“Jam-mer!”
“Waar’s jou gedagtes, kêrel?”
Sy pa is reg. Die granietkranse en die wingerde, hier en daar nog rooi gevlek van blare, het tydelik weggesmelt toe hy haar naam noem ... en terugdink. Sy knoop haar skoolrok oop, haak haar bra vir hom los. Hy is in matriek, sy in graad tien. Dis die eerste keer dat hy haar borste sien uitspring. Hy raak met sy vingerpunte aan haar tepels. Dit word hard nes hy.
Maar hy besef dat hulle voor ’n afgrond staan, en hy hou haar veilig teen hom, fluister in haar oor: “Jy is genuine mooi.”
As kinders het hulle somers kaal in ’n plastiekbadjie in die agterplaas van haar ouma Maria se erf rondgeplas. Winters is hulle saam in die pootjiesbad gestop om geskrop te word, al vier van hulle – hy die enigste seuntjie tussen die drie meisiekinders. Tot hy skool toe is, en nie meer saam met die meisies wou bad nie.
Van toe af was dit interessanter om hulle af te loer, of om onverwags die badkamer in te storm met ’n emmer vol paddas wat hy in die vlei gevang het. Hy onthou hoe hulle opgespring het, mekaar vasgeklou en gestaan en gil het: ronde boudjies en stewige beentjies. Grootmense wat dink kinders onthou nie sulke dinge nie, is baie naïef, of hulle het van hul eie ontwaking vergeet, daardie bewuswording van die andersheid.
Sy ma het hom aan die begin van sy hoërskooljare eenkant toe geneem en alles van die bye en die blomme vertel, goed wat hy in elk geval reeds geweet het. Haar waarskuwings teen wilde meisies het hom skuldig laat voel, en skaam vir Sharise, sodat hy weke lank wye draaie om haar geloop het. Tot hy haar weer een middag in die pad gekry het. Was dit nie dalk hier nie? Hy onthou die verknotte akkerboom. Is dit dieselfde boom?
“Dit het nog nie gereën nie,” maak sy pa verskoning.
“Ek sien.”
Die boom lyk vaal van die stof en die omgevalle stomp is so verweerd, ’n muis kan nie daaragter wegkruip nie. Seker nie die regte boom nie, of dalk het die stomp reeds vergaan. Agt jaar is lank.
“Ons het darem die pad so twee maande gelede geskraap.”
“Ja, Pa.”
“Hierdie motorkar hou gelukkig goed pad, jy sou hom nie omgekeer het nie. Jy kan nie die verskil voel teen die teerpad nie.”
Sy pa is reg. Jacques hou die stuur van die BMW nou weer so liggies vas, hy hoef nie sy oë so stip op die pad te hou nie. Dis netjies geskraap sonder ’n hobbel of klip, sandwalletjies op die skouers.
Sy pa wys hom die nuwe uitbreidings: wingerd wat verlede jaar aangeplant is, stokke wat dra, stokke wat nog nie dra nie, ’n groot stuk aarde waar organiese boerderymetodes toegepas word en vinkel en duisendblad in die somer onder die stokke gedy. Dié tyd van die jaar is alles afgeoes en die wingerdblare wat oor is ryp en rooi, die kruiebos kort gesnoei of uitgeskoffel.
Teen die pad staan spierwit werkershuisies onder verknotte perske- en appelkoosbome, geel van die laaste herfsblare. Die appelbome dra geil; die lemoenboorde spog met oranje lemoentjies. Rokies trek uit skoorstene; kinders en honde speel in skoongeveegde erwe. ’n Rooivalkie vlieg verby, gaan sit op ’n telefoonpaal. Wasgoed wapper aan die heinings. Baie soos Frankryk, baie soos Provence.
Jacques ry stadig by die werkershuise verby, probeer sien of hy iemand herken. Dit lyk bekend en vreemd tegelyk. Hy wil vra of Maria nog hier is, maar hy durf nie. Hy het reeds sy mond verbygepraat toe hy na Sharise uitgevra het.
Dis toe dat hy die meisie sien: lang, donker hare wat teen haar rug afstroom, blou jeans en ’n rooi trui. Sy dra bokse aan na ’n nuwe viertrek, ’n Mercedes-Benz, lyk dit vir hom. Die ou tante in die agterdeur is in swart geklee, met ’n wit doek om haar kop gedraai.
Dis ouma Maria. Die meisie is Sharise.
Hy ry vinniger, hy ry verby.
As sy pa nou iets sê, sál hy die kar omgooi. Hy moet haar sien, en hy weet nou hoe. Haar ouma leef nog en hy sal soontoe gaan, sonder om iemand anders te vertel. Sy pa hoef nie te weet nie, sy ma ook nie, minste van almal Suzette.
~ 4 ~
Sharise het die BMW nie gesien nie. Sy ry reguit Soete Verleiding toe. Heelpad dink sy aan liefde en haat, en aan hom, Jacques du Plessis. Wil sy hom sien of wil sy hom nie sien nie? Sal sy hom vergewe of gaan sy hom straf?
Die een oomblik is sy seker, die volgende oomblik begin sy twyfel. Hy het duidelik huis toe gekom om sy verloofde bekend te stel. Sy en mevrou Du Plessis is seker besig om die troue van die eeu op die landgoed te beplan. Mevrou Du Plessis – haar naam is Louise, maar Sharise dink altyd aan haar as Mevrou – was baie gaaf met haar toe sy nog ’n dogtertjie was. Toe het sy haar oorlaai met geskenkies en haar aangemoedig om met haar kinders te speel.
Nie dat hulle veel by die groothuis rond was nie, hulle het by ouma Maria geboer tot hulle skool toe is. Van toe af doen hulle nog hul skoolwerk by Ouma se kombuistafel, en Ouma help hulle om hul boeke oor te trek en tafels en spelwoorde te oefen.
Haar ouma, Maria Daniels, het die drie Du Plessis-kinders grootgemaak – nie Louise du Plessis nie. Sy het dit voordelig getref, want sy was omtrent nooit by die huis nie. Het selfs oorsee gegaan en haar kinders vir weke by Maria gelos. Daarvoor was Maria en Sharise altyd goed genoeg.
Dis vandat Sharise hoërskool toe is dat Mevrou so aaklig met haar geword het – nie dat Jacques hom aan sy ma gesteur het nie. Hulle het maats gebly tot ná haar matriekjaar, toe hy op universiteit was en sy begin werk het. Sy het hotelbestuur op skool geneem en belanggestel in die restaurantbedryf, wou alles doen en van onder begin.
Mevrou Du Plessis het nie gedink dis goed genoeg dat haar seun wat op universiteit is, uitgaan met ’n meisie wat kelnerin is in ’n obskure restaurant nie! Jacques was in sy finale jaar en hulle het van verloof raak begin praat toe die ding gebeur het ...
Sharise bloos elke keer as sy daaraan dink.
Sy het al baiekeer gewonder hoe sou haar lewe gewees het as Mevrou nie daardie aand onverwags teruggekom het Rosedal toe nie. Miskien maar net dieselfde, of dalk slegter?
Teen daardie tyd was sy in elk geval nie in Mevrou se goeie boekies nie, lankal nie meer nie. Sy sien haar soms in die dorp, die neus-in-die-lug-vrou met haar vlasblonde hare wat so glad gekam word dat dit lyk of sy ’n helm dra. Haar gesig en glimlag onder die helm is so vals, sy gee jou die indruk dat sy ’n masker ophet. Maar dalk sit sy dit net op as sy Sharise sien aankom.
Sharise loop in elk geval wye draaie om haar. Sy het wel vir haar ouma gesê Mevrou was nog nooit in Soete Verleiding nie en dit pla haar, maar as Mevrou ooit daar uitkom, sal sy in die kombuis gaan wegkruip. Sy en Mevrou sal beslis nie kan saamkuier soos moeder en dogter nie, nooit in der ewigheid nie! Sharise is mos die een wat haar soet seuntjie verlei het om ...
Sy wil nie daaraan dink nie, sy wil dit nie onthou nie!
Teen die tyd dat sy by Soete Verleiding aankom, is sy vasbeslote om vir seker nie Rosedal toe te gaan terwyl Jacques en sy verloofde daar kuier nie. Sy sal Donald of Myrna stuur om haar ouma se tuisnywerheidprodukte op te laai, sy ry nie weer nie. Hulle kan ouma Maria hiernatoe bring vir die Sondagbuffet, sy gaan nie Rosedal toe nie. Sy wil buitendien lankal hê haar ouma moet trek en by haar kom inwoon. Dan is hulle vir goed verlos van daardie plek. Maar haar ouma is koppig, sy hou van die plaaslewe, en vir haar is Sharise se huis langs die rivier te naby aan die dorp.
Dis pophuis-pragtig, dink Sharise trots toe sy by haar gietysterhek inry.
Die tuin is idillies groen en wit en blou, met terrasse wat aflei na die water. Wilde-eende roei op die rivier. Hulle broei op die eilandjie en kom loop soms tussen die tafels rond, altyd op die uitkyk vir Sokkies, veral as daar klein eendjies is.
Dis ’n mooi tuin, selfs in die winter geilgroen. Die pienk en wit Iceberg-rose blom welig; die laventel is in netjiese heininkies gesnoei. Daar is sierbakke vol gesiggies en papawers, en ’n fonteintjie in die middel van die formele kruietuin.
Die