Sagie hardloop die laaste ent huis toe om betyds vir inval daar te wees. Hy wil nie sy pa onnodig kwaad hê nie. En die werk moet ook klaarkom, want dis byna planttyd vir kalbas.
Sy pa staan op die stoep pad toe en kyk. Dit lyk of hy Sagie inwag.
Barend van Greunen is kwaad – dít sou ’n vreemdeling kon weet, en Sagie beter. Hy is bang vir die strop in sy pa se hand, al het sy pa ná die laaste pak, lank gelede, gesê dat hy nou te groot is vir slae. Hy is spyt dat dit al so warm geword het, want hy dra meer as ’n maand lank nie meer langbroek nie, en hy ken sy pa se slaan.
“Hoe dan nou, Pa?”
“In die huis in!”
“Ek is mos nie laat vir inval nie, Pa.” Hy sorg dat daar ’n afstand tussen hom en sy pa bly. Sy een arm is reg vir keer.
“In! Of moet ek jou hier op die stoep voor almal looi?”
Sagie loop vooruit badkamer toe. Dis waar geslaan word.
“Ek hoor jy was onbeskof met ant’ Loekie.”
“Hoe meen Pa nou?” Sagie kyk sy pa verdwaas aan.
“Sy het gelui. Sy sê jy het met haar kind se siekte gespot.”
“Issie.”
Barend word net kwater. Hy luister min na rede as hy moeilik raak. In die vallei en op die dorp is daar min mense wat kans sien vir sy humeur, veral ná die ding destyds met die kalbaskoper en die keer wat hy Beesbek Badenhorst van Buffelskloof se drie spogperde doodgeskiet het toe hulle by die sestig van sy jong waatlemoene en spanspekke stukkend getrap het; byna vir Beesbek self met dié dat hy saam met ’n polisieman daar aangekom het. Hoe die perde so ver gedwaal het, weet niemand nie.
“Buk, Sagrys.” Barend hou nie op met slaan voordat Sagie skreeu nie. Uiteindelik laat hy hom orent kom om oor die seer te vrywe. “Ek wil niks van jou by die bure hoor nie, dit weet jy. Niemand sal sê Barend van Greunen het sy seun nie reg grootgemaak nie. Jy sal in die vervolg nie wie ook al loop gelukwens met sy verjaarsdag nie, behalwe as jy hom toevallig raakloop êrens, uit ordentlikheid.”
Die werkers sê niks oor die hale agter op Sagie se bene nie. Hulle het dit al baie male so sien lyk. Hulle kon hom hoor skreeu waar hulle die laaste rukkie van die etenstyd onder die doringbome langs die kalbasland gelê het.
Sagie klim swaar op die trekker en sit nie gemaklik nie. Hy wonder hoekom sy pa hom geslaan het, maar hy durf nie vra nie – nie terwyl sy pa is soos hy nou is nie. Agter hom gooi die dolploeg ’n voor oop waarin kraalmis toegewerk moet word. Die land is nie geëg nie, want daar moet kluite wees vir die regsit van die kalbas om die buig te verseker. Die vore word ses meter uit mekaar getrek. Na die toewerk van die bemesting in die vore, word gaatjies ’n meter van mekaar af gesteek met ’n paar pitte vir elke gat.
Die werkers loop langs die sleepwa met die mis en skep grawe vol uit.
Toe die strop se merke weg is, en die kalbas geplant en later ingeboet en geskoffel is, sit hulle een aand aan tafel om huisgodsdiens te hou. Die skottelgoed is in die wasbak gepak vir Mieta se hande, en die Bybel lê oop voor Barend.
“Pa,” sê Sagie, en hy vertel van die sê-ding wat hy vir verjaardae gehoor het en hoe hy dit by Klein-Piet gebruik het. Hy is dadelik spyt dat hy weer oor die ding by die Steenekamps gepraat het, want sy pa kyk snaaks na hom.
Barend staan op, loop kamer toe en kom met die strop terug, maar hy hou deur die sitkamer waar Sagie by die lang tafel sit en gaan reguit kombuis toe. Sagie hoor die stoof se vuurkas oopgaan en toeklap. Sy pa kom met leë hande terug en gaan sit, slaan ’n teks na en begin lees. Nadat hy en Sagie gebid het, draai hy nie die lamp soos gewoonlik dood nie.
“Hoeveel bokke het ons nou op die plaas, Sagrys?”
“Sewe en twintig, Pa; vanlat die jakkals laas die gebreklike ooi gevang het.”
“En hoe lyk die veld? Het ons te veel bokke op die grond, of kan daar nog kom?”
“Is nie mooi vanjaar nie. Onse plek is te klein vir nog bokke. Ons moet praat met oom Kerneels lat ons van sy weiding boop Platberg se vlakte, langs ons sinne, kan gebruik. Hy maak niks daarmee nie. As ons dit kan kry, Pa, kan ons baie meer bokke aanhou.”
“Nou ja, by oom Truter onder by Anysberg loop nog ’n stuk of twintig van my bokke. Hulle is nou almal joune, Sagrys, die spul hier op die plaas en die ander, om mee te maak soos jy goed dink. Jy kan hulle verkoop as jy wil en die geld vir jou in die bank sit, maar jy hou net ’n klompie sodat ek by jou kan koop vir die huis se vleis. Of jy kan almal hou en boer met hulle. Ek wil niks meer van die bokke weet nie. Jy sorg vir hulle en jy dra die verlies as hulle vrek of gevang word. Al die onkoste met die goed betaal jy as daar te betaal is. Jy kan met oom Kerneels gaan praat oor die weiding as jy die klomp van oom Truter af hiernatoe wil bring.”
Sagie sit verstom en luister. Vyftig of sestig bokke wat syne is. Sy pa het geweet hy sal nie eens daaraan dink om te verkoop nie. Nou is hy wat Sagie is, ook ’n boer. Hy werk nie meer net vir sy pa nie – dit moet mense weet as hulle met hom praat.
“Dankie, Pa. Ek sal hulle nie verkoop nie, behalwe party jonges en oues by die veeveiling; ook net as daar reg gebie word vir hulle. Dankie, Pa.”
“Gaan maak vir ons iets om te drink, Sagrys. En onthou dat ek nie sal duld dat die bokke met jou ander werk inmeng nie.”
“Is reg, Pa.”
Barend steek vir hulle elkeen ’n kers op en draai die lamp dood. Sagie stap met syne uit die vertrek uit, sy hand ’n skerm voor die vlam.
Drie
Sagie sit langs die pad en wag dat sy pa met Freek van die dorp af kom. Hy wou nie luister na Sagie se geneul om die borg te betaal nie. “Hulle sal Freek nooit los nie,” het hy gesê.
“Wat van Jan Julies toe hy gevang was, Pa?”
“Jan Julies is destyds vir dronk op straat toegesluit, Sagrys. Hy het niemand doodgemaak nie.”
Freek se skoolhoof het kom praat en sy pa het besluit om te gaan vra. Hy het die borgtog van tweehonderd rand betaal.
Sagie laat ’n bleshoendertjie verskrik uit die water opvlieg toe hy onthou van Jakkelien en opstaan om haar te gaan vertel dat Freek op pad is. Hy mag nie met die werkers se jongdogters praat nie, maar dié is ’n ander saak, besluit hy. Jakkelien swaai dadelik om, terug die huisie in, toe Sagie haar vertel.
“Gat jou seker nou mooimaak,” roep Sagie agterna voordat hy terugdraf pad toe en op die hek klim. Hy kyk na waar die grondpad oor die nek aankom.
“Met daai Jakkelien gaan ek nog trou,” sê Freek graag. “End van die jaar nes ek klaar is met skool, gaan ek Kaap toe. Miskien vat ek haar sommer dan al saam, anders moet ek eers wag tot ek genoeg geld bymekaar het.”
Met Freek het Sagie al baie oor meisies gepraat en oor trou en huis bou en kinders maak. Freek vertel van hom en Jakkelien, en dan word Sagie jaloers, want hy praat omtrent nooit met ’n meisie nie – wat nog te sê een hê, soos Freek.
Meisies lag vir hom. Toe hy nog op skool was – jare gelede, voor sy pa gesê het hy hoef nie meer so met die leerdery te sukkel nie; hy kan nou maar plaas toe kom om te kom boer – het hy al gesien hoe hulle na hom wys en begin giggel. As hulle so maak, loop hy met sy kop op, soos sy ma hom nog geleer het, maar binne voel hy nie trots nie.
In Dwarsrivier is nie jongmeisies nie, want dié wat nog skoolgaan, is op kosskool op die dorp. Die ander leer omtrent almal of werk ver van Ladismith af. Van die paar wat by die bank en winkels en koöperasie werk, is dit net Louise van oom Truter wat met Sagie praat. Sy is vriendelik met hom as hy by die poskantoor kom om vir sy pa seëls te koop. En sy is mooi. Sagie hoop oom Truter vertel haar van die vyftig of sestig bokke wat hy het.
Sagie sien ’n stofwolk teen die nek uitslaan. Dis sy pa se