Mardaleen voorspel: “Nou gaan sy haar kop tilt …”
En Lara tilt haar kop.
“Nou vat sy aan haar nek en byt haar lip …”
Ook dié bekende onderdele van die ritueel volg.
“En vir die grand finale …”
Lara bars uit van die lag en vat aan die ou se arm. Die ou vermurwe: hoe dan anders? Die aand was dalk op die punt om vir hom nog wonderliker te raak, maar dan gewaar die brunet-godin vir Mardaleen en verskoon sy haarself.
“Hoekom het jy so gedraai?” wil sy weet toe sy by die tafeltjie kom, steeds dansend sodat haar poniestert byna uit die scrunchie ontsnap. Sy gryp haar halfleë glas en klink dit teen Mardaleen s’n.
“Daar was nog ’n paar laaste goedjies om af te handel. Ek weier byvoorbeeld dat Brink en Ingrid langs mekaar lê, al is dit nou net in my koerant!”
“Wat het ek gemis?” vra die ou wat langs Lara verskyn.
Die moue van Braam Malherbe se spierwit turtleneck is opgerol. Ten minste is sy amperswart hare styf gespuit en nog netjies, sien Mardaleen – dit staan hoog en breed soos die ouens van Bon Jovi dit dra – maar dis vir haar duidelik dat hy reeds oor sy limiet is. Boonop klou hy vier gummies vas.
“Brink was ’n cheater,” sê Willem asof dit die eerste keer is dat so ’n gerug die ronde doen.
“Máns is cheaters,” help Mardaleen hom reg. Maar sy probeer om Braam nie aan te gluur omdat hy weer ’n drankie of twee of dalk selfs drie te veel inhet nie. Ouens is soos katte: nes jy dink jy het hulle heeltemal mak, wys hulle jou hoe verkeerd jy is. Hy is egter al baie minder wild as toe hulle begin het uitgaan het.
Braam lig haar uit haar stoel om ’n behoorlike soen op te eis.
Verbeel sy haar?
Sy druk haar neus vas teen sy turtleneck.
“Het jy gerook?”
Braam laat los haar en staan ’n entjie agteruit.
“Nee. Nee, ek het nie. Hoe lyk die koerant, sê dit iets oor Intervarsity?”
Sy knik trots. “Ek het selfs Jeanne Goosen se rugbygedig langs die spanfoto’s geplaas, as motivering.” Sy begin aanhaal, en stelselmatig val Willem en Lara by haar in: “ ‘Hoera’ en ‘Boland’ en ‘Haak, Vrystaat,’ skree ons van die pawiljoen vir die rugbyspelers wat soos gestreepte haaie rondduik en na mekaar se boudvleise hap …”
Braam kom sit langs haar, drapeer sy arm om haar skouers. Hy vat ’n sluk uit sy glas voor Mardaleen sy hand nader trek en daaraan snuif soos die polisiehonde wat altyd mense met dwelms by hulle op lughawens uitvang.
“Ek ruik dit definitief. Rook jy weer?”
Hy skud sy kop.
Sy moet seker maar sy woord aanvaar. Dalk was hy net tussen rokers.
“Gedigte laat ’n mens anders dink oor dinge,” sê Lara. Dis min dat sy voor van hulle vriende filosofies raak. “Veral dié wat Marda verkies, die verfynde poësie … Die Ingrids.”
“Gmf!” bars dit uit Mardaleen.
“Komaan! Jy was mal oor haar in matriek?”
“Ons het niemand anders se werk gedoen nie!” Kwaadheid stoot in haar op. “Dit was net ‘Bitterbessie Dagbreek’ en ‘Ek Herhaal Jou’ voor en agter. Juffrou Du Plessis se doel was kwalik om ons kennis van literatuur te verryk.”
“Wag nou …” probeer Lara haar op ’n syspoor kry.
Maar dis te laat: “Sy wou haar eerder uitleef as my pa se minnares.”
“Ou Doepies het jou pa gevang met haar omarmde rym,” grinnik Braam terwyl hy sy glas op die tafel neersit. Hard.
“Braam!” sê Lara geskok.
“En koeplette!” voeg hy by en skater daaroor.
En hier is dit. Die ou seer. Woede en skaamte. Mardaleen het haarself probeer wysmaak sy voel dit nie meer so intens nie. Nou weet sy sy het vir haarself gelieg.
Sy gluur hom aan.
“Ek …” Hy besef hy het te ver gegaan. “Jammer.”
Meteens kan sy nie langer hier bly sit nie. Sy kan nie langer deel wees van hierdie plek waar jong mense so sorgeloos uithang nie. Dit voel asof sy al een hierso is wat ’n las met haar saamdra, iets wat haar verswak sodra sy vergeet om haar skanse hoog te hou. Nie eens die feit dat sy ’n vriendin en vriend aan die ander kant van die tafel het, verander iets aan die saak nie. En Braam se teenwoordigheid hier langs haar is die laaste ding wat kan help, want hy’s deel van die probleem!
Sy doen dit redelik bedaard. Staan op, trek haar rok reg, vat haar rugsak en loop uit.
Teen die tyd dat sy buite kom, het Lara haar ingehaal. Mardaleen is dankbaar dat sy niks sê nie, of in elk geval niks wat betrekking het op die saak waarna pas verwys is nie. Lara haak bloot by haar in.
“Dié kant toe, ek staan om die draai.”
Dis Lara daai – daar as sy haar nodig het. Al kan die meisie enige kuier in ’n partytjie verander, is sy sterk in haar geloof en ’n baie goeie luisteraar wat wyse raad kan gee. As Mardaleen hulle vriendskap moes opsom, sou sy sê dit berus op vertroue, ondersteuning, pret en ’n wedersydse morele kompas.
Toe hulle by Lara se blou Honda Civic II kom en inklim, is ’n spannetjie van vyf manstudente, ooglopend goed beleë, net mooi op pad verby.
“Trou met my!” roep een uit en toe Mardaleen nie reageer nie, kap hy met die plathand op die kar se dak sodat sy ruk soos sy skrik.
“Trou met hom!” dring sy pelle aan.
“Simpel!” grom sy.
“Trou met my!” Die ou bly staan op die sypaadjie, of altans, hy wieg. Dit lyk of hy deur sy oë gaan doodbloei.
“Ry tog net,” sê sy onderlangs.
Lara antwoord nie, kry net die enjin aan die gang en trek haastig weg.
Dis Koos Kombuis in die CD-speler:
Lalie, jy’t vir my gesê
so lank soos die lepel in die pappot lê …
Geleidelik kry Mardaleen dit reg om te ontspan. Dis nie die einde van die wêreld as daar iets skeefloop met jou ouers se huwelik nie. Jou ma is nie die eerste mens met wie so iets gebeur het nie. Jy is nie die eerste dogter van so ’n mens nie en sal baie beslis ook nie die laaste een wees nie.
Kyk, hier is Potch nog altyd Potch. Hier langs haar is Lara steeds Lara. Hulle ry deur mooi strate in ’n mooi stad. Met mooi bome wat in die dag nog mooier is. Die wêreld hou aan draai.
Sy steek haar arm by die oop venster uit, voel die windjie daaroor streel, laat dit met haar hare speel. Maak die knippies los sodat die wind dit kan skep.
“Jy lyk soos ’n Golden Retriever!” lag Lara bo-oor die musiek.
“Hoe sou Dickens vir Potch beskryf het?”
“Wát?”
“Hoe dink jy sou Charles Dickens vir Potch beskryf het?”
“Waar val jy nou uit?”
“Hy het dit so goed gedoen met Londen – soveel kultuur …”
“Ons het kultuur?” Lara hou stil by ’n rooi verkeerslig.
“Vier museums, drie kerke en ’n biblioteek.” Dan kyk Mardaleen op toe die ander meisie uitspring en agter om die Honda begin nael. Dis ou laai van hulle om te kyk hoeveel keer hulle om die kar kan hardloop voordat die lig oorslaan. Haar kop was nou net besig met ander dinge.
“Die lig!” staan Lara langs