“Dis toe ’n kiestand.”
“Veels geluk. Darem vroeg vir kiestande. Eet jy nie jou pap nie?”
“Dis bietjies te veel.”
“Toe maar, ons gooi dit oor die heining vir Jasper se honde. Die toast is koud. Wil jy ander maak?”
“Nee wat, dis nog goed so. Dankie, Ouma.”
Sy het die roosterbrood in die tee gedoop, die botterlaag probeer afwas, afgetrokke gekyk na die vetdruppels wat op die oppervlak verskyn het. Ouma het die oggendgeselsie blykbaar vooruit beplan. Hulle twee is alleen, sy kan praat, haar hart oopmaak, maar sy sien nie kans nie. Die brood het in haar keel vasgesit, sy het dit moeilik afgesluk.
Ouma Leen kon haar ongemak seker aanvoel, want sy het opgestaan en die ketel gaan voltap. “Ek het ’n bekentenis om te maak,” het sy gesê, “eintlik het ek jou kombuis toe gelok sodat jy my kan help met die Kersfeeskos. Ons maak aartappelslaai, driebone en slaphakskeentjies vir môre se braai, koekstruif vir poeding. Ons stop sommer die kalkoen vir Kersdag en stoom die doekpoeding, dan gaan alles makliker en kan ons ook ontspan en die dag geniet. Reg so?”
Janine het haar ontbytgoed gewas terwyl Ouma blikkies, pakkies, mengbakke, maatbekers, kapmesse, houtlepels en eierklitsers op die kombuistafel uitgepak het. Sy het gepraat asof sy alles wat sy vroeër gesê het, wou toesmeer.
“Jessie is heeldag by die kliniek. Dis ’n besige dag, hulle sluit van die vier-en-twintigste tot die ses-en-twintigste. Die nuwe dominee en sy vrou, Emma, sal vir noodgevalle instaan. Sy is ’n verpleegster, hy is in elk geval heelnaweek aan diens. Die dorp reken op hom. Hy help met alles, ry tot halfdooie mense aan Clanwilliam toe, partykeer reguit na Tygerberg. Hier’s mos nie ambulanse nie. Maandag maak die kliniek halfdag oop, al is dit ’n publieke vakansiedag omdat Tweede Kersdag op ’n Sondag val. Dora ken haar mense. Van die Kersnaweek se ongevalle sal Maandag kom raad soek, anders roep hulle haar uit na hulle huise toe. Sy en Jessie werk hard. Ag, en die salarissie is so skamel.”
“Ek sal werk soek, ouma Leen, ek wil nie op julle teer nie.”
“Jy teer nie op ons nie, ons is bly jy is hier.”
“Ek moet iets bydra.”
“Sorg eers dat jy jou kragte terugkry. Jy hoef ook nie te soek nie. Bennie hou vir jou plek by die winkel.”
“Hoe weet Ouma?”
“Hy is nog lief vir jou, Janine.”
“Sê hy so?”
“Almal sê so, en werk is skaars op die dorp. Meng jy die sous vir die boontjies?”
Janine byt haar lip om nie ’n aanmerking te maak nie. Ouma gooi wye draaie om die dorp se skinderstories, maar sy sal nie verbaas wees as hulle besluit het sy is terug om op te maak met Bennie Kowalski nie. Liewer nie ’n geluid in daai rigting nie. Drieboontjieslaai, dis veiliger. “As Ouma die bestanddele afmeet, ek kan nie die resep onthou nie.”
“Haai, ek ook nie.” Ouma Leen blaai in haar verflenterde plakboek, druk haar vinger op die regte prentjie. “Daar’s hy, nes ek hom in die Huisgenoot gekry het.”
Janine onderdruk ’n glimlag. Ouma was so gekant teen die “sondige” tydskrif wat aunty Anny altyd niksvermoedend aangestuur het. Dit is duidelik deesdae net so aanvaarbaar soos die televisie en ’n kleindogter wat op straat sit omdat sy met haar onderwyser moes trou.
Janine klits die sous dat die skuim so staan. Waarom kan sy Greg nie uit haar gedagte verban nie? Ouma Leen se stem dreun om haar ore en sy dink aan hom, die aantreklike vreemdeling wat drie jaar gelede, toevallig ook drie dae voor Kersfees, op die Kowalski’s se winkelstoep verskyn en haar voete onder haar uitgeslaan het. Uncle Abie was Praag toe vir sy broer se begrafnis en Bennie moes oorneem, hom gedaan gewerk en heeltyd met haar baklei. Was dit nie vir haar naweekwerkie by die winkel nie het sy hom daardie Desember al gelos. Dat sy sy hart kon breek, het sy nie voorsien nie, ook nie die skuldgevoelens waarmee sy haarself opgesaal het nie. Ouma is reg, hy is lief vir haar. Sy kan dit in sy oë sien, in sy hele houding. Dit straal uit hom soos elektrisiteit, maak haar ongemaklik, al sê hy net: “Hallo, Janine, hoe gaan dit vandag met jou?”
Maar Here, is egskeiding en ’n tweede huwelik, is Bennie Kowalski nou werklik my enigste uitweg?
Janine raak so benoud, dit voel asof sy alles wil neergooi en hardloop. Waarheen en waarom? Om weg te kom van die feit dat sy Bennie nie so liefhet soos hy vir haar nie? Hulle was nou wel gekys. Sy het haar eerste soen van betekenis by hom gekry en byna met hom oor die tou getrap. Amper was dit Bennie met wie sy moes trou en nie Greg nie. Watter draaie sou haar lewe dan gemaak het? Niks. Sy sou nooit verder as die Kaap gereis het nie en net in haar drome na die katedrale en museums van Londen. Dit was nie so sleg saam met Greg nie. Hulle het ’n gesellige blyplekkie gehad, ’n tuintjie met ’n eikeboom, vriende en vriendinne wat omgee. Greg het hard probeer. Lolita, dis wat met hom gebeur het en sy kan dit verstaan. Want sy voel nog Ant se arms om haar, die sagte warmte van sy trui, die belofte van nuwe liefde. Sy is nie onskuldig nie, al kan sy haar hoogheilig hou en Greg kritiseer. Miskien het sy hom weggedryf? Hoe sê sy dit hardop?
Sy gooi die sous oor die bone, roer dit deur, trek plastiek oor die glasbak, soek bêreplek in die yskas. “Wat nog?” vra sy vir Ouma wat staan en jellie roer.
“Die vla vir die koekstruif, dat dit saam met die jellie kan afkoel.”
“Ouma, ons berei nou kos vir ’n jaar.”
“Nee, vir een spesiale dag: Jesus se geboortedag, jou tuiskoms. Ons almal, van jonk tot oud, sal weer saam aan tafel wees.”
“Ek kom met leë hande. Wat kos dit alles?”
“Nie te veel nie, ons spaar vooruit.”
“Julle doen julleself tekort en julle moenie.”
“Nee wat. Bennie sorg vir ons.”
“Hoekom? Ons is nie familie nie.”
“Hy sorg vir die dorp, Janine. Groceries is goedkoper by hom as in Clanwilliam. Anny sê my van die mense wat by hom op skuld koop, betaal nooit alles af nie. Hy gee om vir die armes. Sal nie vat wat nie syne is nie. En nou praat ek my mond verby. Die melk vir die vla is op die stoof, jy kan net die plaat aansit.”
Sy wil soontoe omdraai, maar lighoofdigheid pak haar beet en sy hou aan die tafel vas. Ouma Leen sien dit nie, sy is verwoed besig om meel te sif.
“Ouma …” Die stemmetjie wat Janine by haar keel uitforseer, is onhoorbaar en sy moet harder praat om aandag te kry. “Ouma mag dit maar sê: Greg Walker is ’n dief. Hy’t my erfporsie gesteel. Dit was julle geld ook. Greg het dit gevat en vir hom en Lolita ’n huis gekoop. Daarvoor sal ek hom nie maklik vergewe nie.”
Ouma Leen se hande raak stil. “Ek het vergewe, maar miskien verbeel ek my dit. Ek sal jou nie kwalik neem as jy dit nie oor jou hart kan kry nie.”
“Jesus verwag dit van my. Miskien eendag …”
“Sal jy na hom toe wil teruggaan?”
“Greg is nie meer lief vir ons nie. Dis nou Lolita.”
“Julle bly by ons, die huis is groot genoeg.”
“Dankie, Ouma.”
Nie een van hulle wil dit erken nie, maar die toekoms lê soos ’n berg voor hulle. Egskeiding is waarskynlik die enigste uitweg en dit word nie in ordentlike huise genoem nie. Janine sukkel om die lastige lighoofdigheid onder beheer te kry. Dis ’n waagstuk om die stoof te gaan aanskakel en gewoonweg te vra: “Waar is die vlapoeier?”
“Langs die melk in die blikbeker. Ek het dit afgemeet. Sout en suiker kan jy na smaak byvoeg.”
Uit die hoek van haar oog sien sy hoe ouma Leen eiers by die meel voeg, roer en meng asof sy aan ’n bakmarathon deelneem. So ken Janine haar. Wanneer sy ontsteld is, hou sy haar hande besig – ou hande, vermink deur jare van harde werk. “Sit solank die pot met water op hoog vir