wat dit is wat ons sal wil weet. Ek skryf neer.
Dit werk. Ons reduseer die kanker tydelik tot ’n neutrale objek wat ons krities en byna saaklik kan analiseer. Carmen het nou al ’n uur nie gehuil nie.
Thomas en Anne vertrek om halftien. Ek bel Frenk; Carmen gaan op die internet. Toe ek aflui, vra sy of ek nog kan onthou wat die Engels vir haar vorm van borskanker is.
“Dit het Walters nie gesê nie. Wel die Latynse naam, mastitis karsinowat …”
“Karsinomatose, ja. In Engels is dit dan …” – sy kyk op die skerm – “… inflammatory breast cancer … En ‘inflammatory’ beteken dis ’n vorm van ontsteking. ’n Soort sweer wat – as jy te laat iets doen – in jou bloedliggaampies kom. Dit klink na die ding, nè?”
“ ’M … ek dink so, ja,” antwoord ek versigtig.
“Dan is ons net mooi in kakstraat, want dan is die kans dat …” – haar stem breek – “… dat ek nog langer as vyf jaar sal lewe, nie eens veertig persent nie.”
Veertig persent. “Hoe kan jy so seker wees dis dieselfde?” reageer ek geïrriteerd. “Is jy seker jy’t reg gelees?”
“Ja, ek is, god weet, tog nie onnosel nie, Steyn?!” skreeu sy. “Hier staan dit tog! Of in enkele gevalle nie?”
Ek kyk nie na die skerm nie, maar druk die skakelaar van die iMac af.
“Daar’s hy. Slaaptyd.”
Sy kyk verbouereerd na die swart skerm en dan na my. Eers met ’n vernietigende blik en dan begin sy onbeskryflik hard tjank.
“Fokkit, as daardie kakhuis dit tóé al gesien het, dan was dit miskien nie nou te laat nie!”
Ek gryp haar aan die arm en sleep haar die trap op.
Ná ’n huilbui wat gelyk het asof dit nooit sal ophou nie, raak sy in my arms aan die slaap. Ek is wawyd wakker en sien op teen môreoggend. Teen die moment dat ek wakker word en besef dat ek nie gedroom het nie, maar dat alles werklik is.
Carmen het kanker.
10
Het regent harder dan ik hebben kan …
Bløf, uit “Harder dan ik hebben kan” (Boven, 1999)
Dokter Schoeman gee ons die hand, beduie dat ons moet gaan sit en gaan self agter haar lessenaar sit.
Sy begin deur ’n lêer blaai. Dit is ’n outydse bruin hanglêer. Ek loer daarna, onderstebo, en sien dit is die lêer wat die verpleegster eergister by haar gehad het. Daar is twee X-straalplate daarin (van Carmen, neem ek