“Druk weer.”
’n Touleer rol by die ingang uit. Foos blaas solank.
“Gaan na die Cleanbot-kas aan die ander kant van die gang. Links van die trap wat na die hoofingang gaan. As jy in die tonnel is, moet jy die touleer losmaak en saamvat. Kyk vir die regte flat-nommer. Die knop van die skuifgat na die flat sal bo jou kop wees. Kyk vir enige saad. Waarskynlik in ’n bruin koevert, maar enige saad of saailing is belangrik. Vat alles.”
Foos blaas.
“Ek sal laat weet wanneer hulle verby die kamera in die voorportaal gaan.”
Foos blaas.
In die lugtonnel is die ingange met flat-nommers gemerk. Foos lê met sy oor teen die skuifgat na nommer 3. Geen geluid. Die tou is reeds vas aan twee hake wat daarvoor bedoel is. Pulsepost kom deur: By gebou uit.
Hy druk die knop. Stadig gaan die skuifgat oop. Die touleer val tot een meter bo die grond. Verder kan hy niks uitmaak nie. Sy koplig is byna useless. Die dag se dust density het ’n chargery onmoontlik gemaak. Hy toets sy gewig op die leer en begin afklim.
Hy gaan sit op sy hurke teen ’n muur om ’n basic gevoel vir die plek te kry. ’n Soet reuk slaan hom. Dan die dieper reuk van grond. Nie stof nie. Klam grond. Die black gold waarvan die soil experts by die lande en kweekgrotte praat.
Die flat is soos iets uit ’n ander tyd en plek. Dis die templaat, sure, maar Foos het nog nooit so ’n display van BioG’s gesien nie. Of disregard vir Meconium se riglyne nie. Teen die muur verste van die deur is ’n boekrak. Hy sky oor die titels. Kook en Geniet, The Joy of Cooking, Mastering the Art of French Cooking, Wenresepte, The New Moosewood Cookbook, Kos vir die Kenner, Ad Hoc at Home, The Silver Palate Cookbook, Die Kosrevolusie, Kokkedoor – ’n Keur van 20 jaar. Twintig jaar na die Hardskip en die man hou hom dikgevreet aan die resepte van ’n vorige regime.
Hy draai weg. In die middel van die vertrek staan ’n leerbank oorkant ’n glastafel waarop die basis vir ’n mega holoskren vasgebolt is. Foos lig die leerkussings. Niks. Hy voel al langs die oppervlak. In ’n hoek vat sy vingers iets raak. ’n Plastiekkapsule, kleiner as sy ondervoortand, maar leeg. Hy sit dit in sy baadjiesak en beweeg na waar die reuke vandaan kom. ’n Lang tafel staan teen die buitemuur van die slaapkamer, naaste aan die flat se ingang. ’n Halfmeter bo die tafelblad is ’n rak opgesit. Hierop staan instrumente wat Foos nie ken nie, maar Wakinyan se aandrang op parfuum sou dit kon verduidelik. ’n Koperpotjie met twee bolle staan bo-op ’n gasstofie. Hier is die reuk van grond en blomme die sterkste. Foos haal een van ’n gros blomblare wat halfnat in ’n sif lê uit en druk dit in sy sak.
“Maak dat jy daar uitkom.” Foos raak koud. Die discreet automatic answering op sy Pulse. Dis Dick. “Smeg is op pad boontoe.”
“Shite,” sluk hy, maar hy beweeg nie dadelik nie – hy wil iéts kan wys.
Hy tel botteltjies op, maak blikkies oop, trek die laaie onder die tafel oop. In die laaste laai lê ’n boek.
Saadstories. Die prent voorop is van ’n plant wat nie soos ’n plant lyk nie. Hydnora africana, staan dit in ’n dun handskrif, net bo S.M., 2063. Wat het Wakinyan gesê? It’s not a cookbook, but it might look good on your shelf. Foos zip die boek in sy baadjie toe.
Die spoed waarteen hy die touleer tref, maak dat hy rondswaai. Dit sit hom ’n paar sekondes terug. Daar’s nie simpatie vir trespassers in Meconium nie. Die privaatheid wat daar is, is reeds te min. Toe sy hande aan die dak raak, begin hy hom optrek. Hy is nog besig om die touleer op te trek toe hy die voordeur hoor oopklik. ’n Lig gaan iewers in die flat aan. Dit moet Obees se slaapkamer wees. Foos druk die skuifgat se knop.
Sodra sy asem reëlmatig is, seilkruip hy terug na die Cleanbot-kas. Hy kyk op sy Pulse. 21:45.
* * *
Dick sky sy Pulse voor die sensor. Toe die Kweekhuis se sydeur oopgaan, tree Foos sywaarts in, sy oë op die donkerte tussen die Kweekhuis en MecRec. Die jong man se manier van doen staan Dick aan. Hy weet dis nie sy training nie.
Hy sit sy hand ’n splitsekonde op Foos se skouer en begin dan met die trap oploop. As die suspies in iemand se DNA sit, is training ’n formaliteit.
Foos sit die boek, die kapsule en die pap blomblaar op Dick se tafel neer. Dick tel die blaar eerste op.
“So Couis is nog steeds besig met sy parfuumstokery?”
“Jy weet daarvan?” vra Foos.
Dick knik.
“Vir vyf jaar na die Hardskip moes ons die mense dophou wat Meconium eers in ’61 gejoin het. Alle LateEntries – soos Couis – het flats op die boonste verdiepings van Discov-blokke gekry. Voor intrek het ons die air vents so aangepas dat ons toegang tot die flats kon kry. Couis het rondom 2065 met sy stokery begin. Ons het niks daaromtrent gedoen nie, want die nadraai van die Toilog het ons besig gehou en ons was meer geïnteresseerd in die oorsprong van sy rou produkte.”
“Kon julle dit spoor?”
“Die eerste tien jaar het ons. Dit word ingesmokkel via Close Enough – wilde roosmaryn, soms lavender; dis die tweede keer waarvan ek weet dat hy rose in die hande kry.” Dick tel die leë plastiekkapsule op. “Daar’s ’n vrou in sy blok wat by hom parfuum koop en vir ons samples gee.”
Dick ruik aan die kapsule. “Waar was dit?” vra hy.
“Onder die leerbank se sitplek.”
“Well done for spotting it. Daai fokker van ’n Wakinyan probeer my fool.”
“Hoekom? Smeg het aangegaan oor die kapsules. Hy moes die saad uit die kapsule gehaal en dit –”
“Huh-uh, nie Smeg nie. Hy sou nie die kans vat nie. Hierdie kapsules is ’n graad van seed-saving high tech wat Meconium skaars kon nadoen. In fact, ons kón dit nie nadoen nie.”
Dick haal die koevert wat Wakinyan vir hom gegee het uit die laai en wys dat die seun kan sien.
“Wakinyan het hierdie sade uit hulle kapsule gehaal voor hy dit vir my gegee het. Hy het somehow geweet dit sou my … Die leë kapsule moes uit sy sak geval het in Smeg se flat.”
“Wakinyan het verwys na ’n vriend. Toe hy met Smeg gepraat het – ’n vriend vir wie hy die saad gewys het en wat hom … Klink of hy hom raad gegee het.”
Dick knik.
“Weet jy waar die kapsules vandaan kom?” vra Foos.
“Almal het ’n weergawe daarvan gehad. Ons, die Chinese enklawe, maar die beste kapsules is gemaak deur ’n organisasie wat volgens alle intel van die aardbol af verdwyn het. Hulle saadbank was legendaries in die 30’s, maar later het ons begin dink dit is al wat dit was: ’n legende. Ek sal die kapsule moet laat ontleed. Het hy iets oor die boek gesê?”
“Hy’t gesê hy dink Smeg sal dit meer waardeer as jy.”
Dick glimlag. “Dankie, Foos. Dis baie werd.”
Die seun bly. Dick voel afwagting. Hy maak die boek oop. Hy maak of hy lees, want hy’s bang vir wat kom. Foos het al ’n paar keer begin vrae vra oor sy ouers, maar Dick het die storie nog elke keer doodgepraat en gesê MaJo weet beter. Vanaand het hy besonder min krag vir die topic óf om dit te sidestep.
“Weet jy van die incest-saak teen Julie Cloete?” spoeg Foos die vraag uit.
“Ja. Ek is … Ek het gehoor van die vonnis.” Dick maak die boek verlig toe.
“Dis … Julie is onskuldig. Meconium het hierdie keer te ver gegaan.”
“Foos, julle Hardborns sal nie …” Hy sit die kapsule op die boek neer, soos ’n strepie onder die “S” van die voorletters: S.M. “Dis nie Meconium wat te ver gegaan het nie,” sê hy. “Divusity se mag lê daarin dat niemand weet hoeveel mag hulle het nie. As jy Julie se onskuld wil bewys …” Hy bedink hom. “As ons Julie se onskuld wil bewys,